Bid vir droogte in die land ? Liewers sonder brood as sonder God

BID VIR DROOGTE IN DIE LAND?*

Liewers sonder brood as sonder God

deur Totius 

“Ons is dikwels so bekommerd as ons dink aan die toekoms van ons nageslag. Hoe sal hulle kan standhou as die tye al swaarder word? Maar laat ons dink aan die belofte van die Here. Laat ons dink aan die lewenservaring van die Psalmis: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie’ (Ps. 37:25). Laat ons meer bekommerd wees oor die woord en die eer van die Here en met Elia instem: Liewers sonder brood as sonder God. Verloor ons ons brood, dan verloor ons baie, maar verloor ons God, dan verloor ons alles. Laat ons dan maar bid vir ons nageslag dat hulle by die geloof volhard!” 

Wat moet ons van dit alles dink en sê?

Ons gaan op al die aspekte van die groot saak nie in nie. Ons ruimte is daarvoor te beperk. Bowendien is ons Suid-Afrikaanse lewe só vol politiek geprop dat ‘n mens al bang is om jou gevoel te sê, uit vrees dat jy een of ander heiligskennis sal begaan en daardeur die krag van jou woorde sal afbots teen ‘n geslote binneste.

Ons gaan alleen probeer om in hierdie troostelose donkerheid enkele ligstrale uit die Woord van God op te vang. Dit is tog wat ons allermees nodig het. Mensepraat en plannemakery wat nie met die Woord van God rekening hou nie, werk net verwarring en salons ten slotte tog nie baat nie.

Plotseling verskyn Elia, die Tisbiet, voor koning Agab met die boodskap: “Daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord” (1 Kon. 17: 1) .

Hoe seer Elia self hom met hierdie goddelike boodskap vereenselwig het, blyk uit Jakobus 5: 17: “Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie.”

Elia het dus gebid vir droogte! Hy het gevra dat die Here droogte sal gee! En hy het vir Agab gesê: “Geen dou of reën nie, behalwe op my woord.”

As ons Elia se voetspoor wil volg, moet ons eintlik eers ‘n biduur vir droogte hou! Na so ‘n biduur sal daar seker nie veel mense kom nie. Sover ons weet, was ook in die dae van Agab die profeet Elia die enigste wat só gebid het. Inderdaad ‘n sonderlinge gebed.

Maar juis daarom moet ons ons rekenskap gee van dié gebed.

Ons lees oor sulkeontsettende sake wat in die Skrif voorkom, alte maklik heen. ‘n Sonderlinge gebed is dit, omdat ons die vraag as vanself stel: Het Elia dan nie geweet wat ‘n droogte beteken nie? En dan nog wel ‘0 droogte van drie jaar en ses maande. Het hy nie daaraan gedink dat weduwees en wese en armes naderhand sal moet aanskou dat die meel in die kruik. en die olie in die fles opraak nie? En waar dan heen? . .. Ja, in Jakobus 5: 17 staan selfs letterlik dat Elia ernstig gebid het, worstelend gevra het dat daar droogte moet kom.

Ongetwyfeld het Elia geweet waar hy om bid. Hy was afkomstig uit Gilead (1 Kon. 17: 1), die landstreek oorkant die Jordaan, vir ‘n deel bergagtige wildernis; ‘n stuk wêreld wat groot ooreenkoms het met Suid-Afrika, veral met die Kalahari. Hy het geweet dat daardie wêreld en ook die eintlike Kanaän niks beteken sonder dou of reën niet Hy het wel kon vermoed dat die armes, wat nie geleentheid gehad het om rond te trek, om soos Agab weiding vir sy veediere te soek nie, dit swaar sou hê, Ewenwel het Elia sy ernstige gebed laat
opgaan.

Hoe moet ons dit verstaan?

In die persoon van Agab en die daarop volgende gedrag van Israel lê die oplossing van hierdie vraagpunt.

Agab was die seun van Omri, die man wat Samaria gebou het as hoofstad vir die Tienstammeryk (1 Kon. 16:24). Dit was ‘n slim politieke set. Dié pragvolle stad, só skoon dat Jesaja dit genoem het die kroon van die baie vrugbare dal (28: 4), moes dien om die afgeskeurde tien stamme van Jerusalem, wat ook skoon was, nog verder af te trek. En nie net van Jerusalem nie maar veralom hulle af te trek van die tempel en die diens van die ware God.

Agab, sy seun, was ook ‘n slim politikus. Sy verbond met die wêreldryk van dié tyd, Fenisiê, het hy beseël, vasgemaak, deurdat hy getrou het met Isébel, die Sidoniese prinses. Na die kant van Aram (later Siriê genoem) het hy vir hom belangrike handelsbelange verseker, Teenoor Moab het hy hom beveilig deurdat die sleutelstad Jerigo weer opgebou is. Ook met die suideIike Juda was daar vrede, daardeur bevestig dat Agab sy dogter Atalia aan Joram, koning van Juda, as vrou gegee het. Inderdaad was sy dae ‘n tyd van voorspoed en volkswelvaart. Die tien stamme het in stoflike opsig baie vooruitgegaan.

Dit is die een kant.

Daarteenoor het Agab een radikale ding gedoen – en daarop moet hier die volle nadruk gelê word: Hy het deur sy koninklike optrede die afgodery in Israel oorheersend laat word.

Tot nog toe -let hier wèl op – was die konings van Israel tevrede om te wandel in die sondes van Jerobeam, m.a.w. hulle was tevrede met die kalwerdiens in Bet-el en Dan. Maar die kalwerdiens was nog nie eintlike afgodery nie; dit was beeldediens, dus sonde teen die tweede gebod. Die bedoeling was, altans by die begin, om Jehova te vereer onder die gedaante van ‘n stier of kalf.

Nou kom egter onder Agah die radikale ommekeer soos 1 Kon. 16:31 sê. Die afgodery puur en simpel word nou publiek ingevoer. Agab gaan dus brutaal in teen die grondgebod van die Here: “Julle mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.’

Agab voer die skandelikste afgodery in, en die Here swyg. Daar is voorspoed in die ryk van Agab ondanks die kwaad wat hy publiek gedoen het. Dit reën. Hier is die punt waar die bittere tweestryd in Elia se binneste ontwaak. Elia het die Wet geken. En wat staan daarin? Die Here sê daar: As julle sorgvuldig na my gebooie luister om My lief te hê, dan sal Ek reën gee op die regte tyd, vroeë en laat reën. Maar as julle afwyk om ander gode te dien, dan sal Ek die hemel toesluit, sodat daar geen reën sal wees nie (Deut. 11: 13-17) .

Laat ons tog nou hierdie duidelike woord kans gee om diep in ons siele in te sink. Die Here verbind sy diens én reën aanmekaar. Dan weer verbind Hy afgodery en droogte. Maar hierdie verbinding het ontbreek in die dae van Agab.

Daar was afgoderyen reën! Afgodery en voorspoed! Bestaan Deut. 11 :13-17 dan nou nie meer’ nie ? Het die Here se woord nou onwaarheid geword? Waak Hy nie meer oor sy Woord nie? Dit was die snydende vraagpunt waar Elia voor geplaas was. Eèn van die twee tog: God se woord is onwaar, dan kan Agab voorspoed hê; of God se woord is waar, maar dan moet droogte kom.

Wat ‘n bittere innerlike tweestryd het Elia moes voer! Eenkant die droogte wat die Here as straf aangesê het; anderkant die skuld van Agab en Israel wat nie ongestraf kan bly nie, Wat sal Elia kies? Kies hy vir God, dan kies hy meteen droogte. Maar wat moet hy ànders doen? Hy kan tog nie voorspoed wil behou en – die Woord van sy God verloor nie! Hy word gepers en gedring tot die uiterste toe. En hy kies vir God. Wat by hom ten slotte die deurslaggee, is die moedige en gelowige besluit: Liewers sonder brood as sonder God.

Na die mens gespreek, was Elia dan ook drie jaar lank sonder brood en moes hy die gevolge van sy gebed persoonlik op snydende manier ondervind. Dit is die diepe sin van sy wonderdadige voeding by Krit en Sarfat. Alleen deur sy geloof moes hy dié tyd deurlewe. Sware stryd het daar seker in sy binneste gewoed. Maar sy geloof is met oorwinning bekroon. Hy het dan ook geweet dat daar vir hom en sy volk geen ander weg oop was as dié van lyde nie. Die voorspoed sou eers weer kom as die Baälspriesters op Karmel geslag is, en as dáár, op die herboude altaar van die Here, die vuur uit die hemel neerslaan en vir die skuld van Israel die offer gebring is.

So word Elia ‘n tipe van Christus.

Hy het hom dan ook so verdiep in die misterie van Christus, dat ons dit kan verstaan dat hy op Tabor saam met Moses verskyn om met Christus te spreek oor dié se uitgang in Jerusalem.

En Agab?

Hy was nie heeltemal afgodsdienaar nie. Sy kwasi-godsdienstigheid het daarin bestaan dat hy die profete van die Here, wel 100 in getal, geduld het. Sy hofdienaar Obadja het hy nie weggejaag omdat hy die Here gevrees het nie. Sy dogter Atalia het in haar naam die naam van die Here as agtervoegsel gedra. Die profete-seuns het Agab ook nie uitgeroei nie. Selfs kon hy hom verneder onder die hand van die Here (1 Kon. 21:29).

Maar ondanks dit alles het hy op sy Baäls en Astartes gesteun.

Hulle sou hom wel uitred as daar moeilikheid kom vanweë die woord van die profeet. Baäl tog is die god van die hemel en beskik oor die sonnestrale en die reënstrale. En Astarte, die godin van die vrugbaarheid, sou wel sorg dat hy en sy diere voedsel het om te eet. As hy sy agthonderd-en-vyftig profete aan die bid sit, as hulle eers al hinkende spring om die altaar van Baäl en hulleself begin stokkend kerf dat die bloed loop en hul skreeugebed uitroep, dan sal hy, met hulle in verbond, wel die droogte besweer en die voorspoed handhaaf.

En wat sal ons nou sê van ons kwasi-godsdienstige tyd waarin die kerk nog mag bly voortbestaan en mag bly voortsukkel met die verskynsel wat ons die Christelike godsdiens noem, terwyl tog die offisiële, publieke stroom in ‘n ander rigting loop?

Ja, nóu is dit wel nie meer natuurgode wat ons aanhang nie, aar natuurdinge. Met hulle maak ons, volgens ons kundigheid, net soos ons wil. As ons maar net eers al ons kundighede agtermekaar het, sal ons die droogte met al sy gevolge met welslae bedwing en uiteindelik laat ophou. As die agthonderd-en-vyftig natuurvorsers, natuurdwingers, maar eers hulle werk goed doen!

Let wel, leser, ons het dit nie teen die gebruik van middels, van voorbehoedmiddels en geneesmiddels nie. Nee, ons is daar erkentlik voor en bring Gode die dank daarvoor. As middels is hulle in die grond van die saak sy gawes. Maar waar ons teen opkom, is dat dié middels doel word en dat dáárop vertrou word in plaas van op God. Dit is die sonde van die eerste gebod. Dan is ons skuldig aan afgodery.

Ondersoek nou maar ons volkslewe by die lig van hierdie woorde. Word dit deur voormanne en volk wel ingesien wat in ons land gaande is? En is daar die bereidheid om die knieë in ootmoed voor God te buig? Die oproep tot die dag van verootmoediging meld van die verwildering van die sedes (iets wat ook saamgegaan het met die Astartediens) en dat dit die kerk al binnegedring het. Dan is daar die loterye. Selfs staatslotery word begeer. Daar is die Sondagontheiliging en o, soveel meer.

Dit is wat ons vaders die roepende sondes genoem het. Die leser moet hulle maar self naspeur en opsom. Hulle roep tot God net soos die bloed van Abel, totdat daar wraak kom oor die sonde. As óns nie wil bid vir droogte nie (soos Elia), dan bid ons sóndes. Hulle roep tot God. HuIIe sal nie swyg nie. En al is dit dat die Here tydelik swyg, dit sal nie voortduur nie. Eindelik gaan Hy straf. Dan gaan die Psalmwoord in vervulling wat hier so toepaslik is: “Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel” ( 50: 21) .

Lankal twis die Here met hierdie land. Dit het wel gereën, en daar was wel ‘n oeso Maar ons het gevoel dat dié gawes, soos ons vaders gesê het, gawes was uit die linkerhand van God en nie uit sy regterhand nie. Dit was meer die barmhartigheid wat nog geroem het teen die oordeel. En nou, ná al die vermanende teenspoede, het dit eindelik tot die breekpunt gekom.

Sal ons volk nou sy sondes gaan ken en dit met die naam gaan noem? Dit wil die Here hê, Hy eis dat ons ons sondes sal hely en dit sal laat staan. Maar as ons die sondes nie ken nie, hoe sal ons dit dan kan laat staan? Of sal ons gebedsdag ook die Here terg? As ons naamlik dan wel die kleed van verootmoediging dra maar ons wandel dieselfde bly? Sal ons nou deurdring tot die sondes op die terrein van die politiek, van ons samelewing, van skool en ons huisgesin? En hulle noem met die naam? En hulle laat staan?

Ten slotte nog enkele woorde vir diegene wat nog altyd weier om die knie voor die Baäls te buig:

(1) As u niks meer kan uitvoer nie, as hulle u getuienis nie meer wil aanneem nie, dan is daar nog ‘n weg. Dit is die weg na die verborgenheid. Elia moes na die eensame Krit gaan. In tye van oordeel roep die Woord van God ons na die binnekamer en na ons huis terug. Dáár kan geen Agah ons hinder om God te dien en tot eer van ons Verlosser te lewe nie.

(2) Daar moet ons gaan om te buig en te bid. Ons moet buig in ootmoed. By algemene besoekinge is dit nie die sonde van dié en nie dié nie, maar dit is almal se sonde wat God vertoorn het. Elia moes lotgemeen wees met sy volk en die ellende saam verduur met al sy volksgenote. Dan, ons moet bid. Dieselfde Elia wat gebid het vir droogte, moes ook in die gebed worstel vir reën. Lees maar hoe hy hom moes inspan op die Karmei voordat die wolke en die oorvloedige reën gekom het. Ag, as daar maar weer seweduisend in die verborgenheid mag wees wat eenstemmig die redding van ons volk van God afsmeek!

(3) Elia moes deur die droogte en honger heen, maar hy het nie omgekom of broodsgebrek gehad nie. Hy moes lewe van wat die kraaie gebring het, maar hy het voedsel gehad.

Ons is dikwels sa bekommerd as ons dink aan die toekoms van ons nageslag. Hoe sal hulle kan standhou as die tye al swaarder word? Maar laat ons dink aan die belofte van die Here. Laat ons dink aan die lewenservaring van die Psalmis: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie’ (Ps. 37:25). Laat ons meer bekommerd wees oor die woord en die eer van die Here en met Elia instem: Liewers sonder brood as sonder God. Verloor ons ons brood, dan verloor ons baie, maar verloor ons God, dan verloor ons alles. Laat ons dan maar bid vir ons nageslag dat hulle by die geloof volhard!

* Bron: Die Kerkblad, no. 736, 15 Maart 1933. Opskrif bygevoeg. Oorspronklike opskrif: “Geen dou of reën” (Versamelde Werke, deel IV, bl. 93-99).

One thought on “Bid vir droogte in die land ? Liewers sonder brood as sonder God

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: