GAAN PRES. RAMAPHOSA WEER LAG VIR DIE VOLGENDE OORGAWE ?
Ja, dit is wat jare gelede gebeur het toe die FW de Klerk bewind oorgegee het aan die ANC se meerderheidsregering (beklemtonings bygevoeg):
“Frederik van Zyl Slabbert skryf in Duskant die geskiedenis dat Cyril Ramaphosa hom vertel het dat, toe Roelf Meyer namens die regering die beginsel van meerderheidsregering op ‘n kritieke vergadering aanvaar het, hy ‘n verdaging vir vyftien minute gevra het “sodat ons opsy kon gaan na ons eie kamer en uitbars van die lag“. Joe Slovo, leier van die Kommunistiese Party, het gekraai: ‘Hulle het oor alles ingegee!‘ ” (JC Steyn, Afrikanerjoernaal: ‘n Vervolgverhaal in 365 episodes, FAK, 2016, bl. 386. Sien die volledige inskrywing hier onder.)
Die nuwe president, wat destyds een van die hoof onderhandelaars was vir ‘n “beter SA”, het tydens sy staatsrede “bevestig dat die ANC-beleid van grondonteiening sonder vergoeding sal voortgaan” (sien die artikel: Sleutelpunte: Ramaphosa dek alles in staatsrede).
Tyd sal leer of Ramaphosa self verander het deur die jare, wyser geword het om te besef dat Afrikaners deel is van Afrika, en of hy met hierdie ANC “gewettigde diefstal” in stryd met God se gebod, weer wil lag vir die Afrikaners as hy hul grond van hul wil steel in die naam van die ‘struggle’ ?
Ons troos is dat ongeag wie president is, Jesus Christus bly die enigste Koning (Psalm 2). Hy weet, sien alles raak, en sal regverdig oordeel oor alles wat gebeur (2 Kor. 5:10; Hebr. 4:13), ook waar mense baiemaal magteloos is oor magte wat hul mag misbruik en die Here se wil verag (sien Nabot se wingerd, 1 Kon. 21).
En daarom die waarskuwing aan almal wat die HERE en sy Gesalfde se bande wil stukkend ruk, op enige lewensterrein, vir beide burgers en die burgelike owerheid in die nuwe SA:
10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! 11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. 12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil! (Ps. 2:10-12 A53)
____________________
16 DESEMBER: VERLIES VAN SELFBESKIKKING
deur JC Steyn
[Afrikanerjoernaal: ‘n Vervolgverhaal in 365 episodes, FAK, 2016, bl. 386]
Prof. Peter de Lange, voorsitter van die Broederbond, het op 5 Oktober 1992 voor ‘n gehoor gesê dat “magsprysgawe” ‘n “gesuiwerde” staanplek aan wit mense sal gee. “Al sê die politici ook wat, blankes moet aanvaar dat hul magsprysgawe permanent sal wees.” Die taal- en ander gevolge van so ‘n magsprysgawe is nooit ernstig bespreek in die Afrikaanse media nie. Die “regses” was meer realisties, maar was sonder mediasteun. Die KP wou ook nie aan die onderhandelinge deelneem nie. Die 875 000 nee-stemmers was dus onverteenwoordig en kon by Kodesa geen druk uitoefen nie.
‘n Sleutelgebeurtenis in die proses van magsoorgawe was die moorde in ‘n ANC-plakkerskamp op Boipatong op 17 Julie 1992. Minstens 43 mense is in faksiegevegte dood. Die ANC het op 23 Junie 1992 sy onttrekking aan Kodesa aangekondig en massa-aksies begin. In die noodlottige twee maande daarna was De Klerk onwillig om sterk op te tree. Die onderhandelings is op 1 April 1993 hervat in ‘n uiters vyandige atmosfeer terwyl die wêreldmedia alles dophou.
Die posisie van die NP en die regering is verswak deur die moord op Chris Hani, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party by sy huis op Saterdag 10 April 1993. Dis gepleeg deur ‘n verbltterde anti-Kommunistiese Poolse immigrant, Janusz Walus. Clive Derby-Lewis, prominente leier van die KP, was ook betrokke. In die wraakaanvalle wat op die moord gevolg het is meer as tien mense vermoor, honderde beseer en miljoene rande se skade aangerig.
Mandela het met groeiende selfvertroue De Klerk se aandrang op formele magsdeling verwerp. Bowendien was die NP-onderhandelaars nie opgewasse teen mense soos Cyril Ramaphosa van die ANC nie. Ons het “kinders” gestuur om met ervare mense te onderhandel, het oudminister Hernus Kriel later gesê. Roelf Meyer van die NP het in elk geval meerderheidsregering gou aanvaar.
Frederik van Zyl Slabbert skryf in Duskant die geskiedenis dat Cyril Ramaphosa hom vertel het dat, toe Roelf Meyer namens die regering die beginsel van meerderheidsregering op ‘n kritieke vergadering aanvaar het, hy ‘n verdaging vir vyftien minute gevra het “sodat ons opsy kon gaan na ons eie kamer en uitbars van die lag”. Joe Slovo, leier van die Kommunistiese Party, het gekraai: “Hulle het oor alles ingegee!”
De Klerk het in 1997 bevestig dat die “reg tot nasionale soewereiniteit” prysgegee is. “Die reg tot die handhawing van nasionale soewereiniteit, van mense om hulleself te regeer, word in baie lande as ononderhandelbaar beskou. Die meeste nasies sal bereid wees om die risiko van ‘n algehele oorlog en katastrofe te loop eerder as om die reg prys te gee.”
In 1993 kon die meerderheid kiesers nog nie glo dat De Klerk die reg sou prysgee nie. Verset het wel onder ‘n minderhede toegeneem, ook weens opruiende slagspreuke soos “Kill the Boer, kill the farmer!” en “One settler one bullet”, wat straffeloos deur ANC- en PAC-ondersteuners op vergaderings uitgeroep is. In Mei 1993 is ‘n regse organisasie, die Afrikaner-Volksfront, gestig. ‘n Beplande veldtog van massa-aksie vir selfbeskikking het egter gou doodgeloop.
“We were never beaten by our enemies, we were betrayed by our friends.” Ian Smith toe hy nog Eersteminister van Rhodesie was – ewe waar in SA