OPENBAAR MY LEWE NEDERIGHEID
OF
HOOGMOEDIGHEID VOOR DIE HERE
Lees: Joh.7:24; Jak.4:1-17
Teksgedeelte: Jakobus 4:11-17
Hierdie preek (asook die voriges in die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:
Preeknotas:
Geliefdes in Christus,
Jakobus, ons broer in ons Here Jesus Christus,
is besig om ons harte aan te spreek deur die Woord.
Ja, ons as gelowiges moet ook hoor van die stryd teen
die sondige oorblyfsels in ons harte, wat geneig is om ons lewens te bepaal.
In Jak.4:1-10 het ons geleer van die vriendskap met die sondige wêreld,
wat vyandskap teen God beteken.
As ons lewens bepaal word deur ons sondige welluste,
as ons verkeerd bid sodat daar in ons welluste se behoeftes voorsien word,
dan is dit vyandskap met God en vriendskap met die wêreld (v.1-4).
En die vrug daarvan is oorloë, vegtery en geestelike moord (bitterheid, haat, afguns) onder mekaar.
Dan openbaar ons lewens dat ons eintlik nie vriende van God is nie.
Vriend van God beteken vyandskap teen die sondige wêreld,
stryd teen my eie sondige selfsug, my welluste.
Dit beteken om deur die Here se Gees en Woord te lewe, v.5
uit sy genade te lewe, my te onderwerp aan die Here, die duiwel te weerstaan,
tot die Here te nader in ‘n lewe van aanbidding,
my hande en harte hoe langer hoe meer te reinig,
om my sonde en ellende te ken, daaroor te huil en te treur (v.6-10)
Ja, nie net eenkeer nie, maar lewenslank my te verneder voor die Here,
saamgevat in die woorde van v.6,
Vriendskap met God is om nie in hoogmoedig teenoor die Here te leef nie,
maar nederig, totaal afhanklik van sy genade, in my hele lewe,
maar ook teenoor my naaste, veral my medegelowige, in nederigheid te lewe !
En, dit is waarby ons gaan stilstaan vandag, by ons teksverse, v.11-17,
onder die tema:
Openbaar my lewe nederigheid of hoogmoedigheid voor die HERE ?
Inhoud:
- Is ek nederig of hoogmoedig teenoor my broeders? (v.11,12)
- Is ek nederig of hoogmoedig teenoor die Here se wil? (v.13-17)
1. Is ek nederig of hoogmoedig teenoor my broeders? (v.11,12)
Of ek nederig of hoogmoedig is teenoor die Here,
kom ook tot uiting daarin of ek nederig of hoogmoedig is teenoor my broers.
Die Here se opdrag hier deur Jakobus is duidelik,
BROEDERS, moenie van mekaar kwaad spreek of mekaar oordeel nie.
want, as jy dit doen, oordeel jy die wet, en is nie meer ‘n dader nie,
maar ‘n regter van die wet.
– Nou, eerstens, wat hierdie opdrag nié beteken nie:
Dit beteken nie dat ons glad nie moet spreek of oordeel nie.
Want, dit sou bv. beteken het dat daar geen regspraak beoefen kon word nie,
of dat daar bv. nie so iets soos ouerlike of kerklike tug kon wees nie !
Die woord ‘oordeel’ beteken eenvoudig om ‘te onderskei, te kies, goed te keur, te beoordeel tussen reg en verkeerd, ‘n saak aan te hoor en uitspraak oor te gee, regeer’
Regdeur die hele Skrif kry ons regspraak, kry ons oordele, so ook by Jakobus.
So, v.11,12 beteken nie, soos die Christelike geloof se vyande beweer,
dat ons glad nie mag oordeel en/of uitsprake maak aangaande reg en verkeerd
van mekaar se woord en dade nie,
dit beteken wel, sê die teks dat ons nie ‘kwaad’ sal spreek van ander nie,
en in die woorde van Jesus in Joh.7:24, dat ons ‘n ‘regverdige oordeel’ sal uitspreek of lewer volgens sy regverdige wet, volgens sy Woord.
Die teks self, maar die onmiddelike konteks moet ons ook help watter kwaadspreek en oordeel hier spesifiek ter sprake is:
Wesentlik behels dit daardie soort spreek en oordeel oor my broer,
– wat uit die sondige ‘bittere afguns en selfsug’ van ons sondige harte kom (3:14),
– wat gebore is uit ons selfgesentreerde ‘welluste’ wat in ons lede stryd voer, en wat ons dan in ons welluste deur bring 4:1-3,
– gebore uit ‘n trotse hoogmoedige hart wat nog nie totaal onderwerp het aan die Here nie 4:6,
– dus ‘n oordeel en spreek volgens die vriendskap van die wêreld, wat vyandskap teen God is.
… en dit kom dan tot uiting dat ek met my woorde:
kwaadwillig is en my broer … veroordeel … omdat hy nie wil doen en/of wil
leef volgens wat ek meen reg en verkeerd is, volgens my begeertes nie (v.1-3).
Jakobus wys op 2 wesentlike dwalinge van so ‘n hoogmoedige spreek en oordeel:
Eerstens, deur kwaad te spreek en verkeerd te oordeel, oordeel jy God se wet.
Want, God se wet verbied kwaadspreek, laster, afguns, en onregverdig oordeel,
Die negende gebod, Lev.19:16; Ps.50:20; Jer.6:28 en natuurlik ook in die NT, Matt.7:1-5; Rom.1:30; 2 Kor.12:20; 1 Pe.2:1.
En wat is die grootste gebod en die een wat daarmee gelykstaan?
Ja, liefde tot God, en ook die naaste … en as ek van my broer kwaadspreek en onregverdig oordeel, dan is dit in stryd met die liefdesgebod.
Dan sê ek met so hoogmoedige lewenswyse en taalgebruik, niks anders as wat die Satan gesê het nie … is dit ook so dat God gesê het … dat ons nie mag kwaadspreek nie … dat ons nie mag laster nie … dat ons nie mag onregverdig oordeel nie ?
Tweedens, word jy dan ‘n regter van die wet
Met die kwaadspreek word daar afgekyk op die medegelowige,
met onregverdige afgunstige oordeel, verhef jy jouself,
so asof jy nie self onder die wet is nie,
maar self die regter van die wet geword het,
wat reg en verkeerd bepaal.
So ‘n iemand besef nie, dat alle gelowiges, van nature sondaars was nie,
dat ons nog almal geneig is tot die kwaad,
So iemand het ‘vergeet’ van die groter genade, v.6 wat hy ook nodig het!
Geliefdes, hierdie is ‘n baie belangrike saak,
want as ons besig is met die stryd teen ons eie sondige harte, v.1-5,
as ons besig is om die heiligmaking na te jaag van v.6-10,
dan besef ek hoe gebroke ek nog is,
hoe nederig ek voor die Here moet wees …
nog elke dag sy ‘groter genade’ nodig het (v.6) !
EN DAN SAL ONS WOORDESKAT EN OMGAAN MET ONS NAASTE SOVEEL ANDERS LYK.
Bybelse verse wat altyd ons omgaan met ander gelowiges moet bepaal, is:
En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het. – Ef.4:30-32
As die HERE in Christus my nie veroordeel nie, wat ek ten volle eintlik verdien het, hoeveel te meer moet ek dan nie my broer vergewe, verdra en lankmoedig teenoor hom wees nie ?
En ja, vers 12, nie ek nie, maar die HERE alleen is Wetgewer en Regter,
laat ons nie bind of oordeel waar die Here dit nie doen nie!
Alleen die Here kan red (is volmaak genadig) en verderf (volmaak heilig), v.12
Maar jy, maar ek, maar ons (almal!), sê vers 12,
wie is ons om wetgewer en regter te speel ?
En dit doen ons, as ons kwaad spreek en onregverdig sondig oordeel.
As ons hoogmoedig is teenoor ons naaste, en nie nederig dienend nie.
As ons nie deur sy Gees en Woord spreek en oordeel nie (v.5-10).
Calvyn se verklaring hier is as volg (vry vertaal):
“Paulus hanteer dieselfde argument in Romeine 14, maar oor ‘n ander saak. Want toe bygeloof sommige beetgepak het in die keuse van vleis, het hulle wat hulle vir hulself onwettig beskou het, ook veroordeel vir ander. Hy herinner hul dan, daar is maar een Here, waarvolgens almal sal staan of val, en voor wie se regterstoel ons almal moet verskyn. Hy konkludeer dan dat hy wat sy broer veroordeel volgens sy eie siening van dinge, veronderstel vir homself wat spesifiek aan die Here behoort.
Maar Jakobus vermaan hulle hier wat onder die voorwendsel van heiligheid hul broeders veroordeel, en daardeur hul eie somberheid in die plek van die goddelike wet stel. Jokobus handhaaf dieselfde rede saam met Paulus, dit is, ons tree vermetel op wanneer ons gesag oor ons broeders veronderstel, terwyl die wet van God ons almal onderwerp aan die wet sonder uitsondering. Laat ons daarom leer dat ons nie sal oordeel behalwe volgens God se wet nie.”
2. Is ek nederig of hoogmoedig teenoor die Here se wil? (v.13-17)
Ons nederigheid of hoogmoedigheid teenoor die Here word ook gesien in die erkenning op verwerping van sy voorsienigheid, sy wil oor ons hele lewe.
Iemand het geskryf dat jy kry twee soorte ateiste: teoretiese ateiste en praktiese ateiste.
Teoretiese ateiste is hulle wat bely en skryf daar is geen God nie.
En dan is daar praktiese ateiste, wat sê, bely dat God bestaan,
maar met hul lewenswywe, hul woorde, hul dade,
hul handel en wandel WYS daar is geen God nie !
En dit is wat Jakobus hier aanspreek in verse 13 tot 17:
Jakobus spreek die handelaars, die besigheidsmanne van sy tyd aan,
‘Christelike’ besigheidsmanne wat van beter moes geweet het, v.17,
wat se lewenswyse uitroep: selfbeskikking, wat groei uit die selfsug van 3:14 en 4:1-4.
Hierdie groep mense se lewensgesteldheid word gesien in vers 13 en 16,
Hulle is grootpratiger, hulle roem in hul eie planne en vermoeëns,
Hulle kies enige tyd – vandag of more
Hulle kies enige stad
en vir hoe lank – een jaar
en dan gaan hul handel drywe en wins maak
In vandag … geld maak !
Die tille gaan rol.
Nou natuurlik, om te beplan vir die toekoms, om handel te dryf,
om wins te maak, is geen sonde nie, dit is nie die probleem nie.
Maar dit gaan oor die gesindheid en motief wat ter sprake is in die woorde van v.13.
Jakobus gee ’n paar redes om te wys wat verkeerd is met die woorde van die besigheidsmanne:
– Die ‘sê’ van vers 13, is nie bloot ’n mededeling nie, maar soos vers 16 dit stel,
’n dogmatiese verklaring, ’n roem en grootpratery in eie kragte en besluite
wat ‘sal’ uitgevoer word.
As vers 13 nog meer letterlik vertaal word, dan is dit …. SAL … SAL … SAL
“Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre SAL ons na dié en dié stad gaan en SAL daar een jaar deurbring en SAL handel drywe en SAL wins maak—”
Dit is hoogmoed van die selfsugtige hart,
dieselfde wellustige hart van v.1-4,
waar die mens se genietinge norm is,
en die lewenstoekoms bepaal.
– Jakobus is sarkasties, gebruik ironie om hul aan te spreek weens hul hoogmoedigheid, v.14,
Hy wys daarop dat geen mens eers weet wat môre gaan gebeur nie,
dit wys op die onsekerheid, onbekendheid van die lewe en die toekoms.
Hy roep ons op om te dink oor die hoedanigheid, die aard van die lewe,
ons moenie so arrogant wees om te dink,
die mens kan iets net sê of beplan en dan SAL dit geskied nie.
Dink ook daaraan dat die lewe maar kortstondig is,
dit is soos rook/damp/mis wat ’n oomblik verskyn,
en dan is dit weg.
Dink maar aan die mis in die vroeë oggendure,
die een oomblik dik en swaer, dan skielik weg !
So is dit ook met die mens en al sy aardse planne:
3 Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.
4 Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe;
op daardie dag is dit met sy planne gedaan. – Ps.146:3,4
In die plek van die arrogansie, van die hoogmoed, van die praktiese ateisme,
moet ’n lewenswyse wees wat gekenmerk word deur vers 15,
… As die Here wil … sal ons dit of dat doen,
… As die Here wil …. sal ons handel dryf, wins maak, ens.
Dit wys eerstens op die Here se voorsienigheid oor die hele lewe, verlede, nou maar ook in die toekoms
’n Lewe wat die Here erken as regter en wetgewer, wat ook my handel dryf bepaal
’n Lewe wat die voorsienige hand van die Here in alles erken,
dit wat ons gesing het ook daar in Ps.127/24:1 !
Die ware gelowige se lewe word gekenmerk deur hierdie belydenis,
ons noem dit ook ‘DV’ – Deo valente – as die Here wil.
As die Here wil, sal ek trou en kinders kry … sal ons besigheid kan doen … sal ons gemeente groei … sal ek gesond wees …
’n Lewe van NIE MY WIL NIE, MAAR U WIL GESKIED !
Waarom voeg Jakobus vers 17 by ?
Is dit ’n losse uitspraak wat maar net bygevoeg word ?
Nee, dit leer dat wie dan weet om goed te doen, spesifiek hierdie christen handelaars wat eintlik weet van die Here se bestaan, sy wet, sy wil, wat dus – in die woorde en boodskap van Jak.2:14-26 ‘sê dat (hul) die geloof het’,
maar met die Here duidelik rekening hou in al hul planne nie,
nie Hom erken as die gewer, wetgewe en regter ook oor daaglikse lewe nie, ja van alles nie, dan doen hul sonde,
en sal die oordeel oor hul nog erger wees !
Anders gestel: vir die praktiese ateis gaan die oordeel nog groter wees as die teoretiese ateis.
Calvyn stel dit dat die arrogante, hoogmoedige handelaar wat nie werklik glo nie, wie se dade wys dat hy ‘n ongelowige eintlik is, en weier om te bekeer (2:14-26), sal ook hierdie vermaning van Jakobus vermaan,
en daarom wil Jakobus dit baie duidelik stel, maar dit bly sonde, waarvoor hy sal moet rekenskap gee, v.12, want die Here is ook die Regter, die verderwer.
Geliefdes, om saam te vat:
– wat openbaar jou lewe tot jou naaste, in die besonder teenoor medegelowiges:
hoogmoedigheid of nederigheid tot die Here ?
– wat openbaar jou handel dryf, jou besigheid doen, jou werk en arbeid en beroep van elke dag:
hoogmoedigheid of nederigheid teenoor die Here ?
‘n Vraag van self ondersoek vir ons almal:
– wat is jou grootste wins (bate/voordeel) in hierdie lewe wat jy najaag ?
Lewe jy bloot vir die hier en nou, eie welluste, genietinge, gemak, begeertes,
of is sien jy jou lewe ook altyd in die lig: as die Here wil,
en rig dan jou lewe ook in volgens sy geopenbaarde wil,
omdat jy glo Hy regeer en bepaal alles, en dat ons verantwoordelik is teenoor Hom vir alles (v.12)?
Vers 13 praat van mense, lyk my ongelukkig ook baie kerkmense,
wat bloot net handel drywe en wins maak (eet, lewe, want more sterwe ons, 1 Kor.15:32)
Hul sukses, identiteit, waarde in hierdie lewe word bepaal oor
hul groot aardse winsmakery,
al hul aardse besittings en watter roem in hierdie lewe bereik kan word.
Maar wat sê die Woord, wat is die grootste wins wat ons moet najaag en verkry, waar sonder al die aardse wins en besigheid en lewe niks beteken nie ?
Paulus skryf dit vir ons in Filp.3:7-12,
Filp 3:7-12 7 Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. 8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 10 sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, 11 of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 12 ¶ Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.
Is dit die grootste wins wat jy najaag: Jesus Christus ?
Is jy vyand van God of vyand van die wêreld ?
Is jy vriend van God of vriend van die wêreld ?
Alleen in weg van Christus kan ek nederig wees en bly voor die Here,
ook nederig teenoor my mede-begenadigde sondaar broer en suster,
en kan ons saamstry in Christus, deur sy Gees en Woord,
teen die hoogmoed en arrogansie van die sondige oorblyfsels in ons harte.
Amen.
Leave a Reply