VERBAND TUSSEN ECCLÊSIA
UNIVERSALIS EN PARTICULARIS
deur prof. WJ Snyman
(Sien die inleiding [nommer 1] en die res van die reeks hier.)
Dit is verskillend ingedink:
1) Die dele gaan op in die geheel. So die Katolisisme. Daar is maar een Kerk, die Katolieke. Die plaaslike gemeentes gaan as parochieë op in die geheel, soos die priester in die biskop, en die biskop in die pous.
2) Die geheel gaan op in die dele. So bv. R. Sohm. Die geheel is in elke deel aanwesig,[1] sy sigbare afbeelding.[2] So kom die plaaslike kerke los te staan van mekaar, elk ‘n geslote afbeelding van die geheel. Alle vergeesteliking van die universele kerk lei onvermydelik op die weg van independentisme.
3) Die dele teenoor die geheel. So Harnack wat die ontstaan van kerkorganisasie sien as ‘n gewone sosiologiese probleem. “Zentral Organisation und Lokal Organisation sind in steten Streit wider ein ander… die Evolution vom Ganzen zum Teil, und eine Summation der Teile zum Ganzen”,[3] soos in elke groot organisasie. Die Roomse Kerk het dan ontstaan deurdat die sentrale (apostoliese) oorgegaan het op die lokale (biskoplike). Dit gaan hier dus ten koste van die dele. Anders by Weizsacker. Hy gaan uit van die Missie (Apostolaat). “Die Gemeinden sind aus der Mission für das Reich Gottes hervorgegangen”.[4] Maar, waar die Apostoliese Woord in die lewe van die Einzelgemeinde ingryp kan hulle maar net raad gee.[5] Die selfstandigheid van die dele gaan hier ten koste van die geheel. Troeltsch neem twee sosiologiese tipes: Freiwilligheits-kirche (Sekte) en Anstaltskirche (Kerk), naasrnekaar aan as die twee pole waarom die kerkorganisasie sig beweeg, en wat op mekaar inwerk.[6]
4) Die samestelling van die geheel uit die dele, soos ons dit vind by die Kollegialisme. “Dieses System erklärt die äussere, sichtbare Kirche als entstanden aus der Vereinigung einzelner Gemeinden, ecclesiae, solcher die im gleichen Glauben und gleicher Religionsübung verbunden sind zu einer universalis ecclesia”.[7]
Wat leer die N.T. hieromtrent?
In die Evangelies is daar twee keer sprake van ekklêsia, een keer Matt. 16:18 en die ander keer in Matt. 18:17. In albei gevalle is dit Jesus wat spreek van die ekklêsia. Die eerste keer gaan dit oor die ecclêsia universalis soos gebou op die Apostolaat. Die tweede keer is dit die plaaslike gemeente. Van belang is: Matt. 18:17 volg op en volg uit Matt. 16:18. Ons kry dus nie ‘n inmekaar of teenmekaar of naasmekaar nie maar ‘n na mekaar. “De ecclêsia universalis gaat aan de ecclêsia particularis en aan de afzonderlijke fideles vooraf”.[8] Hieruit lei ons die volgende af:
a) Die plaaslike kerk (gemeente) is nadere organisasie van die universele. Dit toon ook die verband tussen die twee. Die plaaslike kerk is die algemene, wat hom op elke plek organiseer, en daarom heet dit ook kerk, want dit is altyd die één Kerk van Christus, wat sig hier en daar openbaar.[9] En dit, as gelyksoortige dele van die een ongeskonde geheel, wat is die oor die hele wêreld verdeelde Kerk, of as onderdele van die Een Algemene Kerk.[10] Hierdie nadere organisasie van die Kerk is omdat op die manier die maklikste op mekaar toegesien kan word tot opskerping van die liefde en goeie werke (Hebr. 10:24), om mekaar aan te spoor en te troos (1 Thess. 5:11), en wel daagliks (Hebr. 3:15),[11] en veral ook met die oog op tugoefening.[12] 18:17 (plaaslike kerk) volg ook nie maar vanself op Matt. 16:18 (eccl. univ.) nie, maar as uitgesproke deur Jesus. Plaaslike organisasie is ‘n uitdruklike voorskrif van Jesus vir die gelowiges.[13] Dit is nie ‘n vrye daad nie, maar gehoorsaamheid. “Ze moeten institueeren”.[14]
b) Soos met die gelowiges, so ook met die gemeentes. Soos die gelowiges hulle moet verbind tot ‘n gemeente, so moet die gemeente hulle verenig in kerkverband.[15]
Egter nie om een te word nie, maar omdat hulle een is. Die ecclêsia universalis voorop.[16] Hulle is geestelik een en ook histories een en daarom verplig om gemeenskap te onderhou met die wat dieselfde geloof deelagtig is.[17] Paulus maak daar dan ook ‘n bevel van (1 Kor. 16:1). Dit gaan hier nie om armversorging nie, maar om die hulpbehoewende gemeente van Jerusalem. Die gemeentes uit die heidene is verplig om te sorg.[18]
c) Die Kerk wat hom so verbind is ekumenies.[19] Daarom moet die kerkverband ook ekumenies wees.[20] “Juist daarom echter mag deze eisch niet beperkt tot de kerken van een zelfde land, maar gaat door voor alle kerken op aarde, en het ideaal zou dan eerst bereikt zijn, indien alle kerken op aarde in een Confederatie samenleefden, in een Concilie de kerkelijke macht konden saam brengen: en in eenzelfde Confessie zich konden uitspreken”.[21]
Ekumeniese kerkverband beteken egter iets anders as Internasionale kerkverband, d.w.s. verband tussen “nasionale kerke”. Die nasionale begrip van kerk ontbreek in die N.T. ten enemale, soos reeds aangetoon. Dit beteken ook nie interkerklike verband nie, d.w.s. ‘n verband wat verskillende kerkegroepe omvat nie. Ook hierdie denominasionele kerkbegrip ontbreek in die N.T. Kerkverband beteken altyd verband tussen kerke (gemeentes). Omdat die Kerk wat hom so organiseer in klassikaal en sinodaal verband, ekumenies is, daarom moet die nasionale Sinode gevolg word deur ‘n ekumeniese Sinode.
‘n Substituut hiervoor is gegee in korrespondensie. Dit is bedoel om oor die afstand en grense heen die eenheid van belydenis, broederlike gemeenskap, te bevorder, en oorgang van ‘n lidmaat van die een na die ander kerk moontlik te maak.[22] Dit moet dus nie soseer gesien word as ‘n losser verband, maar as ‘n vergoeding vir die Sinodale verband.[23] Kerke wat in korresponderende verband leef, staan dus in een kerkverband.
Dat nasionalisering van die Kerk nie ‘n denkbeeldige gevaar is, waar ‘n werksame ekumeniese verband nie bestaan nie blyk uit die moontlikheid dat ‘n nasionale Sinode verandering sou kon bring in ‘n gemeenskaplike konfessie, sodat kerke ook konfessioneel uitmekaar sou dryf. Ekumeniese verband is nodig ter wille van die eenheid van die belydenis.
Die vraag moet nog gestel word na die verband met Kerke-groepe. Hier kan uit die aard van die saak nie sprake wees van Sinodale verband nie, omdat dit kerke (gemeentes) is wat nie in een kerkverband staan nie. Hier is die verband losser.98 Waar geen punte van kontak meer bestaan nie bly die Doop as band van die ekumeniese Kerk bestaan.99 Deur gebroke kerkverband word egter die eenheid nie opgehef nie. Kerkverband bring nie eenheid nie, maar rus op eenheid. Kerkverband is ‘n roeping op grond van eenheid. Waar dit nie is nie, mag daar dus nie sonder meer by berus word nie. Waar dit nog onvolkome is, moet dit gebring word tot groter volkomenheid.
_________________________________________________
Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman
Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman
_________________________________________________
[1] “Der Glaube der Christen sieht in jede Christenversammlung im Geiste versammelt die ganze Christenheit… die Gesamtgemeinde”. Rudolph Sohm, a.w., p. 20.
[2] “Es gibt nur eine Ekklesia, die Versammlung der ganzen Christenheit”, maar dit het “unzähliche Erscheinungsformen”, a.w., p. 21.
[3] A. von Harnack: Entstehung und Entwicklung der Kirchenverfassung und des Kirchenrechts in den zwei ersten Jahrhunderten, nebst einer Kritik der Abhandlung R. Sohms. Wesen und Ursprung der Katholizismus, und Untersuchungen über “Evangelium”, Wort Gottes, und das Trinitarische Bekenntnis. Leipzig, 1910, p. 32 v.
[4] Carl Weizsacker: Das Apostolische Zeitalter der Christlichen Kirche. Tüb. und Leipzig, 1902, 3, p. 584.
[5] A.w., p. 590.
[6] Ernst Troeltsch: Die Soziallehren der Christlichen Kirchen und Gruppen, Tübingen, 1923,p. 375.
[7] O. Linton: Das Problem der Urkirche in der neueren Forschung, eine kritische Darstellung, Uppsala, 1932, p. 27.
[8] H. Bavinck, a.w., p. 357.
[9] Vgl. dr. A. Kuyper, a.w., p. 172.
[10] Vgl. Voetius, a.w., p. 134.
[11] Voetius, a.w., p. 91.
[12] Matt. 18:17.
[13] “De noodzakelijkheid van het voorschrift, niet van de kerk als middel. Niet het staan buiten de kerk is het dat veroordeelt, maar het verachten der kerk”. Voetius, a.w., p. 18.
[14] Kuyper, a.w., p. 184.
[15] “Geen enkele kerk, en geen enkel levend lidmaat dankt zijn ontstaan aan eigen wil of aan het werk van menschen”. Bavinck, a.w., p. 409.
[16] “Niet eerst door het leggen van dezen band komen bijeen te hooren, maar omdat ze bijeen hooren moet ook deze band uitwendig aangelegd”. Kuyper, a.w., p. 252 (§ 12).
[17] Bavinck, a.w., p. 408 e.v.
[18] Grosheide, a.w., p. 211.
[19] “Catholica, ter aanduiding van haar tegenstelling met het nationale leven, en dus met het…
begrip volkskerk”. Kuyper, a.w., p. 80 (§4).
[20] “De protestanten deden het Katholieke begrip der kerk te loor gaan en richten volkskerken op”. Kuyper, a.w., p. 93.
[21] Kuyper, a.w., p. 252—253 (§12).
[22] Kuyper, a.w., p. 365.
[23] Vgl. Joh. Jansen: Korte Verklaring van die Kerkenordening, J. H. Kok, Kampen, 1923, p. 214
_________________________________
Leave a Reply