DIE KENTEKENS VAN DIE KERK
deur prof. WJ Snyman
(Sien die inleiding (nommer 1) en die res van die reeks hier.)
Die kentekens van die kerk.
Die eienskappe sê wat die ware kerk is, die kenmerke waar die ware kerk is.
Hier moet onderskeid gemaak word tussen die dinge waaraan die kerk gemerk en die dinge waaraan hy geken kan word.
Na die “merktekens om die ware kerk te ken” handel die Ned. Geloofsbelydenis (Art. 29) ook oor die “merktekens van die Christene”. Dit is die wandel van die gelowiges. Die bestaan van die kerk word gemerk in die kragte en invloede wat daar uitgaan van die gelowiges op elke gebied. Hierdie kragte en invloede moet ook georganiseer word om elke lewensgebied vir Christus te verower. So word die kerk sigbaar in die (georganiseerde) aksie van die gelowiges. Die kerk laat hom merk as strydende kerk. Daar is egter “nog groot swakheid” in die gelowiges, waarteen hulle ook moet stry. Daarom is die “merktekens van die Christene” nie genoeg om die ware kerk te ken nie.
Die ware kerk is:
(a) waar die evangelie suiwer gepredik word.
Die kerk kom alleen tot openbaring waar die Woord van God is. Die kerk kom alleen suiwer tot openbaring waar die Woord van God suiwer bedien word. Daarom is suiwere bediening van die evangelie die eerste en vernaamste kenmerk van die ware kerk.
Die Woord van God is vir ons onfeilbaar gegee in die Skrifte van die O. en N. Testament.
Die woord van God soos dit tot afsluiting gekom het in die apostoliese prediking sal uitmaak wat geglo moet word en wat nie, en wie gelowiges is en wie nie (Matt. 16:19; Joh. 20:23; Matt. 28:19). Hierop sal Christus sy gemeente bou (Matt. 16:18).
Om suiwer te wees is alle verdere prediking aan hierdie geopenbaarde Woord van God gebonde.
So is die gelowiges nie oorgelewer aan die amp (Rooms); die prediker is ook nie net mondstuk van die gemeente nie (Independentisme). Ook is die prediker en gelowiges nie onderling van mekaar afhanklik nie (Luthers), maar albei, prediker en gelowiges, is saam afhanklik van die Woord van God. Die prediker bring die Woord van God. Die gemeente het die mag om te oordeel of die prediking “eenvoudig volgens Gods Woord” is.
(b) Waar die sakramente suiwer bedien word.
Die sakramente word suiwer bedien as dit bedien word in Naam van die Insteller. Verder, as dit bedien word aan diegene vir wie dit ingestel is. Eindelik, as alleen die sakramente bedien word wat inderdaad ingestel is.
Die insteller is Christus. Dit word in die naam van Christus bedien, wanneer dit amptelik bedien word deur sy kerk, aan wie Christus dit toevertrou het, en daarom ook in die kerk.
Dit is ingestel alleen vir die gelowiges (Mark. 16:16).
Daar is net twee sakramente deur Christus ingestel: die Doop en die Nagmaal.
So teken die sakrament nie net die geestelike daad waardeur God die kerk in aansyn bring (Doop) en dit bewaar (Nagmaal) nie, maar bekragtig dit ook vir die gelowige.
Die Doop beseël die wedergeboorte, waardeur die kerk geestelik ontstaan.
Die Doop onderskei hom ook deur sy omvattendheid. Soos die volk van God deur Johannes die Doper afgesonder is van Israel na die vlees, so moet die apostels deur hul prediking en doop ook die volk van God afsonder uit alle volke (Matt. 16:16; Matt. 28:19): Die Doop teken die kerk af in sy wêreldwye omvang en omvat die gelowiges ook in hul geslagte (Hand. 2:39).
So vergader Christus sy kerk uit alle geslagte, volke, tale en nasies (Openb. 5:9; 7:9). Die Doop kenmerk die kerk as “algemene kerk”.
Die Nagmaal kenmerk die kerk as liggaam van Christus in sy geestelike eenheid.
Met die instelling van die Nagmaal het Christus sy wil uitgespreek dat daar ‘n onderlinge samelewing en ‘n gereelde samekoms van gelowiges sal wees. Die Nagmaal bepaal die kerk in sy plaaslike afgrensing.
In verband met die Nagmaal ontstaan die plaaslike ampte van ouderlingskap, omdat die Nagmaal nie anders as onder toesig met stigting gevier kon word nie; en ook van die diakenskap, omdat die geestelike eenheid ook uiting moes vind in onderlinge steun.
Hierby kom die bediening van die Woord as plaaslike amp in noue samehang met die ouderlingskap (1 Tim. 5:17), as die apostoliese amp verdwyn. Al drie hierdie ampte is oorspronklik opgeslote in die apostoliese: die predikamp (Hand. 6:4), die ouderlingamp (1 Petr. 5:1) en die diakenamp (Hand. 6:2).
(c) Waar die kerklike tug bedien word.
Hoewel geen vereniging sonder dissipline kan bestaan nie, is die eienaardige van die kerklike tug dat dit ‘n daad van Christus is deur die gemeente (Matt. 18:18). Hier is dan ook net sprake van die bediening daarvan. Dit kan alleen suiwer bedien word in samehang met die apostoliese woord (1 Kor. 5:3 vv.).
Hierdeur word die kerk gehandhaaf as ‘n vergadering van ware gelowiges, en as sodanig gaan die toesig nie alleen oor die wandel van die gelowiges nie, maar ook oor die bediening van die Woord.
Ook dit is ‘n uitdruklike verordening van Christus tot plaaslike organisasie (Matt. 18:17). Hierin wortel die amp van die ouderlingskap, en deur hierdie instelling is die suiwere bediening van Woord en sakramente enersyds, en die kerk as vergadering van gelowiges die beste gewaarborg.
Uit die suiwere bediening van die evangelie, die suiwere bediening van die sakramente en die kerklike tug kan “met sekerheid die ware kerk geken word, waarvan niemand hom mag afskei nie” (Art. 29, Ned. Geloofsb.) en waarby “iedereen skuldig is om hom te voeg” (Art. 28).
Dit is die kentekens deur Christus self ingestel.
_____________________________
Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman
Volgende keer: Verskillende aspekte van die kerk
Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman
Baie dankie, die stukke oor die Kerk is baie leersaam en nodig