Die Kerk(11) – Die Kerk en die Drie-eenheid

 vermaak_churchDIE KERK EN

DIE DRIE-EENHEID

deur prof. WJ Snyman

(Sien die inleiding [nommer 1] en die res van die reeks hier.)

Paulus noem die Kerk ‘n verborgenheid (Efese 5). Hy wys dan op die huwelik. In Efesiërs 1:21-23 verduidelik hy wat die eenheid tussen Christus en die gelowiges is. In hoofstuk 1:20 wys Paulus op Christus se gaan uit Egipte.

En in hoofstuk 2:6 wys die apostel op ons gaan uit Egipte. Toe ons in Egipte was, toe ons dood was in ons sondes, het Hy ons lewend gemaak saam met Christus en ons saam opgewek. Hierdie heerlike saak moet ons glo. Toe Christus opgestaan het, het sy Kerk opgestaan. Al is ons nog op die aarde, al is ons nog in die sonde en in die dood, tog is ons al deur daardie dinge heen. Ons is al in die hemel, want Christus, ons Hoof, is in die hemel (Ef. 2:6).

Dit is met die Kerk soos met ‘n leër. Wanneer die spits van die leër deur die vyandelike linies deurgebreek het, dan het die leër deurgebreek. Ons sien dieselfde in Kolossense 3:1-3. Want julle het al gesterwe, sê Paulus. In Romeine 6:8 en 9 kry ons ook dieselfde gedagte. Ons het saam met Christus gesterf. En ons doop is die beseëling van ons eenheid met Christus. Dit is die een lyn wat dwarsdeur die Bybel loop.

Maar nou is daar ook nog ‘n ander lyn.

Om die Kerk te sien, moet ons ook op die ander lyn ag gee. Om die ander lyn te sien, moet ons terug na Johannes die Doper. Hy is die doper. Jesus sê van hom: hy is die grootste van diegene wat uit vroue gebore is (Matt. 11:11). Hy is die belangrikste van die ganse geskiedenis. As ons terugkyk, dan sien ons oor al die hoofde van die mense heen die hoof van Johannes die Doper.

Johannes wys in sy prediking op die doop met die Heilige Gees en op die doop met vuur (Matt. 3:11). Johannes kyk dwarsdeur die geskiedenis en dan sê hy dat diegene wat deur hom gedoop is ook met die Gees gedoop sal word, maar dat die ongelowiges met die vuur van die oordeel gedoop sal word (Matt. 3:12). En dan praat hy van ‘n dorsvloer. Op die dorsvloer sal die koringkorrel bly lê, maar die kaf sal wegwaai in die wind. Hulle wat nie geglo het nie sal as kaf verdwyn. Hulle wat nie glo nie, behoort eintlik ook nie tot die volk nie. In die rampsaligheid is daar net ‘n klomp kaf, los van mekaar. Maar in die hemel is daar gemeenskap met mekaar. In die Kerk word dan ook die mensheid gered. Hulle wat nie glo nie, sal as kaf uitmekaar waai.

Daarom sê Jesus ook in Matt. 28:19: maak dissipels van al die nasies. En dit gaan terug op die belofte van God aan Abram in Genesis 12:2. En wat sien ons op Pinkster? Dan kom God om te woon in sy Kerk. Die Kerk is die woonplek van God. In die Heilige Gees het die Vader en die Seun na ons toe gekom. Dit noem ons ook die koms van die Koninkryk. Die Koninkryk van God bly in die Kerk. Pinkster is nog nie die einde nie, maar Pinkster is wel die begin van die einde. En wat is die wonder op Pinkster? Ieder hoor dit in sy eie taal. Elke volk moet dit hoor in sy eie taal.

Daarom gaan ons die Evangelie ook nie in Afrikaans of Engels verkondig nie. Ek verstaan wel Engels, maar Engels kom nie by my hart nie. Jy verstaan die Evangelie die beste as dit tot jou kom in die taal wat jy by jou moeder geleer het. En hierin sien ons ook die wonderlike eenheid van die Kerk. Dit is ‘n eenheid in verskeidenheid, soos die blare van ‘n boom. Aan ‘n boom is nie twee blare eenders nie.

Ten slotte moet ons goed verstaan dat Israel nie as volk vernietig is nie. Alleen hulle wat nie wil luister nie, sal uit die volk uitgeroei word (Hand. 3:23). En dit bring ons by die uitmonding van die rivier soos ons dit vind in Openbaring 7. In die verse 1-7 lees ons van die uitverkorenes uit Israel en in vers 8 word die uitverkorenes uit die volkere genoem.

En so kom ons by die volgende onderwerp: die Kerk en die Drie-eenheid.

Hierdie Kerk wat uit die verskillende volkere versamel word, bring Paulus in sy brief aan die Efesiërs in verbinding met die drie-enige God. Die groot gedagte van die brief aan die Efesiërs is die eenheid van die Kerk. Die Kerk is die volk van God; dit beteken die Kerk is die volk van die drie-enige God. Die Kerk is die ekklêsia, die kahal (O.T.). Dit beteken die volk van God wat geroep is, wat uitverkies is. Hoe kan ons in die Kerk glo sonder om in die uitverkiesing te glo! Die Kerk is geroep deur God en dit roep God nou aan.

Hier in die uitverkiesing sien ons die verbinding met die Vader (Ef. 1:2, 3). Maar ook is die Kerk verbonde met die Seun. Die Kerk is ‘n Christelike Kerk. Sy is die liggaam van Christus (Ef. 5:23). En ook is daar die verbinding met die Heilige Gees. Die Kerk word ook genoem die tempel van God in die Gees (Ef. 2:21 en 22). Die heerlikheid van die Kerk is dat sy vasgebonde is aan die drie-enige God. Dit ook so pragtig tot uitdrukking gebring in die apostoliese geloofsbelydenis.

Ons kan die Drie-eenheid nie verstaan nie. Wel sien ons in die lewe verskillende merke van die Drie-eenheid, soos byvoorbeeld die gesin wat bestaan uit vader, moeder en kind, of ‘n boom wat bestaan uit wortel, stam en takke, of die lig met sy verligtende, genesende en verwarmende werking. Nou is dit die opmerklike dat ons in die heidendom ook nog die swak spore van die Drie-eenheid kan ontdek. Ook in die heidendom kry ons die gedagte van ‘n god. Maar daar is ‘n verwronge godsgeloof. Ook die heidene gaan uit van die gedagte dat daar ‘n godheid was wat alles geskape het. Daar is nog iets van ‘n geloof in god, maar van ‘n god wat baie ver weg is. Dan is daar by die heidene ook geloof in die toordokter. Daar word gedink dat hy oor goddelike kragte beskik. En hy is nie ver weg nie, maar hy woon onder die volk.

En ten slotte sien ons ook by die heidendom die geloof in voorvadergeeste. Die voorvadergees is die saambindende krag van die stam. Hier kry ons die drie-eenheidsgedagte in verwronge vorm. Nou sien ons dat verskillende Christene op die sendingveld soms terugval in die mag van die toordokter en in die voorvaderverering. En daarom moet ons die Kerk verbind aan die drie-enige God.

Toe Christus op aarde was, het die mag van die bose hom saamgetrek in siekte en besetenheid, en toe was daar veel towery. Christus het toe getoon dat hy groter mag besit. Hy het gekom om Satan te bind. En dit moet ook onder die volkere gebeur waar nou die Evangelie verkondig word. Ons moet die duiwel bind en ons moet die mag van die toordokter bind. Hierdie mag van Christus is saamgetrek en sy oorwinning van die dood. Ons kan dit lees in Ef. 1:19 en 21. En daarom moet ons Christus gaan verkondig as die groot krag van God.

Dieselfde sien ons ook in Kol. 2:9-23 en in besonder die verse 13-15. So moet ons Christus gaan verkondig. Baie val terug in die heidendom omdat ons Christus nie genoeg op hierdie manier verkondig nie. En teenoor die voorvadergees moet ons die Heilige Gees stel. Ons moet die mense leer dat ons ‘n veel beter Gees besit as die heidene. Wanneer ons op hierdie manier die goddelike uitverkiesing, die oorwinnende krag van Christus en die aanwesigheid van die Gees in die Kerk verkondig, dan bind ons die Kerk aan die Drie-eenheid.

_________________________________________________

Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman

Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman

_________________________________________________

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: