Preek: Psalm 47 Alle volke moet die HERE prys

ALLE VOLKE MOET DIE HERE PRYS

Skriflesing: Gen.12:1-3; Psalm 47; Gal.3:7-9

Preekteks: Psalm 47

Preekopname (GK Carletonville, 2016-07-17):

Aflaai: Psalm 47

Preeknotas (let wel, dit is net notas, die volledige preek is die opname hierbo):

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Die Psalmboek bestaan uit verskillende soorte Psalms,bv

lofsange (bv. Ps.100), klaagliedere (bv. Ps.70), dankseggings (bv. Ps.18), psalms van vertroue (bv. Ps.23), herinneringspsalms (bv. Ps.105), wysheidspsalms (bv. Ps.1), koningspsalms (bv. Ps.98), lydingspsalms (bv. Ps.22), Messiaanse Psalms (bv. Ps.2, 110).

Ps.47 is ’n kombinasie van veral die volgende 3 soorte:

Dit is ’n Koningspsalm, omdat ons daar lees en sing dat die HERE,

’n groot Koning is oor die hele aarde is, v.3

Dit is ’n Lofpsalm, omdat daar heeltyd die oproep is om die Here te

loof en te prys, v.1,7,8

Dit is ’n Messiaanse Psalm, omdat dit profeteer van die Here se Koningskap

oor die hele aarde deur Christus se troonbestyging, v.6 en 8.

Daarom wil ons vanoggend leer uit hierdie Psalm

Alle volke moet juig tot eer van God,

vir die reddingswerk wat deur Christus gedoen is

Ons let op 2 sake:

  1. Die Here se volk in die OT moet Hom prys vir sy reddingswerk
  2. Alle volke moet die Here prys vir sy reddingswerk

1 Die Here moet geprys deur sy volk in die OT vir sy reddingswerk

Party Psalms gee vir ons duidelike inligting,

wat die historiese konteks van die Psalm is,

dink aan Ps.51:1 se woorde ‘n Psalm van Dawid, (51:2) toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.”

Met Psalm 47 is dit nie die geval nie, al wat ons ons daar lees in vers 1 is dat die Psalm “van die kinders van Korag” afkomstig is.

Die Koragiete was ‘n familie van Levitiese sangers min of meer in die tyd van koning Josafat van Juda, in die 9de eeu geleef het.

Daarom is dit moontlik dat hierdie Psalm ontstaan het en gesing is,

met Josafat se terugkeer na sy oorwinning teen die Moabiete en Ammoniete,

2 Kron.20.

Maar sommige verklaarders meen dit kan verwys na die ark wat na die tempel geneem is,

of een van die konings wat sy troon bestyg, selfs Dawid.

En dan met hierdie troonbestyging word die Here geloof en prys

vir sy groot dade wat Hy doen vir sy volk.

Die belangrikste:

Al die fokus is op wat die Here doen en bewerkstellig.

Vers 3: Die HERE, hoofletters, wys op sy verbondstrou en dat Hy is wat Hy is,

Hy is ook die die Allerhoogste, wat verwys na sy verhewenheid bo al die gode

Hy is ook gedug, die woord beteken letterlik óm swaar te wees, om aangrypend

te wees, om ásemrowend te wees.

En sê vers 3, Hy is ´n groot Koning, wil dit beklemtoon, oor die hele aarde.

En Hy is die groot Koning wat vir sy volk wat Hy uitverkies het

daar in die OT (Deut.7) … die trots van Jakob wat Hy liefhet, v.5

groot dinge gedoen het.

Daardie groot ding wat Hy gedoen het, word in verse 4 en 5 beskryf:

– Die Here het volke en nasies onder Israel gebring, v.4

– Die Here het vir sy volk ’n erfdeel gegee, v.5

Ja, dit verwys na dit wat ons besig is om te leer in die prediking in die boek Josua,

hoe die Here sy verbondsbelofte aan Abraham, Isak en Jakob,

vervul het deur vir hul die beloofde land Kanaan te gee,

en deur die land wat hul verower, het die Here volk en nasies

aan hul onderwerp, v.4.

So het die Here in die OT die vyande die voetbank van sy voete gemaak.

Dit wat onmoontlik was vir so klein nietige ou volkie,

het die Here volbring,

want Hy is die HERE, wat trou bly aan sy beloftes

want Hy is die Allerhoogste, waarvan ons lees in Deut.32:8,

Toe die Allerhoogste aan die nasies ‘n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel. 

WANT Hy is die Groot Koning wat oor die hele aarde heers

En alles na die raad van sy wil regeer tot sy eer !

En daarom die oproep aan sy volk,

as die koning ’n oorwinning behaal het,

of as die ark na die tempel gevat word,

of koning Dawid sy troon bestyg het,

waarna v.5 verwys

Dan is dit omdat die Here dit alles bewerkstellig het,

dit is die Here wat opvaar met ’n gejuig, en daarom:

wat die historiese konteks ook al was van die Psalm:

– blaas die basuine

– klap met die hande

– juig tot eer van God met ’n stem van gejubel !

Die beeld van v.6 is baie belangrik:

As die Here opvaar, beteken dit Hy het eers afgedaal,

afgedaal omdat Hy sy volk se nood en ellende raaksien,

en nou afkom om sy groot reddingsdade te openbaar.

(Sien ook hoe die Here afdaal om te oordeel, Gen.18; Jes.31)

Die volk moes opnuut besef die Here se groot genade,

dat Hy hul alleen uitverkies het in sy vrye welbehae,

om sy volk te wees wat Hy liefhet,

om ’n erfdeel van Hom te ontvang,

die land Kanaan, maar ook dit waarna dit heengewys het:

die ewige Kanaan, die redding van sonde, om vir ewig te lewe !

Prys die Here, Hy is ’n ewige Koning vir sy volk !

Maar nou is dit baie belangrik om raak te sien geliefdes,

dat reeds toe hierdie Psalm ontstaan het,

gryp dit veel verder, as net die verlossing van die volk in die OT,

uit hul slawerny, en om die beloofde land, hul erfdeel te verkry.

Daarna kyk ons in die tweede punt:

 

2 Die Here moet deur die volke in die NT geprys word vir sy reddingswerk

In die Psalm self, sien ons dat die Here se wil nie net is

dat sy eie volk, Israel, Hom moet loof en prys nie, maar alle volke !

In vers 1, reg in die begin: “ Alle volke …. juig tot eer van God”

WANT … Hy is ’n groot Koning oor die hele aarde …., v.3 en 8

Vers 9, wys dat God regeer oor die nasies (meervoud).

En insiggewend, al die volke moet bly wees en juig,

oor wat met Israel gebeur het,

wat die Here gedoen het in verse 4,5 !

Hoekom ?

WANT, die redding van Israel het ten doel,

die redding van die hele wêreld, van alle volke,

in hul uitverkorenes !

Dit was en is die Here se verbondsplan,

en reddingplan nog altyd gewees.

Dit wat ons daar gelees het in die roeping van Abram (Gen.12:3),

die ontstaan van die volk en doel wat die Here,

was die redding van die wêreld:

Gen.12:3, En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word

Nie net Abraham se fisiese nageslag nie,

maar ook sy nageslag onder ander volke,

sal geseën word.

En hoe gaan dit plaasvind, en wat is die wesentlike seën,

vir beide die OT en NT uitverkorenes onder alle volke ?

Ons lees dit daar in Gal.3:7-9:

Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. 8 En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. 9 Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham. 

En Psalm 47 profeteer daarvan, spesifiek v. 6 !

Ja, wat ookal die historiese konteks was: troonbestyging, ark, Josafat se oorwinning,

dit is alles ‘n tipe, heenwysing na Christus wat afgedaal het vanuit die hemel,

om die volkome oorwinning te kom behaal oor die Satan, die sonde en die

wêreld, en daarna om dit te bevestig, het die Seun opgevaar na die hemel,

en om op sy troon te gaan sit, Ef.4:8,9

Hy vaar op met gejuig oor sy oorwinning !

En van die regterhand van die Vader,

word deur die verkondiging van die evangelie,

sy kinders onder alle volke versamel om Hom te loof en te prys,

maar ook al die vyande die voetbank van sy voete te maak,

wat Hom verwerp en sy Woord, Ps.47:4 (sien ook Ps.110).

Ja, die Here het opgevaar met ’n gejuig, toe Hy sy reddingsplan

vir sy volk volbring het in die OT,

Hy het dit ook gedoen in Christus, vir al die ander volke in hul

uitverkorenes, en Hy is besig om dit te doen deur die geskiedenis.

Vandag nog !

Hierdie oproep gaan dus vandag nog uit,

dit is die heerskappy van ons Koning wat ons vandag nog moet verkondig,

soos Paulus dit ook gedoen het.

Ons lees daarvan in Rom.4 en 14,

Rom.4:11, dat Abraham erfgenaam van die hele wereld, hele aarde sal wees,

deur die geregtigheid van die geloof

Dit is dieselfde belofte wat sy kerk, sy kinders vandag het,

dat ons saam met Hom alles sal be-erwe !

Rom.15, is as’t ware die vervulling of NT weergawe van van Ps.47,

Paulus skryf daar in v.9 dat die Here se barmhartigheid, redding in Christus,

ook vir die heidene, dus nie Joodse volke bedoel was, en dan skryf hy

in verse 9 tot 13,

Daarom sal ek U loof onder die nasies en tot eer van u Naam psalmsing. 10 En ook sê Hy: Verbly julle, o nasies, saam met sy volk; 11 en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke. 12 En Jesaja sê ook: Die wortel van Isai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop. 13 En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees! 

En vers 10 profeteer van daardie tye, wat ook deur die eeue en in die geskiedenis plaasgevind het, en nog sal plaasvind:

– hoe selfs edeles, die skilde van die aarde, dus leiers, regters, konings deel geword het van die Here se volk,

die volk van Abraham geword het,

wat wys Hy eis dat alle mense, alle volke, alle leiers voor Hom sal buig

want aan Hom behoort die skilde van die aarde.

Die skilde wat wys op die regters en konings wat sy volk, sy kerk moet bewaar.

En ja, tog sien ons so min daarvan in ons tye,

maar onthou, ons tye is nie alle tye nie,

daar was al deur die eeue baie tye,

waar die geloof volke in hul uitverkorenes omhels het,

waar die geloof vrug gedra het op alle terreine van die lewe,

tye waar leiers en konings en regters geluister het na wat

ons in Ps.2:10-12 gesing het (lees).

MAAR die belangrikste is, soos Abraham deur die geloof erfegenaam is van die land Kanaan en later die hele wêreld, so is die gelowige dit ook vandag en tot in ewigheid.

Psalm 47 is ’n lofpsalm wat die Here se Koningskap in Christus besing,

vir sy kinders in die OT, vir sy kinders in die NT bedeling.

Hy is ’n groot Koning oor die hele aarde en Hy regeer oor die nasies.

Hy sal sy volk in en onder alle volke versamel, sodat dit alles sal eindig voor

die troon van die Lam:

Op.5:9,10 U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. 

Op.11:15 Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid. 

WAT MOET ONS DOEN ?

Die inhoud van hierdie Psalm verkondig,

die evangelie glo en verkondig, tydig en ontydig

Maar bo alles, moet ons aanbid,

want ons word gered om te aanbid, om Hom te loof en te prys !

Om iets te beklemtoon in die Bybel, word dit herhaal.

Dink aan Jesus se woorde “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle ….” (bv.Joh.3:3-5)

In Jes.6 hoor ons oor die Here “Heilig, Heilig, Heilig is die HERE van die leërskare …” (v.3)

Hier in Psalm.47 hoor ons hoe daar 5 maal opgeroep word om die Here te loof en te prys, vir sy groot reddingswerk in Christus (v.7,8):

Psalmsing tot eer van God, psalmsing!

Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing!

Want God is Koning van die hele aarde;

psalmsing met ‘n onderwysing.

Laat ons daarom die Here loof en prys omdat Hy sy volk gered het,

in die OT bedeling, maar ook in die NT bedeling,

deur die reddingswerk van ons Here Jesus Christus.

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: