Inleidend: Die tye waarin ons lewe
Ek plaas ‘n preek van ds. Gustav Opperman, oor Romeine 1:22-25, hier onder.
Die afgelope week was daar in die media, verskeie berigte, wat wys op die tye waarin ons lewe.
Ja, dit is eintlik niks nuuts nie, sien bv. 2 Tim. 3, maar dit wys op die aanslae waaronder die ware gelowige, en die ware kerk al meer gaan lewe, soos die Here ons tye en land oorgee aan ons opstandige losbandigheid, los van Christus, en sy wil vir die mens (Ps. 2:1-3).
Die heidendom en die valse kerk verkondig aan ons, soos te lese is in die volgende nuusberigte:
“Wettig sekswerk” (Beeld, 2 November 2018)
“Daar moet gepraat word oor die wettiging van sekswerk (lees: prostitusie), want Suid-Afrikaners het verskillende sienings hieroor. Ons taak is om diegene wat argaïese sienings het (lees: die ware kerk), te oortuig oor die rigting waarin ons op pad is. Die beste manier is om daaroor te praat, het (pres.) Cyril Ramaphosa gesê.”
LGBTI-mense kan preek, trou in VGK (Beeld, 2 November 2018)
“Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se suidelike sinode verwelkom nou LGBTI-mense (lesbiese, gay, biseksuele, transgender, interseksuele en homoseksuele mense) om op die preekstoel te staan, en om in die kerk te trou”
“Die sinode het voorts ook kapsie gemaak teen die klassifikasie van poligamie as ‘heidens’. Poligamiste wat van die heidendom bekeer is, kan nie in ‘n amptelike kapasiteit in die kerk dien nie, maar word daar toegelaat. ‘Ons hanteer mense met die liefde van God,’ sê (ds. Vuyisile) Makhaya (aktuarius van die sinode)”
Studente laat klere waai vir droogtehulp (Maroela Media, 31 Oktober 2018)
“Ons probeer regtig dit vir almal so gemaklik as moontlik maak. Almal neem vrywillig deel en kan sê hoeveel hul bereid is om in die foto’s te wys. Hulle kan ook kies of hulle saam met mans, vroue of albei afgeneem wil word. Aan die einde is dit eintlik net ‘n lekker geleentheid waar almal pret kan hê en gelukkig kan wees – terwyl ons die diere help.”
Hierdie en baie ander voorbeelde van die wêreld, valse kerk en selfs ‘ons volk se mense’ (gaan lees maar gerus die kommentare by laasgenoemde artikel), wys die tye en omstandighede waarbinne die gelowige en sy gesin en gemeente lewe.
Die Here se Woord leer en waarsku ons (Romeine 12:2):
1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.
2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Ds. Herman Hoeksema se opmerking hierby is treffend:
“It is easy to brag about a life to the glory of God and a life of sanctification as if we were almost in heaven, but in truth there is much world, much flesh, to the Christian. Our body is all world. And our soul, so intimately connected with our body, is also all world, apart from the new principle of the life of Christ instilled into the soul by the Holy Spirit.
Besides, the Christian is surrounded by the forms of the world. When we open our eyes, we see nothing but world. We see nothing of the kingdom of God. If we go the way of least resistance, therefore, and don’t fight, we will do what the apostle says we must not do. We will always copy the world. We will copy the world in our dress, in our face, in our speech, in our pleasures, in everything. We may compare life in the world to people drifting on a strong current in a rowboat. They are drifting just above the falls. On this current are three kinds of people. There are people who help the current along. They row with the current, laughing, singing, and having a good time. There are also people who row desperately upstream. And there are people who let the oars rest and drift downstream.
The Word of God says to them, ‘Don’t drift downstream! Row against the stream!’ This is the text. Are you going downstream? Don’t copy the world! Don’t be conformed in your life and walk to the forms of the world! If you do conform your life to this world’s forms, you go to destruction” (Righteous By Faith Alone, pp. 578-579).
NIKS OM OOR GAY TE WEES NIE!
deur ds. Gustav Opperman
Plek en datum: Aanddiens GK Matlabas 2018/10/21
Lees: Rom 1:14-32; Efesiërs 5:22-33
Teks: Rom 1:22-25 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer — hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.
Psalms: 81:11-14; 97:1,4; 97:6,7
(Video-opname: Woorde uit sy Woning: Romeine 1:22-25)
Geliefdes,
Ek is nou ses-en-sestig jaar op hierdie aarde.
Iets het baie drasties verander in hierdie tyd.
Wat sou ek daarmee bedoel?
In die jaar 1952, toe ek gebore is,
skryf iemand ‘n brief
aan die redakteur van Time Magazine in Amerika.
In die brief stel die skrywer voor
dat dit tyd geword het
dat daar ‘n groter aanvaarding van homoseksualiteit
in die Amerikaanse samelewing sal wees.
Die redakteur se reaksie hierop is merkwaardig:
Hy het geantwoord:
This idea gives me the creeps!
Nou weet u
wat ek bedoel
as ek sê
dat iets drasties verander het.
Kan u uself indink
dat ‘n redakteur van die invloedryke Time Magazine
vandag soiets sou sê?
Ander sieninge het ook verander.
Toe ek ‘n kind was,
was dit hoofsaaklik bandiete en matrose
wat met tatoeëermerke rondgeloop het.
Vandag loop ‘n ieder en elk
met een-of-ander getekende gedrog op hulle lyf rond,
met ons geliefde sportsterre voor in die koor.
Sedert die sewentigerjare het ek begin opmerk
dat al hoe meer Westerse mans met oorringe rondloop,
iets wat tot dan hoofsaaklik tot die vroulike geslag beperk was …
Oor die toename in pornografie, egskeidings, verkragtings, pedofilie,
ensovoorts, ensovoorts, sal ek nie nou op ingaan nie.
Die erg.
Ons beleef die sterwingsproses van die Westerse beskawing
en die deksel is besig
om op die grafkelder toe te skuif
en daar is niks
om oor gay te wees nie,
niks om oor vrolik te wees nie.
Ook in ons kerke …
kerke met deure en vensters,
wyd oop deure en vensters
waardeur die winde van verandering vrylik waai,
sien ons dit.
Wanneer mans ‘n homoseksuele oriëntasie het,
is dit ‘n Godgegewe gawe …
So het die moderator van een van ons sogenaamde susterskerke,
nou die dag beweer.
Dit is in hierdie konteks
dat die Skrifgedeelte van vanaand ook in die brandpunt staan.
Maar wat dan gemaak met Romeine een,
vra die eenvoudige Bybelgelowige volk?
Inderdaad, hoe verklaar ons die skandelike hartstogte
wat hier vir ons tog so duidelik beskryf word?
En nou sit die geleerde teoloë van die kerke hulle koppe bymekaar
en skielik kry ons die mees fantastiese verklarings van die verse
wat ons vanaand gelees het;
skielik word die helder water van die Bybel
ondeursigtig troebel gemaak.
Ons sal nie vanaand op al hierdie oorlegginge ingaan nie.
Daar staan wat daar staan,
soos eenvoudige gelowiges nog altyd geglo het.
Wat ons vanaand moet doen,
is om u te wys hoekom dit daar staan
en hoe dit inpas
by die res van die apostel Paulus se argument in hierdie gedeelte.
Ons het verlede week begin met die stelling
dat die God van die Skepping
deur die mens misken word.
Dis ‘n verskriklike fout,
want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Syne is die heerlikheid tot in ewigheid …
maar die goddelose mens onderdruk hierdie waarheid.
Die mens trek die gordyne oor sy hart toe.
Die mens kom met sy eie voorstellinge
van wie en wat God is.
Hulle het ‘n ruil gemaak
en die heerlikheid van die onverganklike God verander
in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens
en van voëls en viervoetige en kruipende diere.
Dit ontlok God se toorn.
God se oordeel kom in werking.
Een van die maniere waarin dit in werking kom,
is dat God die mens oorgee.
Drie maal in ons Skrifgedeelte lees ons dit.
God het hulle oorgegee aan onreinheid
God het hulle oorgegee aan skandelike hartstogte
God het hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid.
Nou, dié van u
wat u Bybel al net so bietjie gelees het …
dié van u wat iets oor God verstaan,
sal weet
dat hierdie oorgee ‘n aller verskriklike ding is.
God se vriendelike aangesig straal vrolikheid en lig
vir alle opregte harte,
maar as Hy daardie vriendelike aangesig wegdraai …
as God begin
om anderpad te kyk,
dan is dit nie meer vrolikheid en lig nie …
dan is dit duisternis en gerig.
Dan begin dinge uit te rafel …
Soos dit ook met Israel begin uitrafel het.
In sy preek in Handelinge sewe
verwys Stefanus na die uittog uit Egipteland
en hoe die volk toe ‘n goue kalf geskep het,
‘n beeld van ‘n viervoetige dier …
hulle het in daardie dae ‘n kalf gemaak
(sê Stefanus)
en hulle het aan die afgodsbeeld ‘n offer gebring
en hulle in die werke van hulle hande verbly.
Maar God het Hom afgewend
en hulle oorgegee
om die leër van die hemel te dien (Hand 7:41,42).
Hulle het die heerlikheid van die onverganklike God verander
in die gelykvormigheid van die beeld van ’n viervoetige dier
en God het sy vriendelike aangesig weggedraai
en hulle oorgegee aan die donker okkultiese mag van die astrologie.
In die professie van Hosea, hoofstuk vier,
verwys die Here na Israel se afgodery en die gevolg daarvan …
een eenvoudige sin:
Efraim is gekoppel aan die afgode:
laat hom staan!
Laat hom maar sy gang gaan …
Laat hom maar op homself aangewese wees.
Maar nie net Israel nie,
ook die res van die wêreld.
Ons het verlede week uit Handelinge veertien aangehaal,
hoe die apostel Paulus vir die manne van Listre sê:
ons verkondig die evangelie
dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer …
Bekeer julle tot die lewende God,
die lewende God
wat die hemel en die aarde en die see
en alles wat daarin is, gemaak het.
Hy het in die tye wat verby is,
toegelaat dat al die nasies
in hulle eie weë sou wandel (Hand 14:15,16).
Dis nie so wonderlik nie, Broeders en Susters,
mense, volke, beskawings wat in hulle eie weë wandel.
Oppas mens, dat jy nie die vryheid kry
wat jy soek nie …
Oppas!
Dinge loop lelik skeef.
Die morele kompas van die samelewing wil nie meer werk nie
en die gevolge daarvan is gruwelik …
en dit word al hoe gruweliker.
God gee hulle oor aan die begeerlikhede van hulle hart.
God gee hulle oor aan hulle oriëntasies,
(om nou die hedendaagse term te gebruik).
Dit wat in hulle harte was,
die versinsels van hulle hart
wat nog die heeltyd daar was
vanaf die sondeval …
dit kom nou al hoe meer na vore.
Dit word nie meer deur God beteuel nie.
Dit word nie meer deur God in bedwang gehou nie.
En die eerste duidelike tekens van hierdie Godverlatenheid,
wat die apostel Paulus noem,
is seksuele afwykings,
afwykings van God se skeppingsorde.
Ons lees dit vroeg reeds in die boek Genesis,
hoe dit met manne van Sodom was.
In die boek Levitikus word Israel gewaarsku
teen die homoseksualiteit onder die Kanaäniete …
Die gevalle mens verander die natuurlike verkeer in dit
wat teen die natuur is.
Net soos hy beeld van die onverganklike God
met ander beelde verander is,
so word omgang tussen man en vrou
met iets anders verruil.
Kom ons gaan weer vir ‘n oomblik terug na Genesis een en twee,
want ons moet onthou,
die apostel Paulus redeneer konsekwent uit dit
wat heel aan die begin gebeur het,
die skepping …
en wat God se bedoeling daarby was.
God het die mens geskape na sy beeld;
na die beeld van God het Hy hom geskape;
(so lees ons in Genesis een)
man en vrou het Hy hulle geskape.
En God het hulle geseën,
en God het vir hulle gesê:
Wees vrugbaar en vermeerder
en vul die aarde.
Hierdie geskiedenis word in meer besonderheid
in hoofstuk twee verder beskryf …
hoe die HERE uit Adam se rib ‘n vrou gebou het
en haar toe na die mens gebring het
Toe sê die mens:
Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.
Die man sal sy vader en moeder verlaat
en sy vrou aankleef.
En hulle sal een vlees wees.
En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou,
maar hulle het hul nie geskaam nie (Gen 2:23).
Man en vrou het vrou geskape na God se beeld.
Wat beteken dit?
Hieroor, Geliefdes,
is daar al baie gepraat en geskryf,
boeke vol.
Maar kom ons volstaan by die gedagte
dat die mens as beeld van God,
iets van God afbeeld …
iets van God uitbeeld …
iets van God sigbaar maak …
sonder om daaraan gelyk te wees.
In ‘n sekere sin is ‘n standbeeld
‘n kopie van die persoon wat daarmee afgebeeld word,
maar dit is nie die persoon nie.
Net so is die mens, man en vrou, ‘n afbeelding van God,
maar dit is nie God nie.
Diegene van u wat nog die vroeër dae se radio onthou,
voor die FM uitsendings,
sal julle herinner hoe swak die klankgehalte van die musiek was
wat oor die luggolwe gekom het.
Dit was nog Elvis of wie ookal daar gesing het,
maar daar was ook gekraak en geraas daarmee saam.
Dis omdat jy na ‘n kopie van ‘n kopie geluister het.
Die oorspronklike plaat
was alreeds ‘n kopie van die ateljee-opname.
Die speel daarvan oor die kortgolf radio
skep ‘n tweede kopie,
nog swakker as die eerste een …
Hoe verder jy van die oorspronklike beweeg,
hoe meer distorsie, hoe meer verwringing is daar.
In vers 23 het ons gelees,
Hulle die heerlikheid van God verander
in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens.
Die mens is alreeds ‘n afbeelding van God …
Nou verruil die mens die heerlikheid van God
vir ‘n gelykvormigheid, met ander woorde ‘n afbeelding …
maar dis ‘n afbeelding van die afbeelding
wat alreeds daar is …
Hy verruil die oorspronklike meesterstuk vir ‘n kopie van ‘n kopie.
En hoe verder jy van die oorspronklike beweeg,
hoe meer distorsie, hoe meer verwringing,
hoe meer perversie.
Man en vrou is geskape na God se beeld,
maar nou weet die mans nie meer
wie of wat hulle is nie.
Hulle weet nie meer
of hulle ‘n man of ‘n vrou wil wees nie.
Dieselfde gebeur onder die vroue.
Paulus noem hulle eerste
hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in
dié wat teen die natuur is
In sommige vertalings word die apostel
se verbasing hieroor uitgedruk.
Selfs die vroue het die natuurlike verkeer verruil
vir wat teen die natuur is,
staan daar.
Selfs die vroue …
Selfs die vroue
wat in die meeste beskawings nog ‘n behoudende faktor was …
hulle is ook oorgegee.
Mens sou dit nie verwag nie.
Die vrou is in alle opsigte geskape
om lewe te ontvang,
om lewe voor te plant,
om lewe te voed …
maar sy weet nou nie meer wie sy is
en wat sy wil wees.
Dis nie meer die man wat sy vrou aankleef nie,
maar dit is mans en vroue
wat in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand.
Afgodery op steroïdes.
Manne het met manne skandelikheid bedrywe
en in hulleself
die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.
U weet, Geliefdes,
daar is mense wat beweer
dat die VIGS pandemie wat die wêreld getref het,
dat dit God se vergelding vir homoseksualiteit is.
Dit is nie waar nie.
Homoseksualiteit is in sigself die vergelding.
Homoseksualiteit is alreeds die mensdom se vergelding …
Die mense het weggedwaal
van die heerlikheid van die beeld van die Skeppergod …
en nou sit ons met al die verwringinge, afwykings, perversiteite,
wat jy jouself kan indink.
God het die mens oorgegee aan skandelike hartstogte …
skandelike oriëntasies …
alle soorte oriëntasies …
‘n oriëntasie vir pornografie,
‘n oriëntasie vir prostitute,
‘n oriëntasie vir die skelmpie,
‘n oriëntasie vir kinderliggame …
so kan ons aangaan …
alles onder die noemer porneia, hoerery
soos die apostel dit verder noem.
Maar, Geliefdes,
daar is nog iets anders …
Iets anders wat met hierdie oorgee verwring raak;
iets anders wat verlore raak in die see van perversie
wat ons omring …
en dit is die Christus-professie in Genesis een en twee.
Man en vrou het die mens geskape.
En God het hulle geseën,
en God het vir hulle gesê:
Wees vrugbaar en vermeerder
en vul die aarde.
En die man sal sy vrou aankleef.
En hulle sal een vlees wees.
Hierdie heilige handeling is ‘n Christus professie,
skryf die apostel Paulus aan die Efesiërs.
Dit dui op die heilige eenwording tussen Christus en sy gemeente
en daardie eenwording loop uit op ‘n heilige vreugde,
‘n onbeskryflike blydskap.
Nie die vrolikheid van die gay gemeenskap nie,
maar die blydskap
wat slegs ‘n Christus vervuldheid kan bring.
Maar meer as dit …
daardie ware Christus eenwording bring kinders voort …
kinders wat eendag die nuwe hemel en die nuwe aarde vul.
Daardie eenwording is vrugbaar,
dit vermeerder
en dit vul die aarde …
tot en met Christus se wederkoms.
So, as u eendag in ‘n kerk sit …
‘n kinderlose kerk,
‘n Gay vriendelike kerk,
met die res van die lidmate oorgegee aan grysheid,
banke vol bleek siele …
dan moet jy weet
God het hierdie kerk ook alreeds oorgegee …
oorgegee aan die muwwe grafkelder van Romeine een,
hoe verskriklik dit ookal mag klink.
Amen.
Ek wil net noem dat die gebruik van VGK in die berig nie verwar moet word met die die “Vrye Gereformeerde Kerk” wat ook afkorting VGK het nie.
Dankie Gert, maar daar behoort nie misverstand te wees nie, daar staan duidelik in die artikel:
“Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se suidelike sinode verwelkom …”