Wie mag of moet na die Here se tafel kom?
– ‘n Saak van lewe en dood –
Lees: Lukas 18:9-14
Teksvers: “o God, wees my, sondaar, genadig!” (Luk. 8:13)
Tema: HK Sondag 30, v/a 81-82 & v/a 87
Vraag 81: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?
Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes ‘n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink ‘n veroordeling oor hulleself1.
Skriffundering: 1 Korintiërs 10:19-22; 1 Korintiërs 11:28
Vraag 82: Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle Sondag: Vraag en Antwoord: en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?
Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek.
Skriffundering: Psalm 50:16; Jesaja 1:11; Jesaja 66:3; Jeremia 7:21; 1 Korintiërs 11:20; 1 Korintiërs 11:34
Vraag 87: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie.
Skriffundering: 1 Korintiërs 6:9-10; Efesiërs 5:5-6; 1 Johannes 3:14
Preekopname (GK Carletonville, 2018-11, 04):
Aflaai: Lukas 18:9-14 (regs kliek en ‘save [link] as’; of kliek op 3 kolletjies om af te laai)
Geliefde gemeente van die Here Jesus Christus,
WIE moet, wie mag na die nagmaalstafel van die Here kom?
Mag enige mens na die Here se tafel kom?
Mag iemand, wat volhard in ongeloof,
en/of goddeloos lewe, na die Here se tafel kom?
Dit is die vrae wat die Kategismus, ondersoekend hier vra,
ook vir ons tye, vir ons kerk, vir ons elkeen persoonlik.
In Ps. 24, wat ons gesing het,
vra Dawid ook die vraag, in die woorde van die beryming:
“Wie sal die Godsberg op kan gaan,
en wie sal op sy top kan staan,
omskitter deur Gods heilighede?”
Om dit anders te stel,
die vraag na wie moet en mag na die Here se tafel gaan,
ook dan vir ons einde November, is ’n vraag van lewe en dood,
dit is ’n vraag wat eintlik gaan oor jou redding, jou saligheid,
dit is ’n vraag oor die hemel en die hel,
in die woorde van antw 82 en 87,
is hierdie vraag ’n vraag oor of ek en jy, of enige mens
aan die Koninkryk van God behoort of nie.
Dit is hoe belangrik, hoe aktueel die Kategismus hier in Sondag 30 is:
WIE moet en wie mag na die Here se tafel kom?
Die ongelowige wêreld, die valse kerk, sal sê:
alle mense
enigiemand wat graag wil
gee nie om hoe daardie mens glo of lewe nie,
en of dit nou binne in die sigbare kerk,
of buite die kerk in die wêreld is nie.
Jesus het almal lief, het vir almal gesterwe, almal gaan hemel toe,
almal – ongeag hul ongeloof en hul goddelose lewe – is welkom
aan die Here se tafel, aan sy kerk, aan die koninkryk van God.
In hierdie week geliefdes, was daar ’n paar berigte, van nuusgebeure
wat dit verkondig wat die wêreld glo, saam met die valse kerke:
Die president van die land sê: mense wat argaiese idees het oor die wettiging van sekswerkers (dus prostitusie), moet oortuig word om hul siening te verander.
Hierdie mense waarna hy verwys, is o.a. die kerk van die Here, dit is gelowiges wat glo dat geslagsomgang is beperk tot die huwelik alleen, tussen ’n getroude man en vrou.
Dit moet verander, dit wat teen die 7de gebod is, moet genormaliseer word.
En natuurlik sal die kerk moet verander en sulke persone en wat dit bedryf,
aanvaar, sulke mense wat daarin volhard is welkom aan die Here se tafel,
in sy koninkryk.
Heelwat kerke aanvaar ook lidmate wat buite die eg saamwoon, aan die Here se tafel.
Nog ’n voorbeeld.
Die VGK (Verenigende Geref. Kerk), ou NG Sendingkerk, se suidelike sinode het in die week, besluit dat LGBTI-mense (lesbiese, gay, biseksuele, transgender, interseksuele en homoseksuele) almal netso welkom is in die kerk, mag trou, ampte beklee, en dus by implikasie na die Here se tafel kan kom, deel is van sy koninkryk.
Hulle het ook poligamie gewettig, dus dat vandag nog, ’n man meer as een vrou mag hê, en dit is reg so, ongeag dat Jesus die skeppingsorde herstel het, Matt. 19, van een man en een vrou.
So daar is dit geliefdes,
die heidendom, die wêreld, saam met die valse kerk leer:
– jy kan in jou sondes volhard, in ongeloof, in ’n goddelose lewe
in stryd met God se Woord, sy gebooie, SONDER OM JOU TE BEKEER
NA CHRISTUS, en nog steeds aan die Koninkryk van God behoort,
en daarom aan sy kerk, en daarom na sy tafel toe kom.
DIT geliefdes, is die tye waarin ons lewe,
niks nuuts eintlik nie, lees 2 Tim. 3 wat daarvan getuig,
maar dit gaan al meer om ons toeneem en plaasvind
In die kerke gaan hierdie verval al meer toeneem,
in ons vriendekringe, families, omgewings, gemeenskappe.
Wat leer die Skrif ons, soos saamgevat in ons belydenis,
oor WIE mag en moet na die Here se tafel toe kom,
wie dus aan sy kerk behoort, aan sy koninkryk behoort?
Antw 87 is ’n aanhaling van Ef.5:5 en 1 Kor. 6:9-10, oor wat die Skrif leer:
9 Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? 10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.
Iemand wat dus sy sonde, enige sonde, enige oortreding van God se wet
goedpraat, dit regverdig, dit nie as sonde beskou waarvoor Christus moes sterwe nie, en hom dus nie bekeer daarvan nie, 6:11,
openbaar daarmee dat sy belydenis en lewe verkeerd is,
en dat hy nie aan die koninkryk, kerk van die Here behoort nie,
en daarom nie mag aan die Here se tafel deel nie,
tensy hy hom bekeer.
Geliefdes, bekeerloosheid, selfregverdiging,
is hoe die Fariseër daar in Luk. 18 glo en redeneer.
Jesus vertel hierdie gelykenis,
met die oog op mense wat op hulself vertrou,
dus wat nie hul sondes erken en Christus se redding nodig het nie.
Hulle meen dat hul sonder Christus, sonder bekering,
sonder afsterwe van sonde, klaar regverdig en heilig is, in hulself.
Die heidendom dink so, en baie kerkmense ook.
Die Fariseër se gebed in vers 11, 12 openbaar sy verlorenheid:
Hy vergelyk hom met wie of wat?
Met ander mense, hy noem ’n paar sondes wat hy nie doen nie
en ’n paar uiterlike dinge wat hy doen, vers 12.
En hy dink daarmee – sy werke – verdien hy sy redding,
Hy het Christus nie nodig nie, hy hoef nie te bekeer nie
God se redding is vir ‘bose sondaars’ (soos die tollenaar) wat moet bekeer,
nie vir hom wat uiterlik sekere ‘goeie dinge’ doen nie.
Hierdie Fariseër is nog verlore in sy sonde, in sy
selfregverdiging, soos vers 14 openbaar.
Hy is nie die ware regverdige nie, maar gaan verlore
in sy selfregverdiging sy bekeerloosheid.
DAARTEENOOR, vind ons die tollenaar, die veragte een in sy tyd.
Waarop is sy fokus, op ander mense?
Meet hy hom aan hoe goed of sleg hy doen in terme van ander?
Dink hy hy is beter as die Fariseër?
Hoeveel werke hy kan bydra?
NEE, sy belydenis en lewe getuig van sy redding:
o God, wees MY, sondaar, genadig!
o God, dus by die Here alleen, by Jesus alleen is daar genade en redding.
my sondaar, hy bely en erkeen dat hy ’n bose sondaar is, wat verlore is en gered moet word, hy regverdig nie sy sonde soos die Fariseer nie
wees my genadig, kan nie sonder die Here se genade gered word, of lewe of bestaan nie.
Die nagmaal, die kerk, die koninkryk van God is vir sulke mense bedoel.
SIEN u hier ’n verskriklike baie belangrike saak raak geliefdes,
Kyk hoe bely ons dit daar in antw. 81, op die vraag WIE na die tafel kom:
Hulle wat vanweë hulle sondes ‘n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter.
Die Fariseër het geroem in homself, die tollenaar het ’n afkeur van homself.
Die Fariseër vertrou op sy werke, die tollenaar vertrou op God se werk in Christus, op God se genade om hom te vergewe en in sy swakhede te help.
NOU vir ons tye, geliefdes, is die groot ironie:
Dat die wêreld en die valse kerk, meen dat ons
die ware kerk en gelowiges, wat wys op God se Woord,
sy wet, en dat ons bekering nodig het van ons sondes,
dat ons daarteen moet stry, soos die belydenis sê “en die wat ook begeer … verbeter”, dat ons nou die sogenaamde fariseërs van ons tye is.
Maar nee, volgens Jesus se gelykenis in Lukas 18,
wie is die huigelaar, die Fariseër?
Dit is hy wat sy sonde goedpraat,
en meen hy hoef hom nie te bekeer daarvan nie.
Om dit heel konkreet te stel vir ons tye:
Hulle wat bv gay huwelike en verhoudings goedpraat,
dus nie bekering nodig het nie, is die fariseërs van ons tye.
En natuurlik ja, as enige ander sonde, waarmee ek of jy worstel,
as ons dit goedpraat, dit probeer regverdig, dan is ons netso skuldig.
Nee, ware gelowiges, die ware kerk, bely juis
ons sondes en swakhede ons hele lewe lank.
Ons wil graag aangespreek word, getug word.
Ons is dankbaar dat die nagmaaltafel bewaar word,
nie oopgooi word vir enigiemand nie.
Want, ek en ander moet aangespreek word,
vermaan word, dit wat antw. 82 leer,
en waaroor Sondag 31 gaan, waarna ons ‘n volgende keer kyk.
DIT IS WARE LIEFDE,
om gewys te word waar ek in belydenis/leer en-of lewe
dalk afdwaal, dat ek met die Woord bedien sal word,
om my te bemoedig op die geloofspad, al gaan dit swaar,
maar ook in liefde om op die regte pad gewys te word.
So geliefdes, WIE mag en moet na die Here se tafel kom?
Elkeen, wat weet hoe groot hul sondes en ellende is, vandag nog.
Elkeen wat weet dat hulle Jesus nodig het, vir die ewigheid, natuurlik,
maar ook vir hier en nou om vir Hom te lewe, vir ons naaste,
volgens sy gebooie in ’n volhardende dankbaarheidslewe.
(Sien HK Sondag 1)
Mag die Here ons help, vandag, oppad na die nagmaal,
om nie ons sondes te probeer regverdig nie,
onsself te probeer red nie.
MAAR mag sy Gees in ons werk om uit te roep in Jesus se Naam:
O God, o Here, wees MY sondaar, genadig!
Amen.