DIE GEBRUIK VAN DIE WOORD ‘KERK’ IN DIE NT
deur prof. WJ Snyman
(Sien die inleiding [nommer 1] en die res van die reeks hier.)
Die gebruik van die woord “Kerk” in die Nuwe Testament[1]
Die Griekse woord ekklêsia, wat ons vertaal met kerk of gemeente,[2] kom 112 keer[3] voor in die Nuwe Testament. Drie keer word dit gebruik vir ‘n gewone volksvergadering, nl. by die oproer in Efese, Hand. 19, waar ons lees van die “vergadering” wat in die war was (vs. 32) van die “wettige vergadering” wat die stadsklerk in vooruitsig stel (vs. 39) waarmee hy die “vergadering” ontbind (vs. 40). Hier staan telkens ekklêsia. Dit herinner aan die oorspronklike betekenis van die woord, nl. “volksvergadering”, en meer bepaald die “wettige volksvergadering” van die Griekse stadstaat.
In die woord sit die gedagte van ‘n offisiële oproeping.
Dit het geskied deur ‘n herout, wanneer so ‘n volksvergadering moet byeenkom om een of ander beslissing te neem. Hierdie afkoms van die woord bring reeds ‘n belangrike trek van die Kerk na vore, soos dit sig onderskei enersyds van die Joodse Sinagoge, waartoe ‘n mens behoort kragtens afstamming,[4] en andersyds van die heidense (godsdienstige) verenigings wat gegrond is op onderlinge afspraak.[5]
Die Kerk is dus andersoortig as ‘n volksverband, waarin ‘n mens gebore word. ‘n Volkskerk is ‘n contradictio in terminis. Dit is egter ook iets anders as ‘n vereniging, wat deur ons self gevorm word en berus op vrye keuse. Die eiesoortigheid van Kerk kom daarin uit dat ‘n mens alleen daartoe kan behoort kragtens roeping,[6] en wel van Godsweë. As Paulus die gemeentes toespreek as “geroepe heiliges”,[7] dan gebruik hy ‘n woord wat in ekklêsia opgeslote sit.8
Verder word die woord ekklêsia nog twee keer gebruik vir die Ou-Testamentiese volk van God, Israel, wat sig juis hierin onderskei van al die nasies van die wêreld, dat hulle deur God in aansyn geroep is.9 Hulle is eintlik ‘n kerkvolk. Die een keer word dit vertaal met vergadering: “die vergadering in die woestyn” (Hand. 7:38), en die ander keer met gemeente: “Ek sal u Naam aan die broeders verkondig, in die gemeente sal ek U prys (Hebr. 2:12).
Hierdie laaste is ‘n aanhaling uit Ps. 22:23: “Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering u prys”. In albei gevalle staan één woord nl. ekklêsia. As ons dit in gedagte hou, dan is sonder meer duidelik vir die leser: Die Kerk van die Nuwe Testament is die voortsetting van die Ou-Testamentiese volk van God, ‘n historiese eenheid, so oud as die mensheid self.[8][9][10]0
Wat betref die orige 107 keer, waar die woord dan gebruik word bepaald vir die N.T. Kerk, vind ons hierdie eienaardigheid: 91 keer word dit gebruik vir die plaaslike gemeente en 16 keer vir die Kerk in sy groot geheel. Hierby moet ons al dadelik die opmerking maak: Nie só, dat dit gemeentes omvat nie. Die woord kerk word in die Nuwe Testament nooit gebruik in die sin dat dit gemeentes omvat nie.[11] Kerk is altyd gemeenskap van gelowiges, hetsy dan:
(1) soos hulle verenig is, en georganiseer is in ‘n plaaslike gemeente, of
(2) soos hulle verspreid is oor die ganse aarde.
Daar is egter één plek in die N.T. wat skynbaar ‘n uitsondering maak op hierdie reël, nl. Hand. 9:31. Daar staan: “En die ekklêsia[12] deur die hele Judéa en Galiléa en Samaria het vrede gehad”. Ons sou hier dan ‘n geval hê waarin die woord kerk gebruik word vir ‘n groep gemeentes van één land of provinsie.[13]
Dan sou die woord kerk in die N.T. voorkom in vierderlei sin:
(1) vir alle gelowiges (universele kerk);
(2) in één land (nasionale kerk);
(3) in een provinsie (provinsiale kerk).[14]
Let wel, die hele konstruksie sou dan berus op een enkele Skriftuurplek.
Dit sou inderdaad genoeg wees om die gebou te dra.
Maar wat is die geval?
Die “ekklêsia deur die hele Judéa en Galiléa en Samaria” was inderdaad die universele Kerk. In Hand 9 was die Kerk nog nie verder verbrei nie. Hand. 9:31 maak dus geen uitsondering nie. Ons stelling moet dus bly staan. Ons kan daar byvoeg:
Nêrens in die N.T. word die woord kerk selfs gebruik vir gelowiges in een land of deel van die wêreld nie.[15]
As Paulus spreek met die gelowiges van die provinsie Achaje, dan heet dit: “aan die gemeente van God wat in Korinthe is met al die heiliges wat in die hele Achaje is” (2 Kor. 1:1). In hierdie verband moet nog gewys word op Hebr. 12:23 [16] waar die woord ekklêsia gebruik word vir die gesaligdes, die triomferende Kerk.
Uit die gegewens in die N.T. blyk dan dat die woord kerk in die N.T. gebruik word in tweërlei sin:
(1) lokaal: die gelowiges van één plek, en
(2) universeel: die gelowiges oor die hele aarde, en ook die in die hemel omvattend.[17]
___________________________
[1] Rede gehou by die oordrag van die rektoraat aan die Teoligiese Skool, 29 November 1948.
Koers, v. 16, no. 4, 1948/1949, pp. 111-125
[2] Die woord “kerk” kom in ons Afrikaanse Bybel nie voor nie, wel in die Belydenis en K.O. Wat die gebruik betref, is daar geen verskil nie, vgl. Art. 4 K.O., waar “kerk” en “gemeente” albei gebruik word vir die plaaslike gemeente. In Ef. 1:22 word gemeente gebruik vir die Kerk in sy geheel.
[3] Vgl. O. Schmoller: Handkonkordanz zum griechischen Neuen Testament, Gütersloh 1913 (4) S.V. ekklêsia.
[4] Matt. 3:9.
[5] F. W. Grosheide: Gedachten over de Kerk in het Nieuwe Testament, Gereformeerd Theologisch Tijdschrift. Nov. 1930, p. 263.
[6] F. W. Grosheide, t.p.
[8] Kor. 1:2.
[9] klêtos. 9
O.a. Jes. 43:1.
[10] “Van die begin van die wêreld af tot aan die einde toe”. Heid. Kateg. So. XXI.
[11] Bv. Geref. Kerk van S.A., Ned. Geref. Kerk ens. Hierdie gebruik van die woord kerk ken die N.T. nie.
[12] Ons vertaling het “gemeentes” (mv.) volgens die Textus Receptus. Dan het ons hier geen uitsondering nie. Bostaande lesing (ekv.) word egter gesteun deur die beste handskrifte.
[13] “Al de gemeenten van Judéa, Galilea, Samaria onder dien éénen naam van ekklêsia in singulari samengevat”. Dr. H. Bavinck, Dogmatiek IV, p. 301.
[14] Vgl. Bavinck, a.w., p. 326.
[15] Vgl. dr. A. Kuyper: Dictaten Dogmatiek IV, Loc de Eccl., p. 15: “nooit of nimmer komt ekklêsia voor in de betekenis van Landskerk … Daarom is het spreken van een Volkskerk door het Nieuwe Testament geoordeeld. Het nationale begrip op de kerk over te brengen, is het loochenen van haar Catholiciteit, het wegcijferen van haar oecumenisch karakter”.
[16] Miskien moet dit hier nie vertaal word met kerk nie maar met plegtige vergadering. Vgl. dr. F. W. Grosheide: De Brief aan de Hebreën, opnieuw uit den Grondtekst vertaald en verklaard, J. H.
Kok, Kampen 1922, p. 175 v. [Hierdie voetnoot se plek word nie in die gedrukte teks aangedui nie. Aangesien dit verwys na Hebreërs word dit hier geplaas – Willem Swanepoel]
[17] “Dikwijls ook bedoelt de Schrift door den naam Kerk de geheele menigte der menschen, over de aarde verspreid, die belijdt dat zij éénen God en Christus vereert; die door den doop in zijn verbond wordt ingelijfd, door de gemeenschap des Avondmaals hare eenheid in de ware leer en liefde betuigt, met het Woord des Heeren instemt…” Johannes Calvyn’s Institutie. G. Baum, E. Cunitz en E. Reuss, Kampen 1868, p. 15 vlg.
________________________________
Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman
Volgende keer: Kerk in die plaaslike sin
Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman
Leave a Reply