Jeugdag: Jongmens, waarom noem jy My, HERE ?

" I'M BAD TO THE BONE! "
” I’M BAD TO THE BONE! “

WAAROM NOEM JULLE MY HERE, HERE ?

En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie? – Lukas 6:46

[Nota: op hierdie dag, ‘Jeugdag’, plaas ek weer hierdie vorige skrywe van my as boodskap aan ons jeug (en ons almal!), so bietjie aangepas vir vandag.]

Bybelstudie

By ons gemeente het ons vandag (2010.01.27) Bybelstudie gedoen oor 1 Pe.4:1-6,

“Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde,  2 om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.  3 Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye.  4 Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saamloop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster.  5 Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel.  6 Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.” 

Uit hierdie gedeelte het ons saam geleer uit God se Woord, ook gesien in die konteks van die hele brief:

  1. Christus het na die vlees gely, sodat ons nie net weer versoen word met ons hemelse Vader nie (3:18), maar ook sodat ons nou nie meer in die sonde sal bly lê nie (4:1b).
  2. Die lewe van die hier en nou (‘in die vlees’) moet ons inrig ‘volgens die wil van God’ (sy hele Woord en in die besonder sy Wet) (v.2; 1:25; 2:1).
  3. Ons lewens moet nie meer volgens ons vorige heidense lewenswandel van “ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye”, ingerig word nie (v.3; 1:14; 2:11)
  4. Die heidene en wêreld gaan met ons spot as ons strewe daarna om in Christus, midde hierdie ‘oop samelewing’ ons lewe te verander en die losbandigheid hoe langer hoe meer af te lê (v.4; 4:14),
  5. Maar ons troos is dat God regverdig sal oordeel oor die spotters, ons moet dit aan Hom oorlaat (v.5; 2:12; 3:12),
  6. Terwyl ons ons daarop moet toespits om die evangelie van Christus te verkondig (v.6; 2:12), Hy wat gaan kom om regverdig te oordeel (v.5).
  7. Die Lam van God (3:18) wat eenmaal gely het (let op die verlede tyd), kom nou as die Leeu van Juda (Op.5:5), vanaf die regterhand van God (3:22; Matt.28:18), ‘om die lewende en die dode te oordeel.” (v.5).
  8. Dit (Christus as Lam én Leeu) is ons dubbele troos, midde hierdie lewe van swaarkry en lyding vir Christus (4:12-19).

Beeldstudie

Na die Bybelstudie, lees ek later die dag in die Beeld (2010.01.27), onder die opskrif, “Jong Afrikaners se denke oor seks, vloek verander radikaal”, die volgende tragiese bevinding van ‘n studie wat gedoen is:

“Volgens Van der Merwe het jong Afrikaners se prioritisering van waardes in ’n post-apartheid-Suid-Afrika drasties verander. Ekonomiese welvaart en materiële sukses is die oorheersende prioriteit, nie meer ’n Christelik-nasionale lewensbeskouing nie.  Wat seks betref, is dit persoonlike behoeftes en praktiese reëls wat waardes bepaal.  Jong Afrikaners, het Van der Merwe gesê, is besig om hul eng konserwatiewe Christelike waardes en norme te ontgroei. Dit beteken nie dat hulle minder Christelik-georiënteerd is nie, maar dat hul persepsies en waarde-oordele oor Christenskap sedert 1994 ’n metamorfose ondergaan het.”

[Sien volledige artikel hier: Jong Afrikaners se denke oor seks, vloek verander]

Die artikel noem van ‘n studie wat bevind het dat die oorgrote ‘Afrikaner jongmense’ nie meer ‘n probleem het met:

  1. buite-egtelike seks (of dat dit sonde is nie),
  2. sekstonele en vloekwoorde in films en musiek nie, en
  3. dat gays Christene kan wees.

Die ontstellende van die artikel en bevinding is nie die sondigheid en boosheid van die (jong)mens (en ook ons almal!) nie,  dit is al ‘n gegewene sedert Adam (Rom.1:18ev; 3:10-23), maar wel die volgende meedeling:

Oor hul kerklike verbintenis is bevind sowat ’n derde was meelewende lidmate, nog ’n derde het ongereeld in die kerk gekom en die ander derde was kerklos.  Byna almal beskou hulself egter nog as Christene. ’n Groot meerderheid respondente het uit die drie Afrikaanse susterskerke gekom, maar het baie kritiek op die kerke gehad.

‘n Valse evangelie

Dit bring die vraag na vore: watter soort ‘evangelie’ het daardie jongmense gehoor terwyl hul grootgeword het ?  Daar is seker baie eiewilligheid en ongehoorsaamheid ook betrokke, maar is die feit dat die ‘oorgrote’ meerderheid hierdie dinge kwytraak,  nie ‘n vingerwysing na ons as predikers, kerkrade en ouers nie ?

Dit (“ek ‘glo’ in Jesus, maar lewe in doelbewuste ongehoorsaamheid en wetteloosheid) klink nie soos die evangelie wat Petrus en andere verkondig het nie.  Die ware Evangelie kan nie anders as om goeie werke, gehoorsaamheid, heiligheid en heiligmaking tot gevolg te hê nie  (1 Petr.1:15,16; sien ook HK v/a 64; NGB art.24).  Ja, ons goeie werke is die vrug, nie die wortel van ons redding nie, en daarom as iemand geen goeie vrugte dra nie, en volhardend slegte vrugte dra, dan getuig dit dat hy nog nie waarlik kind van God is nie, gee nie om wat hy bely met sy lippe nie (sien Matt.7:13ev.; Jak.2:14ev.; 1 Joh.1:5ev.).

Dit blyk al hoe meer dat ‘n valse jesus en ‘evangelie’ verkondig word, veral in vandag se moderne menseregte kerke, wat daarop neerkom dat ek ‘emosioneel’ vir Jesus kies (“I am a headbanger for jesus!”), maar my praktiese konkrete alledaagse lewe hoef nie ‘radikaal’ te verander en in gerig te word volgens God se goeie wet nie (contra Rom.12:1,2).  Die sogenaamde ‘carnal Christian’ kettery (contra Rom.6:1,2).

Dit is een ding om soos ons belydenisskrifte getuig, my hele lewe lank te worstel met my eie sondige natuur, die wêreld en die Satan en ‘hoe langer hoe meer’ te groei in gehoorsaamheid, al gaan dit soms stadig en moeilik (HK v/a 60,88-90,114,123,127; DL hfst.5; sien ook die Nagmaalsformulier oor die selfondersoek),

maar,

dit is ‘n bose dwaling uit die hel aangesteek wat leer: jy kan ‘n Christen wees maar nog volhardend en doelgerig lewe soos die heidene in ongebondenheid en losbandigheid (soos blyk uit hierdie ondersoek, sien wat leer die Skrif: 1Kor.6:10,11; Ef.5:5; Hebr.12:14).

Dit is een ding om jou eie swakheid en sondigheid te ken en daarmee te worstel voor God, en daarvan weg te vlug hoe langer hoe meer (1 Tim.6:11; 2 Tim.2:22),

maar,

dit is ‘n hele ander (bose) ding om na die sondes te vlug, en dit te begin goedpraat, en, die heelergste, om dit in die ‘Naam van jesus’ as kerklidmaat te probeer goedpraat of te laat klink asof dit darem nie meer so ‘erg’ is nie (Ps.1:1; Jes.5:20; Matt.5:19a; Rom.1:32).

Belydenis van Geloof

Die afgelope Sondag was ons ook bevoorreg by ons gemeente, om 5 jongmense te laat belydenis van geloof aflê, met die hoop en bede dat hul nie die pad sal volg van hierdie ‘Afrikaner jongmense’ nie.  Die teks waaruit die prediking gekom het vir belydenisaflegging, was Matt.7:21,

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”

Die preek kan hier geluister word.

My hart gaan uit na daardie misleide en onkundige jongmense wat dalk al jare onder ‘prediking’ en onderrig sit wat vir hul die pad na die hel “met lekker kry (uitteer) en laat klaarkry” (Ps.50:16,17; Spr.14:12; Matt.7:15; 2 Tim.4:3,4), en wat kan eindig in die verskriklike woorde van Jesus in Matt.7:23,

“En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” 

Prof. Bert Floor se verklaring op hierdie woorde is:

“Hierdie mense was nie bereid om af te lê die las en die sonde wat ons so maklik omring nie (Heb.12:1). Hulle oog was nie op Jesus, die Voleinder van die geloof gerig nie (Heb.12:2), maar op hulle sonde en ongeregtigheid.  Hoekom kon hulle nie ingaan nie? Jesus sê: Oor hulle ongeregtigheid (Mat.7:23). Daarom sê Hy vir hulle: Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! Hulle is nie mense wat teen hulle wil in sonde geval en daaroor getreur het nie. Hulle het die ongeregtigheid gewérk, met lus en oortuiging en toewyding die sonde gedien — en dit alles agter ‘n rookskerm van vroomheid en godsdienstigheid.” (“Kom na My: Matt.1-13”, e-Sword uitgawe verwerk deur Willem Swanepoel)

Terug na Christus en sy Kerk

As mede-brandhout wat genadiglik uit die vuur geruk is (Sag.3:2), hoop ek dat die boodskap van hierdie preek jul mag help om bo-alles die enigste Rots, ja, die ware Rots te herontdek (Matt.7:24; 16:18; 1 Kor.10:4) en Hom alleen te volg, hoe moeilik dit ookal is.  En, dit beteken om dan ook opnuut, ‘n ware kerk te gaan soek waar jy hoor van Jesus Christus en sy Woord, wat ‘n tweesnydende swaard is, vir jou ten goede (Joh.10:27; Hebr.4:12; lees ook NGB art.29 om jou te help om daardie kerk te vind).

Dit is tragiese omstandighede en tye waarin die ‘susterskerke’ haar bevind.

Mag ons elkeen, ouers, leraars, lidmate, kinders  – ons almal –  hand in eie boesem steek oor ‘n geslag jongmense wat besig is om te verlore te gaan ‘met praise en worship en al’, en nie oor dit die ANC of die ekonomie se skuld is nie, of omdat ons nie meer lekker kan ‘rock in my Afrikaanse taal’ nie, maar, omdat die volle ware allesomvattende Evangelie van Jesus Christus in sy volle konsekwensies en implikasies en gevolge nie meer verkondig word nie.

As ‘n jongmens, as enige mens, hoe oud of jonk, meen hy is ‘n ‘Christen’ maar sy hele lewe word nie bepaal deur die Woord nie (Ps.119:11; Hand.17:11), maar deur “persoonlike behoeftes en praktiese reëls”, dan moet die diep ondersoekende vraag gevra word (2 Kor.13:5; 2 Petr.1:10): 

Is ek waarlik Christen soos die Woord openbaar wat ‘n Christen waarlik is? (sien HK, v/a 32)

Laat ons ons opnuut aan die Woord toets (1 Joh.1 en 2):

 “ 6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. … 3 En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.  4 Hy wat : Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.  5 Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.”

 Laat ons daarom terugkeer na ‘sonde, verlossing, dankbaarheid(s)’-preke, om ook ons konkrete lewenswandel daarvolgens in te rig, in die lyn van 1 Kor.6:9,10 én 11:

“ 9 Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?  10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.  11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”

Ja, oorwinning is seker, maar dan alleen vir hulle wat in Christus is, elkeen wat hul sondes bely en dan daarteen stry, deur Christus, hul lewe lank. Dit geld vir elke mens – ook die jong geslag:

Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. aarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie. – 1 Kor.15:57,58

Hier is die preek: Matt.7:21 preek (Let wel: wanneer u kliek op die skakel, kan dit dalk ‘n rukkie neem voordat die preek begin, veral indien u internet konneksie aan die stadige kant is.)

Sien ook die volgende artikels: Jongmense

One thought on “Jeugdag: Jongmens, waarom noem jy My, HERE ?

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: