Preek: Jakobus 4:1-10 Openbaar my lewe vyandskap of vriendskap met God ?

OPENBAAR MY LEWE VYANDSKAP

OF

VRIENDSKAP MET GOD ?

Lees: Jak.1:26,27; 3:13-4:10

Teksgedeelte: Jakobus 4:1-10

Hierdie preek (asook die voriges in die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:

Jakobus 4:1-10 (2015-07-26)

Preeknotas:

Geliefdes in Christus,

Ons het wysheid van Bo nodig, ons het Christus nodig,

om deur die gebruik van die tong te wys dat ons wys en verstandig is,

dat ons diensknegte en diensmaagde van Christus is,

dat ons daders van die Woord is.

Die vrug van so wyse lewe, is geregtigheid en vrede.

Daarteenoor, die lewenswandel,

die tong wat deur wysheid van onder gevoed word,

deur ‘n selfsugte bittere afgunstige hart gelei word,

lei tot wanorde en gemene dade.

Dit is aards, natuurlik en duiwels.

Ons het dit alles geleer vanuit Jak.3:13-18.

In Jak.4:1-10, ons teksgedeelte vandag,

gaan Jakobus verder om hierdie saak aan te spreek.

Onthou die groter konteks vanuit die boek Jakobus:

In hfst.1:26,27 (lees) het ons gehoor dat die reine, onbesmette,

ware godsdiens gekenmerk word aan 3 sake:

– hoe ons met ons naaste omgaan, hoofstuk 2

– hoe ons praat, ons tonge gebruik, hoofstuk 3

– dat ons ons vlekkeloos van die wêreld bewaar, hoofstuk 4.

En laasgenoemde is waarby ons gaan stilstaan vandag,

ons doen dit onder die tema:

Openbaar my lewe vyandskap of vriendskap met God ?

Ons gaan die volgende 2 sake let:

  1. ‘n Lewe wat vyandskap teen God openbaar, v.1-4
  2. ‘n Lewe wat vriendskap met God openbaar, v.5-10

1. ‘n Lewe wat vyandskap teen God openbaar, v.1-5

In verse 1-4 beskyf Jakobus hoe ‘n lewe lyk wat in vyandskap met God lewe:

– v.1 en 2 sê dit behels ‘n konstante lewenswyse van oorlog en vegterye teenoor die naaste, in die besonder tussen medegelowiges

Let wel, Jakobus spreek hier weer nie die heidene aan nie,

hy praat nog met gelowiges,

sien die woorde ‘onder julle’, en regdeur die teks, heeltyd ‘julle’.

‘Oorlog’ wys op die konstante vyandigheid en stryd wat heeltyd plaasvind,

‘vegtery’ op sporadiese veldslae, wat elke nou en dan plaasvind.

En hierdie oorlog en vegtery ly dan tot moord en naywer.

Net soos die beeld van oorlog nie letter/vegtery nie letterlike verstaan moet word – soos oorlog tussen 2 lande nie –

so is dit ook met woord ‘moord’ hier.

‘Moord’ verwys na die bitterheid en haat en afguns wat daar dan tussen die gelowiges is.

Om te moor met woorde en optrede teenoor mekaar.

Onthou die Here se gebooie, nie net die daad nie, maar ook die gedagtes

daaragter word verbied.

In die HK se verklaring van die 6de gebod, hoor ons by v/a 106:

Vraag 106: Praat hierdie gebod net van doodmaak?

Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku.. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).

En waar kom hierdie oorloë en vegtery vandaan ?

Die ander gelowige wat so onregverdig en veeleisend is ?

Ons omstandighede wat so moeilik is ?

Die land se politiek en ekonomie wat so sleg is ?

Nee, Jakobus wys weer terug na die sondige hart,

dit wat hy reeds genoem het daar in v.14: die ‘selfsug in julle hart’.

In ons teks beskryf hy dit in v.1 as ‘welluste wat in julle lede stryd voer’

In vers 2 as ‘begeertes’ wat lei tot moord.

In vers 3 weer as ‘welluste’.

Die woord wat hier vertaal word as welluste, is die Griekse woord ‘hedonee’.

Die woord sigself is nie negatief nie, dit kan bloot beteken ‘plesiere’ of ‘genietinge’.

Maar hier in ons teks beteken dit juis waar genietinge van die lewe, die wêreld, die doel self geword het, ‘n afgod geword het, die sondige denke en ‘welluste’ bepaal wat reg en verkeerd is.

Dit is die vriendskap van die wêreld waarvan v.4 praat.

Wat dan in die middel van die lewe staan, is my ‘selfsug’, my ‘genot’, nie God se wil en Woord en eer nie.

Ons lees daarvan op verskillende plekke in die Bybel, bv.:

– En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie. – Luk.8:14

Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat. – Tit.3:3

En die gevolg van so lewenswyse is v.2 en 3,

– ‘n lewe van biddeloosheid, en/of

– om verkeerd te bid.

Waar die selfsug, die eie genot sentraal staan, word nie meer biddend na die Here gevlug nie, Jak.1:5 om wysheid te bid om ‘n saak te hanteer is nie meer tersprake nie, ek sal dit dan bitterlik najaag, al beteken dit moord en naywer om my selfsug te bevredig.

Wat nog erger is, is vers 3, om gebed in te span om my welluste en begeertes te bevredig.

Daar word gebid nie volgens die Here se wil, sy Woord nie,

maar volgens wat ek begeer en wil hê.

Nie nogtans laat nie my wil nie, maar U wil geskied nie (Matt.26:39),

maar laat my wellus geskied.

‘n Goeie hedendaagse voorbeeld is kerke en teoloë wat bid dat homoseksuele huwelik nou geseën sal word deur die kerk,

dus ons moet bid dat 2 mans of 2 vrouens hul welluste kan uitleef

onder die seënende hand van die Here …

Maar geliefdes, net so boos is dit as ons die Here se seën afbid

op mense wat volgens die Skrif onwettig skei of en/onwettig hertrou.

Of as ek eintlik sondig begeer om ‘n ander man of vrou te hê,

en daarvoor bid.

Of as ons die seën van die Here wil afbid op voorhuwelikse seks en buite die eg saamwoon.

Ja, as ‘my geluk’ ‘my begeertes’ ‘my behoeftes’ ‘n afgod raak,

en die HERE moet gesondheid en kragte en geld voorsien

sodat ek dit in my welluste kan deurbring … v.4c

Ja, gelowiges kan geniet van die lewe, die gawes van die Here,

maar altyd binne die perke wat God se Woord, sy wet daar stel.

Sodra die woord ‘hedon’ oorgaan na wat genoem word ‘hedonisme

dat plesier/genot die hoofdoel is van die lewe,

los van die Here en sy gebod en sy Seun,

dan word dit vyandskap teen God,

dan is dit geestelike hoerery en egbreek.

En dit is wat Jakobus so sterk stel daar in v.4 deur twee beelde te gebruik:

– van trou in die huwelik en,

– die oorlogstaal van vriendskap en vyandskap.

Wanneer iemand lewe volgens sy welluste, in permanente oorlog en vegtery is teen sy medegelowige, wellustig bid, dan is dit vyandskap teen God en vriendskap met die wêreld.

Hier moet ons weereens die koppeling sien, wat Jakobus reeds deur die hele brief maak, maar ook weer in 3:14b … soek na waarheid, verhouding tot God word gesien in ons onderlinge verhoudinge !

Jakobus se waarskuwing hier in v.4 is nie tussen Christendom en heidendom nie, maar juis om in aansluiting van 3:10b vir die gelowiges te sê die sondige vrugte van v.1-3 openbaar iets anders wat jul dan bely.

Moenie sê jy is vriend van God maar jou lewe met jou naaste/medegelowige openbaar eintlik vyandskap teen God en vriendskap met die wêreld nie.

Julle moet nie veg teen mekaar nie, maar teen julle sondige welluste en selfsugtige agendas !

Die beeld van egbrekers en egbreeksters is ontleen vanuit die hele OT, waar as die Here se volk afdwaal van sy verbond en gebooie, dit beskryf word as geestelike hoerery, ‘n vrou of man wat ontrou raak aan hul huweliksmaat.

SO, as ons die bose vrugte van v.1-3 dra in ons lewens, gemeente, dan kom dit neer op geestelike egbreek, hoerery, ontrou vyandskap teenoor die Here, dit is hoe sterk Jakobus dit wil stel.

Dit (v.1-3) is in stryd met jul belydenis, julle woorde dat jul diensknegte van Christus is (1:1).

In die konteks van die wesentlike vyandskap van Gen.3:15,

lyk dit dan of jul meer aan die slangesaad as die vrouesaad behoort

met jul wellustige selfsugtige optredes !

Hoe gaan ons dan ‘n lewe van vriendskap met God,

en vyandskap met die wêreld najaag ?

Dit sien ons in die tweede plek.

2. ‘n Lewe wat vriendskap met God openbaar, v.6-10

Ons lewens, ons optredes en agendas moet bepaal word

deur die Here se Woord en Gees, v.5 (lees).

Die Skrif leer dat ’n lewe volgens ’n sondige hart, my eie wellus, my eie sondige gees wat mislei word deur die tydsgees en wêreld, in stryd is met die lewe deur die Gees en Woord van God.

Die Gees wat in ons woon, begeer, is jaloers oor ons, sy kinders, sy volk om net aan Hom te behoort.

Hy wil ons nie met ‘n ander man, die sondige wêreld deel nie, wil nie dat ons egbrekers sal wees nie, ontrou sal wees nie.

Hy begeer vir ons wat in lyn is met God se wil, o.a. v.13, 17 en 18, maar ook wat ons nou verder gaan hoor in die res van ons teks.

So, ons moet weet geliefdes, ons kan nie die Here en die wêreld, ons sondige harte dien nie.

Ons kan nie God en Mammon dien nie.

Vir of teen Christus, jy behoort aan die vroue of slangesaad, nie altwee nie.

Vriendskap met die wêreld = vyandskap met God.

So, wat behels vriendskap met God, wat behels dit dan konreet ?

Vyf spesifieke sake word vir ons uitgewys in vers 6-10 (eintlik 10 opdragte, wat ek in 5 sake saamvat), wat openbaar dat ons vriende van die Here is en daarin moet groei:

i) Maar Hy gee groter genade, v.6

Ons moet in die Here se genade wees, in Christus om vriende van die Here te wees.

En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem. – Jak.2

Soos ons in Christus gewortel moet wees deur die geloof, om ons tonge tot sy eer en heil van ons naaste te gebruik (Joh.15:1-5; Jak.3), net so moet ons in Christus gewortel wees, in die Here se genade wees om vriend van God en vyand van die wêreld te wees.

Hierdie woorde is ook ‘n bemoediging en troos, vir elke ware kind van God,

vir die ‘nederiges'(v.6b) wat hul sondes en ellendes ken, spesifiek van v.1-3, dat ons geneig is tot alle sonde, dat die Here ‘groter’ (meer) genade sal gee,

genoegsame genade om tot die einde toe (Filp.1:6),

vriend van God te wees en te bly, en vyand van die sondige wêreld.

Onthou ook Tit.2:11-15 (lees):

die genade red ons nie net vir die ewigheid nie,

maar leer ons ook hier en nou om vir Hom te lewe …

dus beide regverdiging en heiligmaking in Christus alleen.

Maar alles begin, soos met Jak.3, dat ek in God se genade, Christus gewortel is,

sodat ek vriend van God is, en vyand van die sondige wêreld.

ii) Ons moet ons onderwerp aan God, en die duiwel weerstaan, v.7

Onderwerping aan God, is ‘n passief, dit is ‘n volkome oorgawe hoe langer

hoe meer aan die Here se Koningsheerskappy,

onderdanigheid aan sy wil.

Die woord behels ook om my te assosieer met die Here, en daarom so die owerste van die wêreld, teen te staan.

En hoe kan ons die duiwel en sy verleidinge deur die wêreld weerstaan,

ook die verleiding om onder mekaar oorlog te voer en te veg,

ook die sondige verleidinge van my wellustige hart?

Soos Christus dit gedoen het in Matt.4:4,

… daar staan geskrywe !

Deur sy Woord, en deur gebed, Matt.26:41

En daarom,

iii) Ons moet die Here nader in aanbidding, 8a

Die ‘nader’ daar is ‘n opdrag tot verootmoedigende aanbidding, ‘n hele lewe toegewy aan die Here.

‘n Lewe van gebed, 1:5, ‘n lewe besig met sy Woord te ondersoek, 1:21

‘n lewe soek in sy gemeente,

onder die prediking en

die opsoek van die sakramente.

Alles genademiddele om ons geloof te versterk, juis om,

vriend van God te wees, en vyand van die sondige wêreld.

iv) Lewe van selfondersoek, 8b

In die tweede deel van vers 8 word ons opgeroep om ons hele lewe te ondersoek.

Dink maar aan oproep tot selfondersoek in 2 Pe.1:10 (lees).

Openbaar my lewe dat ek vriend van God is en vyand van die wêreld ?

Daarom die oproep om ons hande te reinig = ons moet ons dade ondersoek, is dit waarlik in diens van die Here en ons naaste ?

Suiwer die harte, is om motiewe en gesindhede heeltyd te ondersoek, waarop ons harte gerig is, die Here en sy beloftes, of op hierdie lewe en sy begeertes, 1 Joh.2:

15 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.
16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
17En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

En dan laastens,

v) ’n Lewe van bekering, afsterwe van die ou mens, opneem van die nuwe mens, v.9

Nee, die Here is nie daarteen dat ons lag en blydskap het nie, die vraag is meer:

– waaroor lag en het ons blydskap ?

– waaroor treur en ween ons ?

Die konteks is duidelik:

As daar sonde is, as daar oorlog en vegtery, wellus en slegte begeertes, bitterheid en afguns is, vyandskap teen God, vriendskap met die sondige wereld is in sy gemeente, nog lewe onder sy kinders,  in my lewe nog die oorblyfsels sien,

dan moet dit my laat huil en hartseer wees,

dit moet ons laat weeklag, treur en ween.

Ja, ons is oor so baie tydelike aardse dinge ‘bedruk’ (v.9c),

maar is ons nog bedruk, ja ‘depressief’ oor ons bose sondes ?

Laat ons nie saam met die wêreld lag en vrolik wees oor sondes wat ons Here Jesus Christus na die kruis gestuur het nie!

Laat ons ons verootmoedig oor ons en ons sonde,

die Here se genade te soek,

in die woorde van vers 10,

ons te verneder voor die Here,

oor ons sondes en gebrokenhede,

en dan sal Hy ons verhoog, dalk tydelik in die wêreld,

maar vir ewig saam met Hom in Christus.

Luister na Petrus se woorde in 2 Pe 3,

13 Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. 14 Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. 

Dit – om ons vlekkeloos van die wêreld te bewaar as vriende van God, en vyande van die wêreld – is die 3de kenmerk van die reine en onbesmette godsdiens wat Jakobus ons leer (1:27c).

Geliefde kind van God,

Wat openbaar die soeke in jou lewe:

vriendskap met die wêreld en dus vyandskap met God ?

of vyandskap met die wêreld, vyandskap met jou eie sondige hart en

daarom soek jy die vriendskap van die Here,

wat alleen te vinde  is in die die genade by die Here:

Jesus Christus ?

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: