Skrif-oordenking: Die goeie Herder wat vir ons sorg (Joh.10:11,28)

christien en skape

“Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” – Jesaja 40:11

Die Goeie Herder

Lees: Lukas 23:33-46

“Ek is die goeie Herder.” (Joh. 10:11)

Eindelik kom die gedagtegang tot rus: “Ek is die goeie Herder.” “EK IS.” Nou is ons by Ps. 23: “Die HERE is my Herder…” En by Jes. 40: “Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” En by Eseg. 34: “Soos ‘n herder vir sy trop skape sorg… so sal Ek vir my skape sorg… en Ek sal hulle red …” Die naam HERE beteken “EK IS WAT EK IS” en hier is Hy nou in die “EK IS.” van Jesus. “Ek is die goeie Herder.”

“Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” – Jesaja 40:11

En dan tree ook aan die lig waarom Hy die goeie Herder is. “Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” Só sterk staan dit nie in Ps. 23 en Jesaja 40 en Eseg. 34 nie. Daar is wel sprake van “groen weivelde en waters waar rus is en dat Hy my lei in die spore van geregtigheid…” Daar is wel sprake in Jes. 40 en Eseg. 34 van redding en bewaring en liefderyke sorg. Hier kom egter ‘n nuwe faset van die kosbare diamant aan die lig: die herder lê sy lewe af vir die skape. Die teëstelling tussen die goeie herder en die ontroue herders tree veel skerper aan die lig. Hy is bereid om vir sy skape te sterwe, terwyl die ontroue huurling die rower of die ondier sien kom en op die vlug slaan.

“Ek is die goeie Herder.” Die woord “goed” het in ons spraakgebruik ‘n byna kleurlose betekenis gekry. Dit sê eintlik vir ons nog weinig. Om die oorspronklike betekenis van die Griekse woord weer te gee, moet ‘n mens dit eintlik omskrywe. “Ek is die moedige Herder.” Die moedige herder slaan nie op die vlug nie, maar sit sy lewe op die spel vir sy skape. Ook: “Ek is die ware Herder”, of “die eie Herder”, in teëstelling met die huurling, aan wie die skape nie behoort nie, wat in hulle alleen die eiendom van iemand anders sien en wat as die wolf kom, hom aan die kudde onttrek en op die vlug slaan.

Ons weet uit ervaring dat ‘n mens meer oor het vir jou “eie goed” as vir die van iemand anders. Watter huurling sal sy lewe op die spel plaas vir die skape van ‘n ander? As Herder van sy kudde ken die Here sy lammers van kleins af – eintlik van ewigheid af (Ef. 1) – en Hy het hulle grootgemaak. In die diepste sin behoort hulle aan Hom. Hy is nie bloot toevallig oor hulle gestel nie. Die huur­ling hou toesig, maar hy het geen insig nie. Hy ken hulle nie persoonlik van binne nie. Hulle diepste nood en behoefte gaan by hom verby. Sonder om te blik of te bloos gee die huurling aan die skape klippe vir brood.

Nêrens kom die innige band tussen die herder en sy kudde só dui­delik aan die lig nie, as dat ons goeie Herder sy lewe vir ons afgelê het. “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee”, sê Hy in Joh. 15. Dan besef ons dat die beeld van die herder en sy skape vir ons ‘n dierbare betekenis het. Ons sien Hom, bloeiend aan die kruis, waar Hy sy lewe vir ons gee om ons te red uit die dood van sonde en ongeregtigheid en vir ons die lewe te gee.

Bly onder die troue hoede van u enigste goeie Herder!

Ons enigste troos

Lees: Matteus 5:1-12

“En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh. 10:28)

Hoe meer ‘n mens oor hierdie uitspraak nadink, hoe dierbaarder word dit. Hier kom aan die lig ons enigste troos in lewe en in sterwe. Dit is dat ons in lewe en in sterwe nie aan onsself toebehoort nie, maar aan ons getroue Saligmaker, Jesus Christus… Wat het ‘n christenmens meer nodig om te weet as dit?” En Ek gee hulle (my skape) die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie …”

“Ek ken hulle… En Ek gee hulle…” Hy gee oorvloediglik… Hy gee aan hulle wat Hy ken… van ewigheid af ken Hy die syne . . Hy gee Homself oor in die dood om aan ons die lewe te kan gee… Hy gee Homself vir ons en Hy is die ewig Lewende… Hy is self die lewe… “Ek is die weg en die waarheid en die lewe…” (Joh. 14). En dan deel Hy die lewe uit… Hy gee dit aan sy skape … En dit is die ewige lewe… Dit is die ware lewe, waarteen die dood niks vermag nie … Die ewige lewe – die ware lewe – lê ‘n mens nie af wanneer jy sterwe nie … Jy tree alleen vanuit die verganklike tot die onverganklike … Jy sluit jou oë om dit oop te maak in die ewige lig… Jou lewe kan nie uitgedoof word nie, want dit is die ewige lewe.

Sy skape besit alreeds op aarde die ewige lewe. Hulle is wedergebore. Hulle besit die ewigheidsbeginsel. Hulle leef in vrede met God en onder ‘n geopende hemel. Hulle deel elke dag in die gawes wat hulle hemelse Vader in oorvloedige liefde op hulle uitstort. Dit is ‘n onverliesbare besit. Tot in alle ewigheid behou hulle hierdie ewige lewe. Waar dit nou onvolmaak – selfs net ‘n klein beginsel is – sal dit hierna in die ewige heerlikheid in volmaaktheid bloei voor Hom die verheerlikte Herder. Nooit, tot in alle ewigheid verloor ons dit wat Hy ons gegee het nie…

“Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Moet dan nie bang wees nie, klein kuddetjie! Julle word vasgehou deur ‘n ewige hand. Die duiwel gaan rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openb. 12). Die wêreld ruk aan ons in tye van ellende en nood en vervolging… Hy ruk selfs veel gevaarliker in voorspoed en weelde en singenot wat gedurig wink en lok. En onsself is so swak… Die bose begeertes ontspring en groei soms onrusbarend tot ‘n bruisende stroom wat ons willens en wetens wil meevoer…

En tog… Ons het alle rede om te roem. Ons roem nie in onsself nie. Ons ken onsself te goed. Ons roem in Hom wat Homself vir ons gegee het en aan ons die ewige lewe gegee het. Ons roem in Hom wat ons vashou ondanks die duiwel, die wêreld en onsself …

Bron: Elke dag in die Lig: dagstukkies uit die Evangelie volgens Johannes, ds. MJ Booyens

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑