Psalm 23 Die Here lei met genade (Voorbereiding) GK Matlabas 2014 05 18
Lees: Ps. 23; Joh. 10: 1-21
Teks: Ps. 23:1 Die HERE is my herder
Tema: Die HERE lei met genade
Psalms:100:1-4; 95:1,4; 119:63; 23:1,2; 105:1 en 5.
Prediker: ds. Gustav Opperman
Geliefde Broeders en Susters,
Psalm 23 is een van die bekendste Psalms in die Bybel.
In my jong dae moes elke katkisasiekind dit naas die “Onse Vader” uit die kop uit kon opsê.
‘n Psalm van kinderlike geloofsvertroue,
van blydskap en genot,
van stille berusting.
Alles in ‘n paar woorde saamgevat.
Hierdie Psalm het al ontelbare moedeloses opgetel.
Hierdie Psalm was die salf
wat al ontelbare stukkende harte gesond gemaak het;
wat ontelbare weduwees in hulle eensaamheid vertroos het.
Deur hierdie Psalm het die hemel vir Christus se sterwende sodate geopen.
Dis sekerlik dié Psalm
wat tot met die wederkoms sal weerklink;
tot ons en ons kinders en hulle kinders veilig by die HERE is.
Psalm 23 is die hele Evangelie in ‘n neutedop.
Dank die HERE daarvoor!
Dank die goeie Herder daarvoor.
Hy’s onse God en Herder, Hy,
en ons die skape van sy wei.
En dis belangrik dat ons dit besef.
Hy is die Herder;
ons is die skape …
Want ek moet tog erken, Broeders en Susters,
Psalm 23 mag ‘n baie mooi Psalm wees,
maar dis nie in my natuur
om ‘n skaap te wil wees nie.
As ek aan skape dink,
dan dink ek aan dom diere.
‘n Domkop is ‘n skaapkop …
en ek wil nie graag ‘n domme wees nie!
En ons .. ons wil nie graag ‘n trop redelose skape wees nie.
Ek voel net skaapagtig
as ek iets onnosel aangevang het.
Ek kan mos vir myself dink …
en u ook.
U kan ook vir uself dink.
Nee, gee my ‘n halwe kans
en ek is eerder ‘n wolf!
Ek sal eerder skaapvleis eet
as om skaapvleis te wees.
Gee my ‘n halwe kans
en ek is eerder ‘n leeu!
Gee my ‘n halwe kans
en ek sal vir myself sorg,
ek sal my eie planne uitwerk!
Gee my ‘n halwe kans
en ek draf saam met die trop,
Koning Leeu se trop …
brullend op soek na iets om te verslind.
Die wêreld is ‘n plek vir wenners
en ‘n skaap het nog nooit iets gewen nie.
Elke hond vir homself
en die Duiwel agterhaal die een wat laaste is!
Nee … nee … dis belangrik dat ons dit besef:
Hy is die Herder;
ons is die skape.
Al wil ons nie sy skape wees nie,
bly ons nogtans skape.
Psalm 49 sê:
Dit is die weg van die
wat op hulleself vertrou.
Soos skape word hulle bestem vir die doderyk;
die dood is hulle herder (Ps. 49:15).
Óf die HERE is my herder
óf die dood is my herder …
maar skaap sal ek bly.
Daar’s is geen genade sonder hierdie besef nie.
Ook geen hoop nie.
Die HEER is God,
erken dat Hy
‘n eie volk vir Hom berei,
‘n volk om Hom te dien en vrees
‘n volk om skape van sy wei te wees.
Erken dit …
Elke keer as u die woord sagmoedig in die Bybel lees,
erken dit.
Of die woord eenvoudige.
Dit is ek, skaap!
Die skape is ootmoedig.
Hulle is lankmoedig.
Die skape is arm van gees.
Hulle honger en dors na die geregtigheid.
Die skape sal die koninkryk van God beërwe.
Net hulle sal aanlê in groen weivelde,
by waters waar rus is.
Die HERE is my herder is ‘n belydenis,
‘n belydenis van my persoonlike status:
Ek is ‘n skaap.
Ek is die HERE se skaap!
En elke persoon
wat hier in die gemeente belydenis van geloof aflê,
erken dit:
Ek is die HERE se skaap.
Ons erken dit met elke doop
en ons erken dit met elke Nagmaal.
HEER, ek is ‘n skaap verlore,
in die wildernis verdwaal.
U, my HEER en Herder, bid ek
dat U my tog wil kom haal.
Dit bring ons by die Herder van Psalm 23.
Hierdie Herder is nie ‘n skaapwagter nie.
Israel was nog altyd vol skaapwagters.
Huurlinge noem die Here Jesus hulle in Johannes 10:
Die huurling hy,
wat nie ‘n herder is nie,
van wie die skape nie die eiendom is nie.
Die huurling sien die wolf kom
en laat die skape staan en vlug.
Die huurling vlug,
omdat hy ‘n huurling is
en niks vir die kape omgee nie (Joh. 10:12,13).
Ons vind die skaapwagters en die huurlinge in Esegiël 34.
Hulle word genoem:
… die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf!
Moet die herders nie die skape laat wei nie?
Julle eet die vet
en beklee julle met die wol;
julle slag die vettes,
maar die skape laat julle nie wei nie.
Valse profete en fariseërs!
Ja, ook slaperige ouderlinge en gemaklike predikante!
Die geskiedenis van Israel was nog altyd vol skaapwagters en huurlinge.
Die geskiedenis van die kerk het ook ervaring van die valse profete,
die valse profete wat in skaapsklere na hulle kom
en van binne roofsugtige wolwe is (Mat. 7:15).
So noem die Here Jesus hulle in Mat 7.
Die charismatiese predikers met hulle massa saamtrekke …
Hulle wat die mensdom hemel op aarde beloof,
maar hulle net met leë beursies agterlaat.
Maar gelukkig ken ons ook die Goeie Herder.
In Esegiël 34 lees ons ook van die Goeie Herder.
Hy bring sy klag teen die valse profete:
My skape dwaal rond, sê Hy,
oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi,
sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek.
Hy bring sy klag teen die valse profete,
maar Hy aanvaar ook persoonlike verantwoordelikheid:
So sê die Here HERE:
Kyk, hier is Ek,
en Ek sal na my skape vra
en Ek sal vir hulle sorg.
Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is,
op die dag van wolke en donkerheid.
Ek sal hulle laat wei op die berge van Israel.
Op ‘n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei.
Ek self sal my skape oppas
en Ek self sal hulle laat lê en rus.
Die wat verlore is,
sal Ek soek,
en wat weggedryf is,
sal Ek terugbring,
en wat gewond is,
sal Ek verbind,
en die siekes sal Ek versterk (Eseg. 34:6 ev.).
In die Evangelie van Matteus lees verder van die Herder
wat na Israel toe gekom het
juis om die verlore skape van Israel te soek.
Ons lees in Mat 9:36
hoe Hy die skare gesien het,
en Hy het Hy innig jammer vir hulle gevoel.
Hoekom het Hy innig jammer vir hulle gevoel?
Omdat hulle moeg en uitgeput was,
soos skape wat geen herder het nie.
Niks ontbreek die Herder van Psalm 23 se skape nie.
Hy lei hulle.
Hy is altyd op soek na die beste weivelde.
Die waters moet waarlik rus gee.
Ja, selfs hulle siele moet verkwik word.
By hierdie herder word die skape geestelik versterk …
weer en weer.
Die skape luister na sy stem
en Hy roep sy skape by die naam.
Hulle hoor … hulle hoor wanneer Hy sê:
Kom … Kom almal wat vermoeid en belas is
en sal vir julle rus gee.
In Johannes 10 sê die Goeie Herder:
Ek het gekom
dat hulle lewe en oorvloed kan hê (Joh. 10:10).
Nie net hierdie lewe nie,
maar ook die ewige lewe.
Hy is daar tussen sy skape.
Hy is met hulle selfs in die dal van doodskaduwee,
in donker dieptes en doodsgevare.
Hulle hoef geen onheil te vrees nie,
want Hy is met hulle.
Sy Gees, sy Heilige Gees is daar … altyd daar by hulle.
Wees nie bevrees nie !
Hy het jou by jou naam geroep;
jy is syne!
As jy deur die water gaan,
is Hy by jou;
en deur die riviere …
hulle sal jou nie oorstroom nie;
as jy deur vuur gaan,
sal jy jou nie skroei nie,
en die vlam sal jou nie brand nie.
Sy stok en sy staf is ‘n vertroosting vir die trop.
Sy stok en sy staf weer die roofdiere af.
Dawid was self so ‘n herder
wat die roofdiere verjaag het.
Hy het dit so aan koning Saul meegedeel:
U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas,
en as daar ‘n leeu of ‘n beer kom
en ‘n stuk kleinvee uit die trop wegdra,
dan gaan ek uit agter hom aan
en verslaan hom
en ruk dit uit sy bek uit;
en as hy my aanval,
gryp ek hom aan sy baard
en verslaan hom
en maak hom dood (1 Sam. 17:34 ev.).
Dawid se Herder is nie ‘n gewone herder nie.
Hierdie herder veg vir sy skape.
In Psalm 78 word hy as die “herder-vors” beskryf … ‘n koninklike herder!
O goedheid Gods wat altyd dieper daal:
uit herderstent word Dawid weggehaal,
uit agterveld waar skape rustig wei,
om nou Gods volk as herder-vors te lei.
Hy ‘t hul gehoed in sy opregtigheid
en hul beskerm deur dapper krygsbeleid (Ps. 78:25).
Koning Dawid was nie bereid
om een van sy skape af te staan nie.
Die Seun van Dawid se kudde is oneindig groter …
en elkeen, siel vir siel, is vir Hom kosbaar.
Ook Hy sal nie een van sy kudde afstaan nie.
Jesaja veertig stel dit so pragtig:
Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke,
en sy arm sal heers.
Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder;
Hy sal die lammers in sy arm vergader
en aan sy bors dra;
die lammerooie sal Hy saggies lei (Jes. 40:10 ev.).
Sy stok en sy staf is nie net daar om die roofdiere af te weer nie,
maar ook om sy skape te lei …
op die spore van geregtigheid,
soos ons gelees het.
Sy stok en sy staf hou sy skape op die regte pad,
op die regte spoor.
Daarom span Hy ons toe met sy Gebooie …
nie om ons vryheid in te perk nie
(dis die leuen van die duiwel);
nie om ons vryheid in te perk nie,
maar om ons te bewaar
en te beskerm.
Die skape dwaal immers so maklik af,
maar Hy laat dit nie daar staan nie.
Hy laat hulle nie aan hulle lot oor nie.
As daar ‘n honderd is,
en een raak verlore,
dan laat Hy die nege-en-negentig staan
om die een verlore skaap te soek.
So offer die Herder-Koning Homself op vir sy skape.
Die professie van Jesaja beskryf die grootste opoffering
wat hierdie Herder-Koning vir ons gebring het:
Ons het almal gedwaal soos skape,
skryf Jesaja,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
Die Herder-Koning het self soos ‘n skaap geword!
Die Seun van Dawid het self ‘n slagdier geword …
ter wille van die kudde.
Hy is mishandel,
hoewel Hy onderworpe was,
en Hy het sy mond nie oopgemaak nie;
soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word
soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders
ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie (Jes. 53:7).
Twee keer in Johannes 10 bevestig Hy dit:
Ek is die goeie herder.
Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Joh. 10:11).
As ons in Psalm 23 bely:
Die HERE is my herder,
dan mag ons nooit vergeet
dat Psalm 23 na Psalm 22 kom.
Ons moet eers Psalm 22 hoor.
Ons moet eers hoor:
My God, my God, waarom het U my verlaat …
voor ons werklik kan sê:
Die HERE is my herder.
Broeders en Susters,
vier maal in die jaar kom tel hierdie Goeie Herder sy skape.
Vier maal per jaar ‘n jaar
bring Hy al sy skape van die Gereformeerde Matlabas in sy skaapstal saam.
Dan moet elkeen van hulle hier wees …
skaap vir skaap.
Dan berei Hy ‘n Nagmaaltafel
voor elkeen hier se aangesig.
Hy maak ons hoof vet met olie
en ons beker sal seker oorloop.
Ons siele sal verkwik word.
Kom, almal van u!
Kom, laat u tel!
Kom, en wees geseënd!
Amen.