Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 8&9
Die Drie-enige God is die Fondament van ons Geloof (Ps. 33:6)
Lees: Psalm 33:1-6 & Matteus 3;13-17
Teks: “Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” (Ps. 33:6)
Tema: NGB artikel 8&9: God is een Wese en Onderskeie in Drie Persone
Preekopname (GK Carletonville, 2020-11-15, nota: die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die audio preek is meer volledig):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
As ‘n gereformeerde gevra word:
waar kan ek samevattend lees wat jul glo volgens die Bybel,
dan het ons ons belydenisskrifte om te wys wat ons glo.
Maar as ons gevra word in essensie wat ons glo,
dan kan dit ook saamgevat word in hierdie 3 sake:
1. God is, en Hy het sy wil geopenbaar deur sy onfeilbare Woord (NGB 1-7)
2. Christus is die enigste Verlosser (NGB art. 16-23)
3. Dat die enigste ware God, drie-enig is: een goddelike wese, in drie onderskeie persone (NGB art. 8-11),
God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees,
en dit is waarby ons stilstaan vanoggend, as ons leer uit die Skrif daarvan,
soos saamgevat in NGB art. 8&9.
In NGB 8 bely ons wat behels die konsep of term dat God ‘drie-enig’ is,
en in art.9, die rede of bron waarom ons dit glo,
nl. die Skrifgeronde vir hierdie leerstuk wat ons van harte glo.
Ons kyk vervolgens daarna:
I. Artikel 8 – God is een Wese en onderskeie in drie Persone
Ons bely eerstens:
“Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in ‘n enige God, een enige wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat Hulle nie met mekaar deel nie.”
Dus, wat ons moet raaksien is, dat hierdie waarheid, dat God Drie-enig is,
nie in die geskiedenis ontstaan het nie, dit is nie deur mense of die kerk uitgedink nie.
Ja, die konsep of term ‘drie-eenheid’ om die werlikheid van God ‘wat een Wese is in drie Persone’ het natuurlik eers ontstaan in die eerste 4 eeue na Christus.
Daar het baie ketters opgestaan in daardie eeue, wat Christus se Godheid, of dat die Gees ook God is, ontken, en die kerk het vanuit die Skrifte geantwoord daarop, en hul het gekom met hierdie term en ander terme om dit te verduidelik, wat reeds daar in die Bybel staan.
Daarom dat ons die belydenisskrifte het wat genoem word in die laaste paragraaf daar by artikel 9,
Die leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en derglike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.
Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicéa en Atanasius en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.
Die tweede saak om raak te sien, dat hierdie een ware God word onderskei ‘volgens die eienskappe wat hul nie met mekaar deel nie’:
1. Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.
2. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader.
3. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.
So elkeen het ‘n unieke taak en roeping, en tog is almal by en met mekaar betrokke, daarom:
Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so ‘n wyse ondeskei dat hierdie drie Persoon slegs een enige God is.
Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie.
Elkeen is wat Hy is, Hy is nie die ander een nie, maar daar is geen verdeeldheid nie.
Dit wil die belydenis dan ook verduidelik:
Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid af in een en dieselfde wese. Daar is nie ‘n eerste of ‘n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.
II. Waarom glo ons dat God een Wese is in drie Persone, dus, dat God drie-enig is?
Kyk hoe eenvoudig antwoord die HK dit, in Sondag 8,
Vraag: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees?
Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.
… want dit is wat die Skrif openbaar leer, en deur die geloof aanvaar ek dit so.
Nie my verstand, mense, wêreld bepaal wie en hoe God is nie,
maar die Here se Woord, sy Openbaring.
En geliefdes, dit geld vir ALLES wat ons glo volgens die Bybel:
Omdat God so sê, en as Hy sê iets is goed, dan is dit goed,
as Hy sê iets is sleg, dan is dit sleg.
Hierdie is dalk die mees wesentlike belydenis en beginsel van ons belydenis!
Daarom dat die belydenis in art. 8 begin met:
Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in ‘n enige God1, een enige wese, in wie drie Persone is
NGB 9 begin met die woorde:
Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie- eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie.
So wat ons belydenis leer is dat die hele saak van God as een wese in drie persone vind ons regdeur die Skrif
By die skepping, reg in die begin lees ons:
IN die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.
God die Vader wat skep deur sy Seun deur die krag van die Gees
Dit wat ons gelees het daar in Ps. 33:6,
“Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” (Ps 33:6)
Deur die Woord = die Seun
Die HERE = die Vader
deur die Gees
God is een wese in drie Persone
In Gen.1:26,27 lees ons ook van:
“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis…En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape”;
En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld …
God = enkelvoud
Laat ONS mense maak = meervoud
God is een maar ook drie, soos die Skrif later openbaar.
En dan gaan ons belydenis verder, en bely dat die Skrif geleidelik openbaar,
al meer openbaar oor God wat Drie-enig is,
‘n baie belangrike sleutel tot Skrifverklaring:
Kan nie die eerste 50 bladsy van ‘n storieboek lees wat 200 bladsye het nie,
moet die hele storie lees, van begint tot einde om die hele storie te ken!
Soveel te meer die Bybel!
Ons bely:
“Welliswaar sê hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor, wat sê: “Dit is my geliefde Seun” (Mat 3:17). Die Seun is in die water gesien en die Heilige Gees het Hom in die vorm van ‘n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” (Mat 28:19).
Doop hul in die Naam … nie name nie (dus God is een) van die Vader, Seun en Heilige Gees (God is drie Persone)
Sien ons verskeie plekke in die NT wat bely dat God drie en een is.
In Matt.3:13-17 lees ons van die toe na Jesus gedoop is:
En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ’n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ’n stem uit die hemele wat sê: Dit is My geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.
– Jesus is die Seun, wat juis gekom het om die verlossingswerk te doen.
– die Gees kom werk die heiligmaking uit wat Christus bewerkstellig
– en die stem uit die hemele is die Vader wat ons geskape het en ons kom red in Christus.
In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk 1:35); eweneens: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal” (2Co 13:13) en: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed en die drie is eenstemmig” (1Jo 5:7-8).
So vir die kerk, is die Drie-eenheid ‘n moeilike maar baie duidelike saak, daarom:
“Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie persone in een enige Goddelike Wese is.”
Dit is dus ‘n leerstuk wat baie vas staan, ons hoef nie daarin te twyfel nie.
En dan volg ons belydenis met woorde wat baie belangrik is, ook vir ons geloof oor die algemeen, en ons skrifbeskouing:
“Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.”
Hierdie woorde is baie belangrik:
– die leerstuk gaan ons verstand te bowe, maar nie teen ons verstand nie!
Ons geloof is nie irrasioneel nie, maar bybels-rasioneel, ons ‘redelike godsdiens, sien Rom. 12:1,2.
– deur die Woord aanvaar ons dit vir die waarheid:
Ons glo, daarom verstaan ons!
Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die eie werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart.
TOEPASSINGS
1. Die leer van die Drie-eenheid is die mees basiese kenmerk van ‘n ware kerk:
Alle dwaalleraars en dwalinge tas gewoonlike enige Persoon van die Godheid aan of hul verhouding tot mekaar.
Vandag: Moslems, Jode, Mormone, Jehowa getuies, Nuwe Hervormers, ens.
“Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicéa en Atanasius en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.”
Teenoor die sektes soos die Jehova-getuies en Mormone en valse godsdienste soos die Judaisme en die Moslems, moet ons dus die Drie-eenheid van God handhaaf soos die Woord dit geopenbaar het.
2. Die leer van die Drie-eenheid is dus van groot belang vir ‘n mens se saligheid. Dit is God Drie-enig wat die mens red, nie net een van die Persone nie.
Aldrie Persone is betrokke en daarom kan geen Persoon of enige van Sy werke afgemaak word as onbelangrik nie. Die intieme band (verbond) tussen Drie-eenheid volg tot ‘n intieme band tussen gelowiges.
‘Hier is my Seun in wie Ek ‘n welbehae het!’
Ons is nie net ‘jesus gelowiges’, of net ‘vader gelowiges’ nie, of net ‘gees gelowiges’ nie,
maar God Drie-enig gelowiges, sien weereens HK Sondag 8… omdat God Hom so geopenbaar het.
3. Vir ons lewensbeskouing.
Onderliggend aan die Drie-eenheid, is ‘n baie belangrike waarheid wat ons ook moet vashou.
Onthou, die skepping en alles getuig van God se krag en heerlikheid.
Laat ons mense maak na ons beeld.
En so sien ons dit ook in die wêreld:
– alles is een, maar daar is ook verskeidenheid.
Een mensdom, maar verskillend volke en tale
Een mensheid, maar ook man en vrou
Soos aldrie Persone een is in waarde en wese, so is bv man en vrou ook.
Maar, soos elkeen eie rol en taak het, so het man en vrou ook verskillende take.
Sien die eenheid en verskeidenheid beginsel ook soos dit orals in die skepping reflekteer, al is dit hoe gebroke.
Daarom,
Geliefdes, leer jouself, gesin, gemeente die waarheid van die Drie-eenheid:
Daar is geen nuwe dwalinge nie, slegs ou dwalinge in nuwe baadjies.
Herman Bavinck, die bekende gereformeerde dogmatikus skryf tereg as volg:
“Met die belydenis van God se Drie-eenheid staan en val die ganse Christendom, die gehele besondere openbaring. Dit is die kern van die geloof, die wortel van alle dogmatiek, die wese van die verbond.”
Daarom moet die ware Kerk van Christus daadwerklik opnuut seker maak wat sy nog glo, en daarvolgens optree teenoor hul wat hul belydenis ondergrawe in leer, diens en tug, en mekaar “vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3).
Dit is nie ‘n blote saak van dogmatiek nie,
maar dit raak die wese van ons verlossing,
en God se eer, die God wat Drie-enig is:
Een God in Wese, onderskeie in Drie Persone,
Vader, Seun en Heilige Gees!
Amen.
Leave a Reply