Preek: Deut. 29:29
Die wil van God was vir ons alleen goed, in 2019, en sal ook so wees in 2020
Teks: “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.” (Deut. 29:29)
Heidelbergse Kategismus Sondag 49: Vraag 124: Wat is die derde bede?
Antwoord: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee1 om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees2, sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer3 soos die engele in die hemel4.
Skriffundering: 1) Matteus 16:24; Titus 2:11-12 2) Lukas 22:42; Romeine 12:2; Efesiërs 5:10 3) 1 Korintiërs 7:24 4) Psalm 103:20-21.
Preekopname (GK Carletonville, 2019-12-22): Die Here se wil is vir ons goed
(Nota: die audio opname is die volledige preek, die preek hier onder bevat die basiese inhoud.)
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Ons het reeds geleer om te bid volgens die onse Vader, as modelgebed:
Laat U Naam geheilig word,
Laat U Koninkryk kom,
En vanoggend leer ons,
dat U wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde.
Ons gebede is en moet doelgerig wees,
en om, beter te kan bid, te aanbid,
met die Here waarlik in gesprek te wees,
moet ons weet wat ons bid,
dit moet nie net ’n geprewel wees,
sonder denke of diepe oorweging nie.
Ons wil daarom vanoggend leer,
1 wat is dan die ‘wil van God’ waarvoor ons bid, dat dit geskied soos in die hemel, net so ook op die aarde, en
2 Baie persoonlik, ons moet leer om te bid dat ons ons eie sondige wil sal prysgee, en dat ons aan sy wil sal gehoorsaam wees, wat ‘goed’ is vir ons en alle mense.
Die sleutelwoord hier is ‘wil’.
Dit is so klein woordjie, wat beteken dit in essensie?
In die OT is die hebreeuse woord ‘ratson’ en in die NT die griekse woord ‘theloo’,
en dit beteken om te wens, te begeer dat iets plaasvind of gebeur.
In antw. 49 word God se wil dan beskryf as ‘alleen goed’,
die Here se wil is volmaak,
Rom. 12:1,2 praat van die ‘goeie en welgevallige en volmaakte wil van God’
Die feit dat God se wil volmaak is, beteken en sê dat daar ook ‘n verkeerde wil kan wees, onvolkome wil, selfs ‘n sondige wil en dit is ‘my wil’ of ‘ons wil’, die belydenis praat van ‘eie wil’ wat eintlik beteken ons wil wat in stryd is, in ontkenning van God se wil is die woorde ‘teepratery’ wys dan ook na ons sondige wil wat nie in lyn is met God se wil nie.
Maar watter wil van God is hier in ons belydenis, ter sprake ?
Laat ons dan duidelik die onderskei oor die wil van God,
- tussen God se volmaakte goeie wil, en ons sondige gebroke onvolmaakte wil, en
- raaksien dat as die Skrif praat van God se wil, dan moet ons onderskei tussen twee aspekte daarvan:
Daar is God se raadswil, of sy verborge wil.
In Deut. 29:29 word dit genoem ‘die verborge dinge’ wat God alleen weet
Dit is alles wat die Here bepaal sal plaasvind, goed of sleg, en dan ook deur die eeu laat plaasvind.
In Ef.1:11 lees ons:
11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil, 12 sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,
Hierdie verborge wil ken ons vir soverre God sekere aspekte daarvan in sy Woord vir ons openbaar (in Ef.1 gaan dit in die besonder oor sy reddingsplan in Christus), of soos wat gebeure plaasvind, en dan in die daardie gebeure, of na daardie gebeure kan ons sê:
‘God het daardie gebeure gewil’, sy wil het geskied.
‘n Voorbeeld van God se verborge wil wat wel later duidelik geword het:
Rom. 1:10 10 en altyd in my gebede smeek of ek tog nou eindelik ‘n goeie geleentheid sal vind deur die wil van God om na julle te kom; …. Rom. 15:32 32 sodat ek met blydskap deur die wil van God by julle kan kom en my saam met julle kan verkwik.
Paulus glo dit is God se (voorsienige) wil dat hy na Rome moes gaan, en later het dit dan ook gebeur, dink bv aan sy gevangenisskap later in Rome (Hand. 28).
Die ander aspek van wat God se wil is, is makliker, nl. God se bevelswil, of sy ge-openbaarde wil van wat ons moet glo en wat ons moet doen.
Dit is die hele Skrif, maar in die besonder sy direkte bevele, wette, dit wat in Deut. 29:29 genoem word ‘die geopenbaarde dinge’ wat ‘vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet’.
Hier is nog ‘n paar voorbeelde van God se bevelswil wat baie duidelik is:
Markus 3:35 35 Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.
1 Thess. 4:2-3 Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het. Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery…
Hier gaan dit oor die gebooie van die Here, in die tweede geval in die besonder oor die sewende gebod.
Nou is altwee aspekte van God se wil hier in die derde bede ter sprake,
maar veral die tweede aspek,
dat ons bid dat die Here se wil geskied in ons en ander se lewens, oor die hele aarde.
Dit beteken, soos antw. 124 dit uiteensit in navolging van die Skrif:
– dat ons ons eie-willigheid sal prysgee
– om aan sy wil gehoorsaam te wees
en dat ons dit in ‘n gesindheid sal doen van:
– geen teëspraak nie,
Die woord ‘prysgee’, beteken nie dat ons nie meer ‘n wil het nie,
dat ons stokke en blokke word, masjiene, zombies, nie.
Nee geliefdes, kyk wat staan in die laaste sin van die antw. 124,
sodat ……. ‘elkeen sy amp en berope netso gewillig en getrou kan uitvoer soos die engele in die hemel.
In die hemel is daar nie teëpratery teen die Here en sy wil nie, maar gehoorsaamheid, onderwerping aan God se wil.
So, ons gedagtes, denke, wil, begeertes, ens. moet agter God se geopenbaarde wil aandink, en dit begeer, hoe langer hoe meer in ons lewens.
Ons moet begeer, ons moet wil wat Hy wil ons moet haat wat Hy haat, Ps. 97:10.
Ons glo dat die mens weer reg kan wil, die goeie kan wil,
maar alleen as hy deur die Gees van God gebore word.
Dit is die Here wat deur sy Gees die mens se wil ombuig,
om weer reg te glo, begeer en te doen.
Kyk hoe stel Paulus dit in Filp.2:12,13
“Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
Omdat God wil, en sy wil is nie net ‘n moontlike begeerte nie, dit sal geskied, daarom kan ons wil om te werk … na sy goeie wil.
Maar, nou ‘n baie belangrike saak om raak te sien in antwoord 124.
En as ons dit nie konkreet deur die geloof bely en glo nie,
dan gaan ons altyd sukkel om God se raadswil of bevelswil te aanvaar,
en daarvoor te bid!
Dit is nie net goed om my eie (sondige) wil prys te gee nie (sien die bekeringslewe wat ons bely daar in Sondag 33, wat ook geld vir ons hele lewe, en ook ons denke), maar om te besef en dit waarlik te glo dat dit goed is om ‘aan u wil wat alleen goed is, sonder enige teepratery gehoorsaam te wees’
Ons moet weet geliefdes, dat wat die Here in sy raadswil oor ons lewenspad bring,
vir ons goed is en vir onsten goede meewerk,
ons moet weet en glo dat sy bevelswil vir ons goed is,
en dat dit goed is om volgens sy geopenbaarde wil te lewe,
in dankbaarheid.
Ons leer oor die goeie bevelswil van God:
Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. … 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. (Rom. 7:12; 12:2)
En ons leer aangaande God se raadswil, sy verborge wil oor my lewe:
28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. (Rom. 8:28)
Aangaande God se ‘verborge wil’ sy ‘raadswil’, moet dit dan ook verstaan word as God se ‘voorsienige wil’ en kan ‘n mens maar net weer luister na die trooswoorde van ons belydenis, in navolging van die Heilige Skrif, in Sondag 9 en 10, wat vir ons pragtig saamvat, luister opnuut aanbiddend aandagtig na hierdie troosvolle woorde:
Sondag 10 – VRAAG EN ANTWOORD: 27
Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God1 waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer2 dat lower en gras, reën en droogte, 3 vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, 4 rykdom en armoede5 en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom. 6
Sondag:10 – VRAAG EN ANTWOORD: 28
Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou? Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig1 en in voorspoed dankbaar2 kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader3 kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie4, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie5.
Dit is ons troos vir 2019, en sal dit ook wees in 2020.
Laastens, ja broer en suster, dit is nie altyd maklik nie.
Die aanslae van die Satan, wêreld, oorblyfsels van die sonde,
wil dat ons ons nie onderwerp aan God se raadswil/verborge dinge of
veral aan sy geopenbaarde dinge/bevelswil nie.
Ons vyande (sien v/a 127) wil dat ons bitterlik raak, haatlik, bande afruk, ons eie (sondige) wil volg…. veral as dit begin swaar gaan, wanneer die Here se wil anders geskied as wat ek verwag of gehoop het….
Dat ons nie in sy verborge wil berus of meer sy bevelswil wil onderhou nie?
Of, is dit nie maar ook so dat ons dalk sy bevelswil aanvaar,
maar ons worstel met sy wil as Hy besluit dat ek moet swaarkry,
moet ly, siek word, droogte, armoede, ‘n geliefde van my weggeneem word …
hoe dikwels antwoord ons in tye van teëspoed, nie juis met … ongeduld nie ?
en in tye van voorspoed met … ondankbaarheid …vergeet van Hom, lees nie meer Bybel nie, woon nie meer die eredienste getrou by nie, maak my los van ander gelowiges, ens.?
En ja, baiemaal worstel ons, struikel ons so dikwels om sy duidelike geopenbaarde wil te doen, ons en ons kinders, dink net aan al die gebrokke verhoudings, huwelike, gesinne, ons land en samelewing se verval, ons volk wat verward is en al meer raak?
Wat dan geliefdes, kan ons nog vir sy wil bid,
dat dit ‘alleen goed’ is?
U ken die antwoord, geliefde kind van God,
wat worstel met die Here se wil, waar ons Hoop is,
ons het dit gelees in Lukas 22,
maar hier is dit weer:
Luk. 22:41-42 41 En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as ‘n mens met ‘n klip kan gooi, en neergekniel en gebid 42 en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!
Joh. 6:38-40 38 Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. 40 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Christus het die Here se verborge wil,
sy raadswil, en sy bevelswil volkome kom uitvoer
en onderhou, Ps. 40:4 sing bo alles van Christus…. (lees)
“Net om u wil te doen soos in u Boek
– die wonderskrif wat nooit vergaan –
dit klaar van my geteken staan,
dit wil ek, HEER, van ganser harte soek.
Ek bied U hart en hande
in will’ge offerande –
al wat ek is en het;
diep in my ingewand
waar liefde=en ywer brand,
draag ek u heil’ge wet.”
En Hy het dit volkome vervul,
wat die eerste Adam, en nie een van die Here se kinders kan doen nie,
met die doel:
sodat elkeen van sy kinders nooit verlore sal gaan nie,
maar ook dat ons deur die Gees hoe langer kan bid en lewe vir God se wil.
En omdat Hy alles reg gewil het en gedoen het,
sy eie wil in sy mensheid volkome prysgegee en sonder teepratery,
en met volle vertrou God se goeie wil gewillig nagekom het,
het Hy met woord en daad bevestig, dat God se raadswil en bevelswil,
God se verborge dinge en geopenbaarde dinge is … alleen goed, vir sy kinders,
vir hulle wat in Hom glo, wat Hom liefhet.
Daarom geliefdes, moet ons bid vir onsself en vir alle mense,
om ons (sondige) wille prys te gee, en te bid,
dat sy wil sal geskied, want dit is goed en werk vir ons ten goede.
Uit onsself kan ons dit nie doen nie,
alleen in Christus, deur sy Gees en Woord kan ons.
Ja, want ons is maar baie soos sy dissipels, daar in dit tuin in Getsemane,
so swak, nietig, dat ons maar slaap, fisies of geestelik… dat ons maar swak is oor God se goeie wil.
En daarom is die lewe van gebed so nodig vir ons dankbaarheidslewe, elke dag, ook vir 2020 wat voorlê, ook die derde bede van die Onse Vader:
Om deur sy Gees en Woord, in Christus
waarlik te berus in die verborge dinge, sy raadswil wat geskied
soos in die hemel net so ook op die aarde,
maar dat ons en ons kinders, ons nageslag, in die woorde van Deut. 29:29
die geopenbaarde dinge van die Here, sy bevelswil, sy Woord, sy Wet, in die krag van die Evangelie sal omhels, ‘om te doen al die woorde van die wet’, alles tot sy eer.
Amen.
Leave a Reply