Skrifoordenking (Op. 18:20): Babilon is die afvallige kerk en christendom

Skrifoordenking (Op. 18:20)

Babilon is die afvallige kerk en christendom

deur ds. MJ Booyens

Blydskap vir die Hemel en die Apostels en Profete

Lees: Openb. 18:19-24

Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete, omdat God julle oordeel aan haar voltrek het.” (Openb. 18:20)

(“Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in één uur het jou oordeel gekom!” (Openb. 18:10) Ons  kan derhalwe goed begryp hoe dit in die wêreld sal lyk wanneer Babilon, wat die Westerse afvallige Christendom kan versinnebeeld, verdwyn. Vandaar hierdie wêreldwye weeklag. Dit is des te bitterder, omdat die armsalige wenendes eintlik self die bewerkers van Babilon se ondergang was.)

Babilon, die groot stad, wat ook die ontugtige bruid van die dier is, het geval. Die Here het haar eie vriende gebruik om haar onder te ploeg. Die konings van die aarde en die koopmanne en die seevaarders het hulle dodemis gesing. “Wee, wee die groot stad Babilon het geval!”

Ons sien in ons tyd moontlike voorbeelde van wat eenmaal finaal sal gebeur. Ons het geen rede om op ons louere te rus nie. Die tekens van die tyd is duidelik en sprekend aan die lug. Waak omdat julle nie weet op watter uur die Seun van die mens kom nie!! Waarlik niemand het rede om rustig te vertrou op die ekonomiese en militêre en verstandelike vermoëns van die sogenaamde “Vrye Weste” nie!

Die Weste is nie meer vry nie, maar eertydse Christelike nasies, is verslaaf aan die Satan. Daarom het die “Vrye Weste” geen toekoms meer nie.

Ons lei mense op – mans en vroue – om weerbaar te wees. Ons sal onsself verdedig en ons wil “paraat” wees om elke noodtoestand die hoof te bied, behalwe dat ons dikwels geestelik die slaap van die valse gerustes slaap. Die één ding wat nodig is, laat ons hoofsaaklik links lê. Ons sluit die Here en sy diens byna geheel uit ons aktiwiteite – ons is te besig met ander dinge. Só bou ons selfs aan die hoervrou en ons vergeet die bruid van Christus. Dit is immers waar ons roeping lê.

Daarom mag die hemel selfs van blydskap sing wanneer die gewaande Christenvolke in die Weste en aan die Suidpunt van Afrika ondergaan, omdat hulle hul roeping verloën. het. Ons is besig om die swart volkere te kersten maar doen ons dit reg, deur hulle deur woord en voorbeeld aan die Here te bind?

En die heilige apostels en profete, vir wie dit alleen gegaan het om Christus en sy heerlikheid, sal saamsing. Hulle weet immers dat ‘n magtige struikelblok, wat die koms van Christus op die wolke teëhou, uit die weg geruim is. Hulle weet die heerlikheid van hulle Here en sy koninkryk gaan nou duidelik skitter. Die “skynbruid” van Christus is dood – vir ewig – en die ware bruid, beklee met haar rein en wit klere, staan gereed om Hom tegemoet te tree.

Ja, sy mag nou die vervolgde wees en ‘n veragte en verkrampte gestalte vertoon, maar sy is in die oë van die Here kosbaar.

Sien ‘n mens die afval en verbroedering met die wêreld, ook onder jou eie mense met versnelde pas plaasvind, dan omklem kommer jou hart. Dink jy daaraan dat jou eie land en volk, wat jy liefhet, se aardse toekoms op die spel is, dan het jy dit benoud in jou innerlike. Een ding word meer en meer duidelik. Ons vestig ons hoop te veel op die aardse verwagtinge. Ons is nie alleen bewoners van die aarde nie, maar ons moet ook pelgrims wees wat op reis is na ‘n ander vaderland.

Besiel met die liefde vir ons Koning moet ons onder sy vaandel voorttrek en voortstry om eenmaal saam met die oorwinnaars te kan sing:

“Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete, omdat God julle oordeel
aan haar voltrek het!”

God se oordeel is “julle oordeel.” Julle, apostels en profete, se bloed is aan haar gewreek.

Bron: Kom Here Jesus – Die Openbaring aan Johannes – toegelig en toegepas in die vorm van ‘n Bybelse Dagboek (1 September oordenking)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: