Moenie vergeet van die Here se wonderdade
in Christus vir ons nie !
Skriflesing: Josua 4 en Johannes 20:26-31
Preekteks: Josua 4 (v.24, “Kyk, die verbondsark van die HERE van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in.”)
Preekopname (GK Carletonville, 2016-04-24):
Preeknotas:
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
“Ek het vergeet”
“Jammer, ek het weer vergeet”
Woorde, wat ons so baie in hierdie lewe gebruik.
Een van die hartseer gevolge van die sondeval en die sonde,
is dat ons so maklik kan vergeet.
Ons kan vergeet vir ’n sondige redes, kwaadwillig aan ons kant,
of bloot omdat ons gevalle sondaars is, in ons onvolkomenheid
wat so maklik kan vergeet.
Ons vergeet dinge soos my man of vrou se verjaarsdag,
of ’n huweliksherdenking, of ’n afspraak met my kind,
of ’n werksvergadering …. ‘n kerkraadsvergadering …
Maar dan is daar die belangrikste dinge wat ek kan vergeet:
Dit wat die Here vir my gedoen het, in Jesus Christus
Dit kan gebeur dat ek iewers in my lewe die groot dade van die Here begin vergeet.
Dat ek vergeet waarvan ek gered is, van my sonde en onreg,
dat ek my eerste liefde verlaat het,
dat ek begin het met Christus, maar nou in my eie krag en wysheid probeer lewe.
Of, veral as dit swaar begin gaan, dinge in my lewe nie werk soos ek wil nie,
tye van beproewing, dat ek begin vergeet van die Here se Woord, sy wet,
sy beloftes.
En dan ’n verkeerde weg begin inslaan, in die vlees begin lewe,
en dan op ’n donker afgrond afstap, omdat ek vergeet het van die Here se weë.
Nou geliefdes, die wonderlike vermaning en tog ook troos,
is dat die Here nie vergeet nie, soos ons gesing het in Ps.105 en 85,
en daarom ken Hy sy kinders se vergeetagtigheid en swakhede,
en gee Hy, behalwe sy Woord, ook vir ons tekens, om ons te herinner om nie van Hom te vergeet, en sy Woord en sy beloftes nie.
Daarvan wil ons leer vandag vanuit Josua 4, onder die tema:
Moenie vergeet van die Here
se wonderdade in Christus
vir ons nie !
In htst 3 het ons nou geleer van die Here se volk wat deur die Jordaan getrek het, agter die verbondsark van die Here.
’n Wonderwerk het gebeur !
Dit eindig met die woorde in 3:17 … en 4:1 wat dit herhaal (lees).
As mens hfst.4 lees, dan kom mens duidelik agter, die doel van hfst.4,
is nie om die gebeure by die Jordaan chronologies vir ons deur te gee nie.
Die fokus van hfst.4 is om te beskryf die belangrikheid van die gebeure by die Jordaan, deur te fokus op die tekens en die gedenktekens wat gegee word om die deurtog te onthou, om nie daarvan te vergeet nie.
Hoofstuk 3 – die wonderwerk van God het gebeur
Hoofstuk 4 – moet dit nie vergeet nie Israel !
En daarom kry Josua die beveel, soos ons reeds in 3:12 gelees het,
van die 12 manne, wat die 12 stamme, dus die hele volk verteenwoordig,
om 12 klippe te neem, van daar waar die priesters gestaan het,
om ’n gedenkteken op te rig.
Volgense verse 9 en 19 lyk dit of daar 2 gedenktekens opgerig is,
by of in die Jordaan self, en dan by Gilgal, aan die oostelike grens van Jerigo (v.19).
En die doel van daardie gedenktekens,
is dat die volk nie sal vergeet van die Here se wonderdaad by die Jordaan nie.
Vers 7 en weer in 22 (lees).
En belangrik, die tekens is nie net vir hulle bedoel wat die wonder gesien het nie, maar ook vir die verbondsnageslag, die kinders moet geleer word, herinner word aan die groot dade van die Here,
ons lees dit daar in vers 6 en weer in v.23 dat die Here se wonderdade is
vir gelowiges en hul nageslag (lees):
Moenie van die Here se groot dade vergeet nie !
Dink daaroor:
Dit kan so maklik gebeur geliefdes,
een geslag kan nog onthou, die volgende een vergeet …
In vers 23 word verwys na die eerste wonder deurtog by die Skelfsee,
Ex.14 beskryf dit:
die hele volk het daardie wonder beleef, die Here red, Hy sal sorg, Hy sal verlos, Hy sal vir hulle stry, Ex.14:14.
En na die verlossing hoor ons in Ex.15 die lied van Moses van die Here se roemryke dade, die een wat wonders doen, sy guns en verlossing ….
– maar, drie dae later …. murmureer die volk teen dieselfde Here by Mara …
toe hul nie water het nie …. vergeet hul sy groot dade !
– nie lank daarna toe twis die volk weer met Moses by Rafadim, hfst.17,
versoek die Here oor dit swaar gaan … vergeet sy groot dade
En elke keer sorg die Here weer …
Later nog erger,
– terwyl die Here sy wet vir Moses op die berg Sinai gee, lees ons in Ex.32, maak die volk ’n goue kalf, verval in afgodery …. omdat hul die groot dade van die Here vergeet het !
Daarom gee die Here tekens, regdeur die boek Josua gaan daar verder nog
6 tekens wees om die volk te herinner aan die groot dade van die Here.
Moenie vergeet om julle kinders van die Here te vertel nie,
anders kan hulle ook verval in afgodery en van my wegdwaal.
Ons sien dit regdeur die volk se geskiedenis, tekens wat gegee word:
– Ex.12:26 – 28 (lees) ongesuurde brode, lam wat geslag word, bloed aan die deurposte, om die pasga te vier … die doel: moenie vergeet nie !
– In Deut.6 lees ons hoe die Here sy volk oproep om Hom lief te hê en alleen te dien, dan lees ons in v.6-10, en dan as die kinders vra … v.20 – 22
die doel: moenie vergeet van die Here se groot verlossingsdade nie !
Nou geliefdes,
Ook tot ons vandag kom hierdie oproep om nie te vergeet van die groot wonderdade van die Here nie.
Ons sien dit in die laaste vers, v.24, die groot doel van al die wonderdade:
dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE sterk is, sodat julle die HERE julle God altyd mag vrees.
Alles is opgeteken in die Skrifte sodat ons ook nie vergeet nie (1 Kor.10:11).
Die Here het die grootste en belangrikste wonderdaad verrig,
deur sy Seun te stuur om ons te kom verlos van Egipte,
uit die slawehuis van sonde.
Om ons te verlos van die Satan se mag deur die sonde.
Hy het ons wat oppad was hel toe, wat gespartel het in ons sondes,
kom red en ons weer die lewe, die ewige lewe geskenk.
Hy het in Christus sy guns aan ons kom bewys,
ons verlos van ons sonde en ellende.
En Hy sal vir ons sorg, Hy sal die werk wat Hy in ons begin het volbring.
Soos Hy beloof het aan die aartsvaders dat Hy hul in die beloofde land sal inbring, en dit gedoen het.
So sal Hy sorg dat elkeen vir wie Christus gesterf het,
in die hemel kom, in die ewige heerlikheid.
Moenie dit vergeet nie !
Maar terwyl ons oppad is, is dit nie maklik nie,
die hele boek Hebreërs is een lang preek vir die gelowiges om te volhard,
om nie te vergeet van Christus se volmaakte werke nie (sien bv.4:14-17; 10:19ev),
want ook vir ons is dit so maklik kan dit ook met ons gebeur dat ons vergeet,
veral as dit begin swaar gaan, as daar beproewinge op ons pad kom.
En die hele NT, saam met die OT, roep ons ook op op nie te vergeet nie,
om die groot wonderdaad, die reddende werk van God in Christus nie
te vergeet nie !
Onthou die groot verlossingsdade van die Here:
Ef. 2:11-13 Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, 12 dat julle in die tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wereld. 13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeer ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.
En ja, die Here gee ook vir ons baie tekens.
Die Woord self met al sy beloftes en gebeure is ’n oproep en herinnering om nie die Here en sy groot dade te vergeet nie.
Maar toe Jesus op die aarde gewandel het, het Hy baie wonders en tekens gedoen, sodat ons sal glo en aanhou sal hoop,
dat Hy ons sal red, dat Hy ons sal versorg, dat Hy ons nooit sal verlaat nie:
Joh 2:11 11 Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galilea gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.
Joh 20:30 – 31 30 Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; 31 maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.
En natuurlik het die Here Jesus ook vir ons die sakramente as tekens gegee, die heilige doop en nagmaal, sigbare tekens van die onsigbare werklikheid, dat Hy sy kinders red, hulle verlos, hulle sal versorg.
Daarom kan ons goeie moed hou, en in sy weë bly wandel.
Ja, behalwe die sakramente en die Woord self, het ons nou nie meer allerlei ekstra tekens nodig nie.
Die Skrif en sakramente as tekens is nou genoegsaam,
om ons aan te hou herinner aan die Here se groot verlossingsdade in Christus.
Maar dan laastens, ook ’n waarskuwing vir ons almal om nie te vergeet nie.
Ja, dalk was daar ’n tyd van ywer in my lewe
’n tyd van ywer in my gesinslewe vir die Here en sy Woord
maar ek het begin vergeet waarvan ek gered is,
van die basiese Evangelie, van waaroor die kerk eintlik gaan: Christus !
Dalk in my blinde ywer begin vergeet dit is die Here se kerk en koninkryk, nie myne nie.
Daarom moet ons ook eindig met die waarskuwing om nie te vergeet nie, maar te onthou:
Op. 2:4-5 4 Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. 5 Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.
Mag die Here ons elkeen help persoonlik,
in ons gesinslewens, as gemeente:
om nie die groot en wonderdade van God in Christus te vergeet nie,
en dit ook vir ons kinders en kleinkinders te vertel,
en saam deur die geloof te wandel tot die laaste dag,
om die Here in dankbare gehoorsaamheid sal dien !
Amen.
Leave a Reply