Jesus en die kinders: Die Kinderevangelie
deur prof. Bert Floor
[Bron: Die Heilige Doop in die Nuwe Testament, Potchefstroom: PT Publikasies, 1983, bl. 113-121. Die boek is aanlyn hier beskikbaar.]
Die Kinderevangelie
Die Nuwe Testament leer ons dat alle mense onder die heerskappy van die sonde en die dood gebore word en dat slegs diegene wat uit die Gees gebore is, die koninkryk van God mag ingaan (Joh. 3:3 e.v.). Nie deur die vleeslike geboorte nie, maar alleen deur die wedergeboorte verwerf ‘n mense die Godsryk. Die mens kan alleen deur Jesus Christus, deur die krag van sy Gees gered word.
Ons het by die bespreking van die doopbevel in Matt. 28:19 reeds gesien dat die doop as ‘n regeringsverandering beskou kan word. God bevry die mens uit die slawerny van die sonde en stel hom onder ‘n nuwe gesag, onder die gesag van Christus, wat Here, Heerskappyvoerder is onder wie hy vry is om ‘n nuwe lewe te lei. Nou het die kerk in die kinderdoop uitgespreek dat kinders ook in hierdie regeringsverandering mag deel. Net soos die volwassenes het hulle ook deel aan die ryk van God. Dat die kinders werklik hierby ingesluit is, word dikwels uit die Nuwe Testament aangetoon met ‘n beroep op die sg. Kinderevangelie (Mark. 10:13-16; vgl. Matt. 19:13-15; 18:3; Luk. 18:15-17). Die vraag is egter of hierdie beroep op die Bybel ter handhawing van die kinderdoop wel wettig is.
In die klassiek Gereformeerde Formulier om die doop aan die kinders van die gelowiges te bedien word met ‘n beroep op Mark. 10:16 die kinderdoop verdedig met die woorde: So het Christus ook sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën. Tertullianus, wat tog duidelik besware teen die kinderdoop ontwikkel het, het ‘n bepaalde verband tussen die Kinderevangelie en die kinderdoop gesien: “Inderdaad het Christus gesê: verhinder hulle nie om tot My te kom nie, maar laat hulle kom terwyl hulle opgroei, laat hulle kom, terwyl hulle leer, terwyl hulle geleer word waarheen hulle moet kom, laat hulle christene word, sodra hulle in staat is om Christus te ken” (De Baptismo, 18,5).
Calvyn noem die geskiedenis van Jesus wat die kindertjies seën, ‘n skild teen die aanvalle van die anabaptiste. In die geskiedenis van die Christelike kerk is hierdie gebeurtenis telkens met die kinderdoop in verband gebring. As argument word keer op keer genoem:
“Hoe kan ons weier om kinders te doop wanneer Jesus hulle in sy koninkryk opneem? Mag ons toesluit wanneer Jesus self oopmaak? Daar is selfs so ver gegaan om die oplegging van die hande met die doop te vergelyk. Die handoplegging sou dan soveel wees as ‘n doop sonder water” (Evander, 1938:177).
Dit is egter baie duidelik dat daar in die sg. Kinderevangelie, in die geskiedenis van Jesus wat die kindertjies seën, nie van die doop van kinders sprake is nie. Trouens, dit kan ook nie verwag word nie, aangesien hierdie gebeurtenis gedurende Jesus se aardse lewe plaasgevind het. Eers na sy opstanding, by sy hemelvaart, toe Hy alle gesag in die hemel en op die aarde van sy Vader ontvang het, het Jesus uitdruklik aan sy dissipels bevel gegee om te doop. Die doopbevel staan in die regstreekse verband met Christus se gesagsaanvaarding. As Here, as Heerskappyvoerder, stuur Hy sy leerlinge uit met die opdrag om te doop.
‘n Vingerwysing na die kinderdoop
Ons vind in die Nuwe Testament nêrens ‘n duidelike uitspraak dat kinders gedoop moet word nie. Die vraag is of so ‘n uitspraak werklik nodig is. Daar word ook nêrens in die Nuwe Testament gesê dat die rusdag nie meer op die sewende dag van die week gevier moet word nie maar op die eerste dag.
Die bewering dat die kinderdoop in ‘n later stadium in die kerkgeskiedenis deur die kerk van Rome ingevoer is, kan nie deur feite gestaaf word nie.
Daar is die bekende uitspraak van Origenes, wat van 182 tot 251 na Christus geleef het: die kerk het van die apostels die tradisie ontvang om die klein kinders te doop (Origenes, ed. Migne, col. 1047; ed. Delarue:565).
Hoewel erken moet word dat ons ook in die sg. Kinderevangelie nie ‘n regstreekse heenwysing na die doop aantref nie, bly die vraag nog staan of daar miskien nie ‘n onregstreekse verband met die doop, ja, selfs met die kinderdoop, in hierdie Skrifgedeelte aanwysbaar is nie?
Schlier is van oordeel dat daar in die Kinderevangelie ‘n duidelike vingerwysing na die kinderdoop te vinde is. Hierdie vingerwysing was volgens Schlier (1962:127) vir die Christelike kerk so duidelik dat daar van die vroegste tye af ‘n verband tussen die geskiedenis van Jesus wat die kindertjies seën, en die kinderdoop gelê is (Schlier, 1962, 127). Dit is ook verstaanbaar dat die beroep op hierdie gedeelte van die evangeliese oorlewering sterker geword het namate die kinderdoop sterker bestry is. In die vroeë kerk is eers met duidelike woorde oor die kinderdoop gepraat toe die kinderdoop nie meer ‘n vanselfsprekendheid was nie.
Wanneer ons die sinoptiese evangelies met mekaar vergelyk, moet dit ons tref dat sowel Mattheüs as Markus en Lukas die geskiedenis van Jesus wat die kindertjies seën, verbind met die verhaal van die ryk jongman wat na Jesus toe gekom het (Matt. 19:16 e.v.; Mark. 10:17 e.v; Luk. 18:18 e.v.). Hier kry ons twee geskiedenisse wat bymekaar hoort en wat telkens in die evangeliese oorlewering saamgevoeg is. Altwee geskiedenisse maak in hulle eenheid duidelik dat Jesus sy koninklike heerskappy, sy gesag, volledig wil uitoefen oor diegene wat na Hom toe gebring word (Matt. 19:13) of na Hom toe kom (Matt. 19:16). Dit kan ons kinders wees, maar dit kan ook ons besittings wees.
In die tweede plek het die Christelike kerk in die geskiedenis van Jesus wat die kindertjies seën, ook ‘n vingerwysing na die kinderdoop gesien vanweë die woord weiering wat in daardie geskiedenis gebruik word. Die kindertjies mag nie verhinder word of dit mag hulle nie geweier word om na Jesus te kom nie (Matt. 19:14). As argument word dan telkens genoem: Hoe kan ons weier om kinders te laat doop wanneer Jesus hulle in sy koninkryk opneem? Die uitdrukking verhinder hulle nie (Mark. 10:14) is beskou as ‘n tegniese term uit die liturgiese taal van die doop met verwysing na Hand. 8:36; 10:47; 11:17. Hierdie werkwoord verhinder (Gr.: kōluein) word dan in verband gebring met ‘n uitdrukking uit die doopliturgie van die vroeë kerk waarby gevra word of daar nie uit die doopliturgie van die vroeë kerk waarby gevra word of daar beletsels is om die doop te bedien nie.
Hoewel die werkwoord verhinder inderdaad in ‘n aantal dooptekste in die Nuwe Testament voorkom, is die gebruik van hierdie werkwoord in kontekste wat niks met die doop te doen het nie, so veelvuldig dat ons hier moeilik tot ‘n gevolgtrekking ten opsigte van die doop kan geraak. Die aanwending van die werkwoord verhinder is in die Nuwe Testament sterk gevarieer en ook meer op die missionêre as op die sakramentele afgestem. Die missionêre dimensie van hierdie woord kan ons herken in Luk. 9:49, waar die voortgang van die evangelie nie verhinder mag word nie. Die laaste woord van Lukas se tweede boek toon ook aan dat die verhindering daar gebruik word die verband van die verkondiging van die evangelie van die koninkryk (Hand. 28:31).
‘n Derde vingerwysing in die rigting van die kinderdoop is die verskil tussen die teks van Markus en Mattheüs aan die een kant en dié van Lukas aan die ander kant. Sowel Markus (10:13) as Mattheüs (19:13) beskryf die kinders wat deur Jesus geseën word, as paidia sonder ‘n bepalende lidwoord, terwyl Lukas (18:15) praat van babas (Gr.: brephe) saam met die bepalende lidwoord: “hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring”. Hier is dus waarskynlik sprake van kinders wat deur hulle moeders na Jesus gebring word.
By Lukas ontbreek ook die mededeling dat Jesus sy arms om die kinders geslaan en hulle geseën het (vgl. Mark. 10:16). Volgens die beskrywing van Mattheüs en Markus het Jesus die dissipels toegespreek, terwyl Lukas vertel dat Jesus hulle wat die kinders gebring het, die moeders of die ouers of ouer broers of susters toegespreek het (vgl. Luk. 18:16). Jeremias (1958:67) wil uit hierdie verskillende bewoordings saam met die beklemtoning van die lidwoord voor babas aantoon dat ons in Luk. 18 ‘n aanduiding kry van die liturgiese gebruik van hierdie Skrifgedeelte.
Om uit die gebruik van die bepaalde lidwoord voor babas by Lukas tot ‘n meer sakramenteelliturgiese oriëntasie by Lukas te konkludeer klink nie besonder geloofwaardig nie. Lukas het met hierdie lidwoord eenvoudig bedoel dat dit hier om bepaalde kinders gaan, kinders wat deur hulle ouers of moeder gebring is (vgl. Greijdanus, 1941:857). Dit is wel belangrik dat daarop gelet word dat Jesus nie maar willekeurig kinders geseën het nie. Hy seën alleen daardie kinders wat na Hom toe kom of na Hom toe gebring word. Hierin lê wel ‘n belangrike heenwysing na die kinderdoop. Die kerk doop nie somaar elke kind nie. Alleen kinders wat deur gelowige ouers gebring word, mag die sakrament van die doop ontvang.
Die koninkryk van God en die kinders
Agter die geskiedenis van Jesus wat die kindertjies seën, lê ‘n ou Joodse gebruik. In die Joodse gemeenskap was dit die gewoonte dat kinders voor hulle vaders gaan staan of leerlinge voor hulle leermeesters met die versoek dat hulle geseën word. Die vader het dan sy kinders of die rabbi het sy leerlinge die hande opgelê as ‘n simbool dat die seën oorgedra word (Strack-Billerbeck, 1922:807, 808). Markus vertel dat Jesus sy arms om die kinders geslaan het, sy hande op hulle gelê en hulle geseën het (10:16), terwyl Mattheüs skrywe dat Jesus julle die hande opgelê het (19:15).
In een van die klein Traktate wat in sommige uitgawes van die Talmud ingesluit is, die sg. Soferim (18,5; vgl. Strack-Billerbeck, 1924:138) ontvang ons inligting oor ‘n gebruik wat op die versoendag plaasgevind het. Kinders moes ook op daardie versoendag vas —klein kinders wat een jaar oud is, tot dagbreek en kinders van twaalf jaar tot die aand —waarna hulle na die oudstes, die Skrifgeleerdes, gebring is. Die rabbyne moes die kinders dan seën, hulle versterk (d.i. vermaan) en vir hulle bid, sodat die kinders kennis van die Tora en van goeie werke sou kry.
Die kinders is op die versoendag nie net gebring om geseën te word nie. Die wetgeleerdes moes die kinders ook aanraak. Die aanraking deur ‘n profeet het die Jode in daardie tyd as besonder belangrik beskou (Weber, 1979:14-18). Die aanraking, die omhelsing en die oplegging van die hande vind ons ook terug in die geskiedenis van Jesus en die kinders soos vertel deur Mattheüs (19:15) en Markus (10:16).
Hoe moet hierdie fisieke aanraking van die kinders deur Jesus beoordeel word? Calvyn (komm. op Matt. 19:14) is van oordeel dat die lê van die hande op die kinders nie ‘n ydele plegtigheid was nie. Christus het ook vir hulle gebid, en daaruit volg dat die kinders deur die Gees tot die hoop van die saligheid wedergebore is. Ridderbos (1946:60) sien in die handoplegging “een inroepen van de gunst Gods voor die kinderen” en “alzoo verzekerde Hij aan de kinderen den goddelijken heilswil”. Ons moet die daad van Jesus nie van sy woorde losmaak nie. Die verrassendste in hierdie gebeurtenis is wel die woorde wat Jesus uitgespreek het: want aan sulkes behoort die koninkryk van God (Mark. 10:14).
Die vraag is: Wat bedoel Jesus hier met sulkes? Verskillende Skrifverklaardes is van oordeel dat in die woord sulkes (Gr.: toioutōn) die gedagte van ‘n vergelyking opgesluit is, en dan sou hierdie woord beteken: hierdie kinders en hulle wat soos kinders is, diegene in wie die gesindheid van ‘n kind is (Schlatter, 1946:59). Die woord sulkes kan egter ook eenvoudig ‘n soort, ‘n klas of ‘n groep aandui (Beasley-Murray, 1979:327).
Die kinders wat na Jesus toe gebring is, hulle wat nog kinders of selfs babas is, mag ook in die koninkryk van God deel. Aan hulle behoort die koninkryk van God of, soos Mattheüs dit noem: die koninkryk van die hemele. Daar is verskil van opinie of hierdie uitspraak van Jesus op die hede dui dan wel of dit op die toekoms gemik is. Kümmel (1957:52 e.v.) en Percy (1953:35 e.v.) is van oordeel dat die kinders in die toekoms by die voleinding die ryk van God sal ingaan, terwyl Taylor (1959:423) oortuig is dat die kinders deur hulle kontak met Jesus nou reeds in die ryk van God ingegaan het.
Die uitdrukking “aan hulle behoort die koninkryk van God” kan volgens Beasley-Murray (1978:327, 328) nie beteken dat die kinders alreeds in die ryk van God is nie. Hy ag die polulêre Christelike gedagte dat kinders binne die koninkryk van God gebore word, in stryd met Jesus se onderwys van die koninkryk. Die uitspraak kan net beteken: die kinders sal eendag die koninkryk ontvang. Op grond waarvan sal hulle die ryk van God beërwe? Op grond van die feit dat hulle na Jesus toe gekom het en dat hulle die woord van die koninkryk ontvang het.
Dit is ‘n vraag of ons op hierdie wyse aan die woorde van Jesus ten volle reg laat wedervaar. Jesus het baie duidelik gesê: Aan hulle behoort die koninkryk van God. Die uitdrukking behoort (Gr.: estin) beteken: “Zij hebben deel daaraan, staan er niet buiten, zooals de discipelen schenen te oordeelen, maar behooren er toe. Hiermede is natuurlijk niet gezegd, dat kinderen later opgegroeid, zich niet tegen dat koninkrijk zouden kunnen stellen, vgl. 13:28; Matth. 8:12” (Greijdanus, 1941:858).
Veel onduidelikheid sal opgeklaar word wanneer ons let op die regte betekenis van die woord koninkryk wat hier deur Jesus gebruik word. Koninkryk (Gr.: basileia.) dui in die eerste plek die heilsryke soewereiniteit van God aan. Dit wys op die heerskappy van God. Tweedens kry ons in hierdie begrip ook die gedagte van ‘n terrein, ‘n gebied waaroor en waarin die heerskappy van God uitgeoefen word. In die derde plek sit in die woord koninkryk ook die gedagte van wat in hierdie almagsuitoefening, in hierdie magsfeer gebeur en ontvang word (Floor, 1981:21).
Wanneer Christus dus sê dat die koninkryk van God ook aan die kinders behoort wat na Hom toe gebring is, beteken dit dat hulle ook onder sy heerskappy staan, dat hulle in die heil van die Godsregering mag deel. Dit sê nog niks van die innerlike gesteldheid van die kinders nie. Nie of daar al of nie geloof in die harte van die kinders aanwesig is, is hier ter sake nie, maar dit gaan om die magswoord en die magsdaad van Jesus. Ook kinders is in sy ryk opgeneem, ook babas wat na Hom toe gebring is, mag onder sy genadeheerskappy groot word.
Hierdie gedagte is geheel en al op een lyn met die Ou Testament, waar die kinders saam met hulle ouers in die verbond met God opgeneem is. God het die verbond opgerig met Abraham en sy nageslag na hom (Gen. 17:7). Wanneer ons in gedagte hou dat die woord koninkryk soos ons dit in die Nuwe Testament lees, ‘n sterk verwantskap toon met die begrip verbond soos ons dit uit die Ou Testament ken (Floor, 1981:22, 23), sal ons insien dat hierdie gebeurtenis waarby Jesus die kinders in sy koninkryk opneem, volledig op een lyn is met die Ou Testament, waar God ook die kinders ‘n plek in sy heilige verbond gegee het. Kinders staan ook soos hulle gelowige ouers onder die genadeheerskappy van Christus. Daarom is dit vanselfsprekend en het die kerk dit van die vroegste tye af ook so gesien dat ook kinders die merk, die teken van die koninkryk mag ontvang. (Matt. 28:29).
In hierdie Godsryk mag die Koning van harte, uit liefde gedien word. Daarom moet die burgers van die ryk wedergebore word, daarom het die kinders ‘n nuwe geboorte nodig. En dit is nou juis een van die heerlike gawes van die Godsryk (Eseg. 36:25, 26; Hebr. 9:10, 11).
Dit kan nie genoeg beklemtoon word dat ons nêrens lees dat Jesus willekeurig elke kind wat binne sy bereik gekom het, geseën het nie. Hy het slegs daardie kinders omhels, geseën en met sy magtige koninkrykswoord toegespreek wat na Hom toe gekom het, wat by Hom gebring is. Die geloof van die ouers wat hulle kinders na Jesus toe gebring het, is onmisbaar.
Dit is die rede waarom die vroeë kerk in die perikoop van Jesus en die kinders ‘n heenwysing na die kinderdoop gesien het. Ons kan die kinderdoop nie regstreeks uit hierdie gedeelte van die Nuwe Testament aflei nie. Dan moet ons gebruik maak van ander gegewens wat regstreeks oor die doop handel. Hier is slegs ‘n heenwysing na die kinderdoop. Die sg. Kinderevangelie wys na die kinderdoop heen.
Deur kinders te doop voor hulle self Christus kan erken en bely, word nie die kind se geloofsbeslissing deur die kerk veronagsaam nie. Die Christelike ouers (die kerk) moet juis die kind begelei en help om tot geloof te kom. Die kind van gelowige ouers is in die verbond van God opgeneem. Die kind staan onder die koninklike heerskappy van Christus. Sy doop bevestig dit vir hom. Sy doop bevestig, beteken en verseël nie sy geloof nie. Dit is nie die bedoeling van die doop nie. Ook by die volwassene wat na sy geloofsbelydenis gedoop is, verseël sy doop nie sy geloof nie. Indien dit so sou wees, sou die doop van hulle wat nie met ‘n ware geloof na die doop gekom het nie, nie ‘n egte, ware, volle doop wees nie. Wanneer daar nie geloof in die hart is nie, sal die gedoopte nie ontvang wat hom in sy doop beloof, beteken en verseël word nie. Daarom roep die doop om geloof, sowel by volwassenes as by kinders. Die kind wat in die koninkryk van God opgeneem is, wat onder die heilryke heerskappy van Christus staan, moet wanneer hy opgroei, tot ‘n bewuste, innerlike, gelowige onderwerping aan die genadeheerskappy van Christus kom.
Deur kinders te doop erken die kerk duideliker as deur enige ander handeling dat God alleen die mens red. Immers deur die kinderdoop word die mens heeltemal sonder sy toedoen in die koninkryk van God opgeneem. Deur kinders te doop leef die gelowige ouers en leef ook die kerk wat met die doop erns maak, in die vertroue dat God Hom deur die evangelie waarmee die lewensweg van die gedoopte kind begelei word, magtig sal bewys.
In die lig hiervan moet dit ernstig betreur word dat kinders wat gedoop is, hulle weer laat doop wanneer hulle volwasse geword het. Iemand wat die herdoop soek, spreek daarmee uit dat sy vroeëre doop vir hom geen geldigheid of betekenis het nie. Die begeerte na die herdoop kom dikwels voort uit ‘n verlange na ‘n bewuste doopsbelewing. Die gevaar is dat ‘n persoonlike geloofsbelewing die grondslag vir die doop word. As begeleidingsverskynsel by die herdoop sien ons dikwels dat die herdoopte hom onbewus of bewus ‘n beter Christen ag as hulle wat aan die kinderdoop vashou (Blei, 1981:155). Gevolg van so ‘n herdoop is dat iemand hom daardeur volledig buite die gemeenskap waarin hy vroeër gedoop is, plaas.
In die lig van die feit dat die doop ‘n handeling van God is en nie maar net ‘n daad van die mens nie, is die herdoop ‘n ernstige saak. Iemand wat as kind gedoop is en hom later weer laat doop, spreek daarmee onomwonde uit dat dit wat God aan hom gedoen het, vir hom nie genoeg was nie.
Hoewel Karl Barth die kinderdoop verwerp, omdat hy dit as ‘n teregstelling sonder slagoffer beskou en hy daarom die kinderdoop as uiters bedenklik en twyfelagtig beskou, het hy daarmee die kinderdoop tog nie as ongeldig verklaar nie. Daarom het hy herdoop of oordoop steeds verwerp.
Trouens, selfs Tertullianus, wat een van die vroegste kritici teen die (praktyk van) die kinderdoop was, het nooit geëis dat gedoopte kinders later oorgedoop moet word nie.
Die Lutheraan Edmund Schlink het daarop gewys dat binne die kring van die Baptiste ‘n Nuwe Testamentikus van die formaat van George Beasley-Murray op grond van die nuwe eksegese van die doopuitsprake van die Nuwe Testament erken dat in die doop ‘n herskeppende heilsdaad van God plaasvind en dat mense wat as kinders gedoop is en daarna tot belydenis van hulle geloof gekom het, nie weer gedoop moet word as hulle tot ‘n Baptistegemeente toetree nie (vgl. König, 1971:193), tensy daar van die kant van die aansoeker ‘n sterk aandrang kom om weer gedoop te word (Beasley-Murray, 19793:393).
Herdoop of oordoop bied nie ‘n oplossing nie.
Ook ‘n sogenaamde dubbele dooppraktyk wat in die Hervormde Kerk in Frankryk sedert 1951 aanvaar is waarby die ouers self kan kies om hulle kinders te laat doop al dan nie (Blei, 1981:149), bied nie ‘n oplossing nie (vgl. Lazareth, 1982:6, 7).
Oproep aan ouers*
Wel moet ons altyd goed in gedagte hou dat dit gelowige ouers is wat hulle kinders by die doopvont mag bring. Die geloof van die ouers is van beslissende betekenis. Daarom is die opmerking van prof. J.C. Coetzee so uiters belangrik: “Waar die tug in die kerk verwaarloos word, daar word die kiem geplant vir vraagtekens agter die kinderdoop. As ouers wat leef soos heidene, tugteloos in die kerk geduld sou word en as doopouers aanvaar word, dan groei die vraagtekens rondom die doop van hulle kinders. Laat ons dan ook hierin die dwaling van die verwerping van die kinderdoop teenstaan deur in ons kerke erns te maak met die kerklike tug!” (Die Krant, 1(5):6, 13 Okt. 1982).
Die gelowige vader en moeder staan met hulle kinders onder Christus se genaderyke heerskappy. Hulle dra saam met hulle kinders die koninkryksmerk, sy merk en vaandel (NGB Art. 34).
Dit is noodsaaklik dat hulle wat gedoop word, die heerlike betekenis van hulle doop gaan verstaan. Die beroemde uitspraak van J.A. Wormser in 1853 is nog altyd waardevol: “Leer dan den natie haren doop verstaan en waardeeren, —en Kerk en Staat zijn gered!”
______________________________
* Opskrif bygevoeg
Sien ook: Laat die kindertjies na My toe kom: ‘n Gereformeerde antwoord op ‘n Baptistiese standpunt
Leave a Reply