Die Kerk (4) – Verskillende aspekte van die Kerk – prof WJ Snyman

VERSKILLENDE ASPEKTE VAN DIE KERK

deur prof. WJ Snyman

(Sien die inleiding [nommer 1] en die res van die reeks hier.)

(a) Sigbaar en Onsigbaar.

Onsigbaar is die kerk

(a) soos dit rus in Gods ewige verkiesing, en soos die “Here alleen ken die wat syne is” (2 Tim. 2:19).

(b) Soos dit sentraliseer om die hemelse heiligdom (Hebr. 12:22-24) waar Christus as Hoëpriester intree (Rom. 8:34).

(c) Soos dit tot stand kom deur die verborge werkinge van die Heilige Gees. Dit is die “onsigbare kant” van die kerk, wat ‘n beter uitdrukking is as “onsigbare kerk”.

Hiervan moet dan onderskei word die “sigbare kant” van die kerk, soos dit uitkom in die ampte en bedieninge: die instituut.

Wat is die verband tussen die twee?

Nie so dat die “sigbare kerk” die “onsigbare” voortbring nie. Dan word die sigbare kerk ‘n middel tot saligheid, en ons lidmaatskap noodsaaklik as voorwaarde tot saligheid. So wil die Roomse Kerk dit. Ons bely Christus as ons enigste Middelaar.

Egter ook nie so dat dit maar net daarop aankom om lidmaat te wees van die “onsigbare kerk”, asof die uitwendige kerk iets bykomstigs is, en ook wel só of anders ingerig kan wees na omstandighede, of desnoods geheel kon ontbreek (Lutherse menings).

Lidmaatskap van die sigbare kerk is noodsaaklik — nie as voorwaarde nie, maar as voorskrif vir die gelowiges. Christus het verordineer dat die gelowiges hulle sal saam voeg, sy dood sal gedenk, ens. Dit na te laat is ongehoorsaamheid, wat nie ‘n eienskap van die geloof is nie. Dit is noodsaaklik vir die welsyn van die geloof, om Christus hierin te gehoorsaam. Ook wat die inrigting van die sigbare kerk betref, moet gelet word op die voorskrifte van Christus.

(b) Organisasie (Instituut) en Organisme.

Organisme: Die sigbaarwording van die kerk in die wandel van die gelowiges.

Organisasie: die sigbaarmaking deur die instelling van kerklike ampte.

Met die laaste, die instelling van die ampte en deur hom te voeg by die kerk waar dit bestaan, het die gelowige nog nie sy roeping vervul nie. Dit lê ook buite homself in die samehange van die lewe. Hier is ook organisasie nodig. So kan groepe van gelowiges hulle organiseer na leeftyd, geslag, of ook, met die oog op ‘n bepaalde doel buite hulle self: Christelike onderwys, wetenskap, politiek, ens.

Hiervan moet onderskei word kerklike organisasie, waar die gelowiges doel het in hulself, eie versterking, toerusting, ens.

(c) “Algemeen” en “plaaslik”.

Dit mag nie saamval met die van organisme-instituut nie, asof die enigste manier waarop die algemene kerk sigbaar word, net in die wandel van die gelowiges bestaan. Dit mag veral ook nie saamval met die eerste onderskeiding, asof die algemene kerk onsigbaar bly nie.

In Matt. 16:18 spreek Christus van die kerk in die algemeen, maar dan as georganiseer op die fondament van die Apostels. Die kerk het sy universele organisasie in die apostoliese woord. Dit bind alle gelowiges saam oor die ganse aarde. So ‘n band is ook gegee in die doop, wat erken moet word, deur watter kerk dit ook al, op wettige wyse, bedien is.

In Matt. 18:17 spreek Christus van kerk as ‘n plaaslike organisasie.

Die één “apostoliese kerk” kan alleen saamkom en saamleef in plaaslike verband. Die eerste is blywend geïnstitueer deur Christus self vir alle tye. Die laaste word geïnstitueer deur die gelowiges self volgens voorskrif van Christus.

(d) “Waar” en “suiwer”.

Daar is net één ware kerk: die liggaam van Christus, gebou op die apostoliese fondament (vgl. Kol. 2:7: “gewortel en opgebou”). Maar gelowiges kan nooit sê dat hulle die enige ware kerk ter plaatse is nie, om die eenvoudige rede dat die kerk nog strydend is, en die volmaakte nog nie gekom het nie.

Daarom is daar plek vir meer kerke op een plek in verskillende kerkverband, in die verhouding: suiwerder — minder suiwer.

Die amp van die gelowige is om hom te voeg by die suiwerste, en dit nog meer te suiwer. Waar hierdie amp van die gelowige onderdruk word, is die kerk op valse spoor.

________________________________

Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman

Volgende keer: Die gebruik van die woord ‘kerk’ in die Nuwe Testament 

Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: