Christelike geloofsantwoorde op die revolusie in Suid-Afrika
Die Roeping en Riglyne tydskrif (termynblad van die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys), se September 2018-uitgawe, handel oor die tema van die revolusie in Suid-Afrika, en wat die christelike antwoord daarop is.
In hierdie uitgawe verskyn die volgende artikels:
- Politieke revolusie en publieke geregtigheid, prof Andries Raath
- Revolusie in Suid-Afrika al in die 80erjare geprojekteer, Hugo Hayes
- Wat word onder die begrip ‘revolusie’ verstaan?
- Die transformasie van die samelewing
- Die invloed van Revolusie(s) op die Jeug, Zak H. Scholtz en Tiaan Adendorff
- Teen die Revolusie, die Evangelie van Christus!, ds. Slabbert Le Cornu
- Semper Reformanda, ds. Schalk Strauss
Die uitgawe kan hier afgelaai word: Roeping en Riglyne, Sept. 2018
‘n Paar aanhalings uit die artikels:
“Die belangrikste les vir ’n land op die weg na ondergang is: ’n terugkeer na
God en sy Woord. Vir die staatsowerheid van die dag: buig onder die gesag van God se Woord, sweer magsug, nepotisme en liefdeloosheid af en weer
hou jou daarvan om te maai waar jy nie gesaai het nie.
Die geskiedenis van Nabot in 1 Konings 21 verse 1-18 behoort in die tydsgewrig waarin ons lewe met meer erns deur owerheid en onderdaan bejeën te word. ’n Land en mense wat nie ag op die normatiewe eise van God se Woord slaan nie, is ’n land wat geen toekoms het nie.”– prof. Andries Raath
“Deur ʼn verplasing van gesag weg van God na die kollektiewe mensheid, word ʼn wanverhouding in die samelewing in terme van gesag tot stand gebring. Kragtens die revolusie word aan die mense gesag toegeken, waarop hulle nie geregtig is nie. Daarom sal die uitdrukking “we the people” meermale verneem word, ter beklemtoning hiervan. God alleen beskik oor absolute gesag om aan die mens die eis van gehoorsame uitlewing van sy gebooie, insettinge en verordeninge te stel.
Wanneer aan mense dié gesag toegeken word, wat Hom alleen toekom, ontstaan die vraag: watter maatreëls sal vir die samelewing geld en wie sal vir die sanksionering daarvan verant woordelikheid neem? T.o.v. die plek van die SA grondwet word dit wel deur baie as die finale gesag beskou, wat ʼn deur die wetge reguleerde samelewing moet verseker.” – Hugo Hayes
“Hoe word die bostaande dwalings bestry? Met kennis van die Woord. Met kennis van God. Deur vertroue en onderwerping aan die Waarheid. Dit klink amper elementêr, maar dis hoe hierdie dwaalleer bestry word. Die jongmens wat kennis het oor die Woord en oor God se skepping en hoe God in daardie skepping verheerlik word, het min om oor bekommerd te wees. In die plaaslike gemeente is hierdie oor en oor bewys. Die jongmens wat ʼn plek het om ʼn Bybelse antwoord te kry. ʼn Jongmens wat ʼn plek het om eerlik oor die Woord te kan praat en eerlik vrae te kan vra. ʼn Jongmens wat ʼn plek het om eerlike Bybelse verantwoording te kry. In al hierdie gevalle is dit ʼn jongmens wat toegerus is. Om egter hierdie jongmense toe te rus – moet die
persoon wat die plek verskaf en moontlik maak toegerus wees. Ons kerke het in baie opsigte nie meer plekke van antwoorde geword nie. Ons predikante en voorgangers is net nie altyd toegerus nie.” – Zak Scholtz & Tiaan Adendorff
“Hier is ʼn paar vrae van self ondersoek, wat die kerk moet preek teen die revolusiegees:
- is ons huwelik saam en afsonderlik onderworpe aan God (Ef. 5:20, 21)?
- is ek as man onderworpe aan God en sy opdragte aan my (Ef. 5:25-33)?
- is ek as vrou onderdanig aan my man wat die Here oor my aangestel het (Ef. 5:22, 23)?
- is ek as kind onderworpe aan die ouerlike gesag wat die Here oor my aangestel het (Ef. 6:13)?
- is ons as ouers onderworpe aan die Here se gesag (Ef. 6:4)?
- is ek as werknemer of werkgewer onderworpe aan die gesag wat die Here oor my gestel het op arbeidsterrein (Ef. 6:5-9)?
- onderwerp ek my aan die gesag van die ouderlinge wat die Here oor my aangestel het (1 Tim. 3-5; Hebr. 13:17)?
- onderwerp ons ons aan die burgerlike owerhede wat oor ons aangestel is (Rom. 13:17)? …
Netso revolusionêr sondig en verkeerd dit gaan wees as die burgerlike owerheid grond gaan begin steel, netso revolusionêr verkeerd is dit as ek ʼn ander man se vrou gaan steel, of as ek die Woord van my gesin weerhou, of as ek weier om die eredienste by te woon, of my bydrae te lewer aan die Here wat Hy vra, of toelaat dat ons jongmense in stryd met God se wet lewe
buite die eg, ens.
Laat die kerk ook verkondig dat dit alleen in Christus is wat ons enigste hoop is teen ons eie revolusionêre harte. Christus alleen bring hoop vir die ewige én hierdie lewe. Ons kan nie oorwin in ons eie krag nie, maar juis oorwin in die krag van Christus. Daarom; laat ons leuse as gelowiges afsonderlik en kerke saam wees: Teen die revolusie, die Evangelie!” – ds. Slabbert Le Cornu
Ons moet versigtig wees dat die kerk nie minder geloofwaardig as Jacob Zuma of die ANC regering word nie. Dit gebeur wanneer ons semper reformanda vervlak tot verandering bloot ter wille van verandering of bewaring bloot ter wille van bewaring. Semper reformanda roep om meer. Langenhoven het dit mooi raakgevat toe hy gesê het: Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute regmaak. Ons kan dit ook anders stel: Die kerk wat ons soek, is nie die een wat die minste foute maak nie, maar die een wat die meeste foute bely en in die krag van die Gees reg maak.
Dit is nie ʼn maklike taak nie. Semper reformanda is slegs moontlik wanneer ons ingeplant is by die fontein van lewende water wat uit die tempel van God voortvloei. ʼn Kerk wat langs hierdie stroom geplant is en daardeur gevoed word, se blare verwelk nie en sy vrugte raak nooit op nie. So ʼn kerk dra God se Woord in sy hart en omdat dit in sy hart is, beheers dit sy nadenke as voorhoofsband tussen die oë; beheers dit sy arbeid as teken op sy hand en uit eindelik sorg so ʼn kerk dat dit ook vasgeslaan word op die deurposte van die samelewing waarin hy staan.” – ds. Schalk Strauss
Leave a Reply