KERK IN PLAASLIKE SIN
deur prof. WJ Snyman
(Sien die inleiding [nommer 1] en die res van die reeks hier.)
Die woord ekklêsia word verbind met plekname: Die ekklêsia (kerk, gemeente) in Jerusalem (Hand. 5: H; 8:1; 11:22; 12:5; 15:4), van Antiochië (Hand. 11:26; 13:1; 14:27; 15:3) van Cesaréa (Hand. 18:22), van Efese (Hand. 20:17; Openb. 2:1), van Kenchreë (Rom. 16:1), Laodicéa (Kol. 4:16; Openb. 3:14), Smirna (Openb. 2:8), Pergamus (2:12), Thiatire (2:18), Sardis (3:1), Filadelfia (3:7).
Iets besonders is hier: “die ekklêsia van God, wat in Korinthe is” (1 Kor. 1:2; 2 Kor. 1:2), en “die kerk van die Thessalonicense, wat in God die Vader en in Jesus Christus is” (1 Thess. 1:1; 2 Thess.1:1).
Dit sê vir ons: elke plaaslike gemeente is verbonde met God, en ook met Jesus Christus, vgl. Matt. 18:19, waar Christus sy teenwoordigheid toesê aan twee of drie wat vergader in sy Naam.
Te meer geld dit dan van die samekoms van die gemeente.
Alle plaaslike kerke (gemeentes) staan dus gelyk, omdat almal regstreeks en volstrek van Christus afhanklik is, en aan sy Woord gebonde.
Hier is nog iets: in Hand. 20 :28 vermaan Paulus die ouderling van Efese om as herders die gemeente van God[1] te versorg[2], wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Die gekursiveerde woorde is aanhaling uit Ps. 74:2, m.a.w.: elke plaaslike gemeente is ook die voortsetting van die O.T. Israel, die volk van God. Dit verteenwoordig die volk van God op daardie plek.
By hierdie plaaslike gebruik van ekklêsia is daar nog ‘n belangrike verbesondering, nl. in die sin van kerklike samekoms.
Paulus wil dat die vroue in die ekklêsia sal swyg (1 Kor. 14:23), d.i. nie juis in die kerkgebou, of in enige samekoms van die gemeente nie, maar in die erediens.19
In 1 Kor. 11:18 sê Paulus: “As julle saamkom in ekklêsia”. Ons vertaling het “as julle saamkom in die gemeente”. ‘n Presieser weergawe sou wees: “As julle kerklik saamkom”.
Van besondere belang in hierdie verband is 1 Kor. 14:23: “As die hele gemeente dan saam[3] vergader het”.
Twee dinge kan hieruit afgelei word.
Die eerste is dat daar dus ook aparte samekomste was op verskillende plekke. Dit bied die oplossing van die sg. huisgemeentes.
Ons lees van die gemeente in die huis van Nimfas (Kol. 5:15), van Archippus (Fm:2), albei in Kolosse, van Priscilla en Aquila ens., in Rome (Rom. 16:3), later in Efese (1 Kor. 16:19). Dit was samekomste om daar kerk te hou, waaraan as deel van die Kerk die naam kerk gegee word.[4]
Dit beteken nie dat die eenheid van die plaaslike gemeente opgebreek word nie, want al kom die gelowiges vanweë hulle groot getal in verskillende wonings saam, tog vorm hulle een ekklêsia.[5] Dit was veral die geval in die groot stede. Van eie kerkgeboue op Romeinse bodem voor die derde eeu weet ons nie.[6]
Die tweede punt in 1 Kor. 14:23 is dit: Kerk is kerk nie alleen as samekoms nie, maar ook iets wat saamkom, en dus bestaan,[7] al is dit nie juis saam nie.[8] Dit is dus ‘n organisasie wat bestaan, afgesien van die kultus.[9] Dit is ook verder duidelik uit die gebruik. Paulus sê: “Ek het die ekklêsia vervolg” (1 Kor. 15:9; Gal. 1:13; Fil. 3:6).
Is dit die samekoms? Seker nie.
Hy het die dissipels gaan opsoek in hulle huise (Hand. 8:1). Paulus wou die gelowiges uitroei en die organisasie vernietig. “Uitwerp uit die ekklêsia” (3 Joh. 10) kan nie beteken uitwerp uit die samekoms nie, maar uitsluiting uit die organisasie.
Dat ekklêsia dus uitsluitend sou gebruik word vir die samekoms[10] is onjuis, en nie in ooreenstemming met die gebruik van die woord in die N.T. nie. Kerk is ‘n plaaslik georganiseerde gemeenskap wat amptelik fungeer, al is dit nie byeen nie, en wel in huisbesoek (Hand. 20:28), in diens van barmhartigheid (1 Tim. 5:16), in tugoefening (Matt. 18:17).
Ons moet nog let op die meervoudige gebruik van ekklêsia (kerke, gemeentes) in die N.T. Paulus spreek van die kerke (gemeentes) van Galásië (1 Kor. 16:1; Gal. 1:2), van Asië (1 Kor. 16:19), van Macedónië (2 Kor. 8:1), van Judéa (Gal. 1:22), van Sirië en Cilïcië (Hand. 15:41).
Hier het ons dan “provinsiale” en “landskerke”.
Nooit word hiervoor die woord kerk in die enkelvoud gebruik nie. Daar is in die N.T. geen enkele voorbeeld van dat kerke (gemeentes) van een land of provinsie ‘n kerk genoem word nie.
Ook nie eens die gelowiges van een land nie.[11]
Die Christelike Kerk was verder verdeel in twee groot groepe, die Joods-Christelike en die Heiden-Christelike Kerk.
Maar hierdie gangbare terme gebruik Paulus nie.
Die Heiden-Christelike Kerk is “al die kerke onder die heidene” (Rom. 16:4), en die JoodsChristelike Kerk is “die kerke van Judéa wat in Christus is” (Gal. 1:22; vgl. 1 Thess. 2:14).
Ons vertaling het “Christelike gemeentes in Judéa”. Dit is reg.
Dit onderskei die Kerke van Christus van die Joodse. Ons het hier dus so iets as die teenswoordige “denominasionele” onderskeiding van kerke. Ook in hierdie sin word die woord kerk (enkelv.) nie gebruik nie. Dit kom nie voor om een kerkegroep van ‘n ander kerkegroep te onderskei nie.
Wat van die kerke van die wêreld?
Vorm dit nie saam ‘n Kerk nie?
Ook hier hou Paulus vas aan sy spraakgebruik: “Al die kerke van Christus groet julle” (Rom. 16:16).[12]
Ons konklusie is:
Nooit kan ons uitkom van ‘n gemeente by ‘n kerk nie, hetsy in provinsiale, nasionale, denominasionele of selfs universele sin nie.
Gemeentes saam maak nie ‘n kerk uit nie.
Of: ‘n Kerk bestaan nie uit gemeentes nie,[13] maar uit gelowiges, en wel (1) in plaaslike verband, d.i. kerk in lokale sin, (2) oor die hele wêreld, d.i. in universele sin.
__________________________
[1] Ten onregte deur Greydanus vereenselwig met die kerk in sy geheel. Vgl. dr. S. Greydanus: De Brief van den Apostel Paulus aan de Gemeenten in Galatië, H. A. van Bottenburg, Amsterdam,
[2] , p. 50. 19
Hier straal die oorspronklike betekenis van kerk by ons nog deur, bv. “kerk hou”. Dink ook aan die verskil wat ons maak tussen gemeentelike en kerklike samekoms. Kerk beskryf die gemeente meer van sy offisiële kant. Daarom is dit jammer om kerk geheel te vervang met gemeente.
[3] Volgens die oorspronklike beteken dit “op dieselfde plek”.
[4] Vgl. Gysbertus Voetius: Verhandeling over De Zichtbare en Georganiseerde Kerk, uit het Latijn vertaald door R. J. W. Rudolph en dr. F. F. C. Fischer, J. H. Kok, Kampen 1902, p. 154.
[5] Bavinck, a.w., p. 301.
[6] F. Godet: Kommentaar op Paulus eersten Brief aan de Corinthiërs uit het Fransch vertaald door dr. G. Keizer. J. H. Kok, Kampen, 1904, p. 882.
[7] Die gemeente wat in Jerusalem is (Hand. 11:22), wat in Antiochië is (Hand. 13:1), ens., d.w.s. die daar bestaande gemeente. Dit dui die Kerk aan as gevestigde, waarin ook ampsdraers gevind word. Vgl. dr. F. W. Grosheide: De Handelingen der Apostelen, opnieuw uit den Grondtekst vertaald en verklaard, J. H. Kok, Kampen, 1941, p. 194.
[8] Vgl. 1 Kor. 14:23 met 1 Kor. 11:18.
[9] Om hierdie onderskeiding sterk te beklemtoon, is nog nodig, afgesien van die teorie van Sohm. Ook teenswoordig word weer die nadruk verlê na die kultus.
[10] “Es gibt keine Gemeinden innerhalb der Christenheit mit irgendwelcher die einzelnen bindenden, zusammenfassenden rechtlichen Organisation. Es gibt viel mehr nur Versammlungen (Ekklesien) bald grosse, bald kleine… gewissermassen nur Wellen, auf und wieder steigend, kommend und gehend in dem grossen Strom der Christenheit. Hat die Versammlung sich aufgelöst, so ist ihre Spur nich mehr zu finden. Vor ihr, wie in ihr und nach ihr besteht nur eine einzige Grösse, die ganze Christenheit auf Erden”. R. Sohm, Kirchenrecht I, 1923, p. 66.
[11] Die voorbeeld het ons gehad in 2 Kor. 2:1.
[12] Vgl. ook 1 Kor. 7:17; 1 Kor. 11:16; 1 Kor. 14:23; 2 Kor. 11:28; 2 Thess. 1:4. [Hierdie voetnoot se plek word nie in die gedrukte teks aangedui nie. Dit word hier geplaas sodat dit nie verlore gaan nie – Willem Swanepoel]
[13] “Alle plaatselijke gemeenten of kerken vormen één geestelijk geheel, het lichaam van Christus”, Greydanus, a.w., p. 83.
__________________________
Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman
Volgende keer: Kerk in die universele sin
Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman
Leave a Reply