GK Carletonville gemeentekamp, 9-11 Febr. 2018

(Tema: PJW Schutte, medestigter van die GKSA, 1859)
Inleiding
Ons het tydens 9-11 Februarie, ons gemeentekamp gehou, met bogenoemde titel as tema. Dit was ‘n baie lekker geleentheid om saam te kuier, te leer en te speel, tot eer van die Here. Ons dank Hom vir sy voorsienigheid en sorg deur die geskiedenis, ook in ons kerke, en mense wat Hy gegee het om ons te wys op die waarheid, en die goeie stryd van die geloof te stry.
Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. (Heb. 13:7 A53)
Ek plaas hier onder, die toespraak wat Andries Buys (lidmaat van GK Innesdal) vir ons gelewer het, my preek van die Sondag vanuit ons kerkgebou oor die Reformasie van 1859 en hoe dit grondliggend in verband staan met die kerkstryd tans oor VIDA, asook ‘n paar foto’s van die gemeentekamp.
Mag dit alles dien dat ons en ons kinders opnuut ‘n waardering mag hê vir ons gereformeerde dopper erfdeel in ons land, dat ons sal aanhou reformeer in ons land deur sy Gees en Woord, in Christus alleen.
Toespraak: PJW Schutte, medestigter van die GKSA, 1859
deur M Andries Buys*
O My God, ontferm U oor my
In my diepe ongeluk;
Eensaam is ek – o verhoor my! –
Gans ellendig en in druk.
Om my heen, aan alle kant,
Is die skrik van duisend dode;
Laat dan, HEER, u regterhand
My verlos uit alle node.
… en met hierdie woorde uit Psalm 25:8, is Philippus Jacobus Wilhelmus Schutte op 9 November 1873 op sy sterfbed op sy plaas Buffelsdoorns deur sy omstanders singende gegroet.
Voor die aanhoor van sy laaste Psalm op aarde, bid hy van harte, in gees en waarheid, vir hulle wat agterbly ‘n laaste roerende en kragtige gebed tot God die Almagtige Vader – ‘n gebed wat ter wille van Christus, ons Voorspraak, en deur die Heilige Gees se onuitspreeklike sugtinge, in daardie sterwensuur voor God se troon van genade gebring is:
Mag julle en jul nageslagte voortbou op die fondament waarop die Gereformeerde Kerk gebou is.

PJW Schutte dank God vir Sy genade wat Hy in die tye van nood en stryd geskenk het …
Hy dank God vir bouwerk wat gedoen is en hy bid vir seëninge op die bouwerk wat nog in die toekoms gedoen moet word. Bouwerk in God se koninkryk sal daar altyd wees, maar waak hoe julle bou.
Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. (Efes 2:20)
Jesus Christus, die Hoof van Sy kerk, vergader, beskerm en onderhou Sy kerk deur Woord en Gees. Sonder Christus is die liggaam, die kerk, dood.
PJW Schutte het in sy laaste oordenking op aarde goed geweet wat Christus vir Sy liggaam, Sy kerk, hier op aarde bedoel het. Sy ywer en bedoelinge was Christus alleen – want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. (1 Kor 2:2)
En deur die geskiedenis heen, lank gelede, was daar nes PJW Schutte, groot manne wat Christus in Sy kerk as diensknegte gebruik het. ….
Lees die volledige toespraak hier: PJW Schutte as medestigter van die GKSA, 1859.
____________________

Meer inligting oor: Mechiel Andries Buys
* Gebore: 15 Januarie 1968 in Bloemfontein (toe my pa predikant was op Petrusburg)
* Laerskool voltooi (1980): Mariental (SWA)
* Gematrikuleer (1985): Barkly-Oos, NO Kaap)
* Universiteit – PU vir CHO
– Grade: BA (1988), BA Honn (1990), MA (Geografie en Omgewingstudies) (1998)
– Diploma: HOD (Geografie en Geskiedenis as hoofvakke) (1989)
* Hoërskool Gerrit Maritz (1993 – 2005)
* Konstruksie: projekbestuurder en later ontwikkelaar (2005 – 2012)
* Deeltydse Geografie dosent by AROS (2009-2012)
* Onderwysbestuurder by Indicato Raslouw Privaatskool (2012 – 2017)

* Geografie dosent by Afrikaanse Protestante Akademie (Deeltyds: 2016-2017)
* Akademiese kwaliteitskontroleur en dosent in Geografie en NGOS – APA (2018)
Getroud: 2 Jan 1998 met Magrietha Gertruida Johanna Pool.
Drie kinders:
– Johannes Christiaan (18/9/2002)
– Andri-Marie (8/2/2005)
– Elrike (21/1/2008)
Dopper van my geboorte tot nou …
PJW Schutte (stigter): my oupa Andries se Groot-oupagrootjie
Andries kan gekontak word by: andriesbuys68@gmail.com
Preek: GK Carletonville, 11 Februarie 2018

Lees: Luk. 1:26-38; 1 Tim. 1:15; 2:9 – 3:2
HK Sondag 14: … gebore uit die maagd Maria …
Fokusvers: “En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. (Luk. 1:38, A53)
Tema: Lewe ons, reformeer ons, as gesinne en kerke, volgens die Woord deur die Gees alleen, of deformeer ons volgens die tydsgees?
Sing: Psalm 8:1,2,7; 86:1,3,6; 105:3,4,5; 128:1,4.
Prediker: ds. Slabbert Le Cornu
Preekopname:
(let wel: die preekopname en die teks hier onder verskil op verskeie plekke, daar is in beide inligting wat nie in die ander een voorkom nie.)
______________________
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
(hier volg nou ‘n paar uittreksels uit die preek, volledige preek by die skakel hier onder:)
Ons tema is eenvoudig, maar tog so belangrik:
Lewe en reformeer ons volgens die Woord, deur die Gees, alleen,
of lewe en reformeer ons volgens die tydsgees,
om die Woord daarby aan te pas ?
Anders gestel: reformeer ons as kerke volgens die Woord deur die Gees alleen, of pas ons as kerke aan by die tydsgees, wat die mens se sondige hart wil ?
Dit was tydens hierdie datums wat ons nou beleef,
ongeveer tussen 10-12 Februarie 1859, dus 159 jaar gelede,
wat ons kerke, die GKSA, gestig of herstig is in Rustenburg.
Na baie jare, dekades se invloed van die liberale tydsgees in die eerste helfte van die 19de eeu,
onder die invloed van die humanistiese tydsgees van die Franse Rewolusie ook op die kerk,
het dit uiteindelik op ’n punt gekom waar 15 gelowige godsvresende manne (onder wie PJW Schutte, wat van die plaas Buffelsdoorns is – van wie ons die naweek geleer het, asook die later pres. Paul Kruger),
deur die geloof verklaar het:
Ons as gereformeerdes wil volgens die Skrif alleen, soos bely in die gereformeerde belydenisskrifte, ’n kerk wees een in leer, diens en tug, soos dit gereël word deur die Dordtse KO 1618.
Die hele stryd teen humanisme (die mens is die middelpunt van alles, selfs in die kerk) en liberalisme (die mens is vry van God en sy wet wil wees, selfs in die kerk), het sy klimaks of openbaring bereik in die stryd oor wat gesing moet word in die kerke tot God se eer.
Ja, die stryd vir die ware leer en kerkregering het die duidelikste na vore gekom in die stryd tussen Psalms en die sogenaamde ‘evangeliese gesange’.
Maar, onderliggend aan wat gesing moes word, was die baie belangrike vrae:
– wat leer die Skrif oor aanbidding,
– die inhoud van die lied: moet dit Godsgesentreerd, of mensgesentreerd wees, staan die Here of die mens sentraal in die redding,
– is die Psalms genoegsaam vir die erediens, of moet die mens byvoeg by die erediens se loflied,
Dus, vir ons vaders was die afstigting, die rede vir ons kerke, geen middelmatige of randsaak nie, dit het die aanbidding van God geraak,
geen geringe saak nie, dit is waarvoor ons geskep is, dit is waarvoor ons gered word: om God te aanbid ! ……
Maar, geliefdes, nou vra u seker,
dankie vir die kerkgeskiedenis les,
maar, wat het dit te doen met HK Sondag 14,
en vir ons kerkwees en kerkstryd vandag, 159 jaar later ?
Vir hier, nou in die jaar 2018, vir ons eie tye ?
Wel, dit het alles, maar alles te doen met mekaar,
want, die onderliggende stryd in 1859 en vandag is in wese dieselfde:
Dit gaan oor ons TEMA van ons prediking:
Gaan ons die Woord volg deur sy Gees, of
gaan ons die tydsgees volg, volgens sondige begeertes?
Geliefdes, let op,
Hierdie twee sentrale sake, Skrifleer en dat dit oor ‘n wesentlike saak gaan,
is netso onderliggend aan die kerklike stryd wat ons kerke, ons kerkverband, die afgelope 30/40 jaar beleef het,
spesifiek oor die plek en rol van die vrou in die besondere ampte of dienste.
Dit het ons ook beleef, weereens met die pas afgelope sinode (Jan, 2018),
hoe hierdie twee sake sentraal staan vir ons kerke.
Onderliggend aan die VIDA (vrou in die besondere ampte), is:
– ’n sekere Skrifbeskouing, ‘n omgaan met die Bybel, hoe
ons die gesag van God se Woord aanvaar …
Ja, gaan die kerk die Skrif alleen deur die Gees volg,
of die tydsgees volg, deur die Skrif daarby aan te pas, te verander ?
En, tweedens, is dit nie ’n middelmatige saak nie, maar wesentlik.
Dus, of ’n vrou ouderlinge en/of predikant kan word, openbaar
wat jy glo oor die Bybel, en hoe ek met die Bybel omgaan,
asook, of wat die Bybel self leer oor kerkregering,
of die ampskwessie wesentlik is, of nie.
Hier is die aanslag op ons geloof, die tydsgees van die 20/21ste eeu:
In die 20ste eeu het die feministiese teologie en tydsgees opgekom,
en die kerk al meer beinvloed.
Waar dit aanvanklik gegaan het daaroor om misbruik van die vrou te belig en reg te stel, waaroor die gelowige saamstem,
het dit later ontaard om die gesag van die Bybel self te verwerp,
of in die evangeliese feminisme so te verdraai,
dat duidelike Skrifgedeeltes soos 1 Kor. 14 en 1 Tim. 2,
nie meer aanvaar word as bindend vir die ‘nuwerwetse kerk’,
vir alle tye en plekke nie. …
Maar, kontra die feministiese tydsgees van die 20/21ste eeu, het die kerk die plek van die vrou,
soos die Here aangedui het en dit bepaal het, erken, en ge-eer,
soos ons dit daar hoor in HK Sondag 14: ‘gebore uit die maagd Maria …”
Wat ’n wonderlike voorreg, vrouwees in Christus !
En Maria het haar roeping, van vrouwees, van uniek vrouwees
nie verag, nie klein geag, nie min geag nie,
(soos die feministe haar sou wou vertel het vandag nie?)
maar haar uniekheid was en is om kinders te baar,
en hier bo-alles in ons teks, die Verlosser van die wêreld te ontvang,
in vreugde, in blydskap in diensbaarheid.
JUIS dit wat die radikale feminisme verag en haat,
en wat die evangeliese feminisme al meer ook nalaat in die kerke:
met die neerkyk op trou, moederskap, kinders kry, opvoed.
Ja, toe die Here deur die engel aan haar die goeie tyding bring,
hoor ons by haar geloof, hoor ons by haar aanvaarding,
vir die rol en taak wat sy saam alle vroue deur die eeue het,
maar in die besonder wat sy uniek het as maagd om Jesus te ontvang:
En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan. (Luk. 1:38 A53)
Laat dit met my gaan VOLGENS U WOORD …
Nie, volgens my wil nie, nie volgens die tydsgees nie,
nie my sondige begeertes nie,
nie volgens die losbandige bevryde vroue van die 1e eeu nie,
nie volgens die ‘glanstydskrifte’ van haar of ons dag nie.
Maar, “volgens U Woord” … is dit hoe u, en ek, ons gesinne en kerke nog vandag lewe ? …
Tot hier ‘n paar uittreksels uit die preek, lees die volledige preek hier:
Leave a Reply