Posted by: proregno | December 26, 2019

Noue ontkoming by oom Paul op die Kerkplein

Noue ontkoming by oom Paul op die Kerkplein,

en die lesse wat ons daaruit geleer het

        Oom Paul, in beter veiliger dae…

My vrou en ek het in Pretoria grootgeword, maar is sedert 2002 nie meer stadsjapies nie, maar dorpsjapies, ons woon tans in Carletonville. As deel van ons kuier in Desember by ons familie in Pretoria, besluit ons toe om die oggend van 26 Desember 2019, ‘welwillendheidsdag’, as gesin die Kerkplein te besoek, vir oom Paul te gaan hallo sê. Al my kinders, waarvan die oudste wat saam was 19 is, het nog nie vir oom Paul in ‘lewende lywe’ gesien nie, en omdat ons baie lief is vir die geskiedenis het ons gedink, op ‘welwillendheidsdag’ gaan dit baie stil wees, en kan ons gou foto’s gaan neem by oom Paul se standbeeld. Ekself was omtrent 20 jaar gelede op kerkplein, so ons het nie geweet wat om presies te verwag na soveel jaar nie, alhoewel ons natuurlik al baie gehoor het oor die algemeen, van die verval van die Jakarandastad, veral die middestad.

Oppad daarheen was klaar ‘n vreemde ervaring, ons herken nie meer enige van die strate se name nie, ons sien ook nie meer ‘Kerkstraat en Paul Krugerstraat’ nie.  In die laat 70 tot 90 jare was dit my ‘valley’ waarin ek grootgeword het, fiets gery het, selfs tot laat in die aande, alles veilig. Ons kon darem toe ons weg vind tot by die Kerkplein, wat moeilik bereikbaar is, want net busse kan nou daar ry. Ons vind wel ‘n straatjie aan die westekant waar mens verby die kerkplein kan ry. Vir iemand wat lanklaas daar was, is dit natuurlik ‘n groot skok, die vervallendheid, vuil strate, orals komberse en boemelaars wat orals rondlê en slaapplekke gemaak het. Ek ‘oortree’ die wet en besluit om, terwille van die kinders, die ‘busroete’ om die Paul Kruger standbeeld te ry, dat hul tenminste vir oom Paul kan sien.

Ek en die kinders wil graag stop iewers, en by oom Paul se standbeeld self ‘n foto gaan neem. My wyse pragtige vrou maan versigtig, ‘ek dink nie ons moet stop nie, dit lyk nie veilig nie, ons kan so uit ons Kombi na die standbeeld kyk’, sê sy. Ek moes na haar geluister het, maar ek is hardkoppig en wil graag die kinders na oom Paul se standbeeld vat, het nie verniet al die pad gekom nie. Ons stop in een van die systraatjies, binne die kerkplein, en ek en ‘n klompie van my kinders klim uit en stap na die Kruger standbeeld. My vrou besluit om met twee van die kleiner kinders in die Kombi te bly, en van binne te sluit, vir ons te wag.

Paar van my kinders voor die heining van oom Paul se standbeeld

Terwyl ons na die monument stap, sien ons eintlik hoeveel boemelaars daar oor die kerkplein verstrooi is, maar hulle is nie naby ons nie, so ons stap voort. Intussen kom daar ‘n sekuriteitsvoertuig ook aan, en ons voel heelwat veiliger. Ons neem ons fotos by oom Paul, wat, soos ons almal, agter hoë heinings moet skuil teen die vandalisme en misdaad, maar die kinders is bly dat hul oom Paul se standbeeld tenminste kon gesien het. Uiteindelik is dit ook deel van hul geskiedenis waarvoor hul lief is en van wil leer. Ons besluit om toe te stap in ‘n suidwestelike rigting om daar voor een van die mooi ou geboue nog ‘n foto te neem. Oppad daarheen, voel ek skielik baie onrustig, dit was asof ek skielik besef, maar dit is nie baie veilig hier nie, ons neem vinnig ‘n foto, en ek sê vir die kinders om moet nou vinnig by die Kombi kom, om seker te maak alles is nog reg met Mamma en die kleiner kinders.

Oppad daarheen, sien ons uit ‘n klein geboutjie aan ons linkerkant, ook ‘n paar boemelaars te voorskyn kom, hul gluur ons aan maar doen verder niks nie. Toe ons by die Kombi kom, toe lyk alles veilig …. maar skielik, terwyl ons van alle kante in die Kombi begin klim, hoor ek skielik van my bestuurderskant waar ek besig was om nog in te klim, ‘n boemelaar vinnig nader kom!

Dit het alles so vinnig gebeur, ek dink toe eers dit is dalk ‘n bedelaar wat iets gaan kom vra, maar toe hy so vinnig nader kom en allerlei geluide begin maak, het ek dadelik, sonder om twee keer te dink, so vinnig as moontlik weer uit die Kombi gespring. Op daardie oomblik het hy ‘n mes uitgepluk, maar deur die genade was ek vinnig op hom, en het hom half met die deur en my een hand weggestamp van die Kombi af, sodat hy nie by die Kombi se deur kon inkom nie. My dogter wat voor gesit het aan die passasierskant, het dadelik die deur toegetrek en toegehou, aan die anderkant by die Kombi se skuifdeur het nog twee boemelaars nader gehardloop, maar my ander dogter en een jongseun het vinnig gereageer en die deur ook vinnig toegeskuif en toegehou.

In sulke oomblikke skop die instink seker in, maar my onmiddelike gedagte was om weg van die Kombi te kom, dat hul my nie daarbinne vaspen nie. Ek het ook ruimte gesoek om hul weg van die Kombi te vat, sodat hul my sal kom probeer oorrompel, en my gesin los wat hopelik sal kan probeer plan maak om weg te kom.  Ek wou ook bietjie afstand skep tussen my en die booswigte, want, wat hulle nie geweet het nie, was dat ek in my ‘moonbag’, my pistool gehad het, en as dit daarop sou neerkom dat ek moes skiet, dit nie in die rigting van die Kombi is waar my gesin was nie.

Deur die genade van die Here, was hierdie amateur booswigte wat ons aangeval het, ek dink hul was self bietjie onseker wat sou gebeur het. Hulle het dalk gedink dat toe een van hulle my met die mes dreig, ek niks sou doen nie, en al ons geld, fone en motor net vir hul sou gee.  Sekeres sou dalk sê dit is wat ons moes gedoen het, maar soos ek genoem het, ek het op instink gereageer, en toe hy so aggresief aankom en dadelik die mes uitpluk, het ek dadelik gereageer deur hom weg te stamp en self aggresief op te tree, wat hul seker ook bietjie onkant ook gevang het. Toe ek so 10 meter van die Kombi was, het ek my vuurwapen uit my ‘moonbag’ gehaal, en toe spander die klomp, die mesman heel eerste om die hoek sonder om terug te kyk.

My seun sê na die tyd vir my, dat hy gesien het dat daar nog ‘n klomp boemelaars oppad was na ons toe om die hoek, maar toe hul die man met die mes sien hardloop, toe draai hul om en hardloop saam weg. Ek kon toe vinnig in ons Kombi klim, en ons kon toe saam wegry daar, dankbaar dat ons by oom Paul ‘n draai kon maak, maar ontsteld en hartseer oor die tye waarin ons lewe en ons bevind, dat ‘n gesin nie meer in veiligheid en rustigheid hul geskiedenis monumente kan besoek nie. Ons plan was ook om by die Uniegebou ‘n draai te maak, maar het dit toe gelos vir ‘n volgende ‘survivor’ uitstappie.

Die lesse wat ons geleer het uit die noue ontkoming

1. Ek was seker naief, om te dink dat op so stil vakansiedag dit veilig sou wees vir my en veral my gesin. Ek moes ook na my wyse vrou se raad geluister het, wat ook ‘n aanvoeling gehad het, wat ek ook toe eers later besef het. So moet mens opnuut besef, ons lewe in ‘n onveilige misdaadgesteisterde wettelose land, dit is ongelukkig die groot werklikheid. En of ons nou daarvan hou of nie, ons moet in ons lewens, of dit werkstye of vakansietye is, deeglik rekening hou met ons land se misdaadsituasie, en onsself toerus met selfverdediging, wettige wapens en allerlei veiligheidsopsies.

2. Moet ‘n mens nou glad nie meer historiese gedenkwaardighede gaan besoek waar dit onveilig is nie? Nee, ek dink nie ons moet wegkruip en onttrek nie, maar wel baie beter beplan, gaan in groter groepe, vra sekuriteitsmense om saam te gaan, of enige van Afriforum se buurtwagte om te help met die veiligheid in sulke uitstappies. Ek weet nie hoe is die veiligheid by die Voortrekkermonument, Klapperkop, Uniegebou en ander plekke nie, maar dit lyk my dit is nie meer veilig vir ons en ons gesinne om alleen te gaan nie?

3. Ek weet dit is ‘n sensitiewe kwessie, maar dalk is dit goed as oom Paul geskuif word na ‘n plek waar dit veilig is om die standbeeld te gaan besoek en werklik te kan gaan waardeer, enige voorstelle? Die belangrikste is tog die geskiedeniswaarde om daaraan te kan deel, as die spesifieke plek waar hy staan?

Deel van die heining om oom Paul te beskerm teen vandalisme

4. Nee, die gebeure gaan nie van ons bittere rassehaters maak nie, inteendeel, ons besef opnuut die sonde en sondige gevolge van die verlore mensdom, ongeag van watter ras of volk. So paar jaar terug het ek en my oudste drie dogters ook deurgeloop onder onluste oppad huistoe vanaf Pretoria na Carletonville. Ons is met klippe bestook, ruite is gebreek, maar ons was darem veilig, deur die genade van die Here. Toe ons na vandag se noue ontkoming daar wegry, toe sê ek vir my gesin: die vervalle strate van Pretoria se middestad, die verval van die kerkplein self, die onveiligheid, onvrede, misdaad, boemelaars en skelms wat orals op die kerkplein is, is alles ‘n letterlike maar ook geestelike beeld van die diepe sondige goddelose verval van ons land. Die oorblyfsels van ‘n onvolmaakte, maar tog baie beter christelike beskawing van ‘n paar dekades terug, gaan nou vinnig verby, en die donker paganisme van Afrika is besig om vinnig terug te keer. Ons land, al sy volke, van die arme boemelaar wat nou nog daar op die kerkplein lê, tot ons land se president het Jesus Christus nodig, het sy Woord nodig as die enigste antwoord op al ons krisisse, hetsy persoonlik, gesin, gemeente of in die samelewing. Mag die Here se kerk, deur die verkondiging van die Evangelie, en ‘n onderrig van sy Woord vir elke lewensterrein, weer koers gee in die krisis.

5. Laastens, dank teenoor ons hemelse Vader, wat midde die noue ontkoming en angs, tog kalmte gegee het deur sy teenwoordigheid daar. Ja, dit kon soveel erger afgeloop het, maar Hy het ons ook daar beskerm, en sou selfs erger dinge gebeur het, dan was dit ook uit sy Hand. Dit is die vertroue waarmee die gelowige ook in die nuwejaar kan ingaan, selfs al lyk dinge in ons land asof daar ‘n ‘donker toekoms’ voorlê. Die gelowiges kan aanhou arbei, lewe en werk, waar die Here ons elkeen geroep het, tot sy eer en diens van ons naaste, want ons ‘tye is in U Hand’, vir altyd, dit is ons groot en enigste Troos (Ps. 31:16).

Geseënde nuwejaar in ons Here Jesus Christus vir almal toegebid.


Responses

  1. Voortrekkermonument is nog veilig, ons gesin gaan gereeld soontoe. Klapperkop is ‘n ander probleem, mens kom nie eers by die sekuriteitshek verby om in te gaan nie maar dit kan glo met die Erfenisstigting gereel word. Die ES is by die Voortrekkermonument.


Leave a Reply to Stoffel Willemse Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Categories

%d bloggers like this: