“DAT EK MET DIE GEMEENTE VAN GOD YWERIG MOET OPKOM … DIE EWIGE SABBAT IN HIERDIE LEWE BEGIN” — HK, vraag 103.

“DAT EK MET DIE GEMEENTE VAN GOD YWERIG MOET OPKOM” — HK, vraag 103.
deur dr. SJ van der Walt

[Bron: Die Vaste Fondament – Oordenkings volgens die Heidelbergse Kategismus. Beklemtonings bygevoeg]

Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof — ‘n feesvierende menigte!” — Ps. 42:5.

Die deelname aan die openbare eredienste is ‘n onmisbare element van die Sabbatsviering. Deur die bediening van Woord en sakramente word ons geloof versterk en ons geestelike lewe opgebou. Die kerkklok wat daar lui om ons kerktoe te roep, kan dus vir ons ‘n oordeelsklok word as ons nie op die roepstem ag gee nie. As ons plek leeg is in die kerk, dan is dit nie onmoontlik nie dat ons plek ook in die hemel eendag leeg sal wees. Hy wat die kerk nie besoek nie, is ‘n selfmoordenaar, want hy vermoor sy eie siel. Hy laat sy siel doodgaan van geestelike honger en dors, terwyl daar in die kerk volop voedsel en drank van die ewige lewe is. Hy minag Gods genade wat hom in die prediking van die Evangelie aangebied word, en slaan God se hand van genade weg. Hy het geen behoefte om saam met Gods volk God se heilige Naam openlik aan te roep in gebed en sang nie. Hy gee ‘n slegte voorbeeld aan die medegelowiges en is deur sy traagheid die oorsaak dat die geestelike peil van die gemeente daal en dat ook andere hom navolg op die pad na die verderf. Hy bevlek dus ook sy hande met die bloed van ander, wat deur hom tot struikeling gebring word.

Maar bywoning van die dienste is nog nie genoeg nie. Ons moet ook ‘n lewendige deel neem aan die erediens. Ons moet van harte saam sing en bid. Ons moet met heilbegerige siele luister na Gods Woord en dit opneem in die gemoed en dit agterna nog weer oordink. Ons moet gebruik maak van die sakramente en met ‘n warm hart ons offergawe gee vir die armes en vir die onderhoud van die kerk. O, ons kan soms so koud en vormlik wees in ons godsdiens. Ons stap somaar so gedagteloos na die kerk, uit pure gewoonte. Ons gaan sit daar soos poppe en stap daarna weer huistoe, sonder dat ons God waarlik ontmoet en gedien het in sy huis. Dit kom ook daarvandaan dat ons lewe self dikwels so koud en onverskillig is. Mens kan God nie op Sondag met ‘n warm hart dien as jy Hom tydens die duur van die week vergeet nie. Mens kan God nie saam met die gemeente dien in sy huis as jy origens afgesonderd lewe en nie belang stel in die gemeentelike lewe nie.

Wie waarlik één is met Gods volk, sal op die Sabbatdag ‘n onweerstaanbare drang gevoel om saam met die gemeente God te dien in sy huis. Hy sal voel dat sy plek is onder sy broers en susters waar hulle besig is om ons hemelse Vader te dien en waar Hy sy kinders vertroos en bemoedig deur die prediking van die Evangelie.

Soos ons reeds gesê het, raak die Sabbatsviering ons hele persoonlikheid en gee dit aan ons ‘n menswaardige bestaan; dit wil dan sê as ons op die Sabbat waarlik rus, nie soos ‘n masjien wat gaan staan tot hy Maandag weer begin werk nie, maar as ons rus soos God rus, nl. in die verlustiging van wat Hy tot stand gebring het in die sesdaagse skepping en in die ontplooiing van die skepping tot sy volkomenheid in die ewigheid. Waar die moderne wêreld van die Sabbat ‘n vakansiedag maak vir sy sg. ontspanning, het dit geen geestelike waarde nie en word die menslike persoonlikheid meer en meer gemeganiseer. Die mens verloor also sy sin van verantwoordelikheid en van ewige waardes, en daarom is ons hele lewe ontwrig en is die mens ook nie in staat om een van die ander gebooie te onderhou nie. Sonder godsdiens — geen moraliteit.

“DIE EWIGE SABBAT IN HIERDIE LEWE BEGIN” — Vr. 103

“Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” — Hebr. 4:9-11.

Die regte Sabbatsviering veronderstel ‘n lewe wat in Christus gewortel is.

Ons lewe kan nie gebreek word en in twee verdeel word nie. Ons kan nie God op Sondag dien en weer vir satan van Maandag af nie. Ons kan nie op die Sabbat met Gods Gees vervul wees en dan weer in die week met die gees van Beëlsebul nie.

Die ware Sabbatsviering kan alleen plaasvind as ons hele lewe in die Sabbatstemming gehou word. Gedurende die week moet ons lewe op die Sabbat gerig wees om alles in orde te kry om God op ‘n aangename en rustige wyse te kan dien as die Sabbatdag aanbreek. En die Sabbatdag moet gerig wees op die week wat voorlê, om ons met hemelse krag en moed te vervul en ons in staat te stel om die werk, wat gedurende die week op ons wag, tot Gods eer te kan doen.

Ons moet dus gedurende die week só lewe en só werk dat ons Sondag met heilbegerige harte na Gods huis sal kan gaan om God daar te loof en te dank vir wat ons deur sy krag in daardie week kon doen; en op Sondag moet ons God só dien in sy huis en só met Hom omgaan dat ons genoeg krag en moed en leiding van God sal vind om in die week wat voorlê, ons lewe tot sy eer en tot nut van ons medemense te kan voer.

Om waarlik op Sondag in die diens van God te kan rus moet ons die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, in ons siel ervaar. Ons sondes moet versoen wees deur die bloed van Christus, en die mag van die sonde moet in ons siel gebreek wees deur Gods Heilige Gees. Ons moet dus nie meer slawe van die sonde wees nie maar diensknegte van die Allerhoogste. Dan sal ons hier op aarde reeds ‘n floue voorsmaak geniet van die ewige Sabbatsrus, wat daar oorbly vir die volk van God. Dan sal ons hart vol dankbaarheid en tevredenheid wees, en ons sal ‘n diepe en stille vertroue in God hê wat deur geen storms van die lewe vernietig sal kan word nie; en also sal ons dan iets van die hemelse vrede in ons siele smaak.

So sal ons hele lewe in sekere sin ‘n Sabbatsviering wees, want in ons binneste sal dit altyd Sabbat wees, wat ook al buite ons mag plaasvind. En hierdie Sabbatsvrede sal selfs deur die dood nie kan verbreek word nie. Inteendeel, die dood sal ons in staat stel om die volle hemelse Sabbatsvrede te geniet, wat ons hier maar net ten dele gesmaak het. Mag ons dan steeds daardie Sabbatsrus belewe en nie die sonde toelaat om ons sielevrede te kom versteur nie!

Dit gaan in die Sabbatsgebod ten diepste om Christus. Al is die Sabbat self gewortel in die skeppingswerk van God, het dit vir ons ‘n werklikheid geword in die versoening van ons sondes deur die kruis en die opstanding uit die dood in Christus. Dit is dus ‘n heerlike en ewige werklikheid. Tog moet ons nog deur stryd en verdrukking ingaan in die volle vrede en vreugde van onse Here. Elke Sabbatsviering hier op die aarde behoort ons dus met ‘n intense verlange na die volmaakte hemelse Sabbat hiernamaals te vervul. As ons die Sabbat so te sê in die poorte van die hemelse Jerusalem deurbring, sal ons ook soos Paulus ‘n verlange hê om ontbonde te wees en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste (Filipp. 1:23).
_______________________________________________

“Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Heb 13:7–8)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: