Die prediking van Paulus (Romeine 8:12-14): genade én waarskuwing

DIE PREDIKING VAN PAULUS* 

DIE GENADE EN WAARSKUWENDE KARAKTER

                                              deur dr. Willie Jonker

 12 Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie;  13 want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.  14 Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. (Rom. 8:12-14, A53)

Tans volg die gevolgtrekking uit die voorafgaande (Rom.8:1-11 – slc). Indien dit alles waar is, is dit die sterkste drangrede vir die gelowiges om verder nie meer na die vlees te lewe nie (6 : 12 e.v.).

Daarom dan: die oproep word gefundeer op die verkondiging van die genade wat in Christus deur die Heilige Gees aan die gelowiges geskenk is. Hulle is — vanweë dié genade — skuldenaars wat ‘n groot skuld van dankbaarheid het om te betaal.

Sonder om te verklaar teenoor wie die gelowiges wél skuldenaars is (die bedoeling is duidelik: hulle is dit teenoor God), stel Paulus dit dat hulle in elk geval nie skuldenaars teenoor die vlees is om na die vlees te lewe nie. Hulle is immers bevry van die mag van die vlees.

Tog bly dit noodsaaklik om hulle aan dié vryheid te herinner en hulle op te roep tot ‘n wandel na die Gees.

Ons het hier weer eens die eienaardige verskynsel in die prediking van Paulus, dat hy aan die een kant die genade-karakter van die verlossing so sterk as moontlik kan beklemtoon, maar daarnaas die verantwoordelikheid van die verloste mens om in die verlossing te sterk kan handhaaf.

Geen mens moet dink dat hy kan roem op die verlossing uit genade en dan tog maar na die vlees kan bly voortlewe nie!

Wie na die vlees lewe, ongebroke, sal onherroeplik verlore gaan (vgl. 6 : 16 e.v. en Gal. 6 : 7).

Wie so lewe, bewys daarmee dat hy nog nooit verlos is nie.

Die werke van die liggaam is die sondedade wat voortvloei uit die sondìge begeertes van die mens wat in sy konkrete aardse lewe so sterk deur die sonde beheers word. Dit gaan daarby nie net om die sondes wat saamhang met die „laer drifte” van die mens nie, maar sluit ook die fynste geestelike sondes in. Al hierdie werke moet gedood word, d.i., sonder verskoning voortdurend uitgeroei word.

Dit kan geen mens in eie krag doen nie.

Daarom sê Paulus dat dit moet geskied deur die Gees, d.i., deur onderwerping aan die leiding en krag van die Heilige Gees.

Paulus bedoel nie dat die mens die lewe eers verdien deurdat hy die werke van die liggaam doodmaak nie. Die feit dat hulle die werke van die liggaam doodmaak, is egter die bewys daarvan dat hulle die lewe reeds deur die geloof deelagtig is, sodat hulle by die oordeel volgens die werke openbaar sal word as mense wat uit genade verlos is (vgl. 2 : 6 e.v.).

Wanneer die reg van die wet in die mens vervul word deur die krag van die Heilige Gees, is dit ‘n bewys daarvan dat hy onder die genade lewe en nie meer onder die wet nie.

Vir die eerste keer in die brief word die nuwe verhouding van die gelowiges tot God hier aangedui met die begrip: kinders van God.

Daardeur word dit getipeer as ‘n gans ander verhouding as dié wat deur die wet gestempel word. Kindskap kan nooit deur wetsonderhouding verdien word nie, maar is ‘n genadegawe en stel die mens tot God èn tot die wet in ‘n nuwe verhouding (vgl. by 8 : 4).

Die leiding deur die Gees van God is geen voorwaarde vir kindskap nie, maar is die vernaamste kenmerk van die kind van God (vgl. by 8 : 9).

Dié leiding beteken niks minder nie as dat die Heilige Gees die bestuur van die mens se lewe oorneem en hom laat dien in die nuwigheid van die Gees (7 : 6), omdat hy vrygemaak is van die mag van die sonde (8 : 2). Dit is die beste om nie te vertaal gelei word nie, maar hulle laat lei.

___________________________

Bron: dr. W.D. Jonker, Die Brief aan die Romeine (Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers), 1969: bl.116,117.

*Nota: opskrif en beklemtonings bygevoeg. Let wel: hierdie is geneem uit die 1969 uitgawe, nie die hersien 1998 uitgawe nie, wat heelwat verskil met die 1969 uitgawe.

One thought on “Die prediking van Paulus (Romeine 8:12-14): genade én waarskuwing

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: