UIT DIE GESKIEDENIS: DIE KERKLIKE KLEED

anglikaanse priester

DIE KERKLIKE KLEED

[Bron: GKSA Sinode Handelinge 1942, bl.135-140. Nota: ek lees so nou en dan die ouer Handelinge van ons kerke, en vind hier en daar leersame historiese stof om ons te help dink oor sekere onderwerpe. Lees dit gerus in die lig van Hand.17:11.]

A. Prinsipieël

Wat word verstaan onder die sgn. “Kerklike Kleed”?

Aangesien hieroor groot verwarring heers en ‘n alles-omvattende omlyning moeilik in kort gegee kan word, wil u kommissie die antwoord op die vraag histories inklee, sodat daardeur die regte agtergrond verkry kan word.

In die Nuwe Testament lees ons nêrens dat onse Here Jesus enige opdrag aan sy apostels gegee het in verband met ‘n kleed waarin hulle moes optree wanneer hulle die evangelie verkondig nie. As dus die Bedienaars van die Woord in die eerste Christelike gemeentes vandag voor ons sou verskyn, sou hulle vir ons meer as pastoors ( Roomse predikante) lyk dan as predikante. Hulle kleredrag het eenvoudig aangepas by die burgerlike drag van die Grieke en Romeine van daardie dae.

Vroeë kerk

Die sgn. ,,Ampsgewaad” het egter spoedig opgekom in die Christelike kerk, soos blyk uit die geskrifte van Tertullianus. By die Roomse altaardiens moes, natuurlik op die voetspoor van die Ou Testament, ‘n passende simboliese priestergewaad bykom. Hierdie ,,klere” vir die afsonderlike range van die Roomse clerus het tot vandag toe gebly.

In die late Middeleeue het elke stand sy eie kleredrag gehad. So was die ridders daadlik te herken aan hut drag; elke gilde (vak­unie van daardie dae) het sy eie vasgestelde kleredrag gehad, sodat bv. die kleremakers, slagters, bakkers, ,ens., herken kon word aan hul klere. In die dae kon dit dus nie anders as dat stigtinge soos die kerk, die akademie, ens., elkeen ook sy eie kleed moes hê nie.

Die Reformasie

Tydens die Reformasie het die sgn. ,,Ampskleed” ‘n vraagstuk geword, aangesien die manne wat met die Rooms-katolieke kerk gebreek het en dus as predikers in die ban gedoen was, nie met die Roomse ampsklere kon optree nie. Die mees voor die handliggende oplossing was nl. dat hulle die kleredrag van die geleerdes van daardie dae gekies het. So kan ons die reformatore in hul toga’s afgebeeld sien. Die toga was egter geen kerklike kleed of predikerskostuum nie, maar ‘n heel gewone kleed wat elke gestudeerde persoon toe kon dra.

Teen die Rooms-katolieke ampskleed het aldrie die Reformatore (Luther, Zwingli en Calvyn) in meerdere of mindere mate stelling ingeneem.

Nederland

‘n Ampsgewaad as sodanig was in die Gereformeerde kerke in Nederland ook onbekend. En waar die predikante tog later anders gekleed was as die gemeentelede, was dit nie omdat hulle ampsklere gedra het nie, maar eenvoudig omdat dit volgens die eise van deftigheid was. En later toe die gemeentelede dit nie meer gedra het nie, het hulle dit vir ‘n langer of korter tyd nog bly dra.

So was eers die toga vir geleerdes in gebruik; na die toga het die rok, kort broek, lae skoene met gespe, mantel, bef en steek gekom. En as uitrusting het dit tot laat in die 19de eeu gebly. Ook hierdie uitrusting is gekies omdat dit die deftige drag van toe was, veral omdat dit aan die Hof gebruik is. En toe nog later die “allonge pruike” in swang gekom het, het die predikante die ook gebruik. Hierdie drag van die predikante het mettertyd self in onbruik geraak, behalwe die uitrusting wat vanaf 1854 deur die Nederlandse Hervormde kerk sterk aanbeveel is. Ons antwoord dus dat die ,,Kerklike Kleed” ‘n vasgestelde kleed is wat die ampsdraers moes aanhê wanneer hulle amptelik in die openbaar optree (bv. vandag nog in die Rooms-katolieke kerk, Anglikaanse kerke, ens.).

Wat was die beginsel van die Gereformeerde kerke insake die sgn. “Kerklike Kleed”?

(a) Die seremoniële ampsgewaad, d.w.s. ‘n gewaad wat die seremoniële gedagte wat in die amp opgesluit sou wees, tot uitdrukking moet bring, het in die kerk van Christus geen reg van bestaan nie, veral deurdat Christus met sy lyde en dood die skadudiens opgehef het.

(b) Die simboliese onderskeiding tussen clerus en !eke deur middel van ‘n afsonderlike kleed, soos deur Rome vasgestel en gehandhaaf, mag op grond van Gods Woord nie gedoog word nie. Die suiwere beskouing van die amp bied geen opening vir sodanige onderskeiding nie, want albei groepe dra die amp van algemene gelowiges.

(c) Dit is onnodig om ‘n onderskeidende ampskleed te hê waardeur die ampsdraer van die ander lede onderskei kan word, aangesien hulle as persone genoegsaam bekend is.

(d) Origens is die sgn. “Kerklike Kleed” beskou as ‘n middelmatige saak wat nie nodeloos gedryf moet word nie en waaroor die een die ander nie moet verwerp nie, maar wat tot stigting kan dien, moet gesoek word.

Op grond van bogemelde kon onse vaders op die sinode van Burgersdorp in 1879 besluit:

“De Synode kent onder het Nuwe Testament geen ambtsgewaad voor de bedienaren des Goddelijken Woords; en kan alzoo ook niets voorschrijven, dan dat de leeraren zich in alles dienen te gedragen zoals er staat in 1 Tim. 4:12 en Titus 2:7 en 8.”

B.Prakties

Ons kerklike praktyk het horn aangepas aan bogenoemde besluit. En dit is ook net aan hierdie praktyk waaraan u kommissie hier aandag gaan gee.

In ons kerklike !ewe kry ons die sgn. manelpak wat deur al die predikante en professore gedra word wanneer hulle amptelik optree en deur ‘n baie groot gedeelte van die ouderlinge en diakens tydens die eredienste; en baie kerkrade gebruik ook die “hoë hoed” daarby.

Hierdie sgn. manelpak kan nie bestempel word as ‘n “Kerklike Kleed” nie, aangesien dit nog nooit van sinodeweë as sodanig vasgestel is en was ook nog nooit beskou as onontbeerlike kleed by die vervulling van ampspligte nie soos bv. die biskoplike drag in die Anglikaanse kerk.

Die manelpak het in ons kerklike praktyk gekom bloot omdat dit beskou was as die deftigste drag van die tyd en die reël was en is dat die kerklike ampsdraers hulle hierin ook altyd deftig en ordelik sal gedra en so ook goeie getuienis sal hê van die buitestanders, sodat hulle nie in veragting val nie.

So het die manelpak geword ‘n historiese gewordenheid in die kerk en word nou deur duisende as ‘n soort onaantasbare usansie of gebruik beskou. Baie van die mense wat nie wil hê dat aan die manelpak geraak moet word nie, is wel bewus van die Gereformeerde beginsel hierin en onderskryf dit ook, maar hul vrees is dat as van hierdie maatstaf van deftigheid af gesien word en elkeen sy eie keuse van deftigheid bepaal, daar ‘n wanorde en onstigtelikheid sal ontstaan wat baie nadelige gevolge sal hê in ons kerk. Hierdie vrees is seker nie ongegrond nie en dis seker die plig van kerkrade om hieraan die nodige aandag te gee.

Aan die ander kant kom daar, ook van verantwoordelike mense, meer en meer ernstige bedenkinge teen die praktyk van die sgn. “Kerklike Kleed” in ons kerk. Ons sal hier net ‘n paar aanstip:

(a) Die manelpak word nie meer beskou as die deftigste manier van kleding nie. Dit het sy tyd gehad, maar is nou onprakties.

(b) Dit is te duur.

(c) Dit word deur sommige lidmate meer en meer as ‘n “Kerklike Kleed” beskou wat ‘n ongereformeerde skeiding bring tussen die lidmate en die ampsdraers.

(d) As onderskeidingsteken is dit oorbodig en gee aanleiding tot hovaardigheid.

U kommissie wil graag vir die praktyk die volgende aanbevelinge maak, met die erkenning daarby dat dit uiters moeilik is om algemene tevredenheid daardeur te gee:

(i) U kommissie laat hom lei deur die gedagte wat in die geskiedenis verseker lê nl. dat die sgn. manelpak nie oorspronklik aanvaar is as ‘n “Kerklike Kleed” nie, maar omdat dit vroeër die drag was volgens die eise van deftigheid. Net soos die toga, mantel, steek, kort broek ens. ook op hul tyd die deftigste drag was, so was die manelpak met hoë hoed die drag van deftige mense. So het dit ook op die kerklike erf gebly nadat dit in die burgerlike reeds verdwyn het. En die tyd sal ongetwyfeld aanbreek dat dit ook daar sal verdwyn, net soos bogenoemde uitrustings.

(ii) Intussen wil u kommissie dit beklemtoon dat die ampsdraers van Christus vandag ook nog sal trag om, as verteenwoordigers van die hoogste Koning, hul drag volgens eise van deftigheid te kies. U kommissie wil dit hier noem dat persone wat soms smalend praat van die manelpak, tog geredelik inval by sekere akademiese voorskrifte of selfs geen funksie in die aand sal bywoon sonder die sg. aandpak nie. As deftigheid daar sy eise stel dan nog temeer in die diens van Koning Christus.

Die praktyk leer egter dat as elke lid van ‘n kerkraad self sy eie rnaatstaf van deftigheid toepas, daar gou onordelikheid ontstaan. Daarom wil u kommissie aanbeveel dat elke kerkraad hierin sy bepalinge sal rnaak hetsy hy die manel pak behou of nie, selfs met raad pleging van die Meerdere Vergaderings.

(iii) Hoewel die manelpak geen “Kerklike Kleed” is nie, rnoet tog rekening gehou word met die krag van ‘n kerklike usansie. Toe Ds. Gispen in 1868 in Nederland geskrywe het dat die sg. ampsgewaad van daardie dae aan g’n fatsoenlike mens pas nie, is dit horn baie kwalik geneern; maar in 1877 was die toestand heeltemal anders en het die bogernelde ampsgewaad reeds plek gernaak vir die “Prince Albert Coat” (manel) met wit strik.

(iv) U kommissie wil verder daarop wys dat dit ‘n middelmatige saak is, waarin die lidmate mekaar onderling nie moet dring of dryf nie, maar saarn moet poog om die grootste mate van stigting te verkry. Waar die usansie nog eerbiedig word moet dit maar so voortgaan sonder om daaraan te grote waarde te heg en dit veral nie as ‘n “Kerklike Kleed” te beskou nie.

(v) Wat die eis vir kerklike Meerdere Vergaderings betref wil u kommissie pleit vir meer vryheid, maar met die besondere eis van deftigheid. Die byeenkoms moet gekenmerk wees as ‘n vergadering van verteenwoordigers van die hoogste Koning. Miskien sal dit as leidraad dien as almal hulle klee in ‘n swart pak of die wat die mane! verkies in ‘n manelpak.

Hiermee meen u kommissie aan sy opdrag voldoen te hê en wil verder die Eerw. Alg. Vergadering die leiding van Gods Gees toebid by die vervulling van sy gewigvolle pligte.

Hoogagtend, u br. in Christus,

A.S.E. YSSEL, ]. P. JOOSTE.

Na bespreking word die volgende amandement met groot meerderheid van stemme aangeneem:

“Die sinode neem met dank kennis van die deeglike kommissierapport insake die kerklike kleredrag en neem punt A, wat die prinsipiële deel behels, onveranderd aan, maar vervang punt B deur die volgende: – Die sinode spreek dit as sy ernstige oortuiging uit dat (a) waar deftigheid in die kleed ons ampsdraers in die verlede gekenmerk het, dit in die toekoms ook gehandhaaf moet word deur kerkrade (ouderlinge, predikante, diakens) op kerklike vergaderings, en (b) dat manelpakke by die eredienste en swartpakke op kerklike vergaderings gedra behoort te word.”

2 thoughts on “UIT DIE GESKIEDENIS: DIE KERKLIKE KLEED

Add yours

  1. ‘n Mooi rapport – jammer dat die manelpak destyds tot beginsel verhef is. Maar as ek kyk hoe sommiges vandag aantrek, moet ek wonder oor die vrese vir die Here wat in hulle gemoed leef. Veral betreffende sommige susters moet ‘n mens wonder of hulle aantrek om in in eerbied voor God te verskyn of om seker te maak die manne sien hulle raak 😦

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: