Die Here wat ons verlos stry ook vir ons!
Skriflesing: Josua 10:1-15 en Markus 4:35-41
Preekteks: Josua 10:1-15
Preekopname (GK Carletonville, 2016-10-23):
Preeknotas (let wel, dit is net notas, die volledige preek is die opname hierbo):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Daar is blydskap en vreugde in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer (Luk.15:7),
maar so is daar haat en woede en vrees in die hel as daardie sondaar hom bekeer.
Die Satan en sy bose magte verag elkeen wat oorloop van duisternis na die lig,
en sal alles probeer doen om dit te verhoed.
En as die Satan nie kan keer dat ’n mens vrede maak met God in Christus nie,
sal hy, soos ons lees in Op.12 (v.17), oorlog maak teen daardie kind van God,
om hom te vernietig, te verdelg, uit te roei, al is dit net in hierdie lewe.
Die wonderlike troos is egter, dat dieselfde Here wat ons verlos van
die sonde, die wêreld en die Satan, dieselfde Here is wat vir ons stry,
wat ons ons sal help en verlos teen die bose aanslag van die hel.
Dit hoor ons ook in ons teksgedeelte vandag, vers 14:
…. want die HERE het vir Israel gestry ….
Dit wil ons vandag leer uit ons teks gedeelte, Jos.10, besonder v.1-15,
en daarom is ons tema:
Die Here wat ons verlos
stry ook vir ons!
Ons let op 2 sake,
- Hoe die Here antwoord op die Gibeoniete se angsroep om hulp, v.1-8
- Hoe die Here vir Israel stry en oorwin, v.9-15
1 Hoe die Here antwoord op die Gibeoniete se angsroep om hulp, v.1-8
Verse 1 tot 5 beskryf die angs maar ook die woede van die heidendom,
as een van hulle, die stad Gibeon, oorloop na die ‘vyand’, dit is Israel.
In hoofstuk 9, in v.1 en 2 het ons gehoor van die eenheid van die heidendom,
wat teen Israel gaan opstaan, maar in die res van hoofstuk 9 het die Gibeoniete, al was dit op ’n slinkse wyse, vrede gemaak met Israel,
hul onderwerp aan die feit dat die Here Kanaan aan Israel gaan gee.
En nou is die konings van die suidelike deel van Kanaan beangs,
veral die koning van Jerusalem, Adoni-Sedek,
omdat Gibeon net noord van sy stad was.
En ook hy en die ander 4 konings wat vermeld word in v.3
asook al hul stede, die suidelike gebied van Kanaan,
is ‘baie bevrees’, v.2, as hul ook hoor van die groot dade
van die Here deur Israel.
Hul hoor van Jerigo, en Ai, maar nou ook van Gibeon veral,
want v.2 beklemtoon dit: groot stad, koninklike stad, groter as Ai,
manne wat helde is …. dus as Gibeon val, dan kan enige van
die suidelike konings se stede val.
En daarom, onder leiding van die koning van Jerusalem,
staan die volke nou op, om Gibeon te straf dat hul durf na die vyand oor te loop, maar sekerlik ook om Israel se inname enigsins te probeer keer.
Onthou: Israel is nou baie strategies geleë in die land,
hulle het die middel van die land oorgeneem van die ooste na die weste,
en kon dus so die kontak tussen noord en suid bepaal.
En dit wou hierdie 5 konings sekerlik ook verhoed.
Daarom dat hul nou Gibeon beleer en teen hulle veg.
Ja, bitter is die wraak van die heidendom, van die ongelowiges,
as jy teen hul draai: dink maar aan talle voorbeelde van hoe bv.
in die Moslem geloof, as iemand tot die geloof in Christus kom,
of bloot wil assosieer met Christene, hy heeltemal verwerp word deur sy familie, vriende, in sekere radikale kringe selfs doodgemaak moet word.
Maar dit is ook nie vreemd nie, want Jesus sê: Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. (Luk.6:22)
Die Gibeoniete besef egter, hul kan nie alleen staande bly nie,
en daarom die hulpgeroep na Josua, na Israel, v.6 (lees)
… trek u hande nie af van u dienaars nie … dus moenie u verdrag
met ons vergeet om ons te beskerm nie.
… verlos ons, help ons … !
Ja geliefdes, ook hier hoor ons vrees en angs,
ja, en dit is dalk woorde van ’n klomp heidene wat oorgeloop het na Israel,
en dalk was daar al ’n paar wat werklik begin glo het,
ons weet nie, maar in hierdie uitroep van angs en wanhoop om hulp,
moet ons die stem hoor van elke verlore mens,
die belangrikste hulpgeroep wat daar kan wees in ons lewens,
Hierdie Gibeoniete wat hul verlorenheid voor die groot magte
van die 5 konings besef, en roep om hulp en verlossing !
So ook die gelowige, natuurlik kom ons ook dalk in baie fisiese gevare,
dink maar aan al die misdaad gevare van ons tyd,
maar die grootste vyande van die gelowige, is ons 3 doodsvyande:
die Satan, die verleiding van die wêreld, en sondige oorblyfsels.
En as al hierdie bose pyle op ons afgeskiet word, om ons te probeer
vernietig, ons vrede met God in Christus te probeer wegvat,
dan moet ons uitroep:
O Here, moenie u kosbare Vaderhand van ons wegvat nie,
moenie vergeet van die genadeverbond in Christus nie,
Kom help ons, kom verlos ons,
O Here help my om nie moed te verloor nie,
Om die goeie stryd van die geloof te stry.
Here, wees my sondaar genadig.
En dan, wees verseker, die Here sal sy kinders antwoord.
Soos ons sien hier in ons teks,
Josua – wat beteken – die Here verlos
sal opstaan tot die goeie stryd,
en die Here en al my vyande verslaan.
(Ps.68 wat ons gesing het … Die Heer sal opstaan tot die stryd ….)
Josua antwoord as hy die oproep hoor van die Gibeoniete.
Hy het opgetrek, saam met die weerbare manne
en al die dapper helde, sy krygsmanne saam met hom.
En dat hy Gibeon moes help, word bevestig deur die Here
wat in v.8 hom opnuut bemoedig met sy verbondsbelofte (lees) vers 8
Hierdie woorde in v.8 is dan ook ’n bevestiging,
dat die Here die eed aanvaar het wat Israel afgelê het,
daar in hfst.9 om die Gibeoniete se lewens te bewaar.
En weereens, in die woorde “want Ek gee hulle in jou hand”,
is die sekerheid van die oorwinning oor die vyande.
Dit kan ook vertaal word as “Ek het hulle in jou hand gegee”
(perfektum van sekerheid).
Ja, geliefdes, ook ons het hierdie wonderlike belofte,
ons doodsvyande sal ons in die hakskeen byt,
ons kan ook baiemaal val, na liggaam en gees baie ly en worstel.
Maar dank God, omdat Josua – Jesus reeds oorwin het,
aan die kruis en opgestaan en opgevaar het
sal die Satan, wereld en die sonde ons nie eiwg laat verlore gaan nie.
Maar belangrik, sien weereens ook hier raak:
v.8 Die Here gee reeds die oorwinning deur sy belofte, maar
v.7 en dan v.9 en wat volg deur die hele hoofstuk,
Josua en Israel moes die goeie stryd gaan stry, tot die geloofsdade oorgaan.
Hul moes opstaan tot die stryd, optrek om die oorwinning te behaal.
En dit is wat die Here van ons ook verwag in die gee van sy beloftes
ook aan ons, dat Hy in Christus die wereld, sonde en Satan oorwin het.
Nou moet ons in daardie oorwinning deur die geloof lewe en wandel.
Nou moet ons optrek tot die goeie stryd waar die Here my geplaas het en roep!
Ja, dit kan beteken dat ek fisies my vrou, gesin en besittings in hierdie wereld moet beskerm,
dat liggaamlike opofferings, in die toekoms dalk nodig gaan wees.
Maar, dit is die makliker deel. ….
Die moeiliker en belangriker deel is dat ek as vader op sal trek,
om my vrou en kinders lief te hê, om my kinders die weë van die Here te leer,
om huisgodsdiens te hou, om van rusdag tot rusdag op te trek na die huis van die Here.
Om – as my kind afdwaal – te gaan help en verlos met die Evangelie !
Om die evangelie van verlossing en hulp aan ‘n verlore wêreld te verkondig.
Dit geliefdes is om ‘n dapper held te wees in sy leermag, krygsman te wees in sy Koninkryk.
Dit bring ons by die tweede punt,
2 Hoe die Here vir Israel stry en oorwin, v.9-15
Josua het regdeur die nag getrek, en die 5 konings skielik oorval.
En in verse 10 tot 15 word nou samevattend beskryf hoe die Here
deur Israel die oorwining oor die heidendom in die suidelike deel
van die beloofde land behaal.
Die res van hoofstuk 10, verse 16-39 beskryf dan die detail wat plaasgevind het op hierdie dag, in die woorde van v.42, toe Josua en die volk die 5 konings en hulle land met “een slag” ingeneem het,
want die HERE, die God van Israel het vir hulle gestry.
Die skrywer beskryf hierdie dag se groot oorwinning, spesifiek oorsigtelik hier in v.10 tot 15,
deur drie sake te beklemtoon, wat nie noodwendig in chronologiese volgorde is nie, want die groot fokus is om die Here van die verbond (v.8), die Here wat vir ons stry (v.14,42), se Naam te verheerlik !
Kyk hoe wys die skrywer dit vir ons uit in die teks, en vanuit die oorspronklike taal is die beklemtoning daarvan nog duideliker:
a) v.10 “die HERE het hulle in verwarring gebring voor Israel”
“(Die HERE) het ’n groot slag geslaan”
b) v.11 “Die HERE het groot haelstene uit die hemel op hulle gewerp”
c) En dan die groot wonderwerk van daardie dag, v.12-14
Josua het tot die Here gebid, dat die son en maan in hul weg sal stil staan,
totdat die volk die vyand heeltemal verslaan het,
dus dat die gebeure van verse 16 tot 39 kan plaasvind binne een dag,
so, die 5 konings self wat gevang en gedood is met hul magte, v. 16-.27
– maar dan ook al die stede wat met die banvloek getref is,
in die suide deel van Kanaan. v.28 – 39.
Nou geliefdes, daar is omtrent 4 of 5 sienings oor hoe v.12-14 verstaan moet word, ek noem net 2 standpunte, en dan wat ek glo die teks self duidelik leer.
a) die ongeloof standpunt, dit is onmoontlik dat dit kan gebeur. As die son en maan stil staan, of die aarde stilstaan, sal alles vernietig word en net chaos wees. Kon nie gebeur het nie !
Wel, as jy glo in ’n meganistiese wêreldbeeld sonder God of dat God alles geskape het, en nooit deur wonders kan ingryp teen of oor die natuurwette wat Hy daargestel het nie, sal jy die werklike gebeure van hierdie verse ontken.
Probleem is, wat verhoed jou dan om die wonder van die skepping, Gen.1, of Jesus (maagdelike geboorte, opstanding, hemelvaart) self en sy wonders dan nie ook te verwerp nie, want dit is mos alles ook wetenskaplik ‘onmoontlik’ ?
b) Die hele gedeelte, v.12-14 is ’n aanhaling uit die Boek van die Opregte, wat ’n boek was van heldedade van Israel, uiteengesit in gedigte en liedere (groot oorwinnings).
Dus, die bedoeling is nie om dit letterlik te verklaar nie, maar as ’n poëtiese beskrywing te beklemtoon die groot oorwinning wat die Here daardie dag behaal het deur Israel, dus nie letterlik nie
Nou is ekself oortuig, na my bestudering van hierdie gedeelte, dat die tradisionele siening nog steeds die standpunt is wat die teks self vir ons uitwys, nl. dat hier ’n groot wonderwerk gebeur het, dat omtrent vir ’n volle dag, v.13, daardie dag verleng is deur die Here, sodat sy oorwinning deur Israel kon geskied.
Die volgende aspekte uit die teks wys daarop:
i) Josua se gebed of woorde vind voor die oë van Israel plaas, v.12. Ja, letterlik staan daar ‘voor hul aangesig’ en dus in hul ‘teenwoordigheid’, so dit was ’n spesfieke gebeurtenis wat daar plaasvind,
ii) Die woorde daar in vers 12-14, deur herhaling beklemtoon dit dat die son en maan stil gestaan het, die woord vir ‘stil’ wys op beweegloos, bly, om te rus.
In vers 13 staan dit dat die son nie gehaas het om onder te gaan nie, wat dus ook kon beteken dat die son net baie stadiger beweeg het
iii) “omtrent ’n volle dag’ is baie duidelik dat tyd ’n belangrike deel is van die wonder, v.13
iv) veral vers 14, dat daar nooit so dag was voor en na daardie dag nie, ja dat die Here vir Josua geluister het spesifiek oor die wonderwerk wat plaasvind, dat die Here sy gebed verhoor dat die natuurwette en kragte na sy stem luister.
As dit bloot gebedsverhoring was wat die ‘wonder’ is, dan weet ons gebedsverhoring het regdeur die geskiedenis ook plaasgevind.
Mmaar hier gaan dit oor ’n spesifieke wonder wat God se groot Naam verheerlik, en dat die Here vir hul stry: die son en maan staan stil.
So geliefdes,
- as die engel vir Maria sê, spesifiek aangaande Jesus se maagdelike geboorte by haar, dat “geen ding is by God onmoontlik nie” (Luk.1:37),
- as Jesus sê dat die redding van ‘n verlore sondaar mens by mense onmoontlik is maar by God moontlik is (Luk.18:24),
- as die Here lewe uit die dood kan skep, Jesus wat opgestaan het uit die dood,
hoekom kan Hy nie ook die ganse kosmos, die ganse sterrestelsel, heelal, son en maan, dag en nag, tyd, wat Hy alles sy Hand vashou ook so stuur sodat sy oorwinningswerk daar kan voortgaan nie ?
En as ek dit nie wil of kan glo nie, dan geld inderdaad die woorde van Hebr.11:3, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag, want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Slegs deur die geloof kan ons die Here raaksien, sy Woord verstaan, en al sy wonderdade:
– die wonder van die skepping, wonders in die verlossing uit Egipte, wonder van hierdie groot dag, wonders van Jesus en alles wat Hy gedoen het, die wonder van die wedergeboorte !
En daarom, as jy dalk ook begin wankel onder die aanslae van die 3 doodsvyande,
wat vandag veral deur die valse kerk en valse wetenskap werk, moet jou oproep wees:
O Here verlos my, en help my om gelowig na U Woord en die natuur, die skepping te kyk.
Ps.119:18 – open my oë dat ek die wonders van u wet, u woord, Christus en Uself sal sien !
Ja, roep na Josua, nee nie die een van Josua 10 nie, maar na Hom na wie hy wys: Jesus Christus.
In Mark.4 het ons van Hom gelees, hoe sy dissipels (soos ons?), so maklik in angs en nood kan val, al is Hy altyd by ons deur sy Gees, weens die natuur elemente, hulle is bevrees en beangs, soos ons ook baiemaal vandag dalk is al het die Here belowe om ons nooit te verlaat nie.
En hul roep uit om hulp !
Dan lees ons: En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot stilte gekom. (v.39) En hulle was verwonderd.
Ja, en toe die volmaakte Josua aan die kruis uitroep: vergewe hulle, dit is volbring, toe het ons Vader hom gehoor, toe is ons redding volbring, en daarom is daar geen vrees nie.
Ons Vader luister na dié Man aan die kruis, terwille van ons !
Ons vyande sal nie stand hou nie, want ons Josua, ons Here Jesus het vir ons opgetrek !
Daarom weet dit, die Here se beloftes in Christus staan tot in ewigheid ook vir ons, sy oorwinning behoort aan ons, deur die geloof, daarom:
Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie. (Jos.10:8),
Hoekom ?
“ want die HERE het vir Israel gestry.” (v.14)
Amen.
Leave a Reply