Die Priester-koning en sy priester-volk
Psalm 110 oor die hemelvaart en wederkoms van Christus
Herderlike brief aan die GKSA

Deur
Dr AH Bogaards
Ek plaas met toestemming van die skrywer, dr. Attie Bogaards, die inhoudsopgawe en voorwoord van sy belangrike studie oor Psalm 110 hier op my blog.
Sy volledige studie kan by sy blog hier afgelaai word: Psalm 110
Dr. Bogaards skryf as volg:
Belangrike opmerking vooraf
Hierdie is ’n eerste uitgawe. Ek wil DV gedeeltes nog verder uitwerk. Dit geld veral punt 6, wat nog baie kursories is.
Ek het egter gevoel dat dit ’n dringende saak is om die belangrikste punte uit te lig, omdat die Algemene Sinode in Januarie 2015 sit. Ook die Direkte Vertaling van 2016 gaan ter sprake kom. Ek het ernstige probleme met die vertaling.
Voorwoord
Ek wil my vooraf verantwoord oor hierdie studie. Dit is bedoel as herderlike skrywe. Psalm 110 is ‘n ’n Psalm wat tot oorlopens toe vol is van troos, maar dit bevat ook baie ernstige waarskuwings. In die loop van die ondersoek het ek diep onder die indruk gekom van die heerlike rykdom wat in Psalm 110 tot ons kom.
Hierdie studie wil egter ook meer as net ’n verklaring van die Psalm wees: ek wil gelowiges ook help in die groot beginsels van Skrifuitleg.
In die verklaring sal noodwendig beskouings en verklarings onder oë geneem moet word, wat verskil van myne. My bedoeling daarmee is nié om hiervan ’n liefdelose strydgeskrif te maak nie. Ek wil eerder my verklaring vanuit die Woord begrond. Ek wil die groot beginsel eerbiedig: die Heilige Skrif is sy eie uitlegger.
In hierdie uitleg gaan dit vir my om liefde vir ons Here Jesus Christus en sy Woord en is dit my innige bede: laat u Naam geheilig word in ‘n suiwer uitleg van u Woord; laat u Naam geheilig word in die buig onder die gesag van u Woord, in die gehoorsaam luister na Ú uitleg, na die verklaring wat U Self in u Woord gee.
1. Die Psalms: geskryf deur Christus en oor Christus vir die Kerk van alle eeue
Die Psalms is die Liedboek geskryf deur Christus en oor Christus en dit is bedoel vir die Kerk van alle eeue.
Met hierdie formulering wil ek drie dinge benadruk:
1. Christus is die Skrywer van die Psalms. Dit is ook wat ons bely in ons Heidelbergse
Kategismus (HK 12:31): Hy is ons hoogste Profeet en Leraar, wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het. Dit geld ook van Psalm 110. Hy is die Woord van God wat in die Woord aan die Woord is. Daarom sê die groot kerkvader Augustinus: Jesus self is die Sanger in die Psalms. In die boek van die Psalms het ons die volmaakte, deur Christus self gegewe Liedboek.
2. Tweedens wil ek met die formulerings sê: Christus is ook die inhoud van die Psalms. Dit gaan oor Hom. Hy is die inhoud, die agtergrond en die geheim van elke Psalm.
3. Die woorde vir die Kerk van alle eeue het eweneens ‘n besondere bedoeling. Al was ons nog nie daar toe die Psalms geskryf is nie, het die groot Skrywer van die Psalms nie alleen die Ou Testamentiese Kerk op die oog gehad toe hulle dit geskryf het nie, maar ook ons as Nuwe Testamentiese gelowiges (1Pet 1:10-12):
“Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is.”
Christus is dus in die Psalms die Voorsanger nie alleen van die Ou Testamentiese kerk nie, maar ook van sy volk van die Nuwe Verbond.
Hierdie formulerings is ‘n geloofsoortuiging gegrond op Skrif en belydenis.
Inhoud
Belangrike opmerking vooraf
Voorwoord
1. Die Psalms: geskryf deur Christus en oor Christus vir die Kerk van alle eeue
2. Van nature is die mens totaal onbekwaam en onwillig om die Woord reg te verklaar en om onder die gesag daarvan te buig
2.1 Van nature onbekwaam tot Skrifuitleg
2.2 Tensy ons wedergebore word
2.3 Die mens ’n nul, Christus alles
2.4 Deur Christus en sy Gees alleen getroue Skrifverklaarders
3. In die klaskamer van Christus en sy Gees
3.1 Na die Skrywer Self en na sy Leerskool toe: na Christus toe
Lukas 24:25-27 en 44-47
3.2 Christus en sy Gees en Woord
Handelinge 7
2 Petrus 1:20-21
4. Psalm 110 is ’n direkte Messiaanse Psalm
4.1 Direk en indirek Messiaanse Psalms
4.2 Ook met Psalm 110 moet ons na die Skrywer Self en na sy Leerskool toe gaan
4.2.1 Wat die Here Jesus Self in Psalm 110 en nog ander Skrifgedeeltes sê
4.2.2 Wat die Here Jesus Self sê oor Dawid se seuns se sogenaamde priesterskap
4.2.2 Wat die Here Jesus Self in Matteus 22:41-46 oor Ps 110 sê (vgl. ook Mark.12:35-37 en Luk.20:41-44)
4.2.4 Wat die Here Jesus Self in Handelinge 2:32-36 sê
4.2.5 Wat die Here Jesus Self in Hebreërs oor hoëpriesterskap volgens die orde van Melgisedek sê
4.2.6 Wat die Here Jesus Self in Hebreërs 1, Ps.110:1 en die Godheid van Christus
4.3 Luister na en buig onder die gesag van die Skrif
4.4 Die héle boek van die Psalms verkondig Christus
4.5 Die 2016 vertaling en die kleinletter-hoofletter-argument
5. Psalm 110 in sy eenheid en samehang met Psalm 2
6. Verklaring van Psalm 110
6.1 Die Skrywer Self moet dit verklaar
6.2 Psalm 110: ’n kort samevatting van die hele Evangelie
6.3 Vers vir vers, woord vir woord
I. Die Koning en sy hemelvaart om te regeer (vv 1-2)
II. Die Koning en priestervolk – Pinkster(v 3)
III. Die Koning en sy Hoëpriesterskap volgens die orde van Melgisedek – Pase (v 4)
IV. Die Koning en sy wederkoms om te oordeel (vv 5-7)
Bylaag A: die sogenaamde Direkte Vertaling van 2016
1. ’n Nuwe Afrikaanse vertaling
2. Die bewering dat Christus in hierdie beplande vertaling uit die Ou Testament wegvertaal gaan word
Kleinletters
Beroep op die Nederlandse Statevertaling
Die 1637-uitgawe van die Statevertaling en Psalm 110:1
Die ontstaan van ‘n gewoonte
3. Beoordeling van die vertalers se beroep op die Statevertaling
4. Die Nuwe Testament se “verstaan” van die Ou Testament?
5. Twee uitgawes van die 2016-vertaling: die eer van God en die heil van ons naaste
Bylaag B: die 2016-vertaling se vertaling van Maleagi 3:1
_______________________
Die volledige studie kan hier afgelaai word: Psalm 110
Leave a Reply