DIE KONINGSKAP VAN CHRISTUS EN HOE ONS DAAROM VIR DIE BURGERLIKE OWERHEDE MOET BID
Preek 1: Sien Jesus Christus raak waar Hy nou is as Koning (Joh. 16:28)
Lees: Joh. 16:26-33 & Ef. 1:15-23
Teksvers: “Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader.” (Joh. 16:28)
Hoofpunte:
1. Sien Jesus Christus raak waar Hy nou is
2. Wat beteken dit vir ons waar Christus nou is.
“Soos Christus nie meer aan die kruis hang nie, maar opgestaan het so, deur die geloof hang ons nie meer aan ons sondes, vrese, angs, verlede nie. Toepassing: bly u nog by die krip van u sondes, dinge van die verlede, vasgevang nog in sondes? Hoor opnuut die evangelie: Christus het opgestaan, opgevaar, sit aan die regterhand.”
“Daarom geliefdes, sien Christus raak soos Hy nou is. Dank en loof Hom vir wat Hy as die Lam van God vir ons kom doen het, maar sien Hom raak soos Hy nou is, die Koning van die Kerk, wat alle mag in sy Hande hou.
Ons hoef en mag nie mense of die Staat wat in stryd met God se Woord optree, te vrees nie. Ons moet Hom vrees wat liggaam en siel kan oordeel, Matt. 10:28. Ons moet ons verlossing en troos by Hom soek, deur die geloof.
Moenie in u eie geloofslewe, worstelinge en vrae, stop by die krip of die kruis nie, gaan juis op grond van die krip en die kruis, verder, na die opstanding, hemelvaart en dat Christus aan die regterhand daar is vir u en my, sy kerk, en Hy kom weer.
Laat waar Koning Jesus nou is, u lewe, u denke, u lewe nou en in die toekoms bepaal.
Neem Jesus se woorde in Joh. 16 ter harte vandag en vir altyd:
“Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader. …. Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” (Joh 16:28–33) ”
Preekopname (GK Carletonville, 24 Mei 2020):
Aflaai: Johannes 16:28
______________________________________________________
Preek 2: Hoe moet ons vir die burgerlike owerheid bid? (1 Tim. 2:1,2)
Lees: 1 Tim. 1:12-2:8
Teksvers: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.” (1 Tim. 2:1,2)
Hoofpunte:
1. Die oproep en noodsaak van gebed
2. Vir wie ons moet bid?
3. Hoe moet ons vir ons president en owerheid bid?
“So geliefdes, ons moet bid vir alle mense om tot geloof te kom, ook vir ‘konings (presidente) en almal wat hooggeplaas is (alle gesagsdraers), om te buig voor Christus, en die Here sal in sy uitverkiesende genade geloof en redding skenk vir wie Hy wil. Ons moet bid vir ons president, dat hy goed en regverdig sal regeer, maar bo-alles moet ons vir sy radikale bekering bid, sodat Hy sal erken dat daar net één God is, en net één verlossing is, en net één Hoop vir SA, en dit is die ware drie-enige God, niks en niemand anders nie.
En, dat hy dan nie net in sy persoon nie, maar ook in sy ampstaak die Here se wil en wette sal soek, van toepassing op die terrein van die burgerlike owerheid, sien Ps. 2:10-12.
En dit leer Paulus vir ons baier duidelik daar, in vers 5, “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,” (1 Ti 2:5–6)
Nie net die kerk nie, maar ook ‘konings en almal wat hoogeplaas is’ moet weet daar is net een ware drie-enige God, en net een Middelaar en Verlosser, dit is Koning Jesus.
En daarom, op grond van hierdie woorde van Paulus, asook die leer van die res van die Skrif, die eerste gebod, verwerp ware gelowiges, die ware kerk die oproep deur die president of enige iemand vir alle gelowe, dus ook valse gelowe om elkeen na hul afgod te roep vir erkenning, verlossing en hoop vir ons land met al sy krisisse.
Nee, daar is net een ware drie-enige God, een Middelaar, Verlosser, vir alle mense, dus vir alle volke, alle soorte en groepe van mense en dit is Jesus Christus.
“En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand 4:12)”
Enige valse prediker, kerk of president wat meen die redding van ons land en goeie wet en orde is te vinde in godsdiensgelykheid of ‘n nuwe wereldorde, is in stryd met wat Paulus hier leer in 1 Tim. 2:1-8 en die res van die Skrif.
Die oorsaak van al die ellende van ons land, geestelike en fisiese armoede, vervalle kerke, mense wat armoede leef, misdaad, onreg, haat, moord, diefstal, en pandemies bring, is sonde, en die enigste losprys daarvoor en Redder daarvan is, in die woorde van vers 6, Jesus Christus, Hy wat sê:
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe, Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”, Joh. 14:6.
Sonder Jesus kan elke gelowige, elke kerk niks doen nie.
Sonder Christus kan geen koning, president of owerheid goed en voorspoedig regeer nie.
En daarom bid ons vir alle mense, al die Here se kinders, ons bid dat alle mense, insluitende alle volke in ons land, ook ons president, onsself opnuut sal bekeer en verootmoedig voor die Here: bekeer ons Here, dat ons ons bekeer, Klaagl. 5:20,21
En daarom gaan ons nou bid vir ons hele land, maar ook in die besonder vir ons owerheid, soos ons bely volgens die Skrif, daar in NGB art. 36 die eerste deel, dat beide die kerk, en die owerheid, elkeen op sy terrein, die Here sal dien en eer volgens sy Woord…”
Preekopname (GK Carletonville, 31 Mei 2020):
Aflaai: 1Timoteus 2:1,2