Posted by: proregno | December 25, 2019

UIT DIE GESKIEDENIS: CKE OOR TWEE DOPPERS: Oud-prof. VE d’Assonville (snr.) en oud-pres. FW de Klerk

UIT DIE GESKIEDENIS: CKE OOR TWEE DOPPERS

Oud-prof. VE d’Assonville (snr.) en oud-Pres. FW de Klerk

“Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?” (Lukas 9:25)

In die Christelike Kernensiklopedie (CKE) word as volg oor twee bekende dopper persoonlikhede geskryf, die een wat ‘n predikant en teoloog van die GKSA was, en die ander een ‘n wêreldbekende politieke leier wat ook ‘n Dopper was (beklemtonings bygevoeg):

D’ASSONVILLE, VICTOR EDOUARD
“D’ASSONVILLE, VICTOR EDOUARD (sr) (1927–) is ’n plaasseun van die Vrystaat. Sy na­skoolse akademiese studies het hy in Potchefstroom, Edinburg (Skotland) en Pietermaritzburg gedoen. Hy was predikant van ses gemeentes van die Ge­reformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) (1954–1978): Pietermaritzburg, Johannes­burg-Sentraal, Pretoria-Sunnyside, Potchef­stroom-Noord, Cachet en Noordbrug. Hy het daarna (1978–1992) as hoogleraar in die Fakulteit Teologie aan die Potchefstroomse Univer­si­teit vir CHO* en die Teologiese Skool GKSA, Potchefstroom, gedien waar hy kerkge­skie­denis, dogmageskiedenis en Bybelkunde gedoseer het.

Vir die tydperk 1986–1988 was hy rektor van die Teologiese Skool. Daarna was hy redakteur van Die Kerkblad* tot 1992. Hy is die skrywer van ’n dertigtal boeke waarvan die belangrikste handel oor John Knox* (en Calvyn*), Totius* (JD du Toit), SJ du Toit, die gereformeerde doopformulier en Bybelboeke – onder andere oor die boek Openbaring* en die Psalms*. D’Asson­ville het ’n prominente rol in die GKSA gespeel en dié kerk ses keer by buitelandse ekumeniese sinodes verteen­woor­dig, maar dit is enigins geskaad deur probleme in sy persoonlike lewe.” (Skrywer: PW Bingle, sien ook hier oor PW Bingle)

Bron: http://cke.christians.co.za/dassonville-victor-edouard/

DE KLERK, FREDERICK WILLEM (FW) 

DE KLERK, FREDERICK WILLEM (FW) (1936–) is ’n politieke leier en staatsman wie se dramatiese ommekeer in die Suid-Afrikaanse politiek reuse veranderings meegebring het. Hy het met ’n dapper maar riskante stap ’n totaal nuwe rigting aan die Suid-Afrikaanse samelewing en sosio-staatkundige toekoms gegee. Sy toespraak op 2 Februarie 1990 het onder meer die ontbanning van politieke organisasies en die vrylating van politieke gevangenes soos Nelson Mandela* meegebring. Hy het veral kans gesien vir dié kwantumsprong nadat die Oos-Europese kommunisme* onverwags oornag ineengestort het.

De Klerk het uit ’n huisgesin met ’n lang politieke betrokkenheid by die Nasionale Party en die Afrikaanse kerklike en kultuurlewe gekom (Kyk by: De Klerk, Johan­nes (Jan)*, en: De Klerk, Willem Johannes*). Hy is ’n  lidmaat van die Gerefor­meerde Kerke in Suid-Afrika* (GKSA)  en het gedurende sy amps­termyn openlik oor sy Christelike verbintenis getuig. Terwyl die GKSA een van die behoudendste gereformeerde* kerke is, was dit tot baie se verbasing dat juis ’n lidmaat van dié kerk die waagmoed van De Klerk aan die dag gelê het.

FW de Klerk het BA en LLB aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys* verwerf, waarna hy as prokureur gepraktiseer het. Hy word in 1972 volksraadslid vir Vereeniging en in 1983 leier van die destydse Transvaalse Nasionale Party, en is toe algemeen beskou as ’n konserwatiewe politikus. In 1989 het hy hoofleier van die party geword en kort daarna staatspresident.

Dramatiese aankondigings het ’n inge­wik­kelde proses van onderhandelings en werwing van steun by die blanke kiesers­kor­ps ingelui. De Klerk se voorwaarde was dat die African National Congress (ANC) en alle ander groepe wat aan die beoogde onderhandelingsproses wou deelneem, eers van gewapende verset moes afsien en hulle ge­wapende magte moes ontbind. Ná lang huiwering het die ANC hiertoe ingestem. Andersyds was die verwagting by die ANC die oorhandiging van politieke mag aan hulle. Die veelparty-onderhandelingsproses by Kempton­park (Kodesa) het uiteindelik tot die aanvaarding van ’n tussentydse Grondwet gelei. In die verkiesing van 1994 het die Nasionale Party en sy vennote tog genoeg stemme vero­wer om seggenskap in ’n regering van nasionale eenheid te verkry. Die Grondwet is in 1996 gefinaliseer. In dieselfde jaar het De Klerk en sy party uit die regering van nasionale eenheid getree.

De Klerk het hom hierna aan die politiek onttrek en sy aandag veral aan sy stigting vir vrede en ontwikkeling, en die handhawing van die beginsels van die Grondwet, gewy.

Vir hulle bereidheid om ’n politieke skikking deur onderhandeling te bereik, het De Klerk en Nelson Mandela gesamentlik die Nobelprys vir Vrede ontvang.

FW de Klerk se rol om ’n totaal nuwe – en regverdiger – Suid-Afrika te help skep, kan moeilik oorskat word, hoewel kritiek op sommige van sy besluite en optredes in sy tyd as staatshoof en daarná geregverdig is. In Februarie 2015, ’n kwarteeu ná 2 Februarie 1990, is ter herinnering aan dié waterskeidende gebeurtenis die Tafelbaai-boulevard in Kaapstad (die eerste deel van die N1 wat na die Noorde lei) hernoem na die FW de Klerk-boulevard.” (Skrywers: PH Kapp, Frits Gaum)

Bron: http://cke.christians.co.za/de-klerk-frederick-willem-fw/

Opmerkings:

Insiggewend dat by oud. prof VE d’Assonville daar vermeld word van die ‘probleme in sy persoonlike lewe’ wat hom ‘geskaad’ het. Ek ken nie die detail van die probleme nie, maar weet wel dat prof. d’Assonville het die 7de gebod oortree in ‘n verhouding met ‘n ander vrou, die saak is kerklik vertroulik hanteer en ter wille van die heiligheid van die amp is hy afgesit uit die amp. Hy het sy sonde erken en bely, sy vrou het hom vergewe, en hul huwelik gaan deur die genade van die Here voort, vandag nog. ‘n Psalm 51 geval van sonde én genade, vir ons almal tot waarskuwing én troos, 1 Kor. 10:11-13.

In oud-pres. FW de Klerk se geval, word die ‘probleme in sy persoonlike lewe’ nie vermeld nie, maar wel dat “De Klerk en Nelson Mandela gesamentlik die Nobelprys vir Vrede ontvang” het, en dat ‘n bekende pad na hom vernoem is. Elders word sy politieke heldedade as ‘dopper president’ as volg beskryf:

“De Klerk het verskeie pryse en eerbewyse ontvang vir sy inisiatiewe wat die nuwe bedeling in Suid-Afrika bewerkstellig het, onder meer die belangrikste, die Nobelvredesprys (saam met oudpres. Nelson Mandela) in Desember 1993. Hy was ook ’n tyd lank kanselier van die PUK en het in 1990 ’n eredoktorsgraad van sy alma mater ontvang.”

FW de Klerk het egter ook die sewende gebod oortree deur ‘n buite-egtelike verhouding, maar in sy geval, het hy sy vrou, Marike gelos vir ‘n ander vrou (FW en Marike was vanaf 1969 getroud), en is die nuwe paartjie saam as nuwe SA helde voorgehou, onder die seënende hand van een van sy dopper predikante (FW en sy ander vrou is in 1998 getroud). Hoe die egbreek saak van FW de Klerk in detail behandel is deur sy kerkraad en die kerkverband, weet ek nie, maar dit lyk my in sy geval was daar ander reëls wat hom nie in die kerk en politiek ‘geskaad’ het nie , volgens wat mens lees in die Dopperdagboek:

Dr. Pieter Bingle, De Klerk se predikant in GK Kaapstad sedert 1978, het hom op 7 November 1998 met Elita Georgiadis in die huwelik bevestig. Tussen dié predikant en staatsman was en is “welwillendheid, wedersydse respek vir en vertroue in mekaar”. So is dr. Bingle as vriend en pastor gevra om die prediking tydens De Klerk se inhuldiging as tweede uitvoerende staatspresident van die RSA op 20 September 1989 in die NG kerk Universiteitsoord waar te neem.“

Ek wonder wat sou Johannes die Doper gesê het oor hierdie twee sake en hoe dit hanteer is, want dit lyk vir my die eerste saak is reg hanteer in terme van KO art. 79, 80: die eer van God, heil van die sondaar, heligheid van die amp en die heiligheid van die gemeente is beskerm en bevorder. In die tweede saak lyk my is daar ‘n ander weg gevolg wat daartoe gelei het dat ‘n man wat die ‘vrou van jou verbond’ (Mal. 2:14) verlaat het en hom nie bekeer het nie, as held voorgehou en ondersteun is?

“En in daardie tyd het Herodes, die viervors, die gerug van Jesus gehoor en aan sy knegte gesê: Hierdie man is Johannes die Doper. Hy het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in hom.  Want Herodes het Johannes gevang, hom geboei en in die gevangenis gesit vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer.  Want Johannes het vir hom gesê: Dit is u nie geoorloof om haar te hê nie. (Matteus 14:1-4)

Die Dopperdagboek vermeld oor Marike de Klerk:

“Sy het twee boeke geskryf. In Marike: ’n reis deur somer en winter beskryf sy haar huwelik van 39 jaar. Later, in ’n Plek waar die son weer skyn, het sy leiding gegee aan vroue wat deur egskeiding in die gesig gestaar word. Haar gewese man het ’n hoofstuk in laasgenoemde boek wat gehandel het oor egbreuk, suksesvol laat sensor.”

Hoekom?

En dan die hartseer geval van Marike:  “Op 4 Desember 2001 is Marike in haar Kaapse woonstel vermoor. In Mei 2003 is ’n oudveiligheidswag, Luyanda Mboniswa, daaraan skuldig bevind.”

En ja, mag hierdie lewenslesse van hierdie twee doppers, ons almal tot waarskuwing wees (1 Kor. 10:11-13), dat ons opnuut besef die lewe gaan bo alles oor die eer van God en sy vrede, nie die wéreldse vrede nie (Rom. 5:1), want die Woord sê vir ons almal, watter amp en beroep ons ookal beklee in hierdie wêreld, hoe ‘groot of klein’:

“Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” (Jas. 4:4)

Ons moet die vrede van God in Christus soek wat alle verstand te bowe gaan, waar ons huwelike ook en veral mag getuig van die Here se genade in Christus, in bekering, vergifnis, trou bly, ons doop én huweliksbeloftes weer baie ernstig opneem (die huwelik is ‘n beeld van Christus se verhouding met sy kerk, Ef.5:22-33). Ongeag alles wat ons ‘in die wêreld’ kan bereik, of nie bereik nie. die hartgrondige bekering en reformasie begin in die binnekamer, dan die gesinshuis, dan die kerkhuis en dan verder op alle terreine van lewe en denke.

Om Luk. 9:25 hierbo te parafraseer vir ons almal:

“Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself, sy huwelik, sy gesin, sy gemeente verloor of skade aandoen?”

Daar is baie sake waarmee ons kerke en kerkverbande worstel, maar dalk is een van die grootstes, dalk die grootste krisis, juis die verval, deformasie, gebrokenheid van die  huwelik- en gesinslewe in ons kerke, dat daar opnuut gekyk moet word na onder andere, die verskriklike gevolge van onwettige onbybelse egskeidings en hertroues, wat so maklik en algemeen geword het, en so aanvaarbaar gemaak word … “want daar is mos ‘groter (volks)vyande’?  Ek het al hier daaroor begin skryf, oor die reformasie wat nodig is in ons huweliks-egskeiding-hertrou beskouings:

Huwelik, egskeiding en hertrou

‘n Ander gereformeerde vader het hierdie ware woorde geskryf, mag ons en ons kinders, ons kerke dit opnuut omhels, ook vir ons tye en die goeie stryd van die geloof wat ons moet stry, veral vir ons huwelike en gesinne as deel van die bekering en reformasie van ons tye:

“Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei. Anders gaan ons gewis ‘n donker toekoms tegemoet.” – Totius


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Categories

%d bloggers like this: