DIE GEREFORMEERDE EREDIENS: 1. DIE SANG (a)
Ek plaas hier, in ‘n paar aflewerings, Totius se verduideliking van waaroor die gereformeerde erediens gaan, ons onmoeting met die lewende God elke rusdag, asook ander sake.
Baie doen dit bloot uit gewoonte, en besef nie dat daar goeie redes is waarom ons sekere handelinge het in ons gereformeerde bybelse liturgie.
Ander weer is so ‘vry’, hul het nie veel van oor ‘hoe’ die Here aanbid wil word nie (sien HK, Sondag 35), maar glo dit gaan bloot oor ‘dat’ die Here aanbid word.
Hierdie paar artikels van Totius het in die Kerkblad verskyn en kom uit die 1960 Dagbreek boekhandel uitgawe van Totius se ‘Versamelde Werke’,deel 7, afdeling 2 (die volledige 1960 stel kan hier by dr. Attie Bogaards se blog afgelaai word onder die ‘Leer’ afdeling)
Inhoud:
Die modelgemeente:
1. Die sang (a)
2. Die sang (b)
3. Die sang (c)
4. Votum en seënspreuk
5. Voorlesing van die Skrif
6. Voorlesing van die wet
7. Skuldbelydenis en skuldvergiffenis
8. Die gebed
9. Die preek
10. Die kollekte
11. Die doopsbediening
12. Die ‘sneldoop’
13. Antwoord: Ja
14. Doopgetuies
15. Wat staan hoër: die kerkraad of sinode ?
16. Die konsistoriegebed
(Ander artikels in die reeks: Die Gereformeerde Erediens, Totius)
DIE KERK – Liturgies
DIE MODELGEMEENTE: I. DIE SANG (a)
Lidmaat: Waarde Ouderling, soos u weet, is ek nog nie lank lidmaat van hierdie gemeente nie. By die laaste Nagmaalsviering is my attestasie ingedien en aangeneem, en omdat ek in u wyk ressorteer, kom ek u nou besoek.
Ouderling: Ek was van plan om met my volgende huisbesoek ook by u aan te kom, maar ek vind dit baie voorbeeldig dat u my die eerste kom besoek.
Lidmaat: Ja, ek kom omdat, ek baie te vra het, miskien meer as wat u my by een geleentheid kan beantwoord. U moet my nuuskierigheid verskoon. Ek was vroeër lid van ‘n ander kerk, en, hoewel ek reeds ‘n geruime tyd lidmaat van ons Kerk is, is ek nog nie goed op hoogte van al ons kerklike beginsels en gebruike nie.
Ouderling: As ek enige inligting kan gee, sal ek dit graag doen, as dit maar net nie te diep gaan nie.
Lidmaat: Wat my nog altyd by u erediens tref, is dat daar net Psalms gesing word. Die diens begin daarmee en gaan verby sonder dat een Gesang opgegee word. Nou wil ek tog graag weet waarom dit so is.
Ouderling’. Ja, dis ‘n ou kwessie. Maar dit is goed dat ons daaroor praat. Dit verbaas my nie dat u daaroor inligting vra nie. Daar is, helaas mense wat in ons Kerk oud geword het en tog maar min van die saak af weet.
Lidmaat: Maar, Ouderling, laat ons by die ou kerk begin. Hoe verklaar u Efesiërs 5:19 en Kolossense 3:16? Daar word nie alleen van psalms geskryf nie maar ook van lofsange en geestelike liedere. Word daarmee dan nie die sing van Gesange toegelaat nie?
Ouderling: Broeder, u moet nou oppas dat u nie die Skrif somaar blindelings aanhaal nie. As Paulus van psalms spreek, dan bedoel hy nie die Psalms wat nou by ons in gebruik is nie. Hy sinspeel op ‘n psalm wat deur die Heilige Gees aan een van die gemeentelede voor of gedurende die godsdiensoefening ingegee is. U weet mos dat die buitengewone geestesgawes (charismata) toe aan die gemeente geskenk is, soos die spreek met vreemde tale, die doen van wonders, ens.
Lidmaat: Maar het die gawes dan nie gebly nie?
Ouderling: Nee; hulle was nodig om die gemeente in die wêreld te grondves en het later verdwyn, soos ook die buitengewone ampte van die apostels, ens. As Paulus dus elders sê: As iemand ‘n psalm het, dan word hier sowel as op die genoemde plekke nie ‘n Psalm van
Dawid bedoel nie maar ‘n lied wat deur iemand uit die gemeente deur die ingewing van die Heilige Gees gemaak is.
Lidmaat: Daar word dus in die tekste nie gebied dat die Psalms van Dawid gesing moet word nie?
Ouderling: Juis, dit word nie daar gebied nie; maar u sal nou ook verstaan dat die sing van die aan ons bekende Gesange ewe min daarin gebied word. Die psalms en lofsange wat daar genoem word, het eenvoudig saam met die buitengewone geestesgawes verdwyn. Hieromtrent sal u nader ingelig word deur die boek van prof. Heyns, met die titel Liturgiek, wat ek onlangs gelees het. En dan het ons predikant my gesê dat ook ander geleerdes daarin met prof. Heyns
saamstem.
Lidmaat: Vertel my dan hoe dit kom dat ons Kerk net die Psalms sing. Waar het die saak begin?
Ouderling: Kyk, Luther en Calvyn, die groot Kerkhervormers, verskil op heelwat punte. Ook op die punt van die kerkgesang. Luther het dadelik naas ‘n paar berymde Psalms geestelike liedere ingevoer, sodat die sing van Gesange in die Lutherse Kerk dadelik gewoonte was.
Lidmaat: En Calvyn?
Ouderling: Hy wou eintlik net die Psalms van Dawid gebruik. Hy sê: „Wat die kerkvader Augustinus gesê het, is waaragtig, nl. dat niemand iets kan sing wat God waardig is nie of hy moet dit van God ontvang het. Daarom”, so gaan Calvyn verder, „sal ons, ook nadat ons orals gesoek en nagespeur het, geen beter liedere vind of wat meer geskik is om dit te doen, as die Psalms van Dawid, wat hom deur die Heilige Gees ingegee is nie. Alleen as ons hulle sing, is ons seker dat God ook die woorde in ons mond lê, asof Hy self in ons sing om sy eie glorie te verhoog”.
Lidmaat: Dus is ons Kerk wat sy oorsprong betref ,’n Psalmsingende kerk ?
Ouderling: Ja, en Calvyn het vreeslik baie moeite gedoen om die psalms berym te kry. Daarvoor moes hy ander mense soek, omdat hy homself as onbekwaam beskou het. U kan dit alles in die boek van prof. Heyns vind, waaruit ek netnou die stukkie voorgelees het.
Lidmaat: Maar daardie beryming was natuurlik in Frans, en ons s’n is Hollands.
Ouderling: Ja, seker. Kyk, daardie Franse beryming is deur Datheen in Hollands vertaal en in 1566 uitgegee en het in ons ou kerke algemeen byval gevind. Later het die liefde vir die Psalms van Datheen egter verkoel.
Lidmaat: En waar kom ons beryming nou vandaan?
Ouderling: Teen die werk van Datheen het later al meer verset in die kerke gekom, totdat hulle in 1771 oor ‘n nuwe beryming tot eenstemmigheid gekom het. Toe die State van Holland dit bemerk, het hulle die deurslag gegee deur ‘n kommissie van nege predikante in Den Haag saam te roep (een predikant uit elke provinsie). Hulle het ons beryming saamgestel uit die werke van H. Ghysen, J. E. Voet en die Genootskap Laus Deo Salus Populo.
Lidmaat: Ons beryming is dus nie deur ‘n Generale Sinode ingevoer nie.
Ouderling: Soos ek gesê het, die beweging het uit die kerke gekom maar het sy beslag gekry deur die staat.
Lidmaat: Maar is ons dan nie verplig om nog die beryming van Datheen te gebruik nie? Dit is mos deur die Sinode van 1618 in art. 69 van ons Kerkorde bedoel, waar staan: „In die Kerke moet alleen die 150 Psalms van Dawid, ens. gesing word”.
Ouderling: My broeder, hier het u weer nie goed gelees nie. Die groot Sinode van Dordt het met ‘n ander kwessie te doen gekry. Daar word nie uitspraak gegee oor hierdie of daardie beryming nie. Daar word net gesê dat daar geen gesange gesing moet word nie, behalwe die wat in daardie artikel genoem word. Die Dordtse Sinode het ons nie aan ‘n beryming gebind nie maar net gese dat ons geen ander gesange moet sing as die wat daar by name genoem word nie.
Lidmaat: Ja, daarop het ek nog nooit so skerp gelet nie. Nogtans beskou ek dit as gevaarlik om somaar enigeen se beryming te gebruik, omdat die berymer maklik sy eie gedagtes orals kan invleg.
Ouderling: Hierdie gevaar bestaan seker. Maar ons gebruik dan ook nie enige beryming nie. Ons Psalmboek is saamgestel uit daardie drie beryminge wat ek reeds genoem het, en hulle was by die kerke bekend. Bowendien word ons beryming nou deur ons susterkerke in Nederland en Amerika gebruik, en hoewel die mense daar ons grondslae noukeurig ondersoek, het die kerke nog nie enige verandering in die beryming voorgestel nie. In Holland word wel een sin van die
Belydenis geskrap, maar verbetering in die Psalmberyming was blykbaar nog nie noodsaaklik nie.
Lidmaat’. Ek verstaan nou: die beryming is meer ‘n saak van uitvoering. Vertel my egter wat nou die groot beswaar teen die Gesange is, waarde Ouderling.
Ouderling: Wel, om te begin maak ek u opmerksaam op die verskil tussen die beryming van Psalms en die maak van Gesange. Die berymer probeer om die gedagtes wat hom gegee word, in maat en rym oor te bring. Die digter van Gesange giet egter gewoonlik sy eie gedagtes in versmaat om. Daarom het Calvyn by voorkeur gewens om die beryming van Clement Marot magtig te word, hoewel hierdie Marot nie ‘n man van die geloof was nie maar ‘n wêreldse mens.
Lidmaat: Weet u iets meer omtrent Marot?
Ouderling: Ja, in daardie boek wat ek genoem het, kan u heelwat omtrent hom vind. Hy was ‘n kamerdienaar van die Franse koning en ‘n man met groot digterlike gawes. Toe hy gevlug het na Genève, die stad waar Calvyn gewerk het, het Calvyn geweet om hom tot die beryming te beweeg. Wonderlik dat God Marot, wat Genève ‘n „heil” genoem het, omdat ‘n mens daar sedig moes gelewe het, gebruik het om die kerk met sulke skone Psalmbewerkinge te verryk!
Dr. Kuyper sê volgens prof. Heyns: „Die hoë voortreflikheid van die Psalms van Marot is daarin geleë dat hy niks anders gedoen het as om na te sing wat God, die Heilige Gees, vir hom in die Psalms voorgesing het nie”.
In Marot se persoon sien u dus die verskil tussen ‘n berymer en ‘n digtery uit sy eie gedagtes sou so ‘n wêreldse mens nooit dieselfde kon gedoen het nie.
Lidmaat: Het die Gesangedigters dan hulle eie gedagtes gevolg?
Ouderling: Meestal wel. Ten minste as daar tekste bygebring kan word wat moet bewys dat hulle Bybelse gedagtes besing het, dan kan daar net so goed tekste aangehaal word wat staaf dat hulle ook onbybelse dinge ingesmokkel het. In elk geval, meestal het hulle hulle nie deur ‘n bepaalde Skrifafdeling laat bind soos die berymers van die Psalms nie.
Lidmaat: Kan u my ‘n paar Gesange wys wat teen die gees van die Skrif ingaan?
Ouderling: Dit sou ons te lank ophou. U moet die boekie van prof. Cachet, getiteld: Eenige opmerkingen, lees. Ek sal sorg dat u so ‘n boekie kry. Daarin word genoeg voorbeelde genoem.
Lidmaat: Ek sal die boekie graag koop as u een vir my bestel. Bring dit maar met huisbesoek saam as u kan. Maar die Dordtse Sinode het ewenwel die beginsel van die sing van die Gesange goedgekeur deur enkele Gesange toe te laat, nie waar nie?
Ouderling’. Dit kan so wees, maar ek sien dit anders. Prof. Heyns sê: Die toelaat van enkele Gesange was ‘n „konsessie”. Nou ja, u weet deur ons stryd vir die vrye onderwys wat ‘n „konsessie” is: ‘n guns uit die drang van omstandighede geskenk. Ons forseer die regering deur ons vrye skole om aan ons gunste te verleen waartoe hy anders nie bereid sou wees nie. Ten minste so beskou baie van ons die skoolstryd: ek nie. Ek stel dit so om duidelik te maak wat ‘n konsessie is.
Lidmaat-. En was daar dan reeds soveel Gesange in gebruik tydens en voor die Dordtse Sinode?
Ouderling: Ja; hoewel op Middelburg (1581) en ‘s Gravenhage (1586) besluit is om nie Gesange te sing wat nie in die Skrif gevind word nie, het hulle tog in die noorde van Holland aangehou om Gesange te sing, en in Utrecht is getrag om ‘n bundel van 48 in te voer. Met betrekking tot hierdie feit het die Sinode besluit om net die sewe Gesange wat in die artikel genoem word, te sing. „Alle ander Gesange moet uit die kerke geweer word, en waar reeds enkeles ingevoer is, moet hulle met die paslikste middele afgeskaf word” (D.K.O., art. 69).
Lidmaat: En wat was nou eintlik die standpunt van ons vadere in hierdie saak?
Ouderling: Op hierdie punt meen ek dat prof. Heyns heeltemal gelyk het as hy skryf: „Tog is dit seker dat die standpunt waarop ons vaders hulle gestel het, dit was om in die erediens net liedere te sing wat van Godsweë verorden is. Die toestaan van ‘n paar by die naam genoemde gesange wat of in die Skrif voorgekom het of van die ou tyd af in die kerk in ere was, was allermins bedoel as ‘n oopmaak van die deur vir gesange. Slegs as ‘n konsessie, by wyse van uitsondering, is hierdie enkeles toegestaan, en die deur is daaragter gestuit”.
Lidmaat: Moet ek nou verstaan dat die gebruik van ‘n Gesang in die diens heeltemal ongeoorloof is?
Ouderling: Dit wil ek nie sê nie. Prof. Heyns sê dan ook dat die paar nie toegestaan sou gewees het as die sing van gesange beslis as verbode beskou is nie, en dr. Kuyper stem met hom saam. Ek meen egter dat daardie gesange uit die Woord van God moet wees: stukke uit die Nuwe Testament moet so letterlik moontlik berym word.
Lidmaat:En wie sal dit doen?
Ouderling: Daardie vraag moet u beantwoord. Ek begeer nie Gesange nie. Ek is tevrede met die Psalms. Wat ek beweer, is dat as u absoluut gesange wil sing, dan moet u hulle uit die Skrif berym of sorg dat u iemand anders daarvoor vind, en dan moet u ook daarvoor sorg dat hulle ingevoer word. Maar u moet gewis groot teenstand verwag.
Lidmaat: Ja, maar nou maak u die moeilikheid so baie dat ek my ook by die Psalms sal hou. Dit lyk vir my bepaald die beste wat deur ‘n gemeente gedoen kan word.
Ouderling: Dit glo ek ook. Maar laat ek u ten slotte wys op die groot gevare waaraan die sing van Gesange ons blootstel. Ek noem nou feite uit die geskiedenis. Ten eerste het die invoering van Gesange die onvermydelike gevolg gehad dat die Psalms so te sê opsy gesit word. In Duitsland, Frankryk, Engeland, Amerika — omtrent orals het dieselfde gebeur. En in die gereformeerde kerke waarin die Gesange naas die Psalms gevind word, kom die heerlike liedere van Dawid maar selde aan die orde. Een Psalmvers in ‘n diens is baie mooi.
Lidmaat: Ja, oor hierdie laaste saak kan ek saampraat.
Ouderling: En, sê prof. Heyns, wie hom aan iemand anders spieël, spieël hom sag. As die Gesange, waarvan die mense hou omdat hulle die Nuwe-Testamentiese heilswaarhede besing, gedurig die gevolg het dat die skone pêrels van Dawid verag word, dan gebruik ek duisend maal liewer net daardie Psalms, al is hulle Ou-Testamenties.
Lidmaat: Ja, dit kan ek voel; as ‘n mens jou eenmaal die Psalms tot eiendom gemaak het, is dit onmoontlik om hulle weer af te gee.
Ouderling: En die oorsaak daarvan is, soos dr. Kuyper sê: „By die Psalms voel jy beskaamd dat die worstelinge van jou eie hart so oppervlakkig is in vergelyking met wat hierdie mense Gods deurworstel het. By die liedere wat ander vir jou voorgesing het, sê jy telkens: Dit gee nie die dieptes van my eie lewe weer nie”.
Lidmaat: En die ander gevare?
Ouderling: Wel, as jy die deur eenmaal oopgemaak het, lyk dit asof niemand dit weer kan toemaak nie. Dan bly dit nie by gesange nie, maar alle moontlike liedjies kry toegang.
Lidmaat: As u ooit n waar woord gesê het, dan is dit hierdie een.
Ouderling: Die laaste gevaar is dat die gesange hulle oorsprong gewoonlik by ketters gehad het. Die eerste wat gesange gedig het, was die Gnostieke en Ariane. In die tyd van die Dordtse Sinode wasi die eerste wat die Remonstrante geëis het, gesange. En deur hierdie middel is die Remonstrantse leer aan die begin van hierdie eeu in Holland sterk aangewakker. Onthou hierdie groot beginsel dus goed: Die Gereformeerde Kerk is kragtens sy oorsprong ‘n Psalmsingende kerk en het in sy suiwere ontwikkelinge ‘n Psalmsingende kerk gebly. In die tyd van Calvyn was dit so, en in die tyd van die groot Dordtse Sinode was dit nie anders nie. En teenswoordig sing die Gereformeerde Kerke in Nederland, Amerika en Suid-Afrika net Psalms.
Lidmaat: Wel, Ouderling, ek bedank u voorlopig hartlik vir u onderrig. Tot siens!
Het Kerkblad, nr. 186, 1 Julie 1906. (Vertaal.)
(Ander artikels in die reeks: Die Gereformeerde Erediens, Totius)
Leave a Reply