DIE GEREFORMEERDE EREDIENS
4. Votum en seënspreuk
Ek plaas hier, in ‘n paar aflewerings, Totius se verduideliking van waaroor die gereformeerde erediens gaan, ons onmoeting met die lewende God elke rusdag, asook ander sake.
Hierdie paar artikels van Totius het in die Kerkblad verskyn en kom uit die 1960 Dagbreek boekhandel uitgawe van Totius se ‘Versamelde Werke’,deel 7, afdeling 2 (die volledige 1960 stel kan hier by dr. Attie Bogaards se blog afgelaai word onder die ‘Leer’ afdeling)
Inhoud:
Die modelgemeente:
1. Die sang (a)
2. Die sang (b)
3. Die sang (c)
4. Votum en seënspreuk
5. Voorlesing van die Skrif
6. Voorlesing van die wet
7. Skuldbelydenis en skuldvergiffenis
8. Die gebed
9. Die preek
10. Die kollekte
11. Die doopsbediening
12. Die ‘sneldoop’
13. Antwoord: Ja
14. Doopgetuies
15. Wat staan hoër: die kerkraad of sinode ?
16. Die konsistoriegebed
(Ander artikels in die reeks: Die Gereformeerde Erediens, Totius)
DIE KERK – Liturgies
4. Votum en seënspreuk
Lidmaat: Geagte Dominee, ek het nou nader kennis gemaak met die betekenis van die Psalmgesang waarmee ons godsdiensoefening begin. Nou wou ek graag van u ‘n bietjie inligting ontvang omtrent die daaropvolgende verrigtinge. Daar is byvoorbeeld die spreuk wat party predikante op die eerste psalm laat volg, naamlik: „Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het”. Wat is tog die betekenis daarvan?
Leraar: Kyk, as ons vergadering hou, dan gee die voorsitter eers ‘n teken of hy spreek ‘n woord, waardeur te kenne gegee word dat die vergadering geopen is. So ook in die samekoms van die gelowiges. Met die plegtige uitspreek van die woorde wat deur u aangehaal is, verklaar die prediker dat die diens nou begin.
Lidmaat: Maar die diens begin tog met die eerste psalm ?
Leraar: Eintlik nie. Die eerste psalm is meer iets voorlopigs en dien om des te stigteliker en plegtiger te kan open. In Holland, byvoorbeeld, het die leraar nog nie ingekom as hulle begin sing nie. Die eerste psalmvers word deur die voorleser opgegee, en eers wanneer die eerste of tweede reël aangehef word, bestyg die predikant die preekstoel, sodat hy die plegtige verklaring of votum, wat ons so-ewe genoem het, nie vroeër kan uitspreek as na die afloop van daardie psalmgesang nie.
Lidmaat: By ons is dit egter anders, en die votum kan dus aan die openingspsalm voorafgaan, nie waar nie?
Leraar: Ja, dit kan miskien; maar u weet hoe dit eers heeltemal stil word in die kerk na die eerste sang, sodat hierdie heerlike woorde dan eers onder plegtige stilte uitgespreek kan word.
Lidmaat: Moet juis daardie woorde en niks anders gebruik word nie?
Leraar: O nee, ‘n wet van Meders en Perse is dit nie. Dat sommige predikante ‘n voorliefde vir daardie „Ons hulp” het, is omdat dit letterlik aan die Skrif ontleen is en reeds deur Calvyn in die Franse gemeente te Straatsburg gebruik is, terwyl ook die Provinsiale Sinode van Dordrecht dit in 1574 voorgeskryf het.
Lidmaat: Is ‘n kort voorgebed ook goed, soos ‘n mens dit by ander predikante aantref?
Leraar: Vroeër het ten opsigte hiervan, ondanks die voorskrif van Dordt, die grootste vryheid geheers, en ook nou nog moet predikante nie onnodig aan bande gelê word nie. ‘n Kort gebed wat aan die hoë doel van hierdie handeling beantwoord, is ook goed.
Lidmaat: En wat is daardie doel?
Leraar: De Heraut het dit soos volg omskrywe: Die godsdiensoefeninge is samekomste van die gemeente met God, Waar die gemeente byeenkom, verskyn God blinkende voor die sielsoog in die midde van sy Sion. Hiervan moet die gemeente bewus wees, onder hierdie indruk moet hulle byeen wees. En nou is die doel van die votum (die plegtige verklaring wat reeds genoem is) om hierdie feit tot die bewussyn van die gemeente te bring, om die verskyning van God in die midde van die vergadering aan te kondig, sodat die vergaderde gelowiges dit met die sielsoog mag aanskou.
Lidmaat: En waarom, geagte Dominee, gee u persoonlik voorkeur aan die „Ons hulp?”
Leraar: Omdat dit vir ons so toepaslik is. In Ps. 124 word deur die gemeente ‘n danklied gesing, omdat hulle uit doodsgevaar gered is, en hierdie redding dank hulle alleen aan die hulp van die Here. Daarom eindig daardie Psalm met ‘n: „Ons hulp is in die Naam van die Here”. Ook die kerk van die nuwe verbond kan daardeur so skoon te kenne gee: „Ons is ‘n verloste skare, en die eerste toon van ons hart dank en eer die Verbonds-God èn nou èn vir ewig vanweë sy heerlike hulp”.
Lidmaat: Dit is ‘n skone begin vir ons erediens. Dis net jammer dat sommige lidmate, wat ‘n gewoonte daarvan maak om laat te kom, deur hulle geraas en gestommel in hierdie plegtige oomblik steuring veroorsaak. Geagte Dominee, u moet eenkeer van die preekstoel af daaroor praat. Laatkom is in die meeste gevalle net die gevolg van ‘n slegte gewoonte of van agterlosigheid. Praat dan tog somaar terselfdertyd oor daardie geskuif met die voete, ens. Dan dink ek ook dat die gehoes en genies minder onstigtelik sal wees as die mense meer van hulle sakdoeke gebruik maak.
Leraar: Ek is bly dat gemeentelede dit self begin insien. Dit kan my so hinder as die plegtige uitspreek van die woorde onderbreek word deur ‘n ongepaste geraas of geluid. Ook wat die uitwendige betref, moet ons ons gedra soos diegene wat in God se heilige teenwoordigheid verkeer.
Lidmaat: En, Dominee, waar onnodige luidrugtigheid vir my nog die hinderlikste is, is wanneer onmiddellik na die votum die seën uitgespreek word. Maar vertel my waarom sommige predikante die seënspreuk op die votum laat volg.
Leraar: Kyk, party spreek die seën na die votum uit om hierdie rede: In die votum betuig die predikant namens die gemeente dat hulle hulp in die Naam van die Here staan, en nou volg in die seënspreuk baie gepas onmiddellik daarop dat die predikant namens die Here sy volk die versekering van genade en vrede gee. Die gewone vorm, met ‘n klein uitbreiding aan die Skrif ontleen, is volgens prof. Heyns dit: „Genade en vrede vir u van God onse Vader en van Jesus Christus, onse Here, deur die Heilige Gees”.
Lidmaat: Is daar vir hierdie gebruik enige grond in die Skrif?
Leraar: Wel, hulle beroep hulle op die gewoonte van Paulus om sy briewe, wat soos ‘n persoonlike toespraak tot die versamelde gemeente beskou moet word, met ‘n heilgroet te begin (Rom. 1:7; 1 Kor. 1:3, ens.).
Lidmaat: En wat sê u van die ander gewoonte om hierdie groet eers later in die loop van die diens te bring?
Leraar: Ook dit het sy bestaansreg. Daar word naamlik gemeen dat as die seënspreuk onmiddellik op die votum volg, dat die predikant dan te vinnig van karakter verander. Die een oomblik (by die uitspreek van die votum, die „Onse hulp”) handel hy namens die gemeente; en onmiddellik daarna, by die bring van die groet, handel hy weer namens God. Daar word gemeen dat hierdie verwisseling te vinnig is. Daarom meen hulle dat dit beter is dat die groet eers kort voor die preek, waarby die persoonlikheid van die prediker immers op die voorgrond tree, uitgespreek word. Tewens moet u nie vergeet nie dat die prediker dikwels eers kort voor die preek op die kansel gekom het en dus dan eers die seënspreuk kon laat hoor. Die eerste deel van die diens is deur die voorleser gelei.
Lidmaat: Nou voel ek baie goed dat ook hierin ‘n mate van vryheid toegelaat moet word, al het ek tog liewer die groet aan die begin van die diens gesien. Nou ja, nogmaals dankie, geagte Dominee, vir hierdie onderrig. ‘n Volgende keer hoop ek om om inligting te kom aangaande die voorlesing uit die Skrif, die Wet en die Twaalf Artikels.
Het Kerkblad, nr. 188, 1 Oktober 1906. (Vertaal.)
Ander artikels in die reeks: Die Gereformeerde Erediens, Totius
Leave a Reply