Die deurtog deur die Jordaan wys op die Here
van die hele aarde wat ons in Christus lei
Skriflesing: Josua 3 en Hebreërs 9:1-15
Preekteks: Josua 3 (v.11, “Kyk, die verbondsark van die HERE van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in.”)
Preekopname (GK Carletonville, 2016-04-10):
Preeknotas:
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Hoofstuk 3 en 4 van die boek Josua handel oor
die deurtog van die volk deur die Jordaan rivier.
Hoofstuk 3 beskryf al die voorbereidings vir die deurtog,
en dan die deurtog self.
Hoofstuk 4 beskryf dan dieselfde gebeure,
maar dan vanuit die fokuspunt van die twaalf klippe,
wat as gedenkteken sou dien van hierdie wonder gebeurtenis.
In vers 12 van hfst.3 word vermeld van die 12 manne wat die
twaalf klippe moes gaan optel,
en dan word die rede daarvoor in hfst.4 gegee.
Vandag staan ons stil by hoofstuk 3, en ons doen dit onder die tema van
Die deurtog deur die Jordaan
wys op die Here van die hele aarde
wat ons in Christus lei
In vers 11 is ons tema vers:
Kyk, die verbondsark van die HERE van die hele aarde
trek voor julle uit die Jordaan in
Ons let op 3 sake,
- die voorbereidings vir die deurtog, v.1-6
- die doel van die deurtog, v.7-13
- die vervulling van die deurtog, v.14-17
1 die voorbereidings vir die deurtog, v.1-6
Die spioene het teruggekeer van Jerigo,
met die goeie nuus, 2:23,24, dat die inwoners bewe voor Israel,
dat dit wys dat die Here die stad, die hele land in hul hand gee.
Daarop het Josua onmiddelik oorgegaan tot al die voorbereidings,
Israel het van Sittim waar hul gekamp het, weggetrek tot by die Jordaan.
En hier wag hulle volgende struikelblok,
hoe gaan hul oor die Jordaan trek,
want, v.15, dit wat daardie tyd van die jaar wat “die Jordaan vol was,
op al sy walle, al die dae van die oes” – Mrt/April van die jaar.
Dit is die tyd van die lentereën en die sneeu wat smelt van die Harmonberg
en aflvoei in die Jordaan na die Dooie of Soutsee (sien kaart)
Onthou ook, dit is een ding as ’n paar spioene oor die Jordaan moes gaan,
maar nou is dit die hele volk wat moes oortrek, manne, vroue, kinders, diere en al hul besittings.
Waar die Jordaan gewoonlik iets tussen ’n meter en 3 meter gewoonlik diep was en ongeveer 30m wyd, het dit nou opgestoot teen die walle en was dus nou seker amper dubbel so diep en wyd.
Net deur ’n wonderwerk sal die volk deur die Jordaan kon trek,
want die vlak plekke waar mens kon deurgaan,
sou onmoontlik wees om tydens hierdie tyd van die jaar deur te gaan.
In verse 2 en verder word opdragte gegee aan die priesters en aan die volk
Hulle weet nog nie hier hoe alles gaan gebeur nie, maar hul moet voorberei !
Aan die priesters word beveel om die verbondsark te dra,
en weg voor die volk uit te trek.
Reg voor aan die deurtog, moet die priesters met die ark van die Here wees.
Die volk kry 3 bevele,
i. Hulle oë moet gerig wees op die verbondsark van die Here, v.3,
en as hul die verbondsark sien beweeg, moet hul onvoorwaardelik volg,
waar die ark ook heengaan.
Dit word beklemtoon, ook in vers 11, “Kyk …..”
ii. Moet hul tog ’n afstand handhaaf, v.4, ongeveer 900 meter, amper
’n km. Hoekom ?
Heel prakties, omdat hoe nader die hele volk om die ark is, hoe minder kan dit raaksien, hoe verder kan baie meer dit raaksien.
En tog, moet ons ook daarin raaksien dat die heiligheid en eerbied vir die Here
moet bly, slegs die priesters kon die ark dra, slegs die hoëpriester kon die Allerheiligste ingaan. Slegs Moses kon opgaan om die wet op die berg Horeb te ontvang en die volk moes op ’n afstand bly.
iii. In die derde opdrag aan die volk, sien ons ook iets daarvan, die volk word
opgeroep: “Heilig julle ….” v.5 Daardie heilig beteken om af te sonder, te reinig, en dit kan wys op letterlik, soos by die berg Sinai waar die wet ontvang is, onthou van seksuele gemeenskap, klere te was, ens. maar dit wys ook op toewyding, gefokus wees op die Here wat, v.5b nou groot wonders gaan doen !
Waarom al hierdie voorbereidings, waarom moes die volk so intensief kyk na die verbondsark van die Here, waarom hul heilig ?
Is dit omdat die ark self magiese krag het, hul gaan verlos ?
Nee, dit is wat die verbondsark van die Here verteenwoordig, na wys,
wat hul hoop was, en dit sien ons in die tweede plek, v.7-13
2 die doel van die deurtog, v.7-13
Die verbondsark van die HERE verteenwoordig die Here se teenwoordigheid
by sy volk.
In die woorde van v.7, dat soos die Here met Moses was, so sal Hy met Josua
wees en so sal die Here met sy volk wees.
Die Here woon onder sy volk, tabernakel onder sy volk, is met hulle.
Die ark wys op die grootheid en heerlikheid van God.
En deur die wonder van die deurtog deur die Jordaan,
is die doel daarvan die lof en die heerlikheid van God,
wat Hy wil hê Hy moet aanbid word voor.
Ons sien dit daar in v.10 se woorde:
“Hieraan sal julle erken dat daar ’n lewende God tussen julle is …
Hy IS die God van Abraham, Isak en Jakob … nie was nie, is
Soos Jesus dit ook teenoor die Sadduseërs gestel het,
met verwysing na Moses se woorde in Ex.3:6,
Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. – Matt.22:32
Die volk staan voor die dood, die Jordaan wat hul gaan oorweldig
maar, daar is ’n groter werklikheid:
die God wat lewendig is, die God wat lewe en die dood oorwin het.
So die verbondsark, die wonder wat gaan plaasvind, moet die volk verseker
van die God van die verbond, wat trou bly aan sy beloftes, wat hul die land
sal laat be-erwe, ongeag al die struikelblokke … wat hier voor hul lê.
Daarom die woorde van vers 11: Kyk ! …. (lees)
Die Here van die hele aarde, ook hierdie rivier, is in sy Hand, Hy regeer en bepaal dit, daar is niks wat in sy reddingsplan se pad kan staan nie.
Hou op en weet : Ek is die Heer ! … Ps.46 wat ons gesing het !
En deur sy almag sal …. v.13 …. ’n wonder plaasvind !
En, nou weet die priesters, nou weet die volk,
die Here sal sorg, Hy sal sy volk na die rus in die land Kanaan dra,
na die ewige rus wat Hy beloof het aan die vaders, Abraham, Isak en Jakob:
“… en die verbondsark van die HERE het drie dagreise ver voor hulle uit getrek om vir hulle ‘n rusplek uit te soek.”
En dit sien ons dan ook in die laaste plek, dat die Here die lewe, die rus vir sy volk gee deur hul te lei deur die Jordaan, v.11
3 die vervulling van die deurtog, v.14-17
Die volk van die Here is opgeroep om na die Here van die hele aarde te luister,
kyk vers 9, … lees !
Kom luister na sy verbondsbeloftes,
dat Hy ’n God van die lewendes is nie die dooies nie
dat Hy sy beloftes sal vervul vir sy kinders.
Dat Hy hul sal red van die Jordaan se gevare
Dat Hy hul vyande sal verdryf, v.10
En die volk handel daarvolgens, deur die geloof, v.14 ev
Hulle oë gevestig op die verbondsark,
dus die Here wat voorgaan in die stryd,
om die oorwinning te behaal.
Vers 15 en 16 wil beklemtoon die aard van die wonderwerk,
Die water wat opgedam het na die noorde, self 30 km na Adam in die noorde.
En na die Soutsee se kant opgedroog, dit het droog geword.
Dit het alles begin toe die priesters hulle voete aan die kant van die water insteek, dus die verbondsark van die Here,
die teenwoordigheid van die Here, die bonatuurlike bepaal die natuurlike.
En daar het die priesters ‘onbeweeglik’ bly staan sodat, v.17
die hele volk deur droeë grond kon deurtrek, totdat dit voleindig is.
Al die eer aan God, Hy bly trou aan sy beloftes.
Hoe spreek hierdie gedeelte tot ons, geliefdes ?
Dit was menslik onmoontlik vir die volk om deur die Jordaan te gaan,
daarom dat ’n wonder van God nodig was, v.5, om dit te laat plaasvind.
Deur die sonde en ons ongeregtigheid kan ons nie die ewige Kanaan
ingaan nie, verdien ons die ewige vloek en hel.
Binne die verbondsark van die Here was sy tien gebooie,
wat eis – doen dit, en bly lewe !
En geen mens, geen volk, kon dit nakom nie.
Die volk in hulself het die oordeel van die Jordaan verdien,
ook ons verdien die ewige oordeel en hel.
Dit is daarom net die wonder van God,
sy verbondstrou en beloftes van redding in Christus wat ons red.
In Hebr.9 lees ons dat die OT bedeling, die tabernakel, tempel,
v.4 ‘die ark van die verbond’ ’n beeld, v.9, heenwysing was na
Christus is wat die vervulling is van die Here se verbondsbeloftes,
dat Hy met ons is, en ons sy kinders sal wees!
Hy is verhoog aan die kruis, om die vloek van die wet in ons plek te dra,
om alles te volbring, sodat ons … Jos.3:11 (lees),
kan KYK na Hom wat aan die kruis vir ons gesterwe het,
en daardeur kan bly lewe, vir ewig !
Hy is gedoop in die Jordaan, Matt.3:19, om met ons te identifiseer as sondaars,
nie omdat Hyself sondaar is nie,
maar Hy het vlees geword,
onder ons kom woon om juis ons sondes te dra,
sodat ons nie verswelg sou word, verdrink sou word,
deur God se regverdige oordeel nie.
Besef u en ek dit nog ?
En dan het ons die troos van Jos.3:10 (lees),
dat Christus deur sy Gees en Woord,
al ons vyande sal verdrywe: die sonde, die dood, die Satan en die wêreld (sien HK v/a 127).
Hy het oorwin, en ons oorwin saam met Hom.
Ja, in hierdie lewe sal ons nog in die hakskeen gebyt word,
maar niks sal ons skei van sy ewige liefde nie ! sien Rom.8:31,32
Ons sal in Christus, op droeë (heilige) grond deurtrek die volmaakte Kanaan in, Jos.3:17.
Hoekom ?
WANT ONS HOEPRIESTER STAAN ONBEWEEGLIK VAS VIR ONS, HY HET ALLES VOLBRING, EN TREE VIR ONS IN, lees Hebr.9:12 (sien ook Hebr.4:14-16)
Daarom geliefdes, as ons hierdie wonderlike sekere troos het, daarom, kan ons elke dag, elke rusdag, ons voorberei om Hom te ontmoet, kan ons Jos.3:9, luister na Hom, deur die geloof wandel, hoe donker of swaar die toekoms ook mag lyk,
v.5 – kan ons ons heilig, afgesonder vir die Here lewe, 2 Pe.3:13,14.
Hy sal ons lei, die ewige Kanaan in, daarom, u lewe lank:
“Kyk, die verbondsark van die HERE van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in” (3:11)
Amen.
Inspirerende preek, baie dankie.