Posted by: proregno | August 4, 2020

Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis – Inleiding (Psalm 9)

Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis – Inleiding (Psalm 9)

Lees: Psalm 9 & Romeine 10:8-13

Teks: “Ek wil die Here loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel.” (Ps 9:2)

Psalmsing tot eer van die Here wat op Sion woon; verkondig onder die volke sy dade.” (Ps 9:12)

Tema: Inleiding op die NGB – Ware gelowiges en ware kerke bely van harte hul geloof

Preekopname (GK Carletonville, 2020-06-21, nota: die inhoud van die preek en teks hier onder stem nie altyd ooreen nie):

Psalm 9 – Inleiding op die NGB

___________________________________

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Wat doen ‘n baba as hy gebore word?

Hy begin te praat, te bely dat hy of sy lewe, begin te skree en te huil…

Dit is wat gelowiges doen, dit is wat die kerk van Christus doen, nog altyd.

Ons bely ….

Ps. 9, wat ons gesing het:

Die hart van hul wat U bely,

sal in u Naam standvastig bly.

Dié wat U soek in stil vertroue,

is by U veilig en behoue.

In Romeine 10 wat ons gelees het, hoor ons dat die vrug van redding deur Christus,

is dat ons met die mond Jesus bely, v. 9

want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Rom 10:10)

Iemand wat sê hy is ‘n gelowige maar kan of wil nie sy geloof bely nie,

of ‘n kerk wat nie hul geloof kan of wil bely nie,

is heel waarskynlik nie ‘n gelowige en ware kerk van harte nie,

want die Skrif leer dat as die geloof in ons harte posgevat het, Rom. 10:8,

dan kan dit nie anders as om uit te kom nie, vrugte te dra,

ja, in ons lewens natuurlik, maar ook in ons woorde, in ons belydenis

wat uit ons harte kom.

Psalm 9: “Ek wil die Here loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel.” (Ps 9:2)

Psalmsing tot eer van die Here wat op Sion woon; verkondig onder die volke sy dade.” (Ps 9:12)

Die woord ‘bely’ beteken:

– om na te praat of dieselfde ding te sê

– om in te stem of te erken

– om getuienis te lewer

– om in die publiek te sê wat ek glo

– om God te prys en te erken

Alle mense bely iets of iemand, wat hul in glo.

En dan is daar baie wat sal meen ‘ons het geen belydenis behalwe Christus nie’,

wat natuurlik niks anders as ….. ‘n belydenis is nie…

Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes wat wys op die noodsaak en opdrag om te bely,

elkeen afsonderlik … ek glo

maar ook saam as kerk … ons glo

Omdat gelowiges bely,

en saam die kerk van Christus vorm,

daarom het ons ook dan ‘belydenisskrifte’

‘n Belydenis is ‘n samevatting van dit wat ons glo die Bybel leer oor ‘n paar sentrale leerstukke

Gelowiges het deur die eeue die Skrifte ondersoek onder leiding van die Gees,

en vat die waarheid van die Skrif saam in ‘n paar sentrale onderwerpe.

Ons kerke, die gereformeerde kerke, het 6 amptelike belydenisskrifte:

Eerste groep van drie is die ‘algemene belydenisskrifte’ wat meeste kerke onderskryf (kyk agter in die Psalmboek):

– Apostoliese Geloofsbelydenis

– Geloofsbelydenis van Nicéa

– Geloofsbelydenis van Atanasius

Hierdie 3 belydeniskrifte handel samevattend oor wat die Skrif leer daaroor dat God Drie-enig is:

– die Vader ons Skepper

– die Seun ons Verlosser

– die HG ons Heiligmaker

So bely ons dit ook:

HK Sondag:8 – VRAAG EN ANTWOORD: 25

Vraag: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees?

Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.

Hierdie is DIE sleutelwoorde uit ons belydenis,

dit wat alles in ons belydenisskrifte staan, is omdat ons glo, bely: dit is wat die Skrif leer.

Dit wat die Skrif leer is die fondament van ons geloof, soos saamgevat in ons belydeniskrifte.

Sonder hierdie belydenis, ‘God is en het geopenbaar’, is daar geen ware Christelike geloof of kerk nie.

Dan is daar die 3 besondere belydenisskrifte, wat alle gereformeerde kerke onderskryf:

– die Nederlandse Geloofsbelydenis

– die Heidelbergse Kategismus

– die Dordtse Leerreëls

Wat is die redes waarom ons belydenisskrifte moet hê?

Ek noem 2 redes:

1 Om die waarheid te bely, wat ons glo en teenoor die dwaalleraars handhaaf wat deur die eeue die kerk aangeval het met afdwalinge en verleidinge

In Psalm 9 leer ons dat Dawid teenoor sy vyande, v. 4, die heidene v. 6, die wereld, v.9, 13, die bloedvergieters, haters, v.14, goddelose, v.17 …

die wonders van God vertel het, v. 2

Hy het van harte geglo en bely:

dat die Here en sy Naam ‘n rotsvesting en skuiling is, v. 10, 11

om die Here se dade en heerlikheid bekend te maak, v.12

vers 15, ““sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil.” (Ps 9:15)

In die eerste 4 eeue is die leer van die drie-eenheid ontken asook Christus se goddelikheid,

daarom die 3 ekumeniese belydenisskrifte.

In die 14-15de eeue is die Skrif se gesag, redding uit genade alleen, ens. aangetas,

daarom die 3 algemene belydenisskrifte.

Die ware kerk moes altyd antwoord met die waarheid weens die dwalinge

Daarom deur die eeue ook verskillende name vir kerke en kerkverbande…

Dit is ons roeping en taak as gelowiges, as ware kerke om te stry vir die ware geloof, vir waarheid (die geloof te verdedig, sien Filp. 1:7):

GELIEFDES, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (Jud 3)

Die tweede rede vir die noodsaak van belydenisskrifte:

2 Sodat ons en ons kinders in die ware leer gekatkiseer sal word,

sodat ons nageslag van harte die ware geloof kan bely en kan oordra aan die volgende geslag:

Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” (1 Tim. 6:12)

“… en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice, en wat—daarvan is ek oortuig—ook in jou is.” (2 Ti 1:5)

“…  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer heten dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus….. EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening.” (2 Ti 3:15–4:5)

Die belydenisskrifte help ons om die leer van die Bybel van geslag tot geslag oor te lewer.

Die gesag van die belydenisskrifte

Dit is menslik en feilbaar, nie onfeilbaar soos die Skrifte nie,

en kan daarom deur semper reformanda aanpas en verander word, maar dan volgens Hand. 17:11.

Hul gesag is nie in hulself nie, maar in die Skrif, die belydenis wil die Skrifte naspreek.

Ons aanvaar dit van harte ‘omdat’, nie ‘vir soverre’ dit ooreenstem met die Skrif nie.

Verskillende soorte belydenisse

– getuienisbelydenis, om die Here se Naam te bely, elke Sondag die waarheid te bely, Ps. 9:12,15

– sondebelydenis, Ps. 32:5 Ek wil aan die HERE my oortredinge bely (Ps. 32:5)

– geloofsbelydenis, 1 Tim. 6:12; 3,4

– evangelisasie en sending, die Here se Naam te verkondig

Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.  (Matt. 10:32)

Met dit as agtergrond,

Ons preek gereeld uit die HK, 52 Sondae, gaan nou die prediking ingerig volgens die NGB se artikels.

Voordat ons volgende keer gaan begin kyk na NGB artikel 1 wat die Skrif leer, moet ons kortliks iets sê oor die historiese agtergrond van die NGB, asook hoe hierdie 37 artikels wat ons bely, ingedeel word:

NGB agtergrond

– Opgestel in 1561, onthou die kerkhervorming onder leiding van Maarten Luther, het ongeveer in 1517 begin.

– tot en met die 16de eeu, was daar 2 groot kerklike tradisies en strominge:

– die westerse kerk: Rooms Katolieke Kerk

– oosterse kerk: Russies ortodoks en Grieks ortodokse kerk

– hierdie 2 groot strominge het ontstaan in 1054 en was oor die Heilige Gees

– in 1517 en daarna het daar egter ook die protestantse kerke ontstaan, wat ‘n terugkeer na die Bybel was, en hoe die vroeë kerk geglo het.

– Juis omdat die RKK afgedwaal het van God se Woord, daarom het gelowiges oral oor Europa begin terugkeer na die Bybel, terug na Christus as enigste Koning van die Kerk.

– maar, onder hierdie terugkeer, was daar groepe wat verder gegaan het as die Skrif, wat bv. die kleindoop verwerp het en die burgerlike owerheid se gesag ontken het, gemeenskaplike besit van goedere geleer het, ens en die samelewingsorde omver wou werp (anabaptiste).

– en, so was dit ook die geval in die suidelike Nederland (vandag België)

– die Spaanse koning (Philip 2), het ‘n probleem gehad met die protestantse geloof en die owerhede het gedink almal wat protestant is, is deel van die opstandige groep.

– Toe, onder leiding van Guido de Bres, ‘n nederlandse predikant (Doornik), is hierdie belydenis van ons opgestel, en aan die Roomse owerhede oorhandig.

Die doel van die belydenis was om aan die koning uiteen te sit wat die protestantse gelowiges glo.

De Bres moes self vir sy lewe vlug, en het ook later self met sy lewe geboet a.g.v. die geloof wat hy in die NGB bely het. Nie net hy nie, maar duisende ander gelowiges het met hul bloed betaal vir hierdie belydenis.

Alhoewel de Bres en ander vir hul geloof gesterf het, het hul geloof opsigself nie gesterwe nie.

Die NGB is 60 jaar later op die sinode van Dordt in Nederland as een van die gereformeerde kerke se belydenis aanvaar en is tot vandag toe een van die belydenisskrifte van ons kerke.

Waar die HK ‘n leerboek is, is die NGB meer ‘n verweergeskrif, ‘n strydgeskrif waarin ons geloof saamgevat word.

U kan saam met my deur u Psalmboek blaai, om die basiese indeling te sien van die NGB:

Die Nederlandse Geloofsbelydenis indeling:

(Voortaan afgekort met NGB; kyk agter in die Psalmboek.) Dit is deur Guido de Bres in 1561 voltooi en bevat 37 artikels. Dit handel oor die volgende leersake:

  1. oor God (artt. 1 en 2)
  2. oor die Heilige Skrif (artt. 3 – 7)
  3. oor die drie-enige God (artt. 8-11)
  4. oor die skepping en voorsienigheid (artt. 12 – 14)
  5. oor die sonde (art. 15)
  6. oor die verlossing (artt. 16-26)
  7. oor die kerk (artt. 27 – 32)
  8. oor die sakramente (artt. 33 – 35)
  9. oor die owerheid (art. 36)
  10. oor die laaste dinge (art 37).

Laastens, daar is groot aanslae van ons tye (virus, geweld, korrupsie, moord, onreg, onsekerheid, twyfel, ens), maar bo-alles aanslae van ons grootste teestanders, die Satan, sondige wêreld en die eie sondige oorblyfsels (HK v/a 127) wat die waarheid, die ongetwyfelde Christelikge geloof probeer vernietig, openlik of subtiel.

En daarom moet die ware gelowiges afsonderlik, maar ook saam as ware kerke aanhou van harte glo en … bely!

Daarom wil ons dan ook in die jaar wat voorlê, DV, leer wat ons glo volgens die Skrif, soos saamgevat in die NGB.

Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. (Heb. 13:15)

AMEN.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Categories

%d bloggers like this: