Pro Regno Radio (PRR): Episode 6
Roeping en Toekoms (deel 1)
PR Radio episode 1: Inleiding en agtergrond van PRR
PRR episode lys: PR Radio
Lees vir PRR episode 6: Matteus 5:1-20
Inhoud van Episode 6: Voorlees en bespreking van Totius (dr. JD Du Toit) se artikel, Roeping en Toekoms, deel 1
Inleiding, oorsig, ‘roeping’ en ‘kerk’
Die opname kan hier geluister word:
Aflaai: PR Radio Episode 6
Aanhalings uit die artikel:
“Die woord roeping klink soos krygsmusiek in die ore van die Gereformeerde belyer. Krygsmusiek dien om die stryder in ‘n opgewekte en strydlustige stemming te bring of om hom, as hy moeg en moedeloos is, tot vernude aanval aan te wakker. U is geroep, u is ‘n geroepene, u het ‘n roeping ontvang — dit was onder ons vaders en ook onder ons altyd die klanke waarmee hulle mekaar aangevuur het en met vrolike moed verder te gaan. Die lieflingsklank, die opbeurende geluid van die vaders was dit. Wie, wat ook maar net ‘n bietjie in die ou geskrifte lyk, kan dit betwyfel? Maar is dit ook ons s’n? Ja, ook ons s’n?”
“Vir die ware Gereformeerde is die Uitverkiesing nie alleen die enigste rotsbodem van sy ewige saligheid nie, maar ook sy aardse lewe word deur daardie alles omvattende en alles deurdringende leerstuk beheers.”
“Dit is dan ook geen wonder nie dat die woord roeping selfs by baie van ons ‘n leë klank geword het. Die prikkel en te werk is afgestomp. Die heilige krygsmusiek swyg, en wie stryder moet wees, is ‘n arme dromer. Nadruklik moet ons dus die betekenis van die roeping vooropstel en alle Gereformeerdes daaraan herinner dat dit hulle woord is. Die Pelagiaan, Remonstrant en Metodis het ‘n keuse, maar die Gereformeerde het ‘n roeping. Dit is die verskil. Wie nou volgens eie opvatting sy lewenstaak volbring, is ‘n broer van ‘n Pelagiaan, Remonstrant of Metodis. En wie in sy werk slap is, is minder as hierdie drie; hy mag van “roeping” nie spreek nie en is ‘n oneer vir die Gereformeerde naam.”
“Ons toekoms word dus deur God bepaal en is volgens die aard van die goddelike roeping. As ons in hierdie opsig met mense te rade gaan, dan soek ons die toekoms net in ons getalsterkte en in die populariteit wat ons belydenis by die groot massa geniet. So maklik word ons hierdeur ontrou aan ons roeping, en ons toekoms is aards en verbygaande in plaas van hemels en blywend. “Na die wet en die getuienis” — dit is ons roeping. En as ons volgens hierdie woord spreek, sal ons ook ‘n daeraad hê — dit is ons toekoms (vgl. Jes.8:20).”
“Die Drie Formuliere bevat Bybelse, ewige waarhede; die leer waarby ‘n mens nie alleen kan lewe nie maar ook kan sterwe — die enigste troos. Al daardie gesmaal op die Dordtse tyd is dan ook eenvoudig die openbaring van onkunde en oppervlakkigheid. 0, as daar maar onder ons daardie diepe kennis van die weë van God en daardie lewe in die siel was! Wie na Dordt wil teruggaan, moet homself terselfdertyd toeroep: sursum corda, dit is: die hart na bowe! Dit was die tyd van die martelare. Dit ken ons nie meer nie. Ons beteken so min. Wat sal die kerkgeskiedkundige later van ons kan opteken?…”
“Dit dat ons Gereformeerde waarhede soos groot brokke vaste kos in ons geestelike maag lê maar onverteer is en nie in lewensbloed en lewenskrag omgesit nie; en daarom maak ons soos een wat te veel geëet het: ons sit en slaap in plaas van te dink en te handel.
Of, om by die net gebruikte beeld te bly: ons vaders van ’59 het ‘n stukkie muur op die Dordtse fondament gebou, maar ons is so bang dat ons nie by hulle boustyl sal bly nie dat ons liewer die mure so halfklaar laat staan en nie meer een steen op die ander sit nie. Daarom roep ons om kennis, kennis, kennis, deeglike, verteerde kennis, en dan — aanpak!”
____________________________________
Bron: ‘Roeping en Toekoms’, oorgeneem uit Totius se Versamelde Werke, deel II: Die Kerk (Kaapstad: Nasionale Pers, 1977), p.363-376. Oorspronklik verskyn in die Gedenkboek der Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika, 1909, en daaruit in Afrikaans oorgesit.
Sien nog artikels van of oor Totius hier.