TWEE VERTALINGS EN TWEE VERKLARINGS VAN ROMEINE 1:16,17
“Wanneer die mens glo, doen hy niks; hy ontvang slegs wat God hom uit genade skenk. … Die mens kan alleen dan gered word as God hom in genade en sonder enige verdienste van sy kant regverdig verklaar. Dan reken God hom ‘n geregtigheid toe wat hy nie in homself besit nie, maar wat God skenk.” – prof. Willie Jonker
16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. 17 Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe. – OAV (1933/53-vertaling)
16 Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. 17 In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” – NAV (1983-vertaling)
16 Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. 17 Want daarin word geopenbaar dat God se geregtigheid geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Wie op grond van geloof geregverdig word, sal leef” – DV (Direkte Vertaling)
Ek plaas hier onder, twee verklarings van prof. Willie Jonker op Romeine 1:16,17. Dit lyk vir my die eerste verklaring (1969) was nog gebaseer op die OAV, en die tweede verklaring (1998) op die NAV.
Die ooreenkomste en verskille is baie duidelik te sien: in die 1969 verklaring word die klem baie sterk geplaas op die inhoud of objek van die geloof, wat ons ‘deur’ die geloof as instrument of weg ontvang, en lê prof. Willie baie sterk klem daarop dat die geloof nie ‘n ‘voorwaarde’ is nie, maar ‘geskenk van God’. Dit gaan dus oor wat God doen in “die geregtigheid van God”, dit wat Luther en die ander Reformatore weer herontdek het in die Heilige Skrif – die Evangelie – wat ware vryheid, verlossing en vreugde gebring het (sien Luther se 62ste stelling hier).
By sy 1998 verklaring van die teks, kan mens duidelik die klemverskuiwing sien wat plaagesvind met die NAV se ‘omdat hulle glo’, en moet hy dit so (probeer) verklaar. Aan die einde van sy verklaring kom dit duidelik na vore dat hy die probleem raaksien, as hy dan juis waarsku teen ‘n verkeerde verstaan van geloof, veral soos dit na vore kom in die NAV:
“Die wyse waarop hierdie vers in die NAV vertaal word, laat hierdie karakter van die geloof nie genoegsaam na vore kom nie. Die formulering dat God mense van hulle sonde vryspreek “enkel en alleen omdat hulle glo” asook die woorde “elkeen wat vrygespreek is omdat hy glo” kan die indruk wek dat die geloof die grond vir God se vryspraak is, terwyl Paulus bedoel dat die versoening in Christus en nie die geloof nie, die grond van die vryspraak is. Die geloof is die weg waarlangs die vryspraak ontvang word. Dit sou beter gewees het as die vertaling hier ook soos elders die woord deurdat gebruik het: enkel en alleen deurdat hy glo (vgl. 4:9, 11, 22–23 en 5:1).” (kursief bygevoeg)
Die beoogde Direkte Vertaling se ‘op grond van geloof’ is myns insiens ook nie behulpsaam nie, want:
- dit skep soos met die NAV verwarring,
- verskuif die fokus en klem van God se geregtigheid as juridiese daad, handeling en uitspraak in Christus vir die wat glo, dus ons regverdig ‘verklaar en reken’ (deur Christus se geregtigheid vir ons toe te reken, Rom. 3:21-28; 4:1-8), na die mens se handeling – in die woorde van prof. Willie – “maar dan moet ’n mens dit glo”,
- in plaas van die klem en fokus wat gaan oor – weer in prof Willie se woorde – “maar God wat skenk”, waar die geloof dan die noodsaaklike middel, instrument, weg is waarlangs elkeen van sy kinders die Skat, nl. die regverdiging, die reddding, ontvang, soos ons dit dan ook bely volgens die Skrif daar in NGB art. 22 en HK Sondag 23 v/a 60 en 61:
Sondag: 23 – VRAAG EN ANTWOORD: 60
Vraag: Hoe is jy regverdig voor God?
Antwoord: Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus1, so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie2 en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is3, God nogtans aan my sonder enige verdienste van my kant4, uit louter genade5 die volkome genoegdoening6, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk7. Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het8. Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem9.
Skriffundering: 1 Romeine 3:21-22; Romeine 3:24; Romeine 5:1-2; Galasiërs 2:16; Efesiërs 2:8-9; Filippense 3:9; 2 Romeine 3:9; 3 Romeine 7:23; 4) Deuteronomium 9:6; Esegiël 36:22; Romeine 4:4; 2 Korintiërs 5:19; Titus 3:5; 5) Romeine 3:24; Efesiërs 2:8; 6) 1 Johannes 2:2 7) 1 Korintiërs 4:7; 2 Korintiërs 5:19; Romeine 4:4; Romeine 5:17; Romeine 8:15; Romeine 8:32; 1 Johannes 2:1; 2 Petrus 1:3-4; 8) 2 Korintiërs 5:21; 9) Johannes 3:18; Romeine 3:22
Sondag: 23 – VRAAG EN ANTWOORD: 61
Vraag: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?
Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is1. En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie2.
Skriffundering: 1) 1 Korintiërs 1:30; 1 Korintiërs 2:2; 2) 1 Johannes 5:10
Sien hierdie artikel wat in meer detail hierdie vertaling (en verklarings) probleme van Rom. 1:16,17 aanspreek:
Wat ook weggelaat is uit die 1998 uitgawe, is hierdie baie belangrike woorde van die 1969 uitgawe, wat Skrifbeskouing en Skrifgesag raak, asook die siening en verhouding van OT en NT. Ek weet nie of dit dalk ook iets openbaar van die Skrif beskouing verskuiwing wat gepaardgegaan het met verandering van die OAV na die NAV nie (kursief en beklemtonings bygevoeg):
“Paulus voer as Skrifbewys hiervoor Hab. 2: 4 aan. Reeds in v. 2 het hy gesê dat die evangelie in die Heilige Skrifte belowe is. Daarom doen hy moeite om sy verkondiging te staaf met bewysplekke uit die Ou Testament, altyd met die inleiding: soos geskrywe is. Die Ou Testament is die geskrewe Woord van God en wat daarin geleer word, is vir geen teenspraak vatbaar nie. Volgens Paulus leer die Ou Testament reeds die geregtigheid deur die geloof.”
Meer inligting, agtergrond en van die werke van prof. Willie Jonker is hier beskikbaar:
Sy kommentaar op die boek Romeine (gelukkig die 1969 uitgawe), is spesifiek hier beskikbaar: Die Brief aan die Romeine
Sien ook hierdie aanhaling uit sy Romeine kommentaar:
_____________________________
Hier volg dan prof. Willie Jonker se twee verklarings:
1. Die 1969- uitgawe (harde kopie gebaseer op die 1933/53 OAV vertaling): Die Brief aan die Romeine, prof. WD Jonker (NG Kerk – Uitgewers, 1969)
vers 16) Die feit dat Paulus tot nog toe nie na Rome gegaan het nie, is nie te wyte aan die feit dat hy die uitdaging wat die hoofstad van die ryk sou bied, nie wou aanvaar nie, omdat hy skaam sou wees vir die evangelie voor sulke wyse mense nie (vgl. 1 Kor. 1 : 18 e.v.).
Immers, die evangelie wat hy verkondig, is ‘n krag tot redding. Die evangelie is in homself ‘n krag. Oral waar die evangelie verkondig word, is Gods krag teenwoordig am mense te red. God laat nooit Sy Woord uit Sy hand los nie. Hy spreek self in en deur die verkondiging van die evangelie en lê verlossend beslag op diegene wat die Woord hoor. Die evangelie is egter nie vir alle mense so ‘n krag tot redding me; slegs vir elkeen wat glo. Elkeen: dit geld van alle mense, van watter groep hulle ook mag wees, wyses of barbare.
As Paulus van geloof praat, bedoel hy daarmee die vertroue op Gods genade alleen, die vertroue waardeur die mens homself volledig verlaat op Gods Woord, Gods beloftes, Gods genade (vgl. die gebruik van geloof in Gal. 3 en 4).
Geloof word deur Paulus nêrens verstaan as ‘n prestasie van die mens nie. Hy
stel dit deurgaans juis teenoor die werke. Geloof is dus nie ‘n voorwaarde vir die verlossing in die sin dat die mens die geloof as sy deel moet bydra om gered te kan word nie. Ook die geloof is ‘n gawe van God (v. 8; Ef. 2: 8). Dit is die vrug van Gods verkiesing (v. 6) en liefde (v. 7) wat die mens roep deur die evangelie (v. 1 : 6-7) en in die roeping terselfdertyd met krag in die mens ‘n oor skep om te hoor en ‘n hart wat op Gods genade vertrou.
Geloof is die weg wat God vir Homself deur Sy Woord baan in die hart van die mens in. Dit is die enigste manier waarop ‘n mens die gawe van Gods genade deelagtig kan word. Wanneer die mens glo, doen hy niks; hy ontvang slegs wat God horn uit genade skenk.
Eerste vir die Jood en ook vir die Griek is ‘n uitbreiding op elkeen. Almal wat glo, word gered, sonder aansien van die persoon of die groep waaruit hy afkomstig is. Dat dit eerste vir die Jood geld, hang enersyds daarmee saam dat dit histories so Gods weg was.
As Gods volk in die Ou Verbond het Israel eerste die beloftes ontvang, Christus het eerste die evangelie aan Israel verkondig en ook Paulus het in sy prediking eers na die Jode gegaan (vgl. Hand. 13 : 46). Andersyds wys hierdie uitdrukking egter ook daarop dat Israel nie anders as die Grieke gered word nie. Ook die Jood word net deur die geloof gered. Onder Grieke word hier weer eens aIle mense verstaan wat nie Jode is nie. Die redding wat die evangelie bring, is dus nie slegs vir ‘n bepaalde volk nie, maar geld alle mense, almal wat glo.
(vers 17) Waarom is die evangelie ‘n krag tot redding? Omdat die geregttigheid van God daarin geopenbaar word. Onder geregtigheid van God moet ongetwyfeld verstaan word: die geregtigheid wat voor God kan bestaan, of: die geregtigheid wat God skenk. Om gered te word, moet die mens in Gods gerig vrygespreek word. Dit het die Jode goed geweet. Hulle het egter gemeen dat ‘n mens deur die onderhouding van die wet sodanig regverdig kan wees dat God hom in die gerig vry sal spreek. Sy geregtigheid sou dan ‘n geregtigheid van eie verdienste wees.
Volgens Paulus se prediking is so iets egter heeltemal onmoontlik. Die sondaar kan homself nooit deur sy eie goeie werke verlos nie (vgl. Gal. 3). Die mens kan alleen dan gered word as God hom in genade en sonder enige verdienste van sy kant regverdig verklaar. Dan reken God hom ‘n geregtigheid toe wat hy nie in homself besit nie, maar wat God skenk.
Die geregtigheid word nou in die evangelie geopenbaar. Dit was vroeër nie op dieselfde wyse bekend nie. Buite die evangelie om kan niemand dit ooit weet nie. Die evangelie maak dit egter openbaar dat God mense regverdig op grond van die feit dat Christus die sonde van die wêreld versoen het. Dit word geopenbaar as ‘n geregtigheid uit geloof tot geloof. Hierdie uitdrukking moet as ‘n geheel geneem word. Dit is ‘n manier van spreek wat ook elders by Paulus voorkom (vgl. 2 Kor. 2: 16).
Dit laat die klem daarop val dat dit om geloof gaan en om niks anders nie. Ons sou sê: dit gaan van voor tot agter om geloof, dit gaan uitsluitend om geloof.
Hierdie geregtigheid wat God openbaar, kan op geen ander manier die mens se deel word nie, as net deur die geloof. Die mens moet afsien van sy eie werke en verdienste en geheel en al net op Gods genadewoord vertrou.
Paulus voer as Skrifbewys hiervoor Hab. 2: 4 aan. Reeds in v. 2 het hy gesê dat die evangelie in die Heilige Skrifte belowe is. Daarom doen hy moeite om sy verkondiging te staaf met bewysplekke uit die Ou Testament, altyd met die inleiding: soos geskrywe is. Die Ou Testament is die geskrewe Woord van God en wat daarin geleer word, is vir geen teenspraak vatbaar nie.
Volgens Paulus leer die Ou Testament reeds die geregtigheid deur die geloof. Die Jode het hierdie woord van Habakuk verstaan as: die regverdige sal deur sy getrouheid lewe, omdat die woord vir geloof en getrouheid in Hebreeus dieselfde is. Daarom was hierdie teks vir hulle die samevatting van hul hele wettiese kyk op die godsdiens. Die regverdige waarvan hier sprake is, was vir die Jode die vrome mens wat deur sy wetsvolbrenging aan God getrou bly.
Vir Paulus gaan dit egter by hierdie woorde nie meer om die mens se getrouheid nie, maar om sy vertroue op God, sy rus in wat God doen. Dit is moontlik om ‘n aksentsverskil aan te toon tussen die betekenis van hierdie woorde by Habakuk en by Paulus. By Habakuk gaan dit meer om die regverdige wat met God wandel in vertroue op God; by Paulus gaan dit veel meer om die goddelose wat sonder verdienste deur God vrygespreek is en wat in Gods vryspraak rus. Tog kan Paulus hom net soos in Gal. 3: 11. met reg op hierdie woord van Habakuk beroep, omdat dit ook by Habakuk gaan om die vertroue op God aIleen. Ook by Habakuk gaan dit om Gods genade.
Paulus verdiep die uitspraak van Habakuk in die lig van die evangelie. Net so verstaan hy ook die woord lewe dieper en omvattender as wat dit by Habakuk gebruik word, naamIik as ewige lewe.
Verse 16-17 gee ‘n kort samevatting van die evangelie wat Paulus aan alle mense skuld, óók aan Rome. Dit is die evangelie van genade wat hy moet uitdra, omdat hy self die genade ontvang het en daardeur in beslag geneem is.
————————————————
2. Die 1998-uitgawe (gebaseer op die 1983 NAV) Die Brief aan die Romeine, prof. WD Jonker (NG Kerk – Uitgewers, 1998)
(vers 16) Dat Paulus nog nie in Rome was nie, is nie daaraan te wyte dat hy hom oor die evangelie skaam voor die mense van die groot en beroemde stad nie. Immers, die evangelie wat hy verkondig, is juis ’n krag tot redding.
Oral waar dit verkondig word, is Gods krag teenwoordig om mense te red. Die prediking van die evangelie is ’n dinamiese gebeurtenis waardeur mense bevry word van die skuld en die mag, die oordeel oor en die vloek van die sonde. Dit is die evangelie vir alle mense sonder onderskeid, of hulle Jode of Grieke is. As Paulus sê dat dit in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood geld, dink hy aan die weg wat God in die geskiedenis met die mense gegaan het: Hy het die Jode uitgekies as die volk van die verbond wat eerste in die heil gedeel het en uit wie die Christus gebore is.
Die heil in Christus is eerste aan die Jode geopenbaar en ook Paulus het in sy prediking eerste na die Jode gegaan (vgl. Hd 13:46). Maar dit was nooit die bedoeling om die res van die wêreld (die nie-Jode of Grieke) verby te gaan nie. Die redding is wel uit die Jode (Jh 4:22), maar dit is daar vir alle mense.
Paulus sal in hfst. 9–11 uitvoerig hierop ingaan. Die evangelie is werklik daar vir elkeen. Die elkeen word egter gekwalifiseer deur die woorde: wat glo. Met die woord glo val daar weer ’n begrip van beslissende betekenis in Paulus se verkondiging (naas die begrip genade, vgl. vs 5). Die evangelie blyk immers nie vir alle mense daadwerklik ’n krag tot redding te wees nie, maar slegs vir dié wat glo. Die universaliteit van die verlossing wat in die begrippe Jood en nie-Jood uitgedruk word, word nader begrens deur die woorde: elkeen wat glo. Die verlossing kan alleen deur die geloof ontvang word. Die feit dat Paulus die geloof hier ter sprake bring, bring vanself ’n wending in sy betoog mee. Dit is asof sy hele brief op hierdie punt op ’n skarnier draai. Dit open die weg vir die uiteensetting van die weg van verlossing in die volgende hoofstukke as ’n verlossing uit genade en deur die geloof alleen, sonder die werke van die wet. Daarom word vs 16–17 ook dikwels as die tema van die hele brief beskou.
(vers 17) Reeds in hierdie vers verduidelik Paulus nader waarom die evangelie ’n krag van God tot redding is. Dit is die geval omdat die evangelie openbaar dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.
Om gered te word, moet ’n mens in die gerig van God vrygespreek word. Dit het die Jode goed geweet. Hulle het egter gemeen dat ’n mens deur die wet en al die voorskrifte daarvan te onderhou, ’n graad van geregtigheid kan bereik wat jou voor die gerig van God as regverdig kan laat kwalifiseer, sodat jy dan op grond daarvan vrygespreek kan word. Dit sou dan ’n vryspraak op grond van jou eie verdienste of van jou eie inherente kwaliteite wees. Paulus sê egter dat dit totaal onmoontlik is. In die volgende hoofstukke verduidelik hy dit in besonderhede (vgl. veral hfst. 3–4).
Die evangelie wat hy preek, is juis dat dit in Christus geopenbaar is dat ’n mens sonder verdienste gered word, enkel en alleen omdat God jou in sy gerig ter wille van die verdienste van Christus vryspreek en regverdig verklaar. Maar dan moet ’n mens dit glo. Geloof is die enigste wyse waarop ’n mens deel kan ontvang aan die vryspraak in Gods gerig, omdat jy daardeur jou plek in Christus inneem en deur sy geregtigheid en heiligheid toegedek word. Dit gaan in die vryspraak op grond van die versoeningswerk van Christus dus nie om die verdienste van die mens nie, maar enkel en alleen, of anders uitgedruk: van voor tot agter, uitsluitend om die geloof.
Daarvoor beroep Paulus homself op Hab 2:4. Vir die leser van die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel sal dit baie moeilik wees om hierdie verwysing van Paulus te verstaan, omdat ’n vergelyking van hierdie vers in sy huidige vertaling met Hab 2:4 in die NAV so ver verskil. Die verskil hang daarmee saam dat dieselfde woord in Hebreeus vir geloof en getrouheid gebruik word. Die Joodse lesers van Hab 2:4 het dit so verstaan dat ’n mens wat deur sy onderhouding van die wet getrou bly, sal lewe. Blykbaar sluit die NAV se weergawe van Hab 2:4 daarby aan. Maar Paulus verstaan Hab 2:4 anders. Hy lees daarin dat die mens wat op God vertrou, sal lewe. Dit bevestig vir hom die waarheid dat ’n mens slegs langs die weg van vertroue op God, dit is: die weg van die geloof, die ware lewe deelagtig kan word.
Geloof is vir Paulus die vertroue op Gods genade alleen, die vertroue waardeur die mens hom- of haarself volledig verlaat op Gods evangelie dat Christus vir al ons sondes betaal het. Geloof is nie ’n prestasie van die mens nie. Dis vertroue op Christus alleen. Die wyse waarop hierdie vers in die NAV vertaal word, laat hierdie karakter van die geloof nie genoegsaam na vore kom nie. Die formulering dat God mense van hulle sonde vryspreek “enkel en alleen omdat hulle glo” asook die woorde “elkeen wat vrygespreek is omdat hy glo” kan die indruk wek dat die geloof die grond vir God se vryspraak is, terwyl Paulus bedoel dat die versoening in Christus en nie die geloof nie, die grond van die vryspraak is. Die geloof is die weg waarlangs die vryspraak ontvang word. Dit sou beter gewees het as die vertaling hier ook soos elders die woord deurdat gebruik het: enkel en alleen deurdat hy glo (vgl. 4:9, 11, 22–23 en 5:1).[1]
[1] Jonker, W. D. (1998). Die brief aan die Romeine (Ro 1:17). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.
Slabbert, jy sal sekerlik onthou dat ek so tyd gelede daarop gewys het dat die eerste reel van die tweede vers van Skrifberyming 14.4 (dis ‘n nuwe beryming) presies oor hierdie saak gaan. Ek het aan ons predikant daaroor geskryf. Hier is my epos:
“Dit was gisteroggend die tweede keer waarvan ek bewus is dat Skrifberyming 14.4 tydens die erediens gesing is. Die vorige keer was iewers teen die einde van Julie. By daardie geleentheid het die woorde van die eerste reel van die tweede vers se woorde: “Omdat ek glo is ek vergeef”, my baie gehinder. Ek het dit maar eers daar gelaat maar toe dit gister weer gesing is, het ek besluit dat ek my kommer daaroor teenoor julle moet uitspreek.
Die implikasie van hierdie woorde, en dus die boodskap wat dit oordra, is baie duidelik dat die vergewing van sondes die gevolg is van die daad van geloof. “Omdat ek glo” is die oorsaak en ” is ek vergeef” is die gevolg. Dit is werklik baie moeilik om daardie eerste reel enigsins anders te interpreteer as dat dit van geloof ‘n verdienstelike werk maak en dan is ons by niks anders as wat Rome leer nie.
Die gereformeerde leer is tog anders. Om die waarheid te s^e, die eerste reel van die tweede vers is lynreg in stryd met Artikel 22 van die NGB. Eerder as om hier ‘n lang betoog op my eie te skryf heg ek vir julle uittreksels uit die boeke van Polman en Feenstra (beide oor die NGB) aan. Sien Polman s’n in besonder.”
Die reaksie:
“Dankie vir jou skerp waarneming. Ek gee toe dat wanneer jy die woorde net so uithaal dit sekerlik moontlik om te verstaan dat die mens die inisiatief neem. Ek herinner my dat daar op die sinode ook die vrae gevra is oor die Skrifberyming maar dat die argument dat die res van die vers en die res van die beryming dit duidelik maak dat dit nie die bedoeling is dat die mens inisiatief neem nie. Ek dink inderdaad die OMDAT is effe verwarrend – ek vind dieselfde met die 1983 vertaling van die teksgedeelte en veral ook die vertaling in Hebreërs 11 waaroor ek so paar keer gepreek het. Ek sou dit eerder met DEUR die geloof of VANUIT die geloof wou vertaal as met OMDAT ek glo. Ek dink egter dat die woorde in die res van die strofe dit duidelik maak.”
Hier is my voorstel vir ‘n beter beryming:
“Om Christus wil is ek vergeef
en vrygespreek om te kan leef.
Niks kon ek doen – maar deur die Gees
laat God my een met Christus wees.
As ek die wysie reg onthou sal dit by die ritme inpas.”
Groete!
Dankie Johan, ja die NAV en die Skrifberyming daar is ‘n groot probleem, en soos ek genoem het in die artikel, die beoogde Direkte Vertaling waaraan hul werk se ‘op grond van’ is ook myns insiens ‘n goeie keuse nie.