Onverliesbare Blydskap
ds MJ Booyens
Lees: Ps. 103
“… julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie.” (Joh. 16:22)
Om ‘n Christen te wees, beteken om bly te wees.
Die Christen se blydskap kan deur niemand van hom weggeneem word nie.
Die blydskap teken Jesus met ‘n sprekende beeld: “‘n Vrou het droefheid wanneer sy baar, omdat haar uur gekom het; maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan haar benoudheid nie, om die blydskap dat ‘n mens in die wêreld gebore is.”
Moedervreugde moet ‘n mens ervaar om te weet wat dit is. Net so moet ‘n mens die vreugde in Christus eers self ondervind om te begryp wat dit waarlik beteken.
“Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie.”
Die dissipels is bedroef omdat Jesus praat van weggaan. Hy het pas vantevore gesê:
“‘n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer ‘n klein tydjie, en julle sal My sien.”
Die afskeid lê swaar in die gemoed van die dissipels. Dit sal inderdaad vir hulle nog baie swaarder word. Dink aan hulle droefheid toe Hy aan die kruis hang en eindelik in die graf lê .. . Hy is dood… Alles is verby .. . Nooit weer sal hulle Hom sien nie…
Maar sy woord bly waar … Op die derde dag sien hulle Hom weer. Hy staan op. Hy verskyn aan hulle vir veertig dae. Dan is dit weer afskeid… Maar die afskeid is nou só anders … In hulle harte is daar nou nie droefheid nie, maar verwagtinge… Hulle sien uit na die Trooster wat sou kom. En die tiende dag is Hy weer daar… Want in die Heilige Gees is Jesus weer by hulle… Voortaan vervul Hy hulle lewe. Hy woon en werk binne in hulle. Hulle kan met Paulus sê:
“Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.”
Só maak Jesus sy woord waar: “en weer ‘n klein tydjie, en julle sal My sien.”
Hulle het Hom weer gesien in sy opstanding en in die koms van die Heilige Gees … En hulle belewe nou die blydskap wat niemand van hulle kan wegneem nie.
Wie kan ‘n mens beroof van die vreugde van die opstanding uit die dood?
Wie kan ons skei van die liefde van Christus?
Waar is iemand wat ons kan beroof van die Heilige Gees? H
Hy is net soos die Vader en die Seun ewig en waaragtig God en Hy is ook aan my gegee om my te troos en ewig by my te bly…
Die Here gee vreugde om dit nooit weer weg te neem nie. Dit is vir ewig onverliesbaar.
Indien ons bedroef sou wees, is onsself per slot van sake alleen daarvoor te blameer.
Dit is die gevolg van kleingeloof en twyfel. Geen uitwendige omstandigheid of skepsel kan ons van die vreugde beroof nie. Ons moet alleen maar leer om die Here op sy woord te neem.
Ons sit self ons hand voor ons oë en dan sien ons nie…
Bron: Elke dag in die Lig: dagstukkies uit die Evangelie volgens Johannes, ds. MJ Booyens
Leave a Reply