Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis
artikels 3&4
Die Woord geopenbaar en bewaar (2 Petrus 1:16-21)
Lees: 2 Tim. 3:14-17 & 2 Petrus 1:16-21
Teks: “…want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petrus 1:21)
Tema: NGB artikel 3&4 – Die Woord geopenbaar en bewaar
Preekopname (GK Carletonville, 2020-09-06, nota: die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die audio preek is meer volledig):
________________________________________
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Ons het in NGB art 1 geleer van die enigste ware God, al sy eienskappe en dat Hy die alleroorvloedigste fontein is van alles wat goed is.
In art. 2 het ons geleer van hierdie goeie God wat Hom deur die natuur (skepping en onderhouding van die geskiedenis), asook die Skrif openbaar.
Art.2 eindig dat die Woord vir ons gegee is, sodat ons kan weet wat vir “hierdie lewe nodig is tot eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort” te lewe
Dus, om God reg te ken, en in saligheid te lewe,
Moet ons die Skrif reg ken.
En, as ons die Skrif reg wil ken, moet ons ook leer wat die Skrif is.
Dit bring ons by art.3-7 van ons belydenis.
In Art 3-7 bely ons ons ‘Skrifbeskouing’, wat is die Skrif en wat is dit nie.
Wat ons glo aangaande Skrif.
Vanoggend gaan ons na 3 sake kyk:
1) NGB art.3: opskrif is bloot, die “geskrewe Woord” van God, maar dit gaan eintlik daaroor dat die Bybel geinspireer is deur God, en dat Hy dit deur sy ‘besondere sorg’ op Skrif laat stel het, en deur al die eeue onderhou.
= die Woord is geopenbaar deur God en bewaar deur God.
2) In NGB art.4 bely ons die kanonieke boeke van die Skrif. Dit is nie net goed dat ons die Skrif as God se Woord ken nie, ons moet ook weet wat is God se Woord.
3) Praktiese toepassings vanuit hierdie twee artikels se lering vanuit die Skrif
1 Eerstens, dan, bely ons dat die Bybel, dit is die geskrifte van God, die heilige en Goddelike Skrif is, soos ons dit stel daar in aan die einde van artikel 3.
Dit beteken dit is ge-inspireer, deur God ingegee, uitge-asem letterlik deur God
Die woord inspirasie, kom van die Latynse woord, inspiratio, wat ingewing, inblasing, beteken. Volgens Gispen, Oosterhof en Ridderbos (1977) is dit “N.a.v. die Openbaring van God noem ons die daad van die Heilige Gees wat die Woord van God onfeilbaar aan bepaalde, daartoe geroepe mense geskenk het, sodat hulle dit in die praktyk sou beoefen, preek of opskrywe: inspirasie.”
Dit het reeds begin by Moses, wat vir ons die eerste 5 boeke gegee het:
Deut 18:18 18 ‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.
God lê die woorde in die mond van sy profete, van Moses, tot die laaste profeet, Jesus Christus
Hebr. 1:1 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun
Al die boeke, van Gen – Op is deur God ingegee, ge-inspireer, sodat ons dit die Goddelike Woord noem.
Die profete van die OT is daarom geinspireer (1 Pet.1:11), asook die apostels (Joh.14:26), van die Gees van God wat die apostels in alle waarheid sou herinner en lei.
Die bekendste en duidelikste voorbeeld is in 2 Tim.3:16 waar die Grieks theopneustos (= deur God ingeblaas) gebruik word (Gispen, Oosterhoff en Ridderbos, 1977; Friberg Lexicon, sien voetnota 1).
OAV: ‘ingegee’ DV; geinspireer
Party teoloë dink deur die eeue, ook vandag:
- Die Bybel is slegs ‘n indrukwekkende boek sonder goddelike inspirasie.
- Die Bybel is gedeeltelik geinspireer, deel van God, deels van die mens.
Maar, volgens ons belydenis, glo ons dat die Skrif self leer:
Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2Pe 1:21).
Die Bybel is tegerlykertyd goddelik en menslik, menslik in die sin dat God die heilige skrywers wat in Sy Naam gespreek het, ten volle geinspireer het.
Party mense sê vandag: ag, die woorde is nie so belangrik nie, net die algemene boodskap …
Maar, die Bybel self vereis dat woorde belangrik is vir die boodskap, en dat al die woorde van die Skrif belangrik en geinspireer is:
Hoor Jesus se woorde:
“4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke (panti: alle) woord wat deur die mond van God uitgaan.” – Mat.4
“16 Die hele (pasa) Skrif is deur God ingegee (sien voetnota 2) en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” – 2 Tim.3
Hierdie verse wys daarop dat die woorde, almal, in sy geheel die objek van inspirasie, en nie die skrywers daarvan nie.
Die anderkant, naamlik dat die skrywers wat afgesonder is om die heilige woorde van God op te skryf, dat hul ook geinspireer is, wanneer hul die woord van God neergeskryf het, kom tot uiting in 2 Petr.1:21:
21 want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” – 2 Petr.1
God het die mens, in sy volle mensheid gebruik, om sy Woord op Skrif op te stel.
Wys enige plek waar die profete gekom het, en staan ‘mense woord’ …
Nee, die valse profete het met hul eie ongeinspireerde woorde gekom !
Daarom dat 2 Pe 1:20,21 sê …. (lees)
[Bavinck (Feenstra, 1972: 17) stel dit as volg in sy Dogmatiek: “Onder die organiese inspirasie verstaan ons dat die Heilige Gees, nadat Hy die menslike bewussyn van die skrywers op allerhande maniere voorberei het deur geboorte, opvoeding, natuurlike gawes, nadenking, herinnering, ondersoek en lewensvorming, nou in, onder en by die spreke en op skrifstelling die gedagtes, woorde, taal en styl laat opkom het, wat die goddelike gedagtes op die beste wyse vir mense van allerlei stand, rang en volk kon vertolk.”]
2) Dit bring ons by wat ons bely in NGB art.4
– Daar vind ons ‘n lys van 66 boeke, 39 OT en 27 NT boeke,
Die woord kanoniek beteken letterlik ‘riet’, ‘n maatstaf waaraan alles gemeet word.
– Verduidelik woord
Vandag, is weereens mense wat meen ons kan nog kanonieke boeke kry en dan moet hul bygevoeg word.
Dit sou beteken dat ons, as mense die kanon vasstel, terwyl ons bely, dat ons die boeke, die kanon ontvang het.
In die eerste eeue, met Christus se koms is die OT boeke reeds gebruik en erken soos ons dit vandag ken:
2 Tim. 3:16 wys in die besonder na die OT
– die benamings wet, profete en geskrifte het daarna verwys, soos ons dit vind deur die hele NT.
Die NT boeke is ook deur die kerk ontvang en gebruik as Woord van God.
In 2 Pe. 3:16 verwys Petrus na Paulus se briewe as soos die ‘ander Skrifte’, dws die OT Skrifte.
Met die opkoms van ketters (Marcion), wat sekere boeke verwerp het, moes die kerk later ‘n lys maak om die waarheid te onderskryf, die vroegste iewers in die 3de of 4de eeu,
Maar ons glo ons het dit ontvang nie, geskep nie, soos ons later in NGB art.5 ook sal leer.
As ons glo die kanon kan nou nog uitgebrei word, dan is daar ‘n probleem:
Die probleem is egter, dat dit ‘n roomse argument is, waarin die persoon van die skrywer die gesaghebbende en bepalende faktor word, en nie die Heilige Gees wat die kanon aan ons geskenk het nie. Dit draai die hele ‘kanonproses’ om, so asof die kerk die kanon vasgestel het, en nie ontvang het nie. Daarteenoor bely ons dat ons die kanon ontvang het, waarteen niks ingebring kan word nie, en dat ons dit ontvang o.g.v. die interne getuienis van die Skrif self asook die Gees wat ons oortuig:
(meer daaroor by NGB art. 5)
“Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.” – NGB artikel 5
Hier kom ook die geloof in God se Voorsienigheid, naamlik dat Hy van ewigheid vir ons die kanon bepaal het (Feenstra, 1972: 26). Dit bely ons ook in NGB artikel 3:
“Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ’n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek soos die heilige Petrus sê. Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.”
Jesus se woorde in Matt. 5:17-20 is ook relevant, sy woord sal nie verbygaan nie …
Die hele wese van die kanon, naamlik dat dit ‘n maatstok, standaard en norm daarstel vir ons leer en lewe (NGB artikel 2-7), val ineen as dit sou beteken ons het nog ‘n oop kanon, waaraan bygevoeg kan word. Daarteenoor leer die Skrif duidelik:
NADAT God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.” (Hebr.1:1)
“3 GELIEFDES, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” – Judas 3
Christus is die hoeksteen van die apostels en die profete (Ef.2:20), en deur sy voorsienigheid het Hy bepaal dat nie alles wat Paulus geskryf het, in die kanon sou kom nie. So is dit ook die geval met al die OT en NT skrywers.
Dus, al sou so ‘n dokument ontdek word, sal dit ons help om die Kanon verder toe te lig, maar dit kan dit nie weerspreek nie: “Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie.” (NGB artikel 4)
Indien so ‘n boek gevind word, en dit is waarlik Paulus se geskrif, dan kan dit hoogstens moontlik by die apokriewe boeke gevoeg word (NGB artikel 6), maar nie by die geslote Kanon nie (NGB artikel 4).
Christus is ‘n volkome Verlosser wat eenmaal vir altyd vir Sy kinders se sondes gesterf het.
Netso het Hy eens en vir altyd vir ons Sy Woord gegee.
Dit is die Woord wat hier naby ons is en wat ons moet glo om gered te word. Baie geleerdes is so besig met die vorm van die Kanon, dat hul die inhoud daarvan verbygaan. Dan kom die waarskuwende en ook troosvolle woorde:
“18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” – Matt.5
“23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. 24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, 25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” – 1 Petr.1.
3) Geliefdes, Wat beteken hierdie 2 artikels ook konkreet vir ons:
1 Die Bybel is nie maar net ‘n goeie boek nie, dit is nie ‘n fabel of ‘n mite … bv. soos kersvader en evolusionisme nie, dit is werklikheid en waarheid.
2 Petrus 1:16-21 16 Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg Die Woord staan vas en seker 19 En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte..”
2 Daar kan ‘niks’, op enige iets wat dit spreek ingebring word nie. Ons glo of alles of niks!
Onthou, as jy voorste bladsy uitskeur … val die agterstes ook uit …
20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;
3 God se Woord moet deur God se Gees verklaar word:
21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.
4 Sy Gees lei ons in die waarheid, nie in mistiese openbaringe nie, soek sy Woord deur die leiding van die Gees … moenie mistieke profete, wonders, tekens en stemmetjies soek nie.
5 Die OT en NT is albei gelyk en volkome die Woord van God, nie net die een of ander nie (belofte en vervulling – Augustinus)
6 Jesus is die Fondament van beide, Ef. 2:20, en daarom is geloof in Jesus ook die wesentlike sleutel om sy Skrifte, OT en NT reg te ken, verstaan en dankbaar te gehoorsaam.
“En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.” (Lk 24:44–45)
“Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ’n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.” (2 Kor 3:14–17)
“Dit is goed om te let op die voorbeeld van onse Here Jesus Christus. Vir Hom was die Bybel onomstootlik die onfeilbare Woord van God. Daarom bind die band aan Christus ons aan die Bybel. Verwerp ons die Bybel as die Woord van God, dan verwerp ons Hom as onse Here en Saligmaker. Sy Bybel is ook my Bybel.” – ds MJ Booyens (Ons glo en bely)
Deur die geloof, deur sy Gees en Woord …. verstaan ons (Hebr. 11) … ook sy ‘Heilige Goddelike Skrif … die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie.’
Amen.
____________________________________
[1] Friberg Lexicon: on of the Scriptures as communication that has been ordained by God’s authority and produced by the enabling of his Spirit; strictly God-breathed; hence divinely inspired, inspired by God (2T 3.16).
[2] Praes, part, passief, wat daarop dui dat God die bepalende faktor is deur die Gees.
__________________________________
NGB prediking reeks hier beskikbaar
Leave a Reply