Preek: Omgekeerde fondamente (Psalm 11)

OMGEKEERDE FONDAMENTE: PSALM 11

deur ds. Gustav Opperman

Plek en datum: GK Matlabas 2017/07/16
Lees: Psalms 10,11 en 12
Teks: Ps. 11:3, “As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?”
Psalms: 138:1,2; 138:3,4; 68:3; 68:9; 68:15,16.
Tema: God sien en God oordeel

(Video-opname: Woorde uit sy Woning: Psalm 11)

Geliefdes,

Ek ontvang een Saterdagoggend ‘n Whatsapp-boodskap van ‘n kollega.
Hy was Vrydagaand op pad terug van Pretoria na Carletonville
toe hy en sy twee dogters se pad deur klippe versper word …
dit en brandende bande …
en dat hulle motor onder die klippe gesteek word.
Net betyds kon hulle die motor omdraai
en die lokval ontkom …

Dinge kon so maklik anders vir hulle verloop het.

Ons lees nou byna daagliks van sulke voorvalle
as ons nie self eerstehands van vriende en familie verneem nie.

Dis die probleem van die omgekeerde fondamente.

So vandag vra ons,
saam met u, vra ek die HERE vandag:
as die fondamente omgegooi word,
wat kan die regverdige doen …?

Wat kan ons doen in ‘n land … in ‘n gemeenskap,
in ‘n wêreld
waar die fondamente omgegooi is?
Dit wat vroeër reg was,
dis nou verkeerd.
Dit wat vroeër waarheid was,
dis nou leuen.
Dit wat vroeër lelik was,
is nou mooi.
Dit wat bo was,
is nou onder.

Dis lankal nie meer snaaks om op te merk
dat die misdadigers nou vry rondloop,
terwyl die wetsgehoorsames agter tralies leef nie.
Ons mense word links en regs uitgemoor
terwyl die polisiehoofde
en baie ander korrupte amptenare
net daar is om hulle self te verryk.
So lyk dit.

Ja, sedert die land se hoogste wet ‘n akte van menseregte is,
staan ons onder ‘n regering van sotterny …
so wil dit voorkom,
en die fondamente is omgekeer.

Die pilare van die samelewing het getuimel.
Niks is meer seker nie.
Niks staan meer vas nie.
Vergeet maar van reg en geregtigheid.
Vergeet maar van wet en orde.

Wat kan die regverdige doen …?
Dis wat ons vandag van die HERE vra.
Dis wat ons vandag uit sy Woord wil verneem.

Ons bely mos:
Alleen sy woorde
is rein woorde.
Die HERE se woorde alleen is silwer
silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde,
gesuiwer sewe maal.

En omdat sy woorde gelouterde en gesuiwerde silwer is,
sal ons versigtig daarmee werk.

Die eerste vraag wat ons dus moet beantwoord:
Wie is die regverdiges?,
(van wie hier geskryf word)
Wie is die regverdiges in hierdie land?

Miskien is dit ons aanvoeling om te sê:
Die regverdiges is mos alle wetsgehoorsame burgers …
mense wat hulle belasting betaal,
mense wat gewoonlik by stopstrate stilhou,
mense wat nie omkoopgeld gebruik
om die wet te omseil nie.
Is dit die regverdiges?

Of miskien is ons aanvoeling om te sê:
Ons weet mos almal wie in Suid Afrika die regverdiges is:
Die regverdiges is blank …
en die goddeloses is swart.

Dis eenvoudige verklarings,
maar dis nie die Bybel se verklarings nie …
Dis nie sewemaal gelouterde, gesuiwerde verklarings nie.

Volgens die Bybel is net die wat voor God regverdig is,
waarlik regverdig …
Die regverdiges is die ware Godsvolk, die ware Israel.
Die ware Israel ken nie
‘n algemene universele begrip van geregtigheid nie.
Die ware Israel verlaat hom nie op die akte van menseregte nie.
Die ware Israel ken slegs God se geregtigheid.
Alles wat goed en reg is, verwag die ware Israel slegs van Hom,
van Hom aan Wie se beloftes hulle onwrikbaar vashou.

En daarom beroep die ware regverdige hom telkens …
telkens op die Here se beloftes
ook hier in die Psalms wat saam gelees het:
“U het mos belowe, HERE
U sal die ellendiges nie vergeet nie.
U is die helper van die wees.
U sal die ootmoediges se hart versterk.
U oor sal luister.
U oog sal sien.
U is die een wat bewaar …
U sal ons vir ewig bewaar …
U is die een wat opstaan …”

Mense wat so praat
mense wat so bid
mense wat hierdie woorde ken
mense wat die regverdige HERE ken,
alleen hulle … alleen hulle kan hulself regverdig noem.

Volgens Habbakuk 2 vers vier:
alleen hulle wat deur die geloof lewe,
alleen hulle is die regverdiges.
Dis die kern van ons belydenis.

Nou is daar baie wat meen
dat hulle onder die regverdiges tel …
maar nou weet ons ook
nie almal wat sê hulle glo in liewe Jesus,
is noodwendig van sy mense nie.
Hy sê dit self in die Evangelies.
Nie almal wat sê
dat hulle van Israel is nie,
is die van Israel nie …
en daarom toets die oë van die HERE die mensekinders.
Die HERE toets die regverdige.

Sy oordeel begin by sy eie volk.
Sy oordeel begin in sy eie huis
en as die volk
soos in Jeremia se tyd
as die volk slegs uiterlik uitgeroep het:
vrede … vrede …
as die volk slegs die tempeldiens uiterlik onderhou het
as die volk eintlik meer
in Rugby, Braaivleis, Sunny skies
and Chevrolet belanggestel het,
dan moet hulle nie verbaas wees
as die HERE die fondamente omkeer nie.

As die volk net daarop uit is
om homself ten alle koste te verryk,
dan moet hy nie verbaas wees
as hy eendag geteister sal word deur ‘n goddelose volk
wat hulleself ook ten alle koste wil verryk nie …
dan moet hulle nie verbaas wees
as God die wêreld aan die plunderaars oorgee nie,
dan moet hulle nie verbaas wees
as hulle in die toestand land
waar die volk in Jeremia se klaagliedere geland het nie.

Hoor die smart van die omgekeerde fondamente
in vyfde hoofstuk van die Klaagliedere:
Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan,
(so sê Jeremia)
ons huise het na uitlanders oorgegaan.
Ons water drink ons vir geld,
ons hout kom teen betaling in.
Ons vervolgers is op ons nek;
Knegte heers oor ons,
niemand ruk ons uit hulle hand weg nie.
Met lewensgevaar bring ons ons brood in
Jongmanne dra die handmeul,
en seuns struikel onder die drag hout.
Die oudstes is nie meer in die poort nie,
die jongmanne sonder hulle snarespel.
Die kroon van ons hoof het geval

Ja, Geliefdes, die HERE toets ons.
Hy toets ons deur omstandighede.
Hy toets ons deur landsomstandighede.
Hy toets ons deur die wêreldgebeure.

Miskien is daar geen vromes meer nie.
Miskien het al die opregtes verdwyn ..?.

Nee, tog nie, dit kan nie wees nie!
Daar sal altyd regverdiges wees.
Die HERE sal hulle bewaar
(so het ons mos saam gelees)
die HERE sal hulle bewaar
die HERE sal ons bewaar … vir ewig bewaar.

Maar dan kom die vraag steeds by Dawid op,
dan kom die vraag steeds by my op
en ek is seker
dit kom ook by u op:
Wat kan die ware regverdige doen
as die fondamente omgegooi is?

Ek is ‘n bedienaar van u woord in die gemeente.
Ek is ‘n getroue ouderling in u kerk.
Ek leef in ootmoed voor die almagtige God.
Ek sit nie in die kring van spotters nie …
Ek soek nie my heil in onregverdige wins nie …
Ek bewaar my mond van vloekwoorde.
Ek bedien my vrou en my kinders met die Here se Woord.
Ek verwag my Here van waar Hy sal kom
om die lewende en die dooies te oordeel.

Wat kan ek doen
as die fondamente omgekeer is …
as die goddeloses maak en breek soos hulle wil,
as die goddeloses lieg en bedrieg soos hulle wil,
as die goddeloses roof en moor soos hulle wil?

Hulle lê hulle hinderlae langs ons nasionale paaie.
Uit skuilplekke beloer en begeer hulle oë.
Hulle beloer en begeer dit
wat nie aan hulle behoort nie.
Hulle span die boog
en skiet vanuit die donker.
Hulle martel en moor en verkrag …
sonder om ‘n oog te knip.

God is volgens hulle, hulpeloos.
God kan niks onthou nie.
God het nie ‘n saak met hierdie wêreld nie.
Eintlik verag hulle God.
Eintlik sê hulle:
Daar is geen God nie.

Hulle is inderdaad goddeloos.

Wat kan ons doen
as die fondamente omgekeer is,
as dit is hoe sake staan?

Vlug?…Vlug soos ‘n voël?

Daar is baie wat die raad volg:
vlug … soos ‘n voël na ander lande …
na ander goddelose lande.
Hulle vlug na ‘n ander land met ‘n blanke regering
met die hoop om daar veilig en geborge te wees….
‘n ander land met ‘n blanke regering
‘n blanke goddelose regering
waar daar sonder om ‘n oog te knip
gehoereer en geaborteer word,
‘n ander land waar God gelaster word,
‘n ander land waar God ook misken word,
maar wat tot nou toe
nog nie so gewelddadig is,
as hier in Suidelike Afrika nie,

‘n Ander goddelose land.

Ek vra u, Broeders en Susters
hoe lank sal die oordeel in daardie lande uitbly?
Hoe lank voor die Skepper van hemel en aarde
hulle nie ook sal oorgee nie …
oorgee aan die noodwendige vergelding van hulle dwaling?

Wat sê die apostel Paulus in Romeine een?
Wat is die noodwendige vergelding van hulle dwaling,
die noodwendige vergelding van elke goddelose nasie …
ongeag ras of kleur?
Hy noem dit in Romeine 1 vers 28 en verder.
God gee hulle uiteindelik ook oor aan:
‘n slegte gesindheid
allerhande ongeregtigheid
boosheid,
hebsug
moord …
Dan word daardie gemeenskap ook haters van God
uitvinders van slegte dinge.
Dan word hulle ook geweldenaars.
U kan dit self gaan lees.
Dit staan net so daar in Romeine een.

En ons sien Romeine een se oordeel vandag uitspeel …
so duidelik uitspeel in die Westerse wêreld
Nee, op die lang duur sal hierdie uitvlug ook nie help nie.

Miskien kan ek na die woestyn toe vlug,
om daar in saam met ander enersdenkendes laer te trek?
Totdat jy agterkom
dat die enigste dink
waaroor werklik eners gedink kan word,
hierdie belydenis is.
Hierdie belydenis
wat ons vanoggend saam gedeel kan word.
Geen eenheid kan daarsonder standhou nie.

Daar is geen heil in bendevorming nie.
Ook hulle sê:
Met ons tong is ons sterk,
ons lippe is met ons!
Wie is heer oor ons?

Nee, sê Dawid in Psalm 11.
Hoe kan julle vir my sê:
Vlug … soos ‘n voël?

Maar wat dan?
Maar wat dan?
Wat kan die regverdige doen?

Die regverdige kan doen
wat alle regverdiges deur alle eeue nog gedoen het.
Hy kan doen wat ons voorouers gedoen het
nadat Dingaan se impi’s Piet Retief en sy 75 man
laat vermoor het,
nadat Dingaan sy moordenaars by Bloukrans en Weenen
op die vroue en kinders losgelaat het …
Hy kan doen wat ons voorouers gedoen het …
toe die blanke Britte van Brittanje
‘n bietjie meer as ‘n eeu gelede
op die Boererepublieke losgelaat is …
toe die blanke skuim van Brittanje
‘n bietjie meer as ‘n eeu gelede
op ons vroue en kinders losgelaat is …
en hierdie aarde ses-en-twintig duisend
vroue en kinder lyke ontvang het.

Ons voorouers het hulle tot die HERE gewend.

Die regverdige wend Hom tot die Here.

By die HERE skuil ek.
Hy is Koning vir ewig.
Vir diegene van ons wat na veiligheid smag.
Hy sal ons in veiligheid stel.

Psalm elf sê:
Hy is regverdig …
Die res van die Skrif sê:
Jesus is Die Regverdige.

As Die Regverdige ken Hy die omgekeerde fondamente.
Hy wat self bo was,
was toe onder gestel.
Geweldenaars en moordenaars het bo-oor Hom getroon.
Hy is tot die hel verdoem,
maar … maar … God die Vader het Hom weer verhef …
tot aan sy regterhand verhef …
tot by sy troon in die hemel verhef .

Ek skuil by Hom …
en dit is in sy Naam
dat ek met die Vader in gebed sal worstel.
Dis wat die regverdige kan doen.
Hy kan met die Vader in gebed worstel
in die Naam van Jesus Christus.
Ons kan bid:
“Vader hierdie omgekeerde goddelose wêreld onteer u Naam!
U sien tog …
U sien alles …
U hoor die begeertes van die ootmoediges.

Ons lees u beloftes in die Skrif
en ons gryp daaraan vas” …

Die gebed van die regverdige het groot krag.
Ons leer dit uit die brief van die apostel Jakobus …
Die gebed van die regverdige het groot krag.

En ons weet dat die Here ons geleer het
om vir ons vyande te bid …
om te bid dat hierdie goddelose land tot bekering sal kom.
Ons weet
dat die Here elke uitverkore kind
wat Hy wil red,
uit hierdie krom en verdraaide geslag sal red.

Maar Geliefdes,
die Bybel leer ons ook
om die woorde van die Psalms te bid …
en dan te bid
dat die regverdige God sy regverdige oordeel
oor die goddelose sal loslaat
in ewigheid, maar ook nou …
ook nou in hierdie tyd waarin ons vandag leef.

Verbreek hulle arms, hemelse Vader!
Maak hulle vermetele monde stil!
Laat die heiden in u land vergaan
sodat geen aardse mens langer sal voortgaan
om skrik aan te jaag nie!

Reën vuur en swael op hulle, hemelse Vader …
en soos ons, u kinders, die nagmaalbeker deel …
laat hulle deel aan die beker van u gloeiende wind.

Laat u koninkryk kom,
want aan u behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Die Here is Koning vir ewig en altyd

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: