Preek: Is die Evangelie verkondiging en die Christelike tug ‘n eensnydende of tweesnydende swaard? (2 Sam. 7:14,15)

Is die Evangelie verkondiging en die Christelike tug

‘n eensnydende of tweesnydende swaard?

Lees: 2 Samuel 7:1-19 & 2 Korinthiërs 2:14-17

Teksverse: “14 Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders. 15 Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het.”

Tema: HK Sondag 31

Sondag: 31 – VRAAG EN ANTWOORD: 83

Vraag: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit1.

Skriffundering: 1) Matteus 16:18-19; Matteus 18:15-18

Sondag: 31 – VRAAG EN ANTWOORD: 84

Vraag: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ‘n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie11.

Skriffundering: 1) Matteus 16:19; Johannes 20:21-23

Sondag: 31 – VRAAG EN ANTWOORD: 85

Vraag: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog ‘n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys1.

Skriffundering: 1) Matteus 18:15-18; 1 Korintiërs 5:4-5; 1 Korintiërs 5:11; 2 Korintiërs 2:6-8; 2 Tessalonisense 3:14-15; 2 Johannes 10-11

Preekopname (GK Carletonville, 2018-11-18):

Aflaai: 2 Samuel 7:14,15 (regs kliek en ‘save [link] as’; of kliek op 3 kolletjies om af te laai)

Geliefde gemeente van die Here Jesus Christus,

Ons is oppad na die Here se tafel, volgende week.

Ons het nou vorige keer uit die Skrif geleer,

soos saamgevat daar in Sondag 30,

dat alleen hulle wat bekeerd is,

en aanhou ’n lewe van bekering lei, hoe langer hoe meer,

na die tafel van die Here moet kom.

Maar, hulle wat hulle nie tot God bekeer nie,

wat weier om hul sondes te bely, te laat staan, teen dit te stry,

moet nie na die Here se tafel kom nie.

Sien v/a 81, Sondag 30.

 

Om nou die Here se tafel heilig te hou

(antw. 82, die verbond nie te ontheilig en toorn van God oor ons te bring nie)

om die sondaar te help om hom te bekeer en aanhou te bekeer,

en om bo-alles, God in alles te eer,

het die Here vir sy kerk die sleutels van die Koninkryk gegee.

Daardie 2 sleutels is, soos ons bely in antw. 83:

Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.

Nou is die tragiese hartseer en werklikheid,

dat vanselfsprekend, die wêreld, die ongelowiges, onbekeerdes

aanhou om hierdie 2 sleutels te verwerp.

Selfs net die bestaan van hierdie sleutels, haat hulle, wil niks te doen hê,

met die Here, sy Woord, sy kerk, Evangelie, en die christelike tug nie.

 

Maar wat nog meer tragies is, geliefdes,

is dat daar baie in die sigbare kerk is,
(sien hierdie baie goeie artikel oor die onderskeid tussen die sigbare en onsigbare aspek van die Here se kerk)

wat sê dat hul gelowiges is, Christene is,

wat net so min wil hoor van hierdie twee sleutels.

Daarom, terwyl hul ‘sê’ dat hul kerk, Christen, gelowig is,

verwerp hul met hul volhardende dwalinge en onchristelike lewe,

beide of een van die sleutels van die Koninkryk.

Hoe vind dit plaas?

 

Die eerste sleutel, word verdraai, die Evangelie,

as TWEESNYDENDE swaard word, ’n eensnydende swaard,

menende, die evangelie word gesien as dat dit net red,

net praat van liefde, redding, verlossing, alles gaan net goed wees,

maar nie ook die waarskuwing van AS JY JOU NIE BEKEER NIE,

is daar regverdige veroordeling en straf, hierdie lewe, maar ook

en veral in die ewige lewe wat op jou wag.

Die tweesnydende aard van die verkondiging van die Evangelie,

het ons gelees daar in die heilige Skrif, 2 Kor. 2:14-17:

15 Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; 16 vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam? 

Die woord van God, die Evangelie van Jesus Christus,

is ’n aangename geur tot eer van God, vir hulle wat hul bekeer en aanhou bekeer,

maar dit is ’n reuk tot die dood, vir hulle wat volhard in hul sonde, dit goedpraat, en weier om te bekeer.

Op ’n ander plek stel Jesus dit as volg:

Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. – Joh. 3:36.

En dit is wat ons daar bely aangaande die Evangelie, wat ons moet glo,

wat ek en u aan onsself, ons kinders, gemeente, vriende, familie, en almal

moet verkondig, die TWEESNYDENDE SWAARD VAN DIE EVANGELIE:

Vraag 84: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit? Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ‘n ware geloof aanneem. (eenkant van die swaard)

Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie11.(anderkant van die swaard)

Geliefdes, wat gaan u doen met ’n sleutel, wat net oop of net toe kan sluit,

gaan dit u help om in en uit u huis te gaan?

Nee!

’n Regte sleutel is nodig, wat oop én toesluit.

’n Ware evangelie, ’n ware Woord, sluit oop én toe.

En as u lief is vir u kinders, dan sorg u dat u huis ’n sleutel het wat werk!

As ons waarlik lief is vir ons naaste, binne en buite die gemeente,

dan gebruik ons en verkondig ons ‘n sleutel wat oop en toesluit,

dit is ware liefde.

In 2 Timoteus 3 word ons geleer oor die afvallige dae,

en dan roep Paulus ons op om te bly by die ware sleutels van die hemel,

broeders kerkraad, ons in die besonder, maar almal in die amp van gelowige:

1 Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 

Ja, ’n valse evangelie wat net eenkant toe sny,

wat nie waarsku, vermaan, bestraf nie…. wys op ‘n valse kerk.

 

2) Christelike tug (v/a 85)

Geliefdes, dit bring ons juis by die ander sleutel, wat saamwerk en saamgaan

met die ware evangelie, Woordverkondiging, en dit is die Christelike tug.

As ons waarlik die evangelie glo,

as ons besef mense se sieleheil is op die spel,

as ons besef ons heiligmaking kan skade lei deur ’n valse of afgewaterde evangelie,

dan is die Christelike tug net so kosbaar en belangrik, al is dit o so MOEILIK,

so swaar om toe te pas, veral ook in ons tye…

U sien, as ons werklik van harte glo, alles wat ons bely en glo,

dan sal ons, dan moet ons dit met die Christelike tug, beskerm en bewaar,

dit koester, want dit is noodsaaklik vir ons geloof, ons groei in die geloof,

om kerk van Christus te wees, en te bly.

Wat is die kenmerke van ’n ware kerk, en by implikasie ’n ware gelowe,

sien NGB art. 29:

1 suiwer bediening van die Evangelie, die Woord (eerste sleutel)

2 suiwer bediening van die sakramente, en

3 die handhawing van die Christelike tug, (tweede sleutel)

Die liefdevolle regverdige toepassing van die Christelike tug,

soos saamgevat word in v/a 85,

beskerm juis die ware evangelie,

en dit bewaar die sakramente heilig sodat ons nie, in die woorde van antwoord 82, nie “die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek” nie.

Maar, geliefdes, die wesentlike onderliggende probleem,

met beide die verkondiging van die Evangelie, as eerste sleutel,

asook die toepassing van die Christelike tug,

IS DAT ONS GODSBESKOUING TOTAAL VERKEERD IS

DAT ONS NIE REG DINK EN GLO OOR GOD NIE,

OOR JESUS NIE,

en daarom verdraai ons die evangelie, en pas nie meer christelike tug toe nie:

– daarom word persoonlike tug en vermaning verwerp

– daarom word ouerlike tug oor kinders, die roede nie meer toegepas nie

– daarom word deur baie, die meerderheid kerkrade nie meer lidmate

onder tug geplaas nie

– daarom het ons nie meer doodstraf en streng wetgewing teen moordenaars, verkragters, diewe, ens. in ons land nie.

Hoekom nie?

Want die valse kerke, valse profete mislei baie skape, en die wêreld om te dink God oordeel nie, God straf nie, God tugtig en vermaan nie sy kinders nie.

Die valse evangelie verkondiging leer DAAR IS NET ’N HEMEL, niks anders nie.

Die ware evangelie verkondiging, leer in liefde, daar is ’n HEMEL EN ’N HEL.

En roep dan ons almal, die hele wereld op tot geloof in, en bekering na,

Jesus Christus alleen.

 

Wie God is, en hoe Hy te werk gaan, selfs met sy kinders,

wat nooit verlore sal gaan nie, het ons gelees daar in 2 Sam. 7,

Dawid wil vir die Here ’n huis bou om in te woon.

Natan sê doen voort, maar God openbaar daarna aan Natan sy wil,

dat Salomo vir die Here ’n huis sal bou, nie Dawid nie.

So terloops, sien u hier wat ’n ware profeet, ware verkondiger

van God se Woord is: om te preek, so sê die HERE, nie wat mense

wil, of voel, ervaar, ONGEAG hoe goeie bedoelings daar is nie.

Verkondig God se woord, nie mense se begeertes nie (2 Tim. 4:1-5)!

 

Maar die Here gee dan, in verse 8 en verder,

sy ewige beloftes vir die huis van Dawid,

tydelike en geestelike seëninge,

vir Salomo en hul nageslag, al die Here se uitverkorenes.

Die grootste belofte, is dat hul huis tot in ewigheid sal bestaan,

dat die Messias as die nageslag van Dawid gebore sou word,

die Messias, wie se koninklike troon tot in ewigheid is, v. 13, 16.

Hierdie Messias is Jesus wat vir al sy kinders, vir Dawid se sondes kom sterwe.

MAAR nou baie belangrik, as Dawid die sekerheid het van God se beloftes,

oor die toekoms, oor sy redding wat vir ewig vasstaan in die Messias wat kom.

Hoe lyk die lewe van Dawid, en dus elke kind binne God se genadeverbond?

Ons het dit spesifiek gelees in verse 14:

Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders. 

Daar is dit geliefdes, en dit geld vir al die Here se kinders, sy kerk deur alle eeue:

As ’n liefdevolle Vader straf, vermaan, tug die Here ons, met slae,

deur sy Woord en Gees.

In die NT lees ons in Hebr. 12:

My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. verse 5, 6

Beteken hierdie sleutel van die Christelike tug,

dat die Here se kinders verlore sou gaan, Dawid en elke uitverkorene,

omdat Hy hul bestraf, tug, kasty wanneer nodig?

Nee, nogmaals nee, natuurlik nie, want ons lees in die volgende vers:

15 Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. 

Die Christelike tug en vermaning van die Here lei die kinders van die Here tot hul verdere bekering, heiligmaking, groei in die geloof, vir ewig in sy liefde en genade (Ef.1:3-6)

Vir die ongelowige, onbekeerde, opstandige, goddelose lei dit tot hul regverdige veroordeling.

DIE TWEESNYDENDE SWAARD VAN DIE EVANGELIE EN DIE CHRISTELIKE TUG.

U weet geliefdes, en nou moet ons mooi luister,

die verwerping van die sleutels, is baie keer nie radikaal nie,

iemand wat ons slaan, Bybel opskeur, ouderlinge skiet as hul wil kom praat nie.

Dit is eintlik, deur die Satan se misleiding en sondige harte, baie meer subtiel.

Hoe?

Ek woon al minder eredienste by waar die evangelie verkondig word,

Ek stel al minder in Bybel lees belang,

luister al meer na die wêreld, valse kerke en profete volgens 2 Tim. 4:3,4.

Neem my beloftes, belydenis van geloof, huwelik, doopbeloftes al minder ernstig op.

MY EREDIENSBYWONING, MY OMGAAN MET DIE WOORD, DIE OUDERLINGE SE VERMANINGS, WYS OF OPENBAAR OPENLIK OF SUBTIEL

OF EK DIE TWEE SLEUTELS VAN DIE KONINKRYK OMHELS, OF VERWERP.

Met ons Belydenis van Geloof,

het ons belowe (veral by vraag 5)

Beloof u, terwyl die volle gemeenskap met die kerk van Christus nou vir u ontsluit word, om as ‘n lewende lid van die kerk23 die bediening van Woord en sakramente ywerig te soek24, u gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede25 en tot uitbouing van die koninkryk van God aan te wend26 en dat u u aan die Christelike vermaning en tug27 sal onderwerp28 as u in leer of lewe u misgaan?

En, hoe baie verwerp dit nie?

Wil nie die pad van bekering, versoening, vermaning, reformasie saam met die Here se gemeente stap nie, gee vinnig gemeenskap op, loop weg.

Haat die ware Evangelie en die Christelike tug,

wat eintlik vir hul ten goede is?

Laat ons daarom erns maak, in die komende week, met God se Woord, sy ware Evangelie, sy vermanings,

Ons kan ook nie sonder Christus, die twee sleutels reg verkondig en toe te pas nie, daarom soek ons versterking en hulp by Hom, om dit te doen, en aanhou te doen.

Laat ons na sy tafel kom om versterk te word deur God se liefdevolle vermaning, om op Christus te hoop, ons hele lewe lank deur, deur sy Evangelie, sy christelike tug, alles tot lof van sy Naam.

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: