DIE GEREFORMEERDE EREDIENS
5. Voorlesing van die Skrif
Ek plaas hier, opeenvolgend in ‘n paar aflewerings, Totius se verduideliking van waaroor die gereformeerde erediens gaan, ons onmoeting met die lewende God elke rusdag, asook ander sake.
Hierdie paar artikels van Totius het in die Kerkblad verskyn en kom uit die 1960 Dagbreek boekhandel uitgawe van Totius se ‘Versamelde Werke’,deel 7, afdeling 2 (die volledige 1960 stel kan hier by dr. Attie Bogaards se blog afgelaai word onder die ‘Leer’ afdeling)
Inhoud:
Die modelgemeente:
1. Die sang (a)
2. Die sang (b)
3. Die sang (c)
4. Votum en seënspreuk
5. Voorlesing van die Skrif
6. Voorlesing van die wet
7. Skuldbelydenis en skuldvergiffenis
8. Die gebed
9. Die preek
10. Die kollekte
11. Die doopsbediening
12. Die ‘sneldoop’
13. Antwoord: Ja
14. Doopgetuies
15. Wat staan hoër: die kerkraad of sinode ?
16. Die konsistoriegebed
(Ander artikels in die reeks: Die Gereformeerde Erediens, Totius)
DIE KERK – Liturgies
5. Voorlesing van die Skrif
Leraar: So, geagte lidmaat, dan kom u al weer om informasie. Hierdie keer sou dit volgens afspraak gaan oor die voorlesing van die Skrif, nie waar nie?
Lidmaat: Ja. En dan sou ek in die eerste plek graag wil weet hoe oud daardie gebruik is, nl. om die Skrif in die samekoms te laat voorlees.
Leraar: Hoogs waarskynlik het so iets reeds in die ou Christelike gemeentes plaasgevind op die voorbeeld van die Sinagoge (Luk. 4:16; Hand. 13:15; 15:21). Ook wys tekste soos Kol. 4:16; 1Thess. 5:27 en Openb. 1:3 kennelik op so ‘n Skriflesing. In elk geval, in die 4de eeu maak Chrysostomus uitdruklik melding daarvan. En in die Middeleeue (soos nou nog in die Roomse, Lutherse en Episkopaalse Kerke) was dit gebruiklik om sekere vasgestelde stukke uit die Profete, Evangelies en Sendbriewe in al die kerke te laat hoor. So het in elke gemeente op dieselfde Sondag die Woord van die Here in dieselfde Skrifafdeling tot die gemeente uitgegaan.
Lidmaat: En hoe het dit in die ou Gereformeerde Kerke gegaan?
Leraar: In Genève is op Sondae, wanneer Calvyn oor hele Bybelboeke agtereenvolgens gepreek het, dit wat met die preek in verband gestaan het, voorgelees. Vir die weekdienste is stukke uitgekies wat hulle oor die hele Skrif uitgebrei het. In die ou Hollandse Gereformeerde Kerke het die Skriflesing ook in verband met die godsdiensoefening plaasgevind, maar dan volgens Wesel en Dordt (’74) buite die eintlike diens.
Lidmaat: Maar sê my liewer wat die bedoeling van die Skriflesing in die vergadering van die gelowiges is.
Leraar: Omdat die gemeente in God se heilige teenwoordigheid verkeer, moet nie alleen middellik deur die prediking nie maar veral ook onmiddellik en regstreeks die Woord van God deur die Skrif self tot die gemeente uitgaan. Die Bybel is die Woord van God, en daardie Woord moet in die samekoms gehoor word.
Lidmaat: Maar geagte Dominee, is dit dan goed dat ek my Bybel saambring kerk toe? Verswak die nalees in my eie Bybel dan nie daardie hoor nie?
Leraar: Nee. Ek wou dat ek al die gemeentelede daartoe kon beweeg om te doen wat u doen. Dit is nie ‘n goeie gewoonte om net die Psalmboek na die kerk te bring en die vernaamste, die Bybel, by die huis laat lê nie. Deur in jou eie Bybel na te kyk kan ‘n mens dit wat voorgelees word, des te beter volg en aanhoor, en wanneer die preek begin, kan jy jou die paar woorde van die teks en die hele verband moeilik indink sonder om die Skrif voor jou te hê.
Lidmaat: Dit is waar wat u sê, geagte Dominee. Baie mense sit onder die voorlesing net en rondkyk en hoor op die manier maar bitter weinig. Dan weet ek uit eie ondervinding dat die preek vir my nie soveel werd is as ek nie alles self gaan nagaan nie.
Leraar: Dit spreek vanself geagte broeder. As die predikant sy preek maak, het hy die Woord van God voor hom om elke woord van sy teks te kan weeg, en as hy preek, lê daardie Woord nog voor hom oop. As u dus werklik wil hoor wat hy, terwyl hy so op die Woord staar, gevind het, dan moet u oog telkens op hierdie Woord gerig kan word.
Lidmaat: Dan is daar nog iets anders wat my aandag getrek het. Hoekom lees u, Dominee, altyd uit daardie ou Bybel met die ou druk? En hoekom lees u malkander as daar by my elkander, en haar as in my Bybel staan hun, ens.?
Leraar: Nou vra u twee dinge tegelyk. Ek sal eers op die eerste deel van u vraag antwoord. Kyk, by die byeenkoms van gelowiges uit Gereformeerde huis kan ek nie maar uit enige vertaling en enige uitgawe voorlees nie maar alleen uit daardie vertaling en daardie uitgawe wat kerklik goedgekeur is. Nou daaromtrent het ons Sinode van 1882 (art. 189) besluit: „Die Gereformeerde Kerk gebruik in sy openbare erediens alleen die Statebybel, soos dit volgens besluit van die Sinode van Dordrecht, 1618/19, op las van die State-Generaal in Nederland uitgegee is”.
Lidmaat: Maar my klein Bybel wat deur die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap uitgegee is, is ook in ooreenstemming met die Statevertaling.
Leraar: Dit is waar, en vir private gebruik kan dan ook hierdie en ook ander uitgawes aanbeveel word. Maar vir kanselgebruik wil ek tog liewer iets beters hê.
Lidmaat: Dominee, is u dus van gevoele dat daar nie ‘n „Waterdruk”-Bybel op die kansel moet kom nie?
Leraar: O nee, nie dit nie. Persoonlik lees ek wel uit so ‘n ou uitgawe, maar ek wil ander mense nie daarmee opsaal nie. Dit is maar moeilik om telkens terwyl jy lees, die ou doe in toen en ende in en ens. te verander. Ons Sinode het dit ook nie bepaal nie. In die aangehaalde artikel lees ons verder: „Die Sinode wil dit ewenwel daarby opgemerk hê dat die spelling op sigself niks aan die egtheid toe- of afdoen nie as dit maar dieselfde vertaling is”. Volgens hierdie bepaling is die beste vir kanselgebruik die groot uitgawe van die Statebybel deur professore Bavinck, Kuyper en Rutgers.
Lidmaat: En waarom?
Leraar: Omdat daardie Gereformeerde godgeleerdes, vervul met diep eerbied vir die Skrif en toegerus met die nodige kennis nie alleen van die Skrif self nie maar ook van die taal waarin dit vertaal is, die ou State-uitgawe getrou in die teenswoordige Nederlandse taal oorgebring het sonder dat hulle in die minste die vertaling self gewysig het. Van hulle werk kan inderdaad gesê word soos ons Sinode dit wil hê: dat dit „dieselfde vertaling” is.
Lidmaat: Ek is tevrede. Tot siens.
Het Kerkblad, nr. 190, 1 November 1906. (Vertaal.)
Ander artikels in die reeks: Die Gereformeerde Erediens, Totius
Leave a Reply