DIE GEREFORMEERDE EREDIENS
2. Die sang (b) & 3. Die sang (c)
Ek plaas hier, in ‘n paar aflewerings, Totius se verduideliking van waaroor die gereformeerde erediens gaan, ons onmoeting met die lewende God elke rusdag, asook ander sake.
Baie doen dit bloot uit gewoonte, en besef nie dat daar goeie redes is waarom ons sekere handelinge het in ons gereformeerde bybelse liturgie.
Ander weer is so ‘vry’, hul het nie veel van oor ‘hoe’ die Here aanbid wil word nie (sien HK, Sondag 35), maar glo dit gaan bloot oor ‘dat’ die Here aanbid word.
Hierdie paar artikels van Totius het in die Kerkblad verskyn en kom uit die 1960 Dagbreek boekhandel uitgawe van Totius se ‘Versamelde Werke’,deel 7, afdeling 2 (die volledige 1960 stel kan hier by dr. Attie Bogaards se blog afgelaai word onder die ‘Leer’ afdeling)
Inhoud:
Die modelgemeente:
1. Die sang (a)
2. Die sang (b)
3. Die sang (c)
4. Votum en seënspreuk
5. Voorlesing van die Skrif
6. Voorlesing van die wet
7. Skuldbelydenis en skuldvergiffenis
8. Die gebed
9. Die preek
10. Die kollekte
11. Die doopsbediening
12. Die ‘sneldoop’
13. Antwoord: Ja
14. Doopgetuies
15. Wat staan hoër: die kerkraad of sinode ?
16. Die konsistoriegebed
(Ander artikels in die reeks: Die Gereformeerde Erediens, Totius)
DIE KERK – Liturgies
2. DIE SANG (b)
Lidmaat: Geagte Dominee, ek het nou die dag met my ouderling ‘n gesprek gehad oor die sing van Psalms en Gesange. Wat ek toe vir die eerste keer gehoor het, was dat die psalms, lofsange en geestelike liedere wat in 1 Kor. 14:26; Ef. 5:19 en Kol. 3:16 genoem word, nie die Psalms en Gesange is wat later van tyd in die kerke gebruik is nie.
Leraar: Het die broeder ouderling u nie gesê op watter manier hy dit te wete gekom het nie?
Lidmaat: Ja, hy het vir my ‘n stukkie voorgelees uit die Liturgiek van ‘n prof. Heyns, en hy het gesê dat u hom vertel het dat ook ander geleerdes met hierdie professor hieroor saamstem.
Leraar: Ja, dit het ek gedoen.
Lidmaat: Maar mag ek nou vra wie die ander geleerdes is?
Leraar: Hoekom nie? Ek sal u eers ‘n stukkie laat lees uit die beroemde werk van De Pressensé, met die titel: Geschiedenis van de drie eerste eeuwen der Christelijke kerk.
Lidmaat: Sal u so goed wees om dit maar self te lees?
Leraar: Goed. Op bl. 608 sê die geleerde skrywer: „As iemand ‘n psalm het, moet hy dit laat hoor, sê die apostel (1 Kor. 14:26; Ef. 5:19; Kol. 3:16). Hier is blykbaar sprake van ‘n nuwe gesang wat deur die Gees van God aan ‘n lid van die vergadering ingegee is. Die gesang staan so te sê in die middel tussen die gawe van die tale en die kalm en afgemete woord van die onderwysing”.
Lidmaat: En soos ek toe verstaan het, het hierdie gesange verdwyn, nie waar nie?
Leraar: Ja, De Pressensé sê verder: „Daar het vir ons nie ‘n enkele gedenkstuk van hierdie eerste Christelike psalms oorgebly nie, omdat hulle net soos hulle gebede uit heeltemal vrye beweging van die gemoed voortgekom het en hulle in daardie dae van magtige besieling in oorvloedige mate vermenigvuldig het”.
Lidmaat: Hierdie een uitspraak is vir my genoeg, Dominee. Wat vir my ook opmerklik was in die gesprek waarna ek netnou verwys het, is die mededeling dat die Gereformeerde Kerke in hulle oorsprong Psalmsingende kerke is.
Leraar: Ja, daaroor het ek kort gelede ‘n paar belangrike besonderhede gelees in die werk van prof. Doumergue, getiteld: Calvijn in het strijdperk.
Lidmaat: Maar, Dominee, het u al die boeke gelees wat daar in u rak staan?
Leraar: Nee, in die meeste kyk ek so ‘n bietjie om te weet waar om iets te kry as ek dit nodig het.
Lidmaat: En wat sê die professor?
Leraar: Op bladsy 420 lees ek dit: „Die Gereformeerde Kerk is onder Psalmgesang gestig. Du Boulay het getuig: Die Protestante het by La Ferriere vergader om by Psalmgesang die grondslag vir hulle godsdiens te lê. De Raemond het geskryf dat toe die Psalms verskyn het, die kerk van Calvyn ontstaan het. Volgens ‘n ou teenstander is die Psalms ,Die formulier van die Calvinistiese godsdiens’. Op ‘n brandstapel, in die kerker, tydens die kolleges, op die slagveld weerklink die Psalms”.
Lidmaat: Nou word die saak vir my al belangriker. Ek het nie geweet dat daar so ‘n wegslepende krag in die taal van Dawid geskuil het nie.
Leraar: Ja, as ons maar met ons hele hart kon sing, hoe sou ons geestelike lewe nie deur die Psalms van Dawid verryk geword het nie!
Lidmaat: Maar, eerwaarde Dominee, word die krag van Dawid se taal ook in ons beryming gevind?
Leraar: Seer seker. Die dieptes van Dawid se sielelewe word meestal goed, dikwels baie treffend vertolk. Lees ‘n bietjie die beryming van Ps. 42.
Lidmaat: Sou die liedere van die eerste Christene, as hulle bewaar sou gebly het, nie ook so ‘n magtige invloed in die wêreld uitgeoefen het nie?
Leraar: Seker wel. In elk geval is dit opmerklik dat die Nuwe Testament nie ‘n boek met liedere het soos die Oue nie.
Lidmaat: En het Calvyn die liedere wat later ontstaan het, darem goed ondersoek?
Leraar: Dit is wat ek wel moet opmaak uit wat prof. Doumergue op bladsy 411 daaroor sê. Daar staan dit: „Douen het Calvyn verwyt van bekrompte letterknegtery, omdat hy die Gereformeerde Kerk gebied het om net Psalms te sing. Maar Calvyn het eers ander liedere gesoek, maar hy kon nie beteres as die Psalms vind nie. Moet ‘n mens jou daaroor verbaas dat hy hulle laat sing het? Het die Psalms, met hulle geroep uit dieptes van ellende, hulle smeking om redding, hulle vertroue op die soewereine God, nie uitnemend by die kerk van die 16de eeu gepas nie?”
Lidmaat: Nou ja, Dominee, baie dankie vir u inligtinge. Tot weersiens.
Het Kerkblad, nr. 187, 1Augustus 1906. (Vertaal.)
3. DIE SANG (c)
Lidmaat: Ek is bly, geagte Voorsinger, om u te ontmoet. Daar is verskillende punte in verband met ons kerksang wat vir my nie heeltemal duidelik is nie. Daaromtrent sal u my seker die nodige inligting kan gee, want ek het verneem dat u ‘n beoefenaar van die musiek is.
Voorsinger : Ja, ek praat graag met lidmate oor hierdie saak. Maar wat is nou eintlik die moeilikheid?
Lidmaat: Ek sien in my Psalmboek dat party note strepies het en ander nie. Wat moet dit beteken? Ons sing hulle tog almal eenders.
Voorsinger : Kyk, die bedoeling daarvan is dat die note met die strepies kort en die sonder strepies lank gesing moet word.
Lidmaat: Maar as ons sing, is al die note tog ewe lank.
Voorsinger : Ja, seker, maar dit was oorspronklik nie so nie. Die melodieë van ons Psalms is grootliks afkomstig van die musikant Bourgeois, die voorsinger in Genève in die tyd van Calvyn. Hy het die strepies daarby gesit, en daarvolgens het die eerste Gereformeerdes die Psalms gesing: party note korter en die ander langer. En dit het seker mooi geklink. Probeer ‘n bietjie om die Psalms so te sing: die note met strepies die helfte so lank as die wat nie strepies het nie.
Lidmaat: Dit sal ek glo. Ek kan my voorstel hoe anders byvoorbeeld die Transvaalse Volkslied moet klink as ‘n mens al die note ewe lank uitrek. Maar wanneer het hulle dan daardie ou gewoonte laat vaar?
Voorsinger : Dit het waarskynlik aan die einde van die 18de eeu gebeur, toe die nuwe beryming wat ons nou nog gebruik, ingevoer is. U weet seker dat ons nie meer die oorspronklike beryming het nie.
Lidmaat: Ja, daarvan het die dominee en my ouderling my alles vertel.
Voorsinger : Nou ja, toe (in die 18de eeu) was hulle in die kerke gewoond om die note „by die el uit te rek” en is, om dit teen note almal ewe kort of ewe lank gesing is.
Lidmaat: As dit so is, sou dit dan nie goed wees om weer na die ou pad terug te keer nie? Niemand kan tog sê dat ons nuwighede invoer nie.
Voorsinger: Ja, vir die musiek in die kerk sal dit seker ‘n aanwins wees. Maar nou stuit ons op twee besware. Ten eerste is dit nou eenmaal die gewoonte om die note ewe lank vas te hou, en dit kos ‘n held om daarin verandering aan te bring. En ten tweede dink ek dat daar ‘n voordeel aan verbonde is om die Psalms op note van gelyke duur te sing. Daardeur word die kerklied duidelik van die wêreldse lied onderskei.
Lidmaat: Dit is waar. Party geestelike liedjies wat teenswoordig gesing word, klink net soos dansliedjies as hulle maar net vinnig genoeg opgedreun word.
Voorsinger: Ja kyk, reeds in die ou kerk was die sing met kort en lang note die aanleiding dat die kerksang in melodie wêrelds geword het. As protes daarteen is in die Roomse Kerk in die 7de eeu die Gregoriaanse koraalsang ingevoer, waarin die note almal ewe lank van duur was.
Lidmaat’. U praat nou van koraalgesang. Wat beteken dit nou eintlik ? Ek hoor daardie woord so dikwels gebruik.
Voorsinger: Die uitvoering van die Gregoriaanse sang is aan ‘n goed geoefende koor opgedra; vandaar die benaming koraal.
Lidmaat: Van koor gepraat, wat dink u: is dit nie goed om ‘n koor in die kerk te hê nie? Dit is tog regtig pragtig om ‘n koorsang te hoor.
Voorsinger: Hierop antwoord ek beslis: Nee. Ons kom nie in die kerk bymekaar om mooi musiek te hoor nie (daarvoor gaan ‘n mens na ‘n konsert) maar om as gemeente die Woord van God te hoor en wederkerig as gemeente God se lof en prys te sing. Die gemeente, die vergaderde volk van God, moet Hom verheerlik, en nie ‘n gedeelte daarvan of ‘n afsonderlik georganiseerde koor nie. Die laasgenoemde gaan inteen die hele bedoeling van ons erediens.
Lidmaat: Maar die koor laat ook die Woord van God hoor, en dit is baie indrukwekkend.
Voorsinger: Nee, daardie Woord laat die wettige dienaar van die Woord hoor, wat daartoe van Godsweë geroep is. Die apostels het die evangelie nie deur koorsange verkondig nie maar deur die prediking. En as dit nie ingepreek kan word nie, is dit onmoontlik om dit in te sing. In ons dae wil hulle die godsdiens aangenaam en aantreklik maak deur koorsange en allerhande ander fraaiighede.
Lidmaat: Natuurlik, as ‘n gemeente so goed sing soos die een waarvan u voorsinger is, dan is ‘n koor heeltemal onnodig, en dan staan ‘n mens ook suiwer met betrekking tot beginsel. Maar vertel my hoe die gemeente sover gekom het.
Voorsinger: Kyk, ons het net soos Calvyn met die jeug begin. Hy het die metode gevolg dat die kinders, wat daartoe onderwys is, eers in die kerk die Psalms gesing het, en dat die volk, wat nog onbekend was met die pas ingevoerde melodieë, dit van hulle geleer het.
Lidmaat: Moes die kinders by u in die diens voorsing.
Voorsinger: Nee, dit was nou juis nodig, omdat ons mense met die Psalms grootgeword het. Om egter die skoonheid van die sang te bevorder, het ons daarmee begin om die jeug buite die kerkdiens goed te oefen, en by die „aanneming” is elkeen ondersoek met betrekking tot sy bekwaamheid om te sing.
Lidmaat: En was ‘n mens daarmee volleerd?
Voorsinger: O nee, op die verskillende buiteplekke het die jongmense, onder leiding van die oueres, sangverenigings opgerig, waarin die Psalms vierstemmig gesing is. Ook hierdie middel het uitstekend gewerk.
Lidmaat: En hoe kan ons oueres ons deel doen om die eer van God op die skoonste wyse te sing?
Voorsinger: Daarvoor het ek die wat nie meer op die leerbank kan sit nie, die een en ander aangeraai. Ten eerste moet hulle die Psalms by die huisgodsdiens sing, en wel soveel moontlIk op die ry af. Ten tweede moet hulle in die kerk regop sit, ook wanneer hulle sing. As ‘n mens vooroor leun of skuins lê of met die hand onder jou kind sit, kan jy nie sing nie. Die longe wil speelruimte hê, en die mond moet maklik gebruik kan word. En, eindelik, moet ‘n mens weet dat om te skreeu nie sing is nie. Die ou dominee Kist het reeds die aanmerking gemaak oor hulle wat skynbaar gemeen het dat God eers reg verheerlik word „as die aangesigte van die sangers met vuurrooi en pers kleure bedek word en dit gaan asof die gewelwe op hulle grondveste dreun”.
Lidmaat: Nou, ek sal voortaan probeer om ook in my sang dit te soek wat mooi klink. Baie dankie en tot siens.
Het Kerkblad, nr. 188, 1 September 1906. (Vertaal.)
Ander artikels in die reeks: Die Gereformeerde Erediens, Totius
Leave a Reply