Posted by: proregno | September 8, 2014

Preek: Wie is die skape en bokke ? (Matt.25:31-46)

Lees: Matt. 10; Matt. 25:31-46

Tema: Skaapkraal of bokkraal?

Teks: Mat 25:31 … Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.

Psalms:100:1,2; 100:3,4; 34:7.8; 68:9; 105:21,22.

Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)

 

Broeders en Susters,

Die bedelaar wat u pad kruis …

is hy dalk …. is hy dalk die anonieme Christus?

Die kollektant by jou voordeur …

is hy dalk …. die anonieme Christus?

Die siekes in die hospitale,

mense wat jy van g’n kant ken nie,

is onder hulle dalk, dalk net die anonieme Christus?

En U het Hom of haar nie besoek nie?

 

En wat van die wat in die tronk is?

Dalk is die anonieme Christus onder die wat in die gevangenis sit?

En … en … ek en u het Hom ook nie dáár besoek nie?

 

Gaan hierdie versuim van my of van u ons bokke maak?

Plaas dit my in die bokkamp

dié dag as die Opperherder sy verskyning maak?

Sal dit die rede wees hoekom daar so baie,

so baie vervloektes sal wees?

Vervloektes wat bestem is vir die ewige vuur

wat berei is vir die duiwel en sy engele?

 

Ek het honger gehad,

en julle het My nie te ete gegee nie;

Ek was naak,

en julle het My nie geklee nie;

Ek was siek en in die gevangenis,

en julle het My nie besoek nie.

Voorwaar Ek sê vir julle,

vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My,

het julle dit aan My gedoen.

 

Hierdie Skrifwoorde word deesdae dikwels gehoor …

dikwels gehoor wanneer die geloofsgemeenskap opgeroep word tot medemenslikheid;

wanneer daar ʼn beroep gedoen word

op die Christendom se tyd en geld

om te help met die armste van die armes in die wêreld;

om ʼn skenking te maak aan die VIGS-wesies;

om hulleself te bemoei met die opheffing van die agtergeblewe Afrika.

ʼn Fondsie hier en ʼn bydrae daar …

 

Die vraag is net:

Is dit werklik wat hierdie Skrifgedeelte vir ons sê?

Roep hierdie Skrifgedeelte ons regtig op

om die anonieme Christus te gaan soek

daar onder die bedelaars,

onder die bedelaars wat u daagliks teëkom,

om Hom te gaan soek onder die behoeftiges?

Miskien onder een van die talle rampslagoffers

wat ons dikwels op televisie sien?

 

Is dit werklik wat hierdie Skrifgedeelte vir ons sê?

 

Sou ons hierdie verklaring volg

en dit ook só toepas,

het ons as Gereformeerdes onmiddellik ‘n probleem.

Ons word immers uit genade alleen gered.

Uit genade is julle gered

(skryf Paulus aan die Efesiërs)

Deur die geloof is julle gered.

Die redding is nie uit julleself nie:

Dit is ‘n gawe van God.

Die redding is nie uit die werke nie.

 

Maar hier in Mat 25, só wil dit lyk,

verdien ons die hemelse koninkryk.

Ons verdien die hemelse koninkryk deur ons goeie werke aan die mensdom!

 

En watter geweldige las plaas dit nie op die gelowiges nie:

Die versorging van al die ellendiges,

elke sieke, elke armlastige, elke tronkvoël …

Dit word nou op die rekening van die gelowige gesit.

Watter geweldige onmoontlike las!

 

Het die Here Jesus nie sy dissipels verseker

dat sy las lig is nie,

dat Hy juis ‘n uitkoms bied aan diegene

wat deur die Fariseërs se leer van werkheiligheid belas was nie?

Kom na my toe,

almal wat vermoeid en belas is,

en Ek sal julle rus gee.

Neem my juk op julle,

want my juk is sag

en my las is lig … (Mat 11:28 ev).

 

Hierdie vrae, Geliefdes,

dwing ons om weereens na Mat 25 te kyk

en onsself af te vra:

Het ons hierdie gedeelte reg verstaan?

Verstaan ons wat ons lees?

Is dit wat die Evangelie van Matteus ons leer?

 

Reeds vroeg in hierdie Bybelboek,

die Goeie Nuus, soos die apostel Matteus dit opgeteken het,

sien ons dat die Here Jesus met ‘n sending aarde toe gekom het.

Daardie sending tree in werking na sy doop in Mat 3.

Van toe af, so lees ons,

het Jesus begin om te preek

en te sê:

Bekeer julle

want die koninkryk van die hemele het naby gekom (Mat 4:17).

 

Aan die einde van die Matteus-boek val die klem nog steeds op die gepredikte Woord.

Gaan dan heen,

(sê Hy vir sy apostels)

maak dissipels van al die nasies,

en leer hulle om alles te onderhou

wat Ek julle beveel het (Mat. 28:19).

 

Deur die loop van die Matteus-evangelie

sien ons hoedat die Here van ‘n klompie vissermanne,

hoe Hy van hulle vissers van mense maak.

Hoe hy van ‘n klompie dissipels, volgelinge …

hoe Hy van hulle apostels, gestuurdes, maak.

 

En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan

en in hulle sinagoges geleer

en die evangelie van die koninkryk verkondig.

Toe sê Hy vir sy dissipels:

die oes is wel groot,

maar die arbeiders min.

Bid dan die Here van die oes,

dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur (Mat 9:35 ev.).

 

Die woord apostel word die eerste keer in die Nuwe Testament in Mat 10 gebruik.

Twaalf van die dissipels wat Hy uitgekies het,

word uitgestuur,

word as arbeiders in sy oes uitgestuur ….

Hulle word nou apostels genoem.

Die woord in Grieks beteken gestuurde.

Hulle word na die verlore skape van die huis van Israel gestuur om te preek,

om te preek en te :

Die koninkryk van die hemele het naby gekom.

 

Hulle moet doelbewus lig reis

met min klere en min geld.

Hulle moet staatmaak op die gasvryheid van die mense

by wie hulle aankom.

Hulle moet staatmaak op die gasvryheid van die mense

wat bereid is om na hulle woorde te luister.

 

Die huis of stad wat nie die boodskap wil hoor nie …

daardie plek se stof moet van hulle voete afgeskud word.

Voorwaar Ek sê vir julle,

(het die Here Jesus gesê)

dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag

as vir daardie stad.

 

Hulle moet verwag

om voor die regbanke gedaag te word;

om gegesel te word.

Hulle moet verwag om in die gevangenis gewerp te word.

 

In Mat 10 vers 40 sluit die Here sy opdrag aan die apostels af met die woorde:

Wie julle ontvang,

ontvang My;

en wie My ontvang,

ontvang Hom wat My gestuur het.

Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is,

sal die loon van ‘n profeet ontvang;

en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is,

sal die loon van ‘n regverdige ontvang.

En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink,

omdat hy ‘n dissipel is,

voorwaar Ek sê vir julle,

hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.

 

Aan die begin van Mat 24 vind ons die Here Jesus en sy dissipels buitekant die tempel in Jerusalem.

Ons Here voorspel die ondergang van die tempel.

Daar sal seker nie een klip op die ander gelaat word nie.

Alle vorme van Joodse nasionalisme en trots sal ten gronde gaan.

Die huis van Israel wat Jesus en sy apostels verwerp het,

sal God se oordeel ervaar.

Trouens, die evangelie van die koninkryk sal van nou af verkondig word in die hele wêreld.

Dit sal verkondig word tot ‘n getuienis vir al die nasies

en dan sal die einde kom (Mat 24:14).

 

Dan, aan die einde van hoofstuk 25,

ons gelese Skrifgedeelte,

gee die Here Jesus ‘n opsomming van die eindoordeel.

Voor Hom sal al die nasies versamel word

en Hy sal hulle van mekaar afskei

soos die herder die skape van die bokke afskei.

 

Wie is nou die skape en die bokke?

 

Die skape is diegene wat die Evangelie van die Koninkryk ontvang het.

Dis hulle wat die Here Jesus se apostels in hulle huise in genooi het.

Dis hulle wie se beursies oop was vir die verkondiging van die Woord.

Dis hulle wat die gesante van die Here versorg het

toe die gesante nie meer klere gehad het nie;

toe die apostels siek was.

Dis hulle wat die Here se gestuurdes besoek het

toe hulle in die tronk gegooi was.

 

Dis hulle wat in die eindoordeel as skape gereken sal word.

 

Wie julle ontvang,

ontvang My;

Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is,

sal die loon van ‘n profeet ontvang;

En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink,

omdat hy ‘n dissipel is,

voorwaar Ek sê vir julle,

hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.

 

Voorwaar Ek sê vir julle,

vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My,

het julle dit aan My gedoen.

 

Lees ons die res van die Nuwe Testament dan, sien ons

dat hierdie dinge ook so gebeur het in die tyd van die apostels.

 

Paulus skryf in sy tweede brief aan die Korintiërs

oor wat alles al met hom as apostel gebeur het:

Drie maal is ek met stokke geslaan,

drie maal het ek skipbreuk gely,

‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring,

dikwels op reis,

in gevare van riviere,

in gevare van rowers,

in gevare van my volk,

in gevare van die heidene,

in gevare in die stad,

in gevare in die woestyn,

in gevare op see,

in gevare onder valse broeders;

in arbeid en moeite,

in slapelose nagte dikwels,

in honger en dors,

dikwels sonder ete,

in koue en naaktheid (2 Kor. 11:23 ev.).

 

Maar dan skryf hy ook aan die Filippense:

Dankie dat julle die diaken Epafroditus gestuur het

om my in die tronk te besoek.

Dankie dat julle vir my ‘n geldelike bydrae gestuur het.

Nie dat ek die gawe soek nie,

(sê hy)

maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening (Fil 4:17).

 

In sy derde brief skryf die apostel Johannes op sy beurt aan die geliefde Gajus:

Geliefde, jy handel getrou in alles wat jy doen vir die broeders,

en dit vir vreemdelinge.

Jy sal goed doen

as jy hulle voorthelp op ‘n voor God waardige wyse.

Want vir sy Naam het hulle uitgegaan

sonder om iets van die heidene te neem.

Ons behoort dan sulke mense goed te ontvang,

sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word (3 Joh 5).

 

Vir dieselfde rede moet die ouderlinge in besonder gasvry wees.

So leer die apostel Paulus ons in twee van sy pastorale briewe,

die eerste brief aan Timoteus, asook die brief aan Titus.

Daar staan:

‘n Opsiener moet as ‘n rentmeester van God onberispelik wees,

nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie,

maar gasvry …

 

Geliefdes, Broers en Susters,

Wat sal bepaal of ons uiteindelik eendag in die skaapkraal of die bokkraal sal wees?

Dis nie ons algemene medemenslikheid nie?

Dit sal nie ons goeie dade aan die ellendige mensdom wees nie.

Daar is wel gedeeltes in die Bybel

wat ons oproep tot diens aan ander,

ook diens aan ander buite ons geloofsverband.

 

Maar wanneer ons Mat 25 lees,

dan is daar iets heeltemal anders op die spel.

 

Ons eindbestemming … die skaapkraal of die bokkraal …

word bepaal deur die wyse waarop ons die Evangelie ontvang het.

En wanneer ons die Evangelie, die Goeie Nuus, met blydskap ontvang het,

dan kan ons mos nie neutraal daarteenoor staan nie.

Dit sê die Here Jesus self ook in Mat 12:

Hy wat nie met My is nie,

is teen My;

en hy wat nie saam met My versamel nie,

hy verstrooi (Mat 12:30).

Dan sal ons mos ook daardie Evangelie op sy pad deur die wêreld wil voorthelp,

dan sal ons mos daardie Goeie Nuus met ander wil deel.

 

Dan sal ons huise en ons harte

en ons beursies en ons tyd daarvoor beskikbaar wees.

Dan sal ons mos mede-arbeiders van die waarheid wil wees.

 

Dit kan mos nie anders nie!

 

Dan kan ons as gemeente nie net tevrede wees met ons situasie nie.

Dan kan ons as gemeente mos nie tevrede wees

om net die erediens in stand te hou nie.

Die Evangelie is nie iets wat in stand gehou moet word nie.

Jesus sê in sy eie woorde:

Ek het gekom om vuur op die aarde te werp (Lu 12:49).

Die Evangelie is ‘n veldbrand!

‘n Veldbrand wat deur die hele wêreld woed.

 

Broers en Susters,

ons hoef ons nie te bekommer oor ‘n anonieme Christus nie,

‘n anonieme Christus, vermom as hierdie of daardie bedelaar nie.

 

Ons moet ons wel bekommer oor die gesante van Christus

en wat van hulle boodskap word.

Christus se gesante sal oop en bloot na U toe kom.

Die Evangelie van God se genade en oordeel vir hierdie wêreld

sal oop en bloot in hulle hand wees.

Die Evangelie van Jesus Christus se heerskappy sal oop en bloot uit hulle mond gehoor word.

 

Wee die dag as die kerk van die Here Jesus Christus

haarself in allerhande sosiale opheffings programme begin verloor!

Wee die dag as die kerk meegesleep word deur die regering van die dag

om armoede te verlig,

of om die rekening vir die VIGS-pandemie te help dra,

of om die bevolking op te voed

om goeie landsburgers te wees!

Wee die dag as die kerk haar roeping verloor het,

haar roeping om die Evangelie van die koninkryk uit dra.

Amen.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: