Posted by: proregno | December 29, 2014

Boekbespreking: How to argue like Jesus

HOE OM SOOS JESUS TE ARGUMENTEER

How to Argue like Jesus

deur Bouwe van der Eems

Oorwegend word die woord “retoriek” geassosieer met negatiewe dinge soos misleidende propaganda. Dinge waarmee Christene hulle nie graag wil assosieer nie. Christene behoort net te “getuig” en hulle nie te verdiep met tegnieke om die getuienis meer oortuigend te maak nie.

Oorspronklik verwys tradisionele retoriek egter na die kuns van oortuiging. Iets wat vir alle mense waardevol is. In die tye van die reformasie was retoriek ‘n integrale deel was van die klassieke skoolkurrikulum wat bekendgestaan het as die “Trivium“. ‘n Kurrikulum waarin die reformatore deeglik onderlê was.

Die studie van retoriek het oor die eeue sedert die reformasie uit kurrikulums verdwyn.  Die laaste dekades is daar egter ‘n hernude belangstelling klassieke model van onderwys. In die tuisonderwysgemeenskap het die boek “Teaching the Trivium” heelwat belangstelling opgewek. Ook by die teologiese skool by Noordwes Universiteit is die vak “Apologetiek” onlangs ingevoer, en retoriek vorm ‘n onderdeel van hierdie vak.

Tradisionele retoriek

Die klassieke werk oor hierdie kuns is die boek “Retoriek” van Aristoteles. Tot vandag toe nog word retoriek gebaseer op die beginsels wat in hierdie boek uiteengesit word. Aristoteles som die kernelemente van retoriek as “ethos“, “logos” en “pathos“. Toesprake moet hierdie elemente adresseer om oortuigend te wees.

Ethos verwys na die redes waarom die spreker as gesaghebbend beskou behoort te word. Logos verwys daarna dat die betoog logies samehangend moet wees. Pathos verwys na die emosies wat deur die betoog opgewek moet word om die hoorders ontvanklik te maak vir die argument wat voorgehou word.

Christelike retoriek

Omdat Aristoteles die standaardwerk oor retoriek geskryf het, is sommige mense van mening dat retoriek heidens van aard is. Hierdie afleiding is gebaseer is op die aanname dat Aristoteles die kuns van retoriek uitgedink het. Daar was egter goeie sprekers voordat Aristoteles daar was. Dis veel meer waarskynlik dat Aristoteles fyn waargeneem het, geluister het na goeie sprekers en die tegnieke ge-identifiseer het wat daardie sprekers gebruik om hulle gehoor te oortuig. Hy het dus niks uitgedink nie, maar geskryf wat goeie sprekers deur al die eeue natuurlik gedoen het, sodat sprekers vir wie dit nie natuurlik kom nie dit ook kan aanleer.

As mense retoriek kan leer deur goeie sprekers te bestudeer, dan behoort die studie van die mees invloedryke spreker van alle tye besonder leersaam te wees. Jesus Christus het slegs vir drie jaar in die publiek opgetree, maar sy woorde het gelei tot die ontstaan van die grootste Godsdiens in die wêreld. Sy woorde behoort daarom die beste leerskool te wees vir die wat retoriek wil leer.

Argue like Jesus

Die boek “How to argue like Jesus” deur Joe Carter en John Coleman gebruik die toesprake van Jesus as voorbeelde gebruik van goeie retoriek. Die eerste drie hoofstukke beoordeel Jesus te toesprake in terme van Aristoteles se raamwerk van ethos, logos en pathos. Dan is daar ‘n hoofstuk oor Jesus se gebruik van gelykenisse. Die vyfde hoofstuk handel oor Jesus se gebruik van dissipels en klein groepe om die evangelie te versprei. Die sesde hoofstuk gee enkele algemene riglyne oor hoe om ‘n oortuigende toespraak te hou. Die boek sluit af met ‘n praktiese voorbeeld waarin ‘n treffende toespraak uit ‘n film geanaliseer word.

Die boek is relatief kort. Vir iemand wat kort oorsig oor retoriek soek is dit ‘n nuttige inleiding. Dit hanteer groot onderwerpe baie beknop. Die hoofstuk oor logos gee bv. ‘n uiters kort oorsig oor die logika. So ‘n hoofstuk moet daarom nie gesien word as ‘n volledige uiteensetting nie, maar as ‘n uiters beknopte opsomming wat die leser hopelik lus maak om verder te gaan lees.

Die boek gee ook nuwe perspektiewe op dinge wat vir Christene bekend is. Dit maak lesers se oë oop vir die wyse waarop Christus sekere dinge stel. Dit gaan in op die vraag waarom Jesus apostels gekies het en waarom hy 12 apostels gekies het eerder as 120 apostels. Relevante vrae vir mense wat wonder oor dinge soos kerkplanting en evangelisasie.

Die boek is beskikbaar in gedrukte formaat en elektroniese formaat en kan gekoop word by boekwinkels soos Kalahari en Amazon.

_____________________

Bouwe van der Eems kan gekontak word by: bouwe.vandereems@gmail.com

Nota: sien ook hierdie artikels oor Apologetiek en apologetiek in aksie.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: