DIE KERKLIKE REWOLUSIE TYDSGEES WAT GELEI HET TOT DIE POLITIEKE REWOLUSIE TYDSGEES
Die groot sosio-politieke rewolusie wat in ons tye plaasvind, is die vrug en gevolge van die groot godsdienstige-kerklike rewolusie wat in die 2de helfte van die 20ste eeu in ons kerke plaasgevind het in SA.
Die liberaal-humanistiese teologie (bv skrifkritiese teologie, feministiese teologie, sosio-historiese teologie, ens.) wat die susterskerke begin indring het, het die teologie van politieke-rewolusionêre bevryding (bv. marxistiese, swart teologie, ens.) subtiel omhels, of ten minste geakkomodeer, daarom dat figure soos Beyers Naude, Allan Boesak en Desmond Tutu, ongeag hul afvallige teologie, verwelkom is om teoloë en predikante se lewens- en wêreldbeskouings te bepaal, wat weer op hul beurt lidmate se sienings bepaal het en so ook ons hele land.
In die hedendaagse algemene teologie en filosofie en deur die prediking in baie kerke, kry ons te doen met ‘n nuwe Godsbeskouing, ‘n nuwe Skrifbeskouing, ‘n nuwe kerkbeskouing en dit lei onwillekeurig tot ‘n nuwe wêreldbeskouing.
Dit is nie meer die kerk wat preek [die werk van die Heilige Gees] en die wêreld moet volg nie, maar die teenoorgestelde gebeur, naamlik dat die wêreld preek [die werk van die tydsgees] en die kerk moet volg. Die rewolusiegees het reeds sy deurbraak in die wêreldteologie gemaak en die tienduisendes word reeds op “gereformeerde” erf verslaan.” (Bron: Kerk en Tydsgees, Potchefstroom: Marnix, 1990, bl.2. Bybelverse is bygevoeg, asook beklemtonings.)
Prof. V.E. d’Assonville het in 1990 reeds geskryf van hierdie ‘groot ommekeer’ (rewolusie) in ons kerke:
Die groot ommekeer
“… want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. …” (2 Tim. 4:3,4)
“Dit is ‘n skokkende feit dat die werk van die tydsgees of die wêreldgees vandag aangesien word as die werk van die Heilige Gees.
In die hedendaagse algemene teologie en filosofie en deur die prediking in baie kerke, kry ons te doen met ‘n nuwe Godsbeskouing, ‘n nuwe Skrifbeskouing, ‘n nuwe kerkbeskouing en dit lei onwillekeurig tot ‘n nuwe wêreldbeskouing.
Van die kerk word verwag om ‘n nuwe aanpassing te maak. Dit gebeur voor ons oë. Die tydsgees gaan vooruit en die kerk moet volg. Die rewolusiegees marsjeer vooruit en die kerk moet die voorbeeld neem.
Alles word nou omgekeer. Rewolusie gee die toon aan, verandering word die slagspreuk. Maar helaas, nie ‘n verandering volgens die Heilige Skrif nie, maar ‘n verandering volgens die wêreld. En wie die gebeurtenisse van die dag in die pers en die TV – en radiomedia deur die bril van die Bybel lees, ontdek dit met ‘n skok:
Dit is nie meer die kerk wat preek [die werk van die Heilige Gees] en die wêreld moet volg nie, maar die teenoorgestelde gebeur, naamlik dat die wêreld preek [die werk van die tydsgees] en die kerk moet volg. Die rewolusiegees het reeds sy deurbraak in die wêreldteologie gemaak en die tienduisendes word reeds op “gereformeerde” erf verslaan.” (Bron: Kerk en Tydsgees, Potchefstroom: Marnix, 1990, bl.2. Bybelverse is bygevoeg, asook beklemtonings.)
En nou vandag ?
Is mense soos Malema nie juis niks anders as die ‘politieke vleuel’ van die liberale-humanistiese bevrydingsteologie idees nie, dalk net meer konsekwent toegepas ?
En hoe erger die marxistiese rewolusie raak, hoe minder bekering sien ons in die kerke oor die sondes van die liberale- en bevrydingsteologie by hedendaagse kerklike leiers. Dit lyk inteendeel of daar net ‘n nog groter verharding en soeke na nog groter ‘bevryding’ weg van die Here se Evangelie, weg van sy hele Woord, weg van sy goeie wette vir ons land is, soos bv. gesien word in die verwerping van God se skeppingsorde vir die huwelik tussen man en vrou, die omhelsing van die gay agenda al meer, die goedpraat van aborsie-wetgewing, die teologiese akkomodering van evolusionisme, buite-eg saamwoon onder jongmense wat die kerke al meer akkomodeer, ens. (Psalm 2).
Mag die Here ons genadig wees, en aan ons ware diepgaande en deurgaande bekering skenk, sodat ons ons waarlik kan bekeer, terug na sy Evangelie, terug na sy Woord alleen, deur die krag van die Gees.
Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd. Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot? (Klaagl. 5:21, 22)
Alleen by die HERE in sy Seun, deur die krag van die Gees en volgens sy Woord, is daar ware en diepgaande hoop vir ons en ons gesinne, kerke, gemeenskappe, volke en land. Moenie op mense en politieke magte en kragte vertrou nie (Ps. 146), alleen die Here kan waarlik red, na gees en liggaam:
“As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (Psalm 127:1)
Leave a Reply