Prk Joh 6 (Dit is Ek!) GK Matlabas 2015 06 28
Lees Joh 6:1-21
Teks Joh. 6:20: Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie.
Tema: Hy is die Besweerder van elke vrees
Sing Psalms: 107:1,2; 107:3,4; 107:5,6; 107:9,10; 107:12,14.
Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)
Openingsgebed: (Getranskribeer na die erediens)
Genadige God en Hemelse Vader,
U kinders roep tot U van oor die hele aarde …
Hulle gekerm en hulle gesmeek, hulle verlange en hulle versugting kom by U oor uit …
En daar is nie een van hulle wat U nie hoor nie.
Ons loof en dank U, dat U Uself neerbuig na u kinders wat tot U roep;
dat U Uself neerbuig en U Seun, Jesus Christus, na hierdie aarde toe stuur
om sondaarmense te verlos … Hulle wat in hulle sondige lewens vasgevang is;
hulle wat vasgevang en verdruk is deur ‘n sondige bestel;
hulle wat kwyn in Egipteland
en al die ander plekke van die wêreld waar u kinders vasgevang is …
Ons dank U vir die verlossing wat ons het in onse Here Jesus Christus!
Ons dank U dat Hy die hemelpoorte vir ons oopgemaak het;
dat Hy vir ons ‘n plek voor U heilige troon berei het …
dat ons daar voor U mag verskyn …
en dat ons vandag alreeds iets van daardie heerlikheid mag ontvang …
dat ons hier in U huis bymekaar kan kom onder die geklank van die Woord …
En as dit U wil is, Hemelse Vader, (en ons bid daarvoor
deur die kragtige werking van die Heilige Gees)
dat ons hier in U huis mag verskyn voor U troon van genade …
om skatte, skatte uit die hemel te ontvang …
om ‘n erfenis alreeds te ervaar … dit waarvan engele slegs kon droom.
Ons bid vir die werking dan van die Heilige Gees hier in ons midde,
maar nie net hier nie, ook dwarsoor die wêreld.
Oral daar waar U Naam vandag aangeroep word deur u kinders
in Gees en in Waarheid,
bid ons vir die werking van die Heilige Gees …
En dat daardie Gees ons sal oortuig van sonde en van oordeel,
maar ook van die geregtigheid wat ons in die Here Jesus Christus het.
Ons bid dat ons met die oopmaak van Johannes se Evangelie vandag,
dat ons geopende ore sal hê …
want ons is van nature hard om te hoor.
Van nature het ons harde korse ook om ons harte.
En daarom bid ons ook vir die werking van die Heilige Gees,
dat wanneer ons hierdie Woord oopmaak,
dat U hierdie mense wat hierdie boodskap vandag hoor,
dat U vir hulle onbesnede harte sal gee;
dat U vir hulle sag sal maak,
om te ontvang: die genadebewyse van onse Here Jesus Christus,
wat U deur al die eeue bevestig het van kind tot kind.
Ons bid dit in die Naam van onse Verlosser en Koning!
Amen.
Broeders en Susters,
Lig en duisternis … Duisternis en lig …
Dit is nie sonder rede
dat die stryd tussen lig en duisternis Johannes se Evangelie beheers nie …
want alhoewel ons heerlike sonskyn in hierdie land geniet …
voel ons nogtans net duisternis om ons …
ervaar ons
‘n mensdom wat in die donker rondom ons half blind rondtas …
‘n mensdom wat nie herwaarts of derwaarts weet nie …
Reisigers na Nêrens was die titel van ‘n boek
wat hierdie tema jare gelede behandel het …
Maar ook meer onlangs skryf die Afrikaanse sanger Koos du Plessis,
skryf hy van die “weerlose mense …
weerlose mense … op reis van peron na peron”
Hulle reis “deur ‘n middernagland sonder grense of tyd …
en hulle is ‘n ewigheid ver van die son” ..
Ja, by die aanhoor van hierdie lied
wil ‘n mens die sanger gelyk gee …
Kyk jy na die gesigte van mense wat in verkeersknope vassit …
van diegene wat vasgevleg is in die banktoue, en die supermarktoue,
en die toue van die lisensiekantore …
van diegene wat wag en wag op uitslae in die dokterskamers …
“Weerlose, weerlose mense!”
En wat het ons ook anders vir mekaar te sê, as:
“Dis nag!?”
Dis was nog altyd só …
want hierdie ou wêreld, hierdie middernagland, sit sonder grense …
sit sonder grense of tyd …
Nes soos dit ook nog altyd so was …
en is dat daar Een is …
Een is wat soos ‘n Lig in hierdie duisternis geskyn het …
die waaragtige Lig wat elke mens verlig …
(Dis hoe ons Hom aan die begin van die Johannes-evangelie leer ken.)
En Hy sê vir ons vandag …
Hy sê weer vir ons vandag:
Dit is Ek!
Moenie vrees nie! …
Want dis die ander eienskap van hierdie middernagmense:
Vrees …
Hulle is hul hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe … (Heb. 2:15)
(lees ons in die brief aan Hebreërs)
Vrees vir die siekte …
Vrees vir die honger ..
Vrees vir die storms in die donker nag …
En daarom verskans ons onsself teen elke onheil
so goed as wat ons kan …
Daarom stapel ons kos op in spense en vrieskaste …
En daarom word ons slawe van ons mediese fondse
en spandeer fortuine aan doktors …
Of ons sit ons dae om in hospitaalgange …
net soos die siek man (waarvan ons in hoofstuk 5 lees)
daar by bad van Betesda gelê het …
jaar in en jaar uit gelê het ….
op hoop van genesing.
Die groot menigtes wat die Here Jesus na die oorkant van die see van Galilea volg, hulle het dieselfde probleem …
Hulle kwale en siektes dryf hulle …
Hulle het genesing nodig …
In die ander Evangelies lees ons hoe hulle mekaar verdruk het …
Hoe sommige desperaat was
om net aan die soom van sy kleed te kon raak …
Hoe ander die dakteëls uitgebreek het
om ‘n draagbaar van bo af voor die Wondergeneser te laat neersak …
Hier in ons Skrifgedeelte is dit steeds die skuifelende massas
in hulle skemerwêreld tussen lewe en dood …
Die menigtes wat Hom soek en volg …
van hawe tot hawe …
van oewer tot oewer …
Mense wat polities onderdruk was …
mense wat swaar onder die Romeinse juk geleef het …
uitgelewer aan die uitbuitery van tollenaar en soldaat …
Dit was net voor die Pasga,
die fees van die Jode
(só het ons gelees).
Tydens die Pasga het die volk hulle wonderbaarlike verlossing uit Egipteland herdenk …
hulle bevryding van die onderdrukker gevier …
Vroeg in hulle woestyntog oor die Rooi see destyds,
daar by Mara se bitter waters ..
(ons lees daarvan in Eksodus 15)
Daar het die HERE Homself ook as Israel se Geneesheer openbaar …
Ek is die HERE wat jou gesond maak,
(het die HERE toe gesê) …
Wie weet, (só het die volk nou hier weer in Johannes 6 met die Pasga gehoop) …
Wie weet, miskien is Israel se Geneesheer nou weer hier met ons?
Volgens die ander Evangelies, volgens Matheus,
het Jesus Christus hierdie menigte weerlose mense gesien
en Hy het innig jammer vir hulle gevoel …
en Hy het Homself inderdaad as Israel se Geneesheer geopenbaar …
Nie lank nie, (volgens Johannes) kom die skare se volgende probleem na vore …
Die volgende vrees openbaar homself ….
Waar sal ons kos vandaan kom …?
Nog een van die mens se basiese behoeftes,
só leer ons by die sielkundiges en sosioloë …
Voedselsekerheid …
Voedselonsekerheid verwek vrees.
Onsekerheid oor ons volgende bord kos,
maak ons bang …
Jesus verwoord hierdie bekommernis namens almal.
Hy vra vir Filippus:
Waar gaan ons vir al hierdie mense kos kry?
Waarvandaan sal ons brood koop? …
Daar is geen supermarkte in die omgewing nie …
Ons het buitendien te min geld,
(antwoord Filippus)
tweehonderd pennings sal nie genoeg wees nie …
So weeg ons weerlose, weerlose mense ons pennies en ons sjielings af …
En só lees ons in Eksodus 16 …
Direk nadat die HERE Homself as Israel se Geneesheer geopenbaar het,
lees ons:
En die hele vergadering van die kinders van Israel in die woestyn gemurmureer.
En die kinders van Israel het gesê:
Het ons maar in Egipteland gesterwe
toe ons by die vleispotte gesit
en volop brood geëet het!
Toe sê die HERE vir Moses:
Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën ….
En só moes dit vir die Pasgavierende skare die dag gewees het …
die dag toe die Here Jesus vyfduisend mense gevoed het met vyf brode en twee vissies …
soveel as wat hulle wil hê …
totdat hulle versadig was …
Totdat hulle met die oorskiet twaalf mandjies volgemaak het …
‘n Wonder van luukse oorvloed …
Loof die Heer wat ewig leef,
mens en dier hul spyse geef
want sy goedertierenheid sal bestaan in ewigheid! …
Hy het inderdaad gekom,
dat ons lewe en oorvloed kan hê (Joh. 10:10).
En toe skielik, is alles glashelder vir hierdie skare:
Hierdie Jesus moes inderdaad die Een wees waarvan Moses geprofeteer het …
die Profeet van Deuteronomium 18 …
die groot Profeet wat nog sou kom.
Toe die mense die teken sien …
was hulle absoluut oortuig
dat Jesus van Nasaret die Profeet was …
die groot Profeet …
wat met absolute gesag sou optree …
die groot Profeet
wat ‘n wonderlike nuwe tyd sou inlei …
‘n Groot leier … groter as wat Moses self was …
was nou hier met die Pasgafees tussen hulle …
Dit is toe dat Jesus merk dat die menigte Hom met geweld wou neem …
dat die menigte Hom met geweld tot koning wou verhef …
Is dit nie tipies van ons middernagmense nie, Geliefdes?
Ook in ons tyd?
Ons wat daagliks met vrees saamleef …
Ons wat nie altyd weet herwaarts of derwaarts nie …
Ons wat ‘n onsekere toekoms binnegaan …
Is dit nie tipies van ons mense nie, Geliefdes
dat ons versugtinge na leier …
telkens ook vervleg is met allerhande drome van geweld en vergelding?
Ons wat daagliks met vrees saamleef …
wil so graag … al is dit net vir een dag … nie meer so weerloos wees nie!
Die Here Jesus onttrek Hom van sulke mense …
(Dis wat ons in ons Skrifgedeelte gelees het.)
Hy wil Homself nie laat intrek in ons verlange na ‘n broodparadys nie …
sonder dat ons die Brood van die lewe waarlik ken nie!
Hoe jammer Hy ons ookal het …
Hy wil Homself nie laat intrek
na ‘n versugting na ewigdurende gesondheid sonder sorge nie …
maar helaas, sonder versoening met God nie …
En as ons grootste enkele behoefte daaruit bestaan
dat al wat onderdrukker en misdadiger is,
hier en nou “uitgesort” moet word …
Wel, jammer! …
Jesus van Nasaret is nie is nie met ons nie …
Ons lees: Hy weer weggegaan na die berg, …
Hy alleen.
Hy alleen met geen deel aan ‘n populêre volksbeweging nie …
met geen deel aan die roem en eer van mense nie …
Hy alleen …
En skielik is die grote skare ook nie meer daar nie …
en die twaalf dissipels staan ook alleen en verlate aan wal …
Waarheen nou vir hierdie klein groepie …
die twaalf verteenwoordigers van die kerk van alle eeue?
Hulle was aanvanklik ook oortuig
hulle het die Messias gevind …
Filippus het mos destyds aan Natánael vertel:
Ons het Hom gevind! …
Hom van wie Moses in die Wet en ook die Profete geskrywe het:
Jesus, die seun van Josef van Násaret! (Joh 1:46)
En Nataniël het self tot die gevoltrekking gekom:
Rabbi, U is die Seun van God!
U is die Koning van Israel! (Joh. 1:50)
Só het hulle ook geglo …
En nou is al wat oorbly,
om maar weer in die skuit te klim …
en maar weer van oewer na oewer te vaar …
En dit was al donker
en Jesus het nog nie by hulle gekom nie …
En … en die see was onstuimig …
Daar het ‘n sterk wind gewaai …
Die wind het teen hulle gesigte gedruk …
en die golwe het oor die skuit gespoel …
Roei en roei … tot roei nie meer help nie!
Dis nag … nag op die see!
Hawe en son was ‘n ewigheid ver …
En weereens was die harte oorweldig deur vrees …
Vrees vir die golwe …
Vrees vir die dood van ‘n drenkeling …
Vrees vir die donker stormnag daarbuite …
en die spoke wat daar wandel …
Al die rustelose skimme van die dood …
Al die middernaggeeste nog steeds op soek na hawens en oewers…
Hier in Johannes ses, Geliefdes, lees ons van ons kerkskippie op see …
Dis nag …
Hier lees ons …
Toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het,
sien hulle Jesus op die see loop
en naby die skuit kom;
en hulle het bang geword.
En tog, kan ons vra, Geliefdes …
Ons kan dit vra
rondom hierdie vrees van die disspels
en ook al ons ander vrese …
As ons in Hom glo,
hoekom sal ons vrees?
Is dit nie Hy wat spreek nie …
Hy, onse Here Jesus Christus!
Hy in Wie alle dinge geskape is nie …
Hy, (wat volgens Johannes) die Ontstaan van alle dinge is …
En as Hy die Ontstaan van alle dinge is …
As Hy die Geneesheer is …
As Hy die Gewer is van mens en dier se spyse …
As Hy die Bewaarder van Israel is …
wat nie sluimer of slaap nie …
As Hy die Seun van God is,
dan kan Hy mos op die water loop …
en dan sal Hy ook ten behoewe van sy volk,
ten behoewe van sy kerkskippie op die stormsee …
dan sal Hy mos op die water loop …
soos Hy wel op die water geloop het ..
En daarom sê Hy:
Dit is Ek!
Moenie vrees nie! …
Hy is die God van die Verbond.
Hy is die God wat sy volk bewaar …
En soos Hy in Jesaja se tyd gesê het,
só sê Hy nou ook:
Wees nie bevrees nie,
want Ek is met jou;
kyk nie angstig rond nie,
want Ek is jou God.
Ek versterk jou,
ook help Ek jou,
ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand (Jes. 41:10).
Is dit nie wat ons saam gelees het nie …?
oor hierdie bondeltjie dissipels op die skuit nie …
dat die Here met hulle op die skuit geklim het
en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het!
En of dit nou die klein skippie op see is …
en of dit nou die ganse volk Israel is
op pad na die beloofde land …
en of dit nou hierdie klein gemeentetjie van ons is:
Ek is wat Ek is, is met ons …
Hy is aan boord …
Ons is nie uitgelewer aan die duisternis nie …
Ons is nie doellose swerwers in ‘n middernagland nie …
Ons het die Geneesheer aan boord …
Hy is ook ons Leidsman en Verlosser deur die woestyn …
Hy sal ons by ons bestemming uitbring …
En wanneer ons volgende week met die Nagmaal die brood in die hand neem,
dan weet ons,
dat ons deel het aan die Brood van die ewige lewe …
dan weet ons,
dat Hy sy lewe en sy liggaam op die altaar geplaas het,
sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie …
Amen.
Slotgebed: (Na die diens getranskribeer)
Genadige God en Hemelse Vader,
Ons dank U vir ‘n Woord van bemoediging, want ons het dit so nodig in ons lewens.
Ja, telkens … telkens kyk ons na die grootte van die golwe;
kyk ons na die donkerte van die nag; voel ons die onstuimige wind;
is ons bang; is ons bevrees; is ons bekommerd.
Ons erken dit, ons Hemelse Vader! Ons erken dit …
Ook wanneer ons onder mekaar praat … dat daar nie woorde is van vertroue nie, maar meer woorde van vrees en bekommernis oor ‘n donker toekoms.
Ons bely dit Hemelse Vader! Ons bely dat ons nie altyd onse Here Jesus Christus raaksien vir Wat Hy is en Wat Hy was en Wat Hy altyd vir ons sal wees nie.
En so bid ons, Hemelse Vader, dat ook deur hierdie erediens en hierdie Woord, U reddende regterhand sal uitkom by elke drenkeling, by elke verdwaalde, wat U in U heilige wil bepaal het, by U moet uitkom.
Mag hulle deur U gevind word!
Ons vra dit in die Naam van ons Verlosser, Jesus Christus.
Amen.
Leave a Reply