SONDE EN GENADE
Skriflesing: Deut.7:1,2; 20:10-18; Josua 9 en Lukas 15:18-24
Preekteks: Josua 9
Preekopname (GK Carletonville, 2016-10-09):
Aflaai: Josua 9 (regs kliek en dan ‘save link as’)
Preeknotas (let wel, dit is net notas, die volledige preek is die opname hierbo):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
As mens Josua 9 die eerste keer lees,
dan kan mens dalk vinnig net na eenkant sê:
die arme volk wat so mislei is deur hierdie bose Gibeoniete,
hoe durf hulle, ja, laat hul vervloek wees.
Maar dan vergeet ons van die skuld wat die Here se volk
ook in hierdie saak het, en belangrik:
dat selfs in die veroordeling van die Gibeoniete se optrede hier,
daar, ook genade is wat die sonde oorwin !
Ons teks bring ons by moeilike etiese sake uit, vrae soos:
– was die Gibeoniete heeltemal verkeerd in hul optrede,
was dit blote listigheid en misleiding of was dit wyse optrede van
hul kant soos met Ragab in hoofstuk 2, in ‘n oorlogsituasie ?
– was Israel heeltemal onskuldig in die saak, en moes hul
by die eed en verbond gebly het na die misleiding na vore gekom het ?
– en dan, is daar enigsins enige genade van die Here in hierdie moeilike
gedeelte, waaroor verklaarders deur die eeue baie verskil het ?
Geliefdes, ons wil vanoggend deur hierdie gedeelte leer
van die werklikheid en gevolge van die sonde aan die een kant,
maar ook van die Here se reddende genade en geduld met ons.
Ons doen dit onder die tema, wat regdeur die Skrif loop, naamlik:
Die werklikheid van die sonde,
en die groter werklikheid van die genade
Ons let op 3 sake in ons teks:
- Die sondige optrede van die volke wes van die Jordaan
- Die sondige optrede van Israel
- Die genade redding van die Here, ongeag ons sonde
1 Die sondige optrede van die volke wes van die Jordaan
Daar is twee sondige optredes,
Eerstens is daar die optrede van die konings van die gebiede wat
genoem word daar in vers 1.
Onthou Israel bevind hul nou in die middel van Kanaan,
hulle is nou deeglik in die beloofde land,
en ook die volke wat aan die Groot see lê, neem daarvan kennis,
en ‘soos een man’ kom hul nou saam om teen Israel te veg.
(Hierdie eerste 2 verse is die inleiding vir wat volg in hfst.9-11.)
Nou, wat het hul gehoor, v.1 ?
Van: God se wonders in Egipte, deur die woestyn, v.9
maar dan ook van die hele intog, die wonderwerk by die Jordaan,
en dan in die besonder die groot slag by Jerigo en Ai (hfst.6-8).
Maar, dalk het hul ook nou gehoor van dat hul ook by Ai, eerste keer verslaan is, en daarom nou dapper geword het, Israel kan dalk verslaan word ?
Ja, hoe arrogant is die heidene, hoe blind kan die mens raak om te dink
dat hul kan veg teen die Here en sy gesalfde, sy volk wat Hy liefhet.
In hierdie woorde van v.1,2 hoor ons opnuut die woorde van Psalm 2
Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? 2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: 3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! 4 Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.
Ja, ook hier sien ons hoe daar geen ware vrees vir die Here is nie,
geen bekering, verootmoediging en oorgawe aan die Here nie,
in kontras wat ons by Ragab gevind het, hfst.2.
En so is dit vandag nog, ook vandag is die volke en nasies nog in opstand,
ook vandag nog – ook selfs binne die kerke – verdwyn die vrese vir die Here,
en probeer mense nog veg teen die Here, sy Woord, sy Evangelie, sy waarheid.
Ja, ons moenie net dink aan die Moslem Isis wat letterlik veg teen die Here se kinders nie, maar dalk ook ek wat nog veg teen die Here in ongehoorsaamheid, hoeveel preke en boodskappe al gehoor teen my sondes, my bitterheid, my onvergewinsgesindheid, my verkeerde optrede …. maar ek veg teen God en my naaste my broer … nie teen my sondes nie ?
Jak.4: 1 Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? 2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. 3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.
Dit is futiel om te veg teen die Here, vergeet dit, jy gaan nie wen nie,
gee oor, pleit vir vergifnis en genade.
Vra vir Jakob, sy volk, Paulus, Petrus, dit werk nie om teen die prikkels te skop nie, teen sy liefdevolle en ferm tugtiginge nie, jy gaan baie seer kry, dalk ook vir ewig !
Soek daarom vrede by Hom, soek die lewe by sy Seun,
gee onvoorwaardelik oor, niks maar ek verskonings nie.
Weer Jak 4:
God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. 7 Onderwerp julle dan aan God …. 8 Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. …. 9 Weeklaag, treur en ween. …. 10 Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.
Maar dan geliefdes, sien ons ook ’n tweede sondige optrede, die van die Gibeoniete, dit is hulle wat van die volk of groep die Hewiete was, v.7
Gibeon was ook een van die groot en magtige stede van Kanaan, 10:2
Ongeveer 9/10 km noord van Jerusalem.
En hierdie Gibeoniete het besef, ja hulle het ook gehoor van hfst.1-8 se gebeure, en hul wil nie veg nie, maar soek vrede, wil hul onderwerp aan die Here se gesalfde, en dienaars wees, soos hul regdeur die teks aandui.
Maar die probleem is, die manier hoe hul vrede soek met Israel,
is deur met ‘lis’ te handel (v.4) en deur Israel te bedrieg (v.22).
Hulle gee voor dat hul boodskappers, ambasadeurs van ‘n ‘ver land’ af is,v.6
(baie ver land, v.9), dus nie in Kanaan woon wat Israel nou gaan oorneem nie,
en hul kamoeflering is baie oortuigend, v.4,5 en 11-13 beskryf dat hul verslytte sakke en wynsake, klere en padkos saamgeneem net.
Verder is daar ook baie vlei taal, hul belydenis klink goed, v.9,10,
hul is daar vanweë die Naam van die Here, u God,
sy groot dade, maar …. let wel hul noem net Egipte, nie Jerigo en Ai nie !
Nou is die etiese vraag, het hul reg opgetree, want mens kan redeneer,
dit is juis mos oorlogstyd, Josua en sy manskappe het ook Ai mislei met
’n lokval, was dit nie ook ’n wyse optrede hier deur Gibeoniete,
om vrede te soek, en nie te veg nie ?
Die woord ‘lis’ van v.4 kan positief en negatief vertaal word,
dit is dieselfde woord wat ons vind met die sondeval,
die slang was listiger is as al die diere, Gen.3,
en dan beteken dit negatief slinksheid, geslepenheid, bedrieëry,
maar dit kan ook positief vertaal word, soos in heelwat Spreuke
asook in die NT as versigtigheid, wyse optrede, skranderheid,
dalk in ons taal “om skerp te wees”, insig, praktiese wysheid.
Jesus praat in dieselfde lyn in Matt.10:16,
“Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.”
Nou wat moet ons sê geliefdes, dalk moet ons beide dinge sê ?
Dat die Gibeoniete reg was om nie te veg nie, reg was om vrede te soek en dienaars te wil wees van Israel, maar dat die manier waarop hul dit wou doen,
deur lis en bedrieëry (v.22) nie deur die skrywer daar en die res van die Skrif goedgepraat kan word nie. Die feit dat hul vervloek is bevestig dit ook, v.23.
Wat onsself betref geliefdes,
Die gedeelte spreek ons opnuut aan dat ons nie met verkeerde motiewe en planne die Here sal soek nie, of die Naam van die Here sal gebruik of misbruik nie.
In die NT lees ons dat Petrus op ‘n plek sê vir Jesus “almal soek U” (Mark.1:37), maar dan was dit nie altyd vir die regte redes of bedoeling nie,
– sommige wou Hom net ‘n politieke koning maak,
– ander het net gesondheid of mag gesoek
maar min soek Hom as Verlosser en Koning !
Ook in ons tye sal baie mense aan die kerk wil behoort,
die Here se huis en volk opsoek vir wat hul daaruit kan kry,
“wat is daar in vir MY!?” – houding.
Om dalk te kan roem hul is kerkmense, om begrawe te word,
om te meen ons is ‘beter’ as die heidene daarbuite,
of soos die Joel Osteen dwaling sê “om beste lewe nou” te hê.
Dan doen ons nie iets nie uit dankbaarheid en gehoorsaamheid nie maar eie gewin !
Nee geliefdes, ons moet deel van die kerk wees in dankbaarheid, v.9, vir die Here se Naam, omdat Christus ons Verlosser en Koning en Hoop is, sien 1 Thess 5:18.
Dit bring ons dan by die tweede punt, die volk se optrede en sonde.
2 Die sondige optrede van Israel
As die Gibeoniete kom met hul verhaal, vra die volk dadelik: v.7 (lees)
Met ‘woon onder ons’ bedoel hul, dat hul ook van die land Kanaan is,
en daarom verslaan moet word, en daarom geen verbond met hul
gesluit sal word nie.
Dit was die Here se opdrag, Deut.7:2,
1 As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy; 2 en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie.
En daarom vra Josua hul ook uitdruklik in v.8 waar hulle vandaan kom,
want, as jy Skrif met Skrif, of wet met wet vergelyk, wat Josua hulle natuurlik seker gedoen het, leer Deut.20:10-18, wat ons gelees het
1 geen vrede met enige Kanaanitiese stede
2 dat jy wel vrede kan aanbied vir stede wat vrede soek, en
3 dat jy wel verbond kan maak met stede wat baie ver is.
Die Gibeoniete het dit egter reg gekry om Josua en die volk te mislei,
sodat hierdie gedeeltes blyk van toepassing te wees (nr.3),
en sodoende eindig dit daarin, verse 14,15,
dat Israel met die Gibeoniete ’n verbond sluit,
’n ooreenkoms of verdrag dat Israel hul sal laat lewe, dus nie dood nie,
en dat hulle Israel se diensknegte gaan wees.
En dit is alles word – belangrik – met ’n eed bevestig in die Naam vd Here.
Maar, 3 dae later, toe Israel onder die stede kom wat saam Gibeon
die Hewiete uitmaak, het dit bekend geword vir Israel, dat hul Gibeoniete
is wat inderdaad onder hulle woon, wat dus in Kanaan is, naby, bure !
En dadelik is die volk in groot ongeluk daaroor gedompel, v.18.
Want ja, God se beveel in Deut 7 is duidelik dat hierdie volk, stede,
ook met die ban getref sou word, en daarom vrees hul die oordeel van die Here as hul nou ongehoorsaam is.
Die owerstes besef egter ook die dilemma, naamlik dat hul God se bevel moet
nakom, maar ook dat hul ’n eed afgelê het, v.19,
wat hul ook gesweer het by die HERE.
En daarom word besluit om die eed te onderhou, die Gibeoniete te laat lewe,
maar hul wel te vervloek – te straf – deur hul die laagste werk as slawe te gee
(Deut.29:11), naamlik as houtkappers en waterdraers.
Hierdie take moes verrig word vir die volk, maar spesifiek vir die onderhouding van die tabernakel en later die tempel, v.27.
Nou geliefdes, dit bring ons dan by die volgende etiese vraag:
– was die volk nie losgemaak van die verdrag wat deur misleiding tot stand
gekom het nie ? Moes hul nie daar en dan die Gibeoniete vernietig nie ?
Die owerstes spesifiek handel egter so om die gevolge van die Gibeoniete se sonde te beperk, vir beide hulle en die volk.
Hul besluit om die eed te onderhou, want God eis ook dat jy jou ede hou,
en die teks gee vir ons ook aanduiding, waarom die volk seker uit gewetenswroeging so opgetree het,
WANT hulle was ook skuldig, ons lees dit daar in vers 14:
…. dat hulle die Here nie geraadpleeg het nie !
As mens let op die vrae wat hul vra daar in verse 7,8,
dan was daar by hul dalk onsekerheid oor die saak,
en hul moes volgens wat die Here vir hul geopenbaar het in Ex.28:30 en Num.27 (21), gebruik gemaak het van borstas van die Urim en die Tummim om leiding van die Here oor hierdie saak deur die priester te kry ….
Maar hul het nie, hul het gemeen hul eie insig is genoeg en sal die saak kan hanteer.
Daarom sien hul ook die Here se tugtigende hand in hierdie saak.
Hulle moet nou, van hul kant gesien,
ook met die gevolge van hul sonde saamlewe.
Later in die geskiedenis sê die Here aan Dawid: `Vanwee Saul en vanweë sy huis waarop bloedskuld rus, omdat hy die Gibeoniete omgebring het,” wat bevestig dat die Here die eed van Jos.9 erken het en verwag het dit moes in stand gehou word.’ (2 Sam.22:1,2)
Daaruit sien ons dat die Here hul gehou het aan die eed wat hul gemaak het om die Gibeoniete se lewens te spaar.
Geliefdes, wat leer ons hieruit ?
Hoe maklik gebeur dit dat ons, ja, die sonde dalk sal erken,
maar nie die gevolge wil aanvaar en mee saamleef nie ?
– Dit kan wees dat ek gewaarsku word om nie sulke groot en slegte
skuld aan te gaan nie, en as ek dit besef, en dat ek die Here nie geken
het in die saak nie – dan verwag ek Hy moet my nie net vergewe nie,
maar sommer ook die skuld laat verdwyn, of ek dink nou dat ek bekeer het,
nou dat ek glo, hoef en nie meer die skuld te dra nie.
Nee, daar is vergifnis vir ons sondes, maar ons moet wel die gevolge daarvan in hierdie lewe dra (dink aand Dawid se egbreek met Batseba, en die gevolge wat hy moes dra, al was hy vergewe, 2 Sam.11,12ev).
– my ouers, vriende, medelidmate het my gewaarsku om nie met so- en so
te trou nie, want hul het dalk nie geloof raakgesien nie.
Maar ek gaan voort, sonder om die Woord te raadpleeg, en as na ’n paar jaar dit eintlik Lea is waarmee ek getrou het en nie Ragal nie, dan begin ek verskonings te soek om uit die huwelik te kom, of ’n ander poppie te soek, of die heel ergste: dat die Here nou wil hê ek moet weer sondig (verkeerdelik skei), sodat my geluk voorop kan wees as ek met iemand anders trou?
Nee, die gelowige, ook as ons verkeerde, nie goeie en wyse nie, maar sondige besluite geneem het of ede afgelê het,
moet dan by ons woord en ede bly,
soos die Skrif ook leer:
al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie – Ps.15:4
Dit bring ons by die laaste punt.
3 Die genade redding van die Here, ongeag ons sonde, v.22-27
Ja, die Gibeoniete is vervloek, gestraf, weens hul sonde van lis, bedrieëry,
misleiding van die Here se volk.
Hulle word waterdraers en houtkappers vir die Here se volk,
om te sorg dat daar water en hout is vir die tabernakel van die Here.
En ook deur die sondige gebeure, gaan die Here se Woord in vervulling,
Gen.9:25, Vervloek is Kanaän! ‘n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.
En tog, selfs in hierdie oordeel wat die Gibeoniete tref, is daar hoop en redding
en lewe, daarom die woorde van vers 26,
Hy het toe so met hulle gedoen en hulle gered uit die hand van die kinders van Israel, dat dié hulle nie gedood het nie.
Josua, wat beteken die Here verlos,
hy red hier die Gibeoniete van die volk,
dat hul nie gedood word nie,
hul ontvang vrede en die lewe,
al is dit as diensknegte.
In Jos.11 lees ons in vers 19,20 dat geen volk of stad genade gevind het nie,
“behalwe die Hewiete, die inwoners van Gibeon” …
So is hierdie gebeure ook ’n tipe, beeld, en heenwysing na ons verlossing in Christus.
Ons wat ook baiemaal skuldig is aan misleiding, verkeerde motiewe en planne, ons wat so maklik vergeet om die Here te raadpleeg in alles in ons lewens,
ons wat so maklik ons ede (belydenisse: geloof, huwelik, doop) verbreek, verdraai of nie voluit hou nie …
Ons wat ook die Here se vloeke en strawwe verdien het, soos met Ai en Jerigo,
maar dank God, die volmaakte Josua het ons gered uit die hand van die Here,
se regverdige oordeel, deur vir ons ’n vloek te word en ons sondes te dra.
En daarom moet ons gesindheid wees, in die woorde van v.25,
wat ons moet pleit in Christus:
“O Here ons is in u hand,
doen soos dit goed en reg is in u oë
om met ons te handel”
En in die NT hoor ons hierdie pleitroep ook by die verlore seun,
wat sy lewe verkwis het, as hy dan tot bekering en inkeer kom:
“Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u,
en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie;
maak my soos een van u huurlinge.” = diensknegte …. (Luk.15:18-21)
Want ja, na dat ons alles gedoen het wat die Here beveel, moet ons weet
ons is onverdienstelike diensknegte, wat gedoen het wat ons verplig is om te doen, Luk.17:10.
Ja, Vader, maak ons u dienaars, al is dit net om waterdraers en houtkappers in u huis te wees, watter plek ookal, solank ons net in U huis kan wees en u genade kan proe, beleef, aanskou die res van ons lewens, Ps.122 gesing het.
… om vriende en broers soek ek jou vrede ….
En is dit wat met die Gibeoniete gebeur het ook in die geskiedenis,
want ons lees verder:
– Ons lees later van Jismaja, die Gibeoniet, ‘n held onder die 30 en hoof oor die 30, Dawid se helde (1 Kron.12:4)
– Later was by Gibeon ‘n heiligdom van Salomo *, 1 Ko. 3:4 e.v., waar die Tabernakel * gestaan het, 1 Kr. 16:39; 21:29, en waar Salomo geoffer het, 2 Kr. 1:5.[1]
– En ja, na die ballingskap, wat lees ons, wie kom terug om die stad en die tempel van die Here te help bou ….. Neh.7:26, die getal manne van die volk van Israel was … die manne van Gibeon, vyf en negentig ….”
Hierdie Gibeoniete het sekerlik ook die evangelie daar in the OT gehoor,
in en om die tempel, by die Here se huis en in sy teenwoordigheid !?
Genade !
Dit wys daarop dat die vloek later, heel waarskynlik deur geloof en gehoorsaamheid versag is ?
En ja, hoe handel die Here dan met ons,
as ons in verootmoediging na Hom terug keer, Luk.15 ?
“Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. 23En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. 24Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.”
Genade, op genade, vir sy kinders !
Ja, geliefdes, Josua 9 leer van die die sonde en is baie erg, en die slegte gevolge, maar dank God, Josua 9 leer ook dat daar waar die sonde is, die genade vir sy kinders, nog meer oorvloedig is, sien Rom.5:20.
Daarom, soek die aangesig van die Here in Christus,
soek die ware vrede deur die evangelie,
en lewe in dankbare gehoorsaamheid as sy diensknegte en diensmagte,
want Josua, Jesus het ons gered, sodat ons kan lewe … vir ewig !
Amen.
[1] Gispen, W. H., Oosterhoff, B. J., Ridderbos, H. N., van Unnik, W. C., & Visser, P. (1977). Bybelse Ensiklopedie. Kaapstad: Verenigde Protestantse Uitgewers.
Leave a Reply