Die gemeenteblad van die GK Orania, Dordt Nuus, is elektronies beskikbaar en kan aangevra word by br. Gert en sr. Jeanette Erasmus by die volgende epos adres: glerasmus@oranet.co.za
Dordt Nuus bevat artikels wat baie leersaam is, hier is die laaste twee uitgawes:
Die volgende artikel kom uit die Februarie – uitgawe:
Opmerkings op GKSA Algemene Sinode 2015 (Deel 1)
Inleidend:
Hoofsaaklik vier sake kom in hierdie kommentaar onder die loep:
- Ekumeniese sake waaronder die bande met die NG Kerk SA;
- Liturgiese sake rakende liedere wat vir kerklike gebruik goedgekeur is
- Beswaarskrifte rakende die vrou in die besonder ampte [VIDA];
- Omkeerstrategie.
1. Ekumeniese sake
1.1 Twee buitelandse afgevaardigdes – van Reformed Churches in New Zeeland (RCNZ) en Orthodox Presbyterian Church (OPC, North America) onderskeidelik – het onomwonde verklaar dat ons bande met dié kerke in gedrang kom as ons VIDA goedkeur. Afgevaardigdes van ander kerke wat dit wel genoem het, pas VIDA toe.
1.2 Die deputate samesprekings met die NGK,het ‘n Memorandum van ekumeniese verhouding tussen die Gereformeerde Kerke van SA en die NG Kerk opgestel wat wedersyds aanvaar is, aan die Sinode voorgehou. Saamgevat, inhoudelik, die volgende:
1.2.1 Daar bestaan ’n diep geloofseenheid weens o.a. belydenis van die drie algemene belydenisse en die drie formuliere van eenheid. Aanvaarding van nuwe belydenisskrifte bring nie die ekumeniese verhouding noodwendig in gedrang nie.
1.2.2 As histories Reformatoriese kerke, groei ons saam, soek ons volle eenheid en is net in staat om saam met mekaar die breedte, lengte, hoogte en diepte van die liefde van Christus te begryp. Die Here lei ons op die pad van eenheid tot Sy verheerliking, ‘n pad waarop die Heilige Gees ons lei en wat voortvloei uit die versoeningswerk van Jesus Christus, nie ons eie nie.
1.2.3 Samewerking wat reeds bestaan, sluit in: wedersydse afvaardiging en groeteboodskappe na sinodes; gesamentlike getuienisse teenoor die gemeenskap bv. onderwyssake en die owerheid lg. onder andere d.m.v. die Parlementêre Lessenaar; bediening van buitelandse lidmate; Bybelvertaling; hersiening van belydenisskrifte en formuliere; keuring van nuwe liedere; betrokkenheid by die Tussenkerklike Raad(TKR); diakonale bediening tydens rampe; ens.
Individuele kerke (gemeentes) toon reeds groter eenheid deur wedersydse getuienis (attestate) te aanvaar; doop van mekaar se kinders; kanselruil en gesamentlike eredienste. Hierdie onafhanklike onderlinge aksies word aangemoedig.
1.3 Kommentaar
1.3.1 Samesprekings tussen die GKSA en die NGK is al vir meer as 30 jaar aan die gang. Eers is op verskille gefokus wat eenwording belemmer, maar die laaste klompie jare op ooreenkomste wat samewerking vergemaklik. Die Hervormde Kerk was hier deel van, maar tans is ooreengekom dat samesprekings bilateraal sal wees. Met die Afrikaanse Protestanse Kerk (APK) sal ook hierdie pad van bilaterale gesprek gevolg word.
1.3.2 Verskillende vlakke van ‘eenheid’ bestaan op amptelike vlakke tussen die GKSA en ander kerke. Die nouste band (ekumeniese eenheid) is met kerke wat een in belydenis en kerkregering volgens die Dordtse Sinode 1618-1619 – liturgies lê hulle ook na aan mekaar. Die meeste Gereformeerde kerke in die buiteland is hierby ingesluit.
Kerke waarmee ons op die tweede vlak eenheid het nl. ekumeniese kontak, is gereformeerd met òf die presbiteriaanse òf ’n kollegialistiese kerkregeringstelsel. Onder eg. tel Vrygemaakte kerke wat ook moontlik enger bande beoog. Onder die tweede groep kerke ressorteer bv. die NGK en Hervormde Kerk in Suid-Afrika en elders.
Die derde groep kerke verkeer slegs op losse kontak met of sonder nouer eenheid in die oog.
Die bilaterale Memorandum met die NGK beoog duidelik ekumeniese eenheid – op hierdie stadium waarskynlik die enigste met ’n kolegialistiese kerkregeringstelsel.
1.3.3 Die huidige Memorandum is ongelooflik naïef.
Afgesien van botsende kerkregeringstelsels, het die NGK onskriftuurlike besluite en praktyke.soos:
- VIDA en kindernagmaal teen alle Skrifbepalings in;
- prakties geen tughandeling nie (strydig met NGB Art.29);
- skrifkritiese Skrifbeskouing soos verdraagsaamheid teen uitsprake van die Nuwe Hervormers en algemene aanvaarding van teïstiese evolusie;
- die toelaat van homofiele tot die besondere ampte, en dieselfde-geslag huwelike, stry ook teen die duidelike bepalings van die Here in o.a. Rom. 1:22 – 27 en 1 Tim.3:2; Gen.1:27; 2:24.
- dit stry tog direk teen “goeie getuienis” wat eerder slegte getuienis word omdat God dit verbied.
- aanvaarding van die Belhar-belydenis in lyn met die Remonstrantse vryheidsteologie.
Wat sê par 1.2.2 hierbo met die woorde – vollediger weergegee – lees: As kerkverbande groei ons saam met mekaar in die volheid van Christus en is ons net in staat om sáám met mekaar die breedte, lengte, hoogte en diepte van die liefde van Christus te begryp. Dit impliseer dat as ons dit nie saam doen nie, ons hierdie volle begrip ontbeer. Ervaring van en strewe na God se genadegawes word só afhanklik gestel aan wat die mens doen. Dat die GKSA self daarmee stelselmatig nader beweeg aan die Remonstrantisme, is ewe duidelik.
LW Dis ʼn algemene misverstand dat die GKSA in 1859 van die NGK weggebreek het. Skeiding van die beswaardes het op 11 Jan. 1859 tydens die Algemene Sinode van die Hervormde Kerk in die ZAR plaasgevind, toe 15 afgevaardigde ouderlinge, waaronder S.J.P. Kruger, uitgestap het, waarna die eerste Gereformeerde Kerk op 11 Febr. 1859 te Rustenburg gestig is. Spoedig is ander gemeentes in Transvaal gestig, en spoedig ook in die Vrystaat en in die Kaap waar individue vanuit die NGK, Gereformeerde gemeentes gestig het. (volgende keer verder) *
Leave a Reply