Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 1, deel 2 – Die deugde van God is ons tot troos (Job 36:26)

Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 1, deel 2

– Die deugde van God is ons tot troos (Job 36:26) –

Lees: Job 36:22-33 & Jes. 40:27-31

Teks: ““Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.” (Job 36:26)

Tema: NGB artikel 1, deel 2 (tweede sin) – Ons moet die deugde van God ken tot ons troos

Preekopname (GK Carletonville, 2020-08-09, nota: die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie):

Aflaai: NGB art. 1 deel 2 – Job 36:26 

___________________________________

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Ons het reeds geleer vanuit die eerste sin van NGB art. 1,

dat ons van harte bely dat ‘daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is, wat ons God noem”

Dit behels, het ons gesien uit Deut. 6:4 asook Mark. 12:29,  dat daar net een ware God is, uniek, die enigste, alleen God, daar is niks en niemand anders nie.

En ons noem hierdie ‘enige … wese’ … ‘God’.

God het verskillende name of titels, waarvan ek 3 van die bekendstes noem.

In ons teksgedeelte hoor ons Elihu, in sy gesprek met Job oor sy ellende,

na die naam of titel ‘God’ verwys, sien verse 22 en 26, wat ook hier vermeld word in NGB art. 1.

In die Hebreeus: el, of elhohim; in die NT: Theos

En dit wys dat God Almagtig is, die absoluut soewereine een is.

Dan is daar ‘Here’ (met klein letters, Adon in die Hebreeus en Kurios in die Grieks, en dit wys daarop dat die Here Meester, Koning, Regeerder is.

En dan is daar HERE), met hoofletters, dit is God se Verbondsnaam, sy unieke naam, wat net Hy het, Jahwe of Jehova in Hebreeus, en ook Kurios in die Grieks.

En hierdie naam beteken in wese ‘Ek is’ of ‘Ek is wat Ek is’,

In Ex. 3:14,15 lees ons dat die Here vir Moses sê ““En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die Here, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.” (Ex 3:14–15)

Sien die verbondenheid tussen die Here se Naam en sy verbond.

a) ‘Ek is’ is selfgenoegsaam, die groot ‘IS’ wat altyd daar was en sal wees, van niks en niemand afhanklik nie. Hy is heeltemal transendent (verhewe, anders)

b) Maar dit wys ook belangrik, op God se verbondstrou, sy beloftes, sy ewige goedertierenheid en ewige liefde vir sy kinders wat Hy red, en hul nooit sal laat vaar nie. Hy is dus ook heeltemal immanent (teenwoordig, ‘God met ons’).

So ons ken die Here deur sy name en titels, waarvan ons spesifiek in NGB bely dat Hy ‘God’ is, so het Hy Hom geopenbaar.

Die belydenis wil nie al sy name hier vermeld in NGB 1 nie, maar dan belangrik, tweedens moet ons ook sien dat ons die Here ken, deur sy deugde, of wat genoem kan word sy aard, eienskappe of die karaktertrekke van God.

Dit bely ons daar in die tweede sin van NGB art. 1:

Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Ons kyk kortliks na hierdie deugde of eienskappe van God (soos ons deur die temas van die NGB preek, sal hierdie en ander eienskappe van God weer aangeraak word):

1. God is ewig,

Hy het geen begin of einde nie, ons het dit daar gelees in Jes. 40:28,

Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.” (Is 40:28)

God het tyd geskape, Hy is nie daardeur beperk nie, Hy is nie tydsgebonde nie

In die NT lees ons dan van Jesus Christus ook, Hebr. 13:8“Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. (Heb 13:8)

2. God is onbegryplik

Elihu noem dit, Job 36:26,

Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.” (Job 36:26)

Ons kan God nie totaal omvat en begryp nie, ons kan hom nie met ons menslike sondige harte ten volle begryp, saamvat in ons denke nie.  Geen mens kan uit homself God uitdink en verduidelik nie.  Hy onbegryplik, geen mens kan opklim na Hom nie:

Jes. 55:8-9   8 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.  9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Dit beteken nie dat ons God glad nie kan ken nie, ons kan Hom ken, Sondag 8, HK, soverre Hy Hom geopenbaar het, en dit kan ons werklik en met sekerheid ken.

Daarom die belangrike woorde van Joh. 17:3,

En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” (Joh 17:3)

Die Seun van God is die sleutel om God te ken: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” (Joh 1:18)

En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.” (1 Jn 5:20)

3. God is onsienlik,

God is Gees, geen mens kan God sien in sy verhewenheid en grootheid en heiligheid sien … en bly lewe nie. Nie net omdat God so absoluut verhewe is nie, maar veral omdat ons as gevolg van die sonde nie voor Hom kan verskyn nie.

Ja, niemand het God ooit aanskou nie, so leer Paulus:

wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.” (1 Ti 6:16)

Daar is kere wat God iets van Hom toon aan die mens, bv. aan Moses, maar dit is net ‘n ‘goddelike aanpasing’ (teofanie) by die mens se vermoeëns om iets te kan begryp, maar dit is nie God soos Hy is in sy volmaaktheid en volkome heerlikheid en totaliteit is nie.

Joh. 4:24, “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Dus, vanselfsprekend ook geen afbeeldinge van God (en dus ook Jesus) maak nie, sien HK die tweede gebod en die verklaring daarvan by Sondag 35.

4. God is onveranderlik,

God se wese, eienskappe/deugde en raadsplan kan nie verander word nie. Hy is wat Hy is, en niks kan dit verander nie.

MAAR Hy bly onveranderlik Een—wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy.” (Job 23:13)

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Heb 13:8)

Vanuit ons menslike perspektief lyk dit of God partymaal van plan verander, bv. nie om Nineve te vernietig nie, maar in God se raad was dit alreeds deel van sy plan, om af te sien daarvan om nie sy volk of Nineve te vernietig, die mens en volke se bekering en verandering is ingesluit in God se onveranderlike raads- en reddingsplan met die wêreld.

Psalm 33:11 11 Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.

5. God is oneindig,

God kan nie beperk word tot ‘n sekere plek, tyd of ruimte nie, Hy is alomteenwoordig.

Elihu daar in Job 36:26, die Here se getal van sy jare is onnaspeurlik … oneindig…

Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!” (Ps 139:7–8)

6. Die Here is almagtig,

Die Almagtige—ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie. Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.” (Job 37:23–24)

Hy is soewerein en regeer oor alle magte en kragte.

Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” (Op 1:8)

Baiemaal word ‘n eienskap of deug ook as naam gebruik …. God is almagtig = die Almagtige (Heilige van Israel, ens.)

7 God is volkome wys,

Wysheid is om alles volgens sy raadsplan uit te werk, om alles ten goede mee te werk.

Dit beteken ook alles is reg en goed wat Hy bepaal, doen en uitvoer.

Sy raadsplan is volkome wys en goed in die uitvoering daarvan, en Hy werk alles volgens die raad van sy plan.

BY Hóm is wysheid en mag; Hý het raad en verstand.” (Job 12:13)

“… maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.” (1 Kor 1:24)

God se reddingsplan, as deel van sy raadsplan, is wysheid.

Sien ook Spr. 8, daar word die Seun van God self as Wysheid voorgestel.

8. God is regverdig,

Ons lees:

Kan ook een wat die reg haat, heers? Of durf u die Regverdige, die Geweldige, veroordeel?” (Job 34:17)

God tree volgens sy heilige karakter op, teen alle sonde en onreg en alles wat verkeerd is.

En aan die Kruis word dit die beste ge-illustreer: Hy onderhou sy regverdige wet deur ons sonde aan sy Seun te straf as die Regverdige Regter, en Hy is ons genadig en goed deur dieselfde gebeurtenis ons ons sondes te vergewe in sy Seun (Rom. 3:20-31).

Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.” (Rom. 8:33)

En dan om alles saam te vat:

9. God is goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Dit wys nie net daarop dat God goed en volkome is in Homself nie, maar veral daarop dat Hy vir ons, sy kinders, en sy skepping as geheel goed is.

Jak 1:17  17 Elke goeie gawe en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.

En Hy laat ook vir ons alles ten goede meewerk, selfs die slegte dinge in die lewe, wat daar is agv die sondeval en die sonde se gevolge, asook ons eie sonde:

Romans 8:28   28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Onthou ook wat ons gesing het in Ps. 25:4 (beryming): God is goed in al sy handel, en sy pad is enkel reg … daarom laat Hy sondaars wandel in die waarheid van sy weg … wat alles goed is, wat wys is…

Nou is dit belangrik om te sien geliefdes, dat al God se Name, titels, deugde, ens. in volkome harmonie is, daar is geen teenstrydigheid in Hom nie.

Dit is wat bedoel word met die woord ‘enkelvoudige’ geestelike wese in NGB 1:

God is volkome regverdig, volkome goed, nie net een of die ander deug nie.

Hy is 100 persent alles, elke deug, in sy volkomenheid.

Om een voorbeeld te gebruik, sien die woorde van ons HK, So. 4,

God is volkome regverdig én barmhartig, nie net die een of ander nie, albei volkom, 100 persent.

En dit het Hy aan die kruis vir ons gewys …. tot ons troos.

Toepassing:

NGB artikel 1 is nie bloot teologie, interessante ‘kop kennis’ nie!

Dit is belangrik dat ek hierdie ‘groot woorde’ ken van ons belydenis, in navolging van die Skrif.

Al ons sonde en ellende is juis omdat ons God nie meer reg ken en dien soos Hy Homself ge-openbaar het nie.

Om die waaragtige God, soos Hy Hom geopenbaar het, te ken,

is die ewige lewe, Joh. 17:3, wat kan belangriker wees as dit?

Ons moet die Here ken soos Hy Hom openbaar in die Skrif,

soos saamgevat in al sy name, eienskappe, deugde, ens.

EN hier is die eerste belangrike toepassing:

Ons moet waak daarteen om God op te deel en te kies wat ek van hou of nie, bv.

“ek glo in God van liefde, ander hou meer van God van regverdigheid, ens.”

Nee, God is volkome Een, alles of niks, die regverdige God is ‘n genadige God, en die genadige God is ‘n regverdige God.

Aanvaar en glo alles wat van Hom geopenbaar word, sien weereens die belydenis by Sondag 8 van die HK, v/a 8!

Tweedens, sien die waarskuwing en troos van die Here en wie Hy is deur al sy deugde:

– bv. dat God ewig, gees is, almagtig is, oneindig is, beteken aan die eenkant, Hy weet en sien alles, wees daarom gewaarsku:

Hebr. 4; “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Heb 4:13)

Maar dit is dan tegelykertyd ook ‘n groot troos, want die Here sal orals met ons wees, vir altyd en ewig, Hy sien die onreg wat ook teen ons gepleeg word, en die veragting van sy kerk.  Dink maar aan die trooswoorde van HK Sondag 9 en 10, hoe God se alomteenwoordige krag ‘n groot troos is vir ons.

In Jes. 40, het die Here juis sy volk in ballingskap getroos, met sy ‘eienskappe’ as’t ware:

Hoor weer wat daar staan:

– v. 27 niks verborge vir die Here nie … Hy weet van ons sonde, ellende, swaarkry…

– v. 28 Hy is ewige God … dus altyd by ons … orals

– v. 28 Hy is almagtig, word nie moeg of mat nie … sal ons altyd dra en beskerm, sien Ps. 121

En Hy help ons as die Almagtige, Hy wat wys en goed is vir altyd vir ons: v. 29-31…

En as ons die Here so leer beter ken, dan kan ons wanneer allerlei ellende ons tref, na Hom vlug,

na Hom, wat in die woorde van ons belydenis, die alleroorvloedigste fontein is van alles wat goed is.

Deur Hom, deur Christus deel ons dan ook in die ewige geluksaligheid.

Derdens, ons belydenis is niks anders as ‘n lofprysing nie, hoe meer ons die Here leer ken, sy name, sy deugde, sy dade, alles, hoe meer loof en prys ons Hom vir wie Hy is

In die woorde van Elihu daar in Job 36:26 en Ps. 25 wat ons gesing het:

God is groot, dit bring ons in dankbare verwondering!

God is goed in al sy handel en sy weg is enkel reg … daarom sal hy my en u as begenadige sonders op die regte weg lei…

En juis daarom kan ons die woorde van Paulus ook uitroep, as ons ons verwonder oor die wysheid en goedheid van God se groot en wonderlike reddingsplan en wil,

O, DIEPTE van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Ro 11:33–36)

Mag ons opnuut verwonder wees (of weer raak?) oor ons ‘enige ware God’ en van Hom leer, van sy deugde, sodat Hy ons lewens sal bepaal, in alle tye.

Geliefdes, volgende keer gaan ons dan juis leer hoe hierdie groot en goeie God Hom openbaar, en waar ons spesifiek van Hom moet leer, NGB art. 2.

Hou daarom vas, deur te glo en aan te hou bely:

Joh 17:3  3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. 

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: